Surnames H to J

HARMZEN Herman

Herman HARMZEN gebore 4 Desember 1834 te Doetinchem Stad, Nederland, was die oudste kind van Johannes HARMZEN (22.12.1810 - 03.10.1910) en Berendjen MIDDELDORP (20.02.1809 - 26.10.1879). Sy ouers is op 29 Augustus 1834 te Doetinchem Stad getroud.

Uit die huwelik is nog vier kinders gebore:

Willem HARMZEN (13.05.1837 - ?)
Gerhard HARMZEN (15.07.1840 - ?)
Johannes Bernardus HARMZEN (28.12.1843 - ?)
Willemiena HARMZEN (22.09.1847 - ?)

Herman HARMZEN verlaat sy land en arriveer gedurende 1857 in Suid-Afrika. Die vermoede bestaan dat hy weens die oorloë in Europa besluit het om sy vaderland te verlaat.

Volgens oorlewering het hy die matrose met die navigasie gehelp en so sy passaat na Suid-Afrika verdien. Vanaf die Kaap kry hy 'n geleentheid om saam met 'n transportwa na die Noorde te reis. Hy het by die Vaalrivier, in die omgewing waar Regina-stasie vandag is, 'n aantal melkkoeie opgemerk en besluit om by hulle te bly totdat die eienaar hulle sou kom aankeer. So het hy saam met die koeie op die werf van Gert Stephanus SWANEPOEL, die eienaar van die plaas Deelfontein, aangekom.

Hy vestig hom in die Noord-Vrystaat en doen diens as onderwyser vir die Boere kinders in die omgewing.
Op 29 Julie 1867 tree hy in die huwelik met Susanna Elizabeth Margaretha SWANEPOEL. Die huwelik is deur die predikant van die NG Kerk Kroonstad bevestig.
Susanna Elizabeth Margaretha SWANEPOEL is op 30 Augustus 1850 gebore en op 7 Oktober 1850 in Bloemfontein gedoop. Sy was die vyfde kind van Gerhardus (Gert) Stephanus SWANEPOEL (12.02.1817 - 21.07.1873) en Susanna Elizabeth Margaretha CORDIER (CORTJE) (08.08.1819 - 29.07.1898).

Uit hierdie huwelik is agt kinders gebore:

Susanna Elizabeth Magrieta (05.11.1869 - ?)

Johannes (26.01.1872 - 05.12.1952)

Gerrit Stephanus (14.08.1874 - 24.01.1940)

Herman (07.01.1876 - 01.11.1957)

Pieter Andreas H(18.12.1878 - 09.11.1954)

Willem Jacobus (gebore 13.03.1880 - sneuwel tydens die Anglo-Boereoorlog op 19 jarige ouderdom op 18.02.1900 tydens die slag van Paardeberg)

Berendjen (31.03.1881 - 25.08.1958)

Cornelia Gertruida (6.11.1886 - 16.12.1925)

Die huisgesin het vooruit geboer in die Bothaville omgewing langs die Vaalrivier.
Op 3 Oktober 1899 word die HARMZEN broers saam met die res van die wyk Onder Valschrivier van die Kroonstad Kommando opgekommandeer om in die oorlog van die twee Boere republieke (ZAR en OVS) teen Groot Brittanje te gaan veg.
Op hierdie stadium was Gerrit, Pieter en Willem nog woonagtig op die plaas Sandfonteinpan, vermoedelik saam met hulle ouers. Johannes het saam met sy skoonouers, die VAN DEN BERG familie, op die plaas Hart-van-Boomtuin gewoon en Herman het op die plaas Koedoesdraai gewoon.
Die oorlog sou spoedig sy tol eis onder die huisgesin. Die HARMZEN broers is saam met die Kroonstad Kommando na die Wes-Front gestuur waar hulle die Engelse op die walle van die Modderrivier probeer stuit het. Hier was hulle ook deel van die mag wat die Engelse by die slag van Magersfontein verslaan het. Hulle het deel van genl. Cronjé se magte gebly en het uiteindelik saam met Cronjé die fel stryd by Paardeberg beleef. Dit was tydens hierdie slag, op 18 Maart 1900, dat die jongste broer Willem, gesneuwel het. Die vermoede bestaan dat sy dood uiteindelik die res van die broers daarvan gered het om saam met 'n groot deel van die Vrystaat Kommando’s op 27 Februarie 1900 krygsgevangenes te word. Hulle het die laer verlaat en is nie saam met genl. Cronjé gevang toe hy op Majubadag besluit het om oor te gee nie.

Die broers is uiteindelik terug na hulle plase waar hulle vermoedelik later weer by die strydmag van genl. Christiaan de Wet aangesluit het. Die vrouens en kinders het 'n redelike vreedsame tyd beleef totdat die Engelse gedurende Augustus 1901 begin het om al die plaashuise in hulle omgewing af te brand. Die vrouens en kinders wat in die omgewing gevange geneem is, is hoofsaaklik na die konsentrasiekamp by Brandfort geneem. Heelwat van hulle kon egter daarin slaag om uit die hande van die Engelse te bly deur op die eilande in die Vaalrivier te skuil.

Kort na die oorlog op 31 Mei 1902 tot 'n einde gekom het, het nog 'n slag die HARMZEN familie getref. Die stammoeder van die HARMZEN familie sterf op 4 April 1904 op die plaas Leeuwbosch in die Wolmaransstad distrik. Die vermoede bestaan dat sy ook hier begrawe is. Dit blyk dat die plase wat Herman HARMZEN hoofsaaklik deur vererwing van die SWANEPOEL familie bekom het, na die dood van sy vrou onder sy kinders verdeel is. Hy het sy laaste jare by sy oudste seun, Johannes, op die plaas Hart-van-Boomtuin deurgebring. Uit sy testament blyk dit dat hy hom die laaste jare hoofsaaklik met die teel van perde besig gehou het. Hier sterf hy dan op 29 Mei 1921. Hy is op die plaas begrawe.
Die eerste kerkgebou van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (aanvanklik uitsluitlik 'n Transvaalse kerk), in die Bothaville omgewing (in die Vrystaat), is later onder leiding van Johannes HARMZEN op hierdie plaas gebou. Die familie kerkhof het die gemeente se kerkhof geword en het later die eiendom geword van die NHK gemeente Bothaville. Die gemeente het in 2013 die grond aan Johan Harmzen verkoop wat dit baie netjies in stand hou. Herman HARMZEN se graf kan steeds in hierdie stukkie van Afrika gevind word.

Print Email