Surnames K to M

LAURIE Robert Naylor

Robert Naylor LAURIE * Ahmednuggur, Indië 9.08.1823 † Lyttelton, Nieu-Seeland 21.02.1859.Vernoem na sy oom Robert, en na Sir George Nayler, wat net dogters gehad het. Sy sterfdatum staan in die Nieu-Seelandse BMD-databasis as 21.07.1859 maar dis 'n transkripsiefout.
x Wynberg 9.12.1850 Coenradina Wilhelmina Magdalena ALBERTYN * 2.07.1827 ≈ Kaapstad 13.08.1827 † Tygerkloof, distrik Piketberg 27.10.1885 [1811/1885]; d/v Hendrik ALBERTYN (1780-1850) [594/1850] en Elisabeth Louisa LE ROUX (1786-1858) van Goedverwachting, distrik Wynberg.Hertrou met Hendrik Gideon VISSER (1813-1892); slegs hersiene sterfkennis vermeld haar eerste huwelik, kinders daaruit, testament en bates.

LAURIExALBERTYN

b1
John Albertyn Pilfold * Dieprivier, Kaapstad 5.08.1851 ≈ Wynberg 14.09.1851 † Klipvlei, Porterville 24.12.1935 [48654/1936] Ω Porterville. Vernoem na albei twee oupas en een ouma. In die Ringsafskrif van die doopregister is sy derde naam verkeerdelik Pilford. Sy oupa John, ouma Julia, oom Robert en tante Fanny het almal uit Engeland vir die doop gekom en is as getuies aangeteken; oupa Hendrik was al oorlede. Johnnie en sy broer Stoffel (b4) koop die dele van Tygerkloof bekend as Klipvlei en Groenvlei in 1889 van hulle stiefpa.
x Porterville 29.03.1887 Catharina Hendrina "Kate" VAN ZYL * Herculesfontein, Piketberg 24.01.1867 ≈ Porterville 17.03.1867 † Porterville 4.07.1941 [74642/1941] Ω Porterville; d/v Jacobus Daniel van der Spuy VAN ZYL (1820-1894) [1797/1894] en Catharina Hendrina HANEKOM (1828-1889) [1905/1889]

b2
Henry Guise "Harry" * Kaapstad 7.04.1853 ≈ St George's, Kaapstad 6.07.1853 † Porterville 13.09.1917 [3399/1917] Ω Porterville. Vernoem na oupa Hendrik ALBERTYN en oorgrootjie John GUISE, maar twee meer onlangse naamgenote was doopgetuies.
Harry en sy stiefbroer Andries Jakobus Wilhelmus VISSER (1841-1929), wat met twee susters getroud is, koop na hulle skoonma se dood in 1882 die ander twee van Zyl-susters se aandeel in D.P. van Zyl se helfte van die plaas Herculesfontein uit. Eers in 1906 verdeel hulle die plaas formeel tussen hulle. Andries deel en Harry kies. Harry kon sien Andries het gehoop hy kies anders, en sê toe Andries kry nog 'n kans om te deel. Andries sny toe 'n wingerd van twee morg uit die suidelike deel van die plaas uit en verbind dit met 'n pypsteel aan die noordelike deel. Dit was goed genoeg. Daarna het hulle vir elkeen 'n gedenkpenning op die sukses van die ooreenkoms laat maak.
Harry is redelik jonk oorlede maar het sy sake baie deeglik in sy laaste lewensjaar afgesluit. Die ooreenkoms met Andries is by die Landmeter-Generaal geregistreer en sy testament stel 'n grondverdeling vir die twee seuns wat wou boer, voor. Elkeen kon sy deel van die plaas uit die boedel koop, teen 'n voordeelprys sorgvuldig bereken as gelykstaande aan die werklike waarde van die grond minus wat hulle ander broer se universiteitsopleiding gekos het.
x Porterville 12.04.1880 Huibrecht Hester Johanna "Hessie" VAN ZYL * Herculesfontein, Piketberg 2.01.1863 ≈ Piketberg 22.02.1863 † Porterville 9.06.1955 [3710/1955] Ω Porterville; d/v Dirk Pieter VAN ZYL (1817-1876) [3119/1876] en Maatje Wilhelmina COETZEE (1822-1882) [3578/1882]. Sy het vir byna veertig jaar as weduwee net swart gedra.

b3
Gertrude Annie * Dieprivier 15.04.1855 ≈ St John's, Wynberg 10.08.1855 † Wellington 7.08.1934 Vernoem na Geertruida DREW (1809-1875) en Anna SHUKER (1813-1846), haar ma se twee oudste susters. Op party latere dokumente is sy Ge(e)rtruida Anna.
x Piketberg 1874 Jurgen Johannes VAN ZYL * 5.01.1851 † 1909; s/v Jacobus Daniel van der Spuy VAN ZYL (1820-1894) en Catharina Hendrina HANEKOM (1828-1889). Op Jurgen se doopregister maar min ander dokumente staan sy pa se van as VAN ZIJL.

b4
Christoffel Robert  * Wynberg 8.04.1857 ≈ Wynberg † Calvinia 28.05.1943 Ω Calvinia.Vernoem na 'n oom aan moederskant op wie se plaas Baasharmanskraal die Lauries gewoon het, en na sy pa. As jongman bekend as "Stoffel", maar het later "Robert" verkies. Kom op party dokumente voor as "Robert Christoffel", en soms selfs as "Robert Naylor", wat sekere ouer genealoë laat raai het daar was nog 'n Laurie-broer. Daar bestaan 'n beëdigde verklaring dat Robert Christoffel Laurie en Christoffel Robert Laurie dieselfde persoon is. 'n Saak (CSC 5/1/1/77 109 van 1925) wat in sy guns as klaer beslis is, word tot vandag toe aangehaal ter wille van die uitspraak dat waterregte deel word van vaste eiendom.
x Cornelia Johanna Sophia "Nelie" WIESE * 27.09.1865 ≈ Piketberg 14.01.1866 † Calvinia 29.12.1954 Ω Calvinia; d/v Johannes Jacobus WIESE (1834-1921) en Jacoba Wilhelmina BURGER (1834-<1894). Geen kinders. Hulle gesamentlike boedel is bemaak aan sy drie broerskinders met die voorname Robert Naylor en haar vier broerskinders.

b5
Charles Frederick Guise Newnham "Charlie" * Lyttelton, Nieu-Seeland 5.08.1859 ≈ Wynberg 20.01.1861 † Paarl 3.11.1941 [76487/1941] Ω Porterville. By geboorte geregistreer as Samuel Lawton Laurie, na sy tante Fanny se man. Later vernoem na sy pa se tweede-jongste broer Charles F G N LAURIE (1842-1894). Sy laaste twee voorname word op die meeste latere dokumente omgeruil, soms met foutiewe spellings soos "Newman". Woon in 1917 op Zoovoorby naby Porterville.
x Margaretha Wilhelmina "Grieta" GREEFF * Piketberg 27.08.1872 ≈ Piketberg 6.10.1872 † Somerset-Wes 18.08.1955 [6325/55] (83.11.-) Ω Porterville; d.v. Louis Egbertus GREEFF (1843-1911) en Susanna Maria HAMMAN (1849-1894). Jaar op grafsteen is 1873, maar dooprekord sê 1872, wat klop met ouderdom by afsterwe.

Bronne:
1. C. Pama, Die Groot Afrikaanse Familienaamboek, Human & Rousseau, Kaapstad, 1983, p200
2. Earl of Belmore, The History of the Corry Family of Castlecoole, Longmans, Green & Co., London, Dublin, 1891. Hoofstuk XIII. Beskikbaar as 'n e-boek
3. Artikel Maxwelton (Glencairn Castle) op Historic Environment Scotland.
4. Pama, op.cit., talle bladsye. Lees ook die hoofstuk "Eg of oneg?" oor die status van familiewapens.
5. Kathleen Smith Watkins, geredigeer deur Robert Alexander, The Lauries of Laurieknowe, in voorbereiding.

Addisionele navorsing en data:

Alle genealoë stem saam dat die Afrikaansprekende familie LAURIE sy oorsprong het in die huwelik op 9 Desember 1850 in die NG Kerk Wynberg tussen Robert Naylor LAURIE en Coenradina Wilhelmina Magdalena ALBERTYN.

Daarna begin die mitologie:1 hy sou 'n skeepskaptein gewees het wat reëlmatig in die voorafgaande dekade die Kaap met sy skip aangedoen het; hy en sy bruid sou in Nieu-Seeland gaan woon het, en die jongste kind sou ter see gebore gewees het toe sy ná sy dood na Suid-Afika terugkeer; hy sou 'n afstammeling wees van die byna-adellike Skotse familie waaruit ook die besonge Annie Laurie van Maxwelton spruit.

Soos met die meeste mites, is daar meer as net 'n tikkie waarheid in. Ja, sy eerste besoek aan die Kaap was reeds in 1837. Ja, hy het 'n tydjie in Nieu-Seeland gewoon en is daar oorlede. Ja, sy laaste kind is eers 'n paar maande na sy dood gebore. Ja, hy stam af van 'n Laurie van Maxwelton.

Maar helfte van die waarheid is verswyg, en die res daarvan verdraai. Hy was 'n jong Britse soldaat, gebreek deur die oorloë in Indië, nie 'n middeljarige burgerlike seeman nie; met sy enkele vorige besoek was hy maar 14 jaar oud; hy het 'n volle agt jaar aan die Kaap gewoon en 'n kleurryke loopbaan gehad, en vier van sy vyf kinders is hier gebore; hy is op ouderdom 35 oorlede, minder as drie maande nadat hy in Nieu-Seeland aangeland het; sy laaste kind is daar gebore, nie ter see nie; sy voorvader in Maxwelton was nie in die direkte manlike lyn van die baronetskap nie.

In hierdie artikel ontrafel ons RNL se voorvaders, lewensloop en nageslag; sy vyf kinders en sewentien Laurie-kleinkinders kry hoofinskrywings, insluitend gesinne en ouers van gades. In die proses kom ons agter hoekom daardie kleinkinders die volle storie nooit moes hoor nie.

LAURIE-voorouers

Die familienaam is in die ou dae tipies LAURIE gespel in die weste van Skotland, en LAWRIE in die ooste, maar mense het eers redelik onlangs begin aandring op 'n onderskeid. Dit is vir die eerste keer in die ooste opgeteken, waar William LAWRIE in in 1488 aartsdeken van die katedraal van Brechin was. In 1606 kom dit voor in Dumfries, 'n stad in die suidwestelike hoekie van Skotland, toe 'n kind gedoop word met 'n LAURIE-pa maar geen Lauries onder die getuies nie. Vanweë die nagmaalsbeker in die wapens van die Lauries van Dumfries word bespiegel dat die aartsdeken hulle voorvader was.

In Noord-Ierland word die van gewoonlik LOWRY gespel, waarskynlik omdat dié naam reeds vroeër in Ierland algemeen voorgekom het. Daardie oud-Ierse Lowrys is nie verwant nie, maar die die Lowrys van Pomeroy stam af van 'n immigrant uit Dumfries.2

Maxwelltown, destyds gespel Maxwelton, is 'n voorstad in die weste van Dumfries waar die Lauries in die 17de eeu by voorkeur gewoon het. 'n Ryk man van Maxwelton, Stephen LAURIE, het die Glencairn-kasteel, ongeveer 20 km noordwes van die stad, in 1611 gekoop en die naam daarvan verander na Maxwelton House3. Sy oudste seun John het 'n baronetskap verwerf en volgens Skotse gebruik sy familie se van geskryf as LAURIE OF MAXWELTON. Annie Laurie (1682-1764) was sir John se kleindogter. Die sesde en laaste Laurie-baronet is in 1848 oorlede. Maxwelton House is vir twee geslagte deur susterskinders geërf (oorspronklike vanne Fector en Bayley) op voorwaarde dat dat hulle hulle name na Laurie moes verander, maar die titel kon nie ook so geërf word nie. Bayley het later sy pa se baronetskap geërf, en toestemming gekry om homself LAURIE OF MAXWELTON te noem. Die Bayley-baronetskap duur steeds voort onder die naam Laurie, maar die herehuis is in 1966 verkoop; die huidige baronet woon elders en is nie meer "of Maxwelton" nie.

RNL se jongste broer Henry Alfred LAURIE (1845-1921) het in 1899 aanspraak gemaak op die baronetskap, wat volgens hom eintlik reeds deur sy pa geërf moes word, en het na homself in sy testament as "tenth Baronet of Maxwelton" verwys. Maar nie alle Lauries van Maxwelton is LAURIE OF MAXWELTON nie, en in die besonder het RNL se voorvader William niks meer met Stephen Laurie te doen as dat albei van Maxwelton af kom nie en dus waarskynlik 'n gemeenskaplike 15de-eeuse voorsaat het.

Die nommers voor elke voorouer se naam word die Ahnentafel-metode gegee: RNL self is 1, sy ouers is 2-3, sy grootouers 4-7 ens.

16 William LAURIE (1681-1780)

Koopman van Dumfries. Trou ongeveer 1722 met 17 Mary MULLIGANE. Hulle herenig in 1728 'n onderverdeelde erf in Maxwelltown waarop 'n tweelinghuis staan: sy, deur een helfte van haar pa 34 Robert MULLIGANE te erf; hy, deur die ander helfte by die eienaars te koop. Hy het meer as vyftig jaar daar gewoon en albei sy seuns oorleef. Die straatjie Laurieknowe, waar die huis gestaan het, bestaan vandag nog, maar die geboue daarin is meer onlangs.

8 Robert LAURIE (1724-1774)

Tweede-oudste seun van William, 'n mediese student, maar dit is nie seker dat hy ooit gekwalifiseer het nie. Hy het hom in Londen gaan vestig, waar hy getrou het met 9 Ann HOLMES. Hy en sy skoonpa 18 Samuel HOLMES het die firma Holmes & Laurie gestig, wat korsette en prosteses gemaak het vanuit 'n werkswinkel in St Bartholomew's Close, digby die bekende hospitaal. Mev. Holmes, sê hulle advertensie, "attends the female sex". Toe albei vennote kort na mekaar te sterwe kom, het die firma onder twee van Robert se seuns as W & J Laurie voortgegaan, en onder die derde geslag nog tot diep in die 19de eeu sake gedoen.

4 John LAURIE (1756-1830)

Het die familiesaak aansienlik uitgebou. Hy het vir sy swaer Sir George Nayler (1764-1821), 'n vername man (Garter King of Arms, oftewel staatsheraldikus van Brittanje) 'n kunshand ontwerp met vingers wat regtig kon gryp. John het tydens die Napoleontiese oorloë 'n kontrak met die Britse vloot gesluit om kunsledemate vir verminkte matrose en seesoldate te maak. "Handsome John", soos hy skertsend genoem is, was getroud met 5 Frances WILLIAMS en Sir George met haar suster Charlotte, buite-egtelike dogters van 10 Sir John GUISE (1733-1794). Daar was geen stigma aan verbonde nie: sy minnares 11 Ann WILLIAMS het 'n huisie op Sir John se landgoed gehad en die dogters is openlik deur hom as sy eie erken.

2 John LAURIE (1794-1860)

Oudste van Handsome John se sewe seuns, het egter geen erg aan daardie soort werk gehad nie. Hy het hom by die leër van die Britse Oos-Indiese Kompanjie aangesluit en as artillerie-offisier sy loopbaan in die Bombaaise Presidensie deurgebring. In Oktober 1821 trou hy in Bombaai as kinderlose wewenaar met 3 Julia Susan PILFOLD (1803-1886), dogter van 6 kapt Alexander PILFOLD (1776-1821), 'n infanterie-offisier, en 7 Susanna BARLOW (c.1782-1870).

Majoor John Laurie het in 1837-1838 ongeveer 'n jaar se ongeskiktheidsverlof aan die Kaap deurgebring, waarskynlik saam met sy hele gesin, insluitend dus die veertienjarige Robert. "Een kind van majoor Laurie", sy dogter Victoria Louise, wat aan die Kaap gebore is, se heengaan is aangeteken in die sterfteregister van die NG Kerk Stellenbosch, waaruit ons kan aflei dat die Lauries in April 1838 in daardie distrik gewoon het. 'n Mens vermoed dat Robert, wat reeds minstens een tweede taal (Hindi) geken het en later tydens sy soldaatskap vir sy vaardigheid daarin aangeprys is, maklik 'n praatkennis van Kaaps-Hollands, oftewel Afrikaans, verwerf het. Enkele maande nadat sy verlof verstryk het, is die majoor permanent op die onaktiewe lys geplaas en het hy in Londen gaan woon. Hoewel afgetree, is hy in 1854 tot luitenant-kolonel bevorder.

Robert Naylor Laurie aan die Kaap

RNL is soos sy pa as offisier opgelei en na die Bombaaise Presidensie ontplooi. Na net ses jaar is ook hy medies ongeskik verklaar, maar ontvang weens sy jeugdige ouderdom slegs eerbare ontslag, nie 'n pensioen nie. Hy arriveer, met sy beroep aangegee as landmeter, saam met 'n groep Byrne-setlaars ná 'n rampspoedige seereis van nege maande op 24 Maart 1850 op die Sovereign in Durban. Die Byrne-skema was 'n groot fiasko: die beloofde suikerplase was nie beskikbaar nie, die setlaars is in haglike omstandighede tydelik gehuisves, en J.C. Byrne self het later daardie jaar bankrot gespeel. Die meeste van die setlaars het wel in Natal gaan woon, maar liewer hulle eie potjie gekrap.

Robbie Laurie was egter goed vertroud met 'n meer gevestigde deel van Suid-Afrika; bes moontlik was hy nooit van plan om in Natal agter te bly nie. In Junie 1850 leen hy in Kaapstad £10 by die geldskieter Benjamin Norden, en in Desember trou hy in Wynberg met Coenie Albertyn — die eerste Laurietjie is minder as agt maande later gebore. Later moes Norden hof toe gaan om sy geld terug te kry.

Robbie se skoonpa het 'n maand voor die huwelik gesterf. Dit is waarskynlik dat sy skoonma nie positief oor die huwelik was nie. Sy was nie by 'n enkele doop van haar Laurie-kleinkinders 'n getuie nie. Die enigste Laurie-dogter is boonop nie na haar ouma nie, maar na twee tantes, vernoem.

Robbie tree as padopsigter in diens by die Kaapse regering, maar bly gedurig op soek na kantoorwerk, klaarblyklik weens sy swak gesondheid. In Julie 1853 woon die gesin in die Buitenkant, Kaapstad, waar hy 'n klerk in die Siviele Ingenieurskantoor is. Hy probeer ook werk vir Coenie organiseer, "as it provides for my wife a living independent of myself".

Teen Augustus 1855 woon Robbie en Coenie op haar broer Stoffel se plaas Baasharmanskraal en werk hy as veldwagter in die aangrensende staatsbos. Daar betrap hy 'n sekere Carl Hoffmann wat hout vir eie gewin aan die kap is. Robbie kry amptelike toestemming om die gekonfiskeerde hout van die hand te sit. Dié vul hy egter heimlik aan, en word in Desember 1856 self betrap, skuldig bevind en beboet; sy swaer dr Henry Drew (1809-1866) het hom 'n paar dae laat sit en toe die boete betaal. Die res van sy tronkstraf is opgeskort op voorwaarde dat hy vrywillig bedank.

Na 'n besoek aan sy ouers in Engeland, probeer Robbie in Februarie 1858 tevergeefs weer werk in die staatsdiens kry, maar sy rekord tel teen hom. In Julie 1858 sterf sy skoonma. Kort daarna emigreer Robbie en Coenie met hulle vier kinders na Lyttelton op Nieu-Seeland se Suid-eiland, waar hy op 27 Februarie 1859, minder as drie maande na sy aankoms, weens 'n "diseased stomach" te sterwe kom.

Die verloop van sy lewe is slegs in 'n hoogs verdoeselde vorm aan sy nageslag oorgedra, en sy kleinkinders was almal onder die indruk dat hy 'n Skotse skeepskaptein in die Britse handelsvloot was, wat onderweg na sy aftreeplasie waar hy met skape sou gaan boer, gou 'n bruidjie in Kaapstad aangetree het terwyl sy skip herstel is. Die storie het selfs die stertjie dat sy vyfde kind op die skip terug gebore sou wees!

Die eerste geslag Laurie in Suid-Afrika

Presies 'n jaar en 'n dag ná Robbie se dood verkoop sy weduwee die huis, en seil twee weke later met haar kroos (insluitend 'n baba van sewe maande oud) via Londen terug na die Kaap. 'n Mens kan raai dat sy enkele maande by haar skoonma oorgebly het (haar skoonpa was reeds oorlede toe sy op die skip klim), want ons hoor eers in Januarie 1861 weer van haar, toe sy die jongste seun in Wynberg laat doop onder 'n ander naam, naamlik dié van haar sjarmante 18-jarige swaertjie Guise, as waaronder sy hom in Nieu-Seeland geregistreer het.

Op 2 Maart 1863 hertrou die 35-jarige Coenie met Hendrik Gideon VISSER (1813-1892), 'n man van byna 50 met reeds elf kinders, en wat al drie vrouens begrawe het, boer van die plaas Tygerkloof net noord van Dasklip buite Porterville. Sy en Hendrik sou saam nog vier kinders kry, maar ook Coenie sou Hendrik nie oorleef nie.

Op Herculesfontein, die buurplaas na die noordweste, woon daar twee broers van Zyl, met talle kinders van die Laurietjies se portuur. Later trou twee van die Laurie-broers en een Visser-stiefbroer met van Zyl-dogters, en die enigste Laurie-suster met 'n van Zyl-seun. Die familie word beskou as afkomstig van die Porterville-Piketberg omgewing, maar daar boer nie meer deesdae 'n Laurie in die distrik nie.

In 'n ironiese wending het die enigste seun Alexander Hamilton LAURIE (1874-<1959) van Robert se broer Henry, wat (sonder sukses) op die baronetskap aanspraak gemaak het, asof sy ouboet se tak van die familie nie bestaan nie, kort na Henry se dood ook na Suid-Afrika geëmigreer. Dit lyk egter asof daardie tak in die manlike lyn doodgeloop het, en dus is Robert Naylor Laurie se lyn al wat nog maj. John Laurie se van dra.

'n Laurie-familiewapen?

In Suid-Afrika mag enige regspersoon 'n wapen by die Buro vir Heraldiek registreer, wat daardie persoon die reg gee tot die uitsluitlike gebruik van die wapen. So 'n regspersoon kan ook 'n familiebond wees, en in daardie geval bestaan daar 'n amptelike familiewapen, met die bond as enigste arbiter van wie dit mag voer.

Dit was egter lank voor die totstandkoming van die Buro, veral sedert die jare 1940, en is nog steeds, algemene gebruik onder die draers van sekere vanne om ongeregistreerde wapens dekoratief op gebruiksartikels soos familieregisters, bierbekers, muurbehangsels en medaljes, aan te bring. Die pragtige kleurweergawes deur dr Cor Pama4 word veral vir die doel gebruik. Daar word dikwels in die volksmond na sulke prentjies as "familiewapens" verwys, maar dis net 'n prettige speletjie met geen wetlike status nie. Die Laurie-familie, hoewel vermeld in dr Pama se boek, is nie ook met so 'n ongeregistreerde wapen vereer nie.

Dit gebeur wel soms dat 'n Laurie na 'n besoek aan Skotland terugkeer met byvoorbeeld 'n gedrukte sertifikaat van 'n sogenaamde Laurie-familiewapen. Dit vertoon gewoonlik 'n nagmaalsbeker op swart met twee louriertakke en 'n lourierkrans, soms met helfte van die agtergrond rooi of geel. Met 'n swart agtergrond is dit die wapen van die baronet Laurie van Maxwelton, en sal daarom nie amptelik in Suid-Afrika geregistreer kan word nie.

Daar bestaan egter 'n wapen wat ten nouste met Suid-Afikaanse Lauries verbind kan word. Dit is nie 'n familiewapen in die sin wat die woord losweg in Suid-Afrika gebruik word nie, maar die persoonlike wapen van majoor John Laurie, die eerste voerder daarvan, en sy manlike bloedlyn. Volgens Britse wet moes dit Robert Naylor Laurie (wat voor sy vader oorlede is) se oudste seun toekom. In die praktyk is die bestaan van Robert se seuns in Suid-Afrika egter gerieflikheidshalwe in Engeland verswyg deur sy jongste broer Henry, toe dié homself as enigste manlike erfgenaam voorgehou het.

Die wapen is ontwerp deur RNL se oom, Robert Laurie (1806-1882), wat deur die dankbare Sir George Nayler as leerling tot die College of Arms toegelaat is. In 1838 word Robert bevorder tot Windsor Herald, wat meegebring het dat hy ampshalwe op 'n persoonlike wapen vir homself geregtig was. Hy kry toe die blink plan om liewer een vir sy ouboet majoor John te ontwerp, maar terugwerkend na hulle (reeds gestorwe) pa. Die akte van toekenning sê "to be borne by him and his descendants and by the other descendants of his Father the said John Laurie deceased with due and proper differences according to the Laws of Arms". Robert se eie wapen het soos hier afgebeeld gelyk, maar met die toevoeging van 'n fleur-de-lis, die "due and proper difference" van 'n sesde seun. Die ongewysigde wapen mag nie sommer so deur enige afstammeling gevoer word nie, net deur die oudste-van-die-oudste in die manlike lyn. Die huidige wapenvoerder is 'n kleinseun van John Albertyn Pilfold Laurie (1929-2002).

Wat "due and proper difference" na soveel geslagte beteken, is iets vir 'n professionele heraldikus om te besluit, maar as 'n Laurie-familiebond egter ooit in Suid-Afrika 'n wapen sou registreer, behoort dit 'n wysiging hiervan, eerder as van die baronet s'n, te wees. Dit verskil in twee opsigte van die baronet se wapen: slegs 'n driehoekige deel van die agtergrond, nie alles nie, is swart; en daar is geen lourierkrans tussen die twee louriertakkies nie. Die helmteken (nie hier afgebeeld nie) verskil ook. Dieselfde leuseVirtus semper viridis "Deug is immergroen" word egter gebruik, omdat die heraldikus bepaal het dat dit, soos die nagmaalsbeker met louriertakke, reeds voor die vestiging van die baronetskap met die Lauries van Dumfries verbind was; ook die Lowrys van Pomeroy gebruik die beker en die leuse.

John Laurie wapen

Addisionele Bronne:

  1. Die hoofbron is die tradisionele Laurie-stamboom, bestaande uit 'n enkele vel foliopapier, aan weerskante afgerol, gegrond op inligting ingesamel by 'n saamtrek van Lauries op 30 Januarie 1973 in Seepunt (gereël deur Deon MALHERBEb2c6d2), en by 'n opvolg daarvan in Desember 1975 in Silverton, Pretoria (gereël deur Ora VISSER b5c3d3). Foto's van 'n afskrif daarvan, bewaar deur Laurie ALBERTYN b2c4d2, is in 2009 deur sy dogter Jane tot my beskikking gestel.

Die enigste volle name daarop is dié van Robert Naylor LAURIE, Coenradina Magdalena Wilhelmina ALBERTYN en hulle vyf kinders; en die enigste datum dié van die stamouers se huwelik op 9 Desember 1850. Slegs hulle kinders en kleinkinders is as 'n stamboom uitgelê; die tweede bladsy, met noemname en vanne van die volgende twee geslagte, is op 'n uiters beknopte manier georganiseer wat eers tydens die navorsing begin sin maak het.

Elke item uit die hoofbron wat hier opgeneem is, is uit ander bronne geverifieer. In daardie sin is hierdie werk onafhanklik van die hoofbron. Dit sou egter daarsonder nie moontlik gewees het nie.

Om te saamtrekke te kon reël, moes Deon en Ora 'n vroeë weergawe van die hoofbron beskikbaar gehad het, waarskynlik Malherbe (1959) se Laurie-stamboom, later opgeneem in SAG/SAF. Die samesteller van die finale weergawe is egter onbekend.

  1. Sommige gegewens is raakgelees op genealogiese webwerwe, insluitend NAAIRS. Dit is in elke enkele geval net as 'n wenk tot die verkryging van 'n beter bron beskou, maar weereens, die verkryging van daardie beter bron sou sonder die wenk nie moontlik gewees het nie.
  2. Enkele spesifieke bronne verskyn as voetnotas of internetverwysings, klikbaar in die teks. Afgekorte argiefverwysings soos [53/1936] kom uit die MOOC-reeks van die KAB of (nuwer boedels) die Kaapstadse kantoor van die Weesheer.
  3. Die gegewens oor die Lauries in Engeland kom uit 'n beplande boek or die afstammelinge van William LAURIE.5
  4. Die gegewens oor die Lauries in Indië, insluitend die majoor se siekteverlof, kom van die webwerf van dieFamilies in British India Society, oftewel FIBIS, afgelaai toe daardie werf nog oop toegang toegelaat het. Waar moontlik, is dit gekontroleer teen ongetranskribeerde bronne. Hierdie bronne is nie onafhanklik nie, en waar hulle verskil, is die Bombay Almanack beskou as die oorspronklike bron, en die East India Register sekondêr. Omsigtigheid met laasgenoemde bron is noodsaaklik, want daar was 'n tweede majoor John Laurie in Indië, 'n byna presiese tydgenoot; hy was egter nie 'n artilleris nie en is in die Madras-presidensie gestasioneer.
  5. Die gegewens oor Robert Naylor LAURIE se agt jaar in Suid-Afrika kom uit dokumente in die Kaapse Argief, getranskribeer deur Jane HOFMEYR, en vanaf 'n foto van RNL se sterfaangif.
  6. Die gegewens oor die Lauries se vyftien maande in Nieu-Seeland kom uit amptelike Nieu-Seelandse bronne en argiewe van ou koerante.
  7. As daar 'n plek van begrafnis gegee word, is die geboorte- en sterfdatums soos op die grafsteen.
  8. As daar 'n doop- of huweliksplek gegee word, verwys dit na die NG Kerk tensy anders gespesifiseer. Indien beskikbaar, is die doopregister die bron vir die geboortedatum en voorname.
  9. Indien beskikbaar, verskaf 'n sterfkennis of sterfaangif die bron vir die sterfplek en -datum, maar slegs 'n leidraad vir die name van ouers en kinders. Ouderdom by afsterwe word slegs aangehaal wanneer die beste beskikbare geboortedatum daaruit bereken is. Met enkele uitsonderings is staatgemaak op die volledigste weergawe wat op FamilySearch aanlyn beskikbaar is, al is dit net 'n handgeskrewe indeks. In enkele gevalle is 'n papier-afskrif van die dokument bekom.
  10. As daar meer as een bron beskikbaar is, en hulle verskil, is 'n gemotiveerde keuse gemaak.
  11. Ander biografiese gegewens, soos beroepe en staaltjies, is saamgestel uit kerkregisters, boedeldokumente en persoonlike herinneringe van nabye familielede.

Dankbetuigings

[Genealogiese kodes relatief tot Robert Naylor LAURIE, ongeag watter van tans gevoer word.]

Teddie HOFFMAN b1c2d1e1, Mariette GROBBELAAR b2c3d1e1, Laurika RAUCH b2c3d3e3, Jane HOFMEYR b2c4d2e1, Trienke LAURIE b2c5d1e1x, Kestell LAURIE b2c5d1e1f5, Kestell LAURIE b2c5d1e5, Sandy LAURIE b2c5d1e5x, Henri LAURIE b2c7d1e1, Erina GROBBELAARb2c7d2e1, Fanie BUYS b3c5d1e4f1 en Lynne DU TOIT b5c3d2e1x, het oor die laaste tien jaar familiestaaltjies met my gedeel wat hier opgeneem is, op my versoek goeters gefotografeer en na plase en begraafplase gery, familiefotos en fotos van dokumente uit hulle eie versamelings verskaf, argiefdokumente getranskribeer, hulle eie navorsing aan my beskikbaar gestel, en les bes, my aangepor om te begin en vas te byt met die projek.

Lede van die poslys SA Genealogie, te veel om op te noem, het my geleer dat behulpsaamheid, samewerking en mededeelsaamheid die hart is van genealogiese werk.

Members of WikiTree, too many to mention by name, taught me that there is no substitute for the verification of received genealogy by scrutiny of primary sources.

Kitty WATKINS in the United States, Katherine LAURIE in Australia (descendants of Major John's brothers William and George, respectively) and Rob Alexander in the British Isles and Portugal, did most of the research on the Laurie line up to Major John, which they generously shared with me.

Print Email