CELLIER Josué
Josué Cellier
* Orléans, Frankryk ±1667
† Paarl//.10.1721
x Waalse Kerk, Delft, Nederland 31.03.1700 Elisabeth Couvret
* Orléans, Frankryk ±1676
† ±1743
Sy hertrou ±1722 met die wewenaar Paul Roux (±1665 - 1723)
Kinders van Josué Cellier en Elisabeth Couvret
b1 Josué = Paarl 02.01.1701, † 19.04.1770, Ongetroud
b2 Jan * ±1702, † ±1755, x 1728 weduwee Anna Marais (±1707 - 1765)
b3 Pierre = Paarl 10.11.1703, † Voor 1712
b4 Elisabeth = Paarl 26.07.1705, † ±1778, x ±1724 Pierre Malherbe (±1695 - ±1756)
b5 Francina = Paarl 30.10.1706, † 23.11.1782, x 1727 Pierre le Roux (±1704 - 1767)
b6 Maria = Kaapstad 07.09.1708, † 26.02.1769, x 1732 Johannes Houbertus († 1735),
xx 1735 Urbanus Sauerman († 1782)
b7 Abraham = Paarl 21.09.1709, † 02.12.1781, x 1744 Anna Rossouw (* ±1726)
b8 Pieter = Stellenbosch 16.08.1711, † 04.12.1792, Ongetroud
b9 Susanna = Paarl 24.09.1713, † 14.07.1733, Ongetroud
b10 Judith = Paarl 01.03.1716, † 24.07.1733, Ongetroud
b11 Magdalena = Paarl 26.12.1717, † 07.02.1780, x 1736 Pierre le Roux (±1706 - 1771)
Orléans, Frankryk
Volgens verskeie publikasies, wat nie bevestig kon word nie, was Josué se ouers moontlik Josué Cellier en Judith Rouilly.
Volgens die Stamouers se gesamentlike testament wat op 15 Maart 1720 aan die Kaap opgestel is, was hulle albei van Orléans afkomstig waar Josué in ongeveer 1667 gebore is en Elisabeth nege jaar later in ongeveer 1676.
Min is bekend oor beide Stamouers se Franse herkoms omdat die argiewe van Protestantse gemeentes van Orléans tydens die Tweede Wêreldoorlog vernietig is.
Verhuising van Frankryk na Nederland
Publikasies verskil oor wanneer Josué en Elisabeth Frankryk verlaat het. Volgens een publikasie in 1685, na die herroeping van die Edik van Nantes, toe Josué 18 jaar oud was en Elisabeth 9. Hierdie Edik het vir bykans `n honderd jaar `n mate van godsdiensvryheid aan die Protestante verleen en die herroeping daarvan het hulle nie net van hul geloofsvryheid en sosiale voorregte ontneem nie, maar ook `n oormatige vervolging tot gevolg gehad. Volgens `n ander publikasie het hulle Frankryk moontlik in 1697 verlaat na die beëindiging van die negejarige oorlog tussen Nederland en Frankryk toe hulle onderskeidelik 30 en 21 jaar oud was.
Wat wel uit hul huweliksdokumente bevestig kon word, is dat hulle in Maart 1700 in Nederland woonagtig was – Josué in `s Gravenhage (Den Haag) en Elisabeth in Voorstraat.
Faktore wat die Stamouers se verhuising na die Kaap moontlik gemaak het
Simon van der Stel (later Goewerneur) het in 1679, pas na sy aanstelling as Kommandeur aan die Kaap, `n versoek gerig dat boere toegelaat moet word om na die Kaap toe te kom, maar aangesien die Kaap slegs as `n verversingspos beskou is, is sy versoek geweier. Die toenemende getal Franse vlugtelinge wat na Nederland gestroom het na die herroeping van die Edik van Nantes het egter tot `n beleidsverandering gelei wat dit vir Josué en Elisabeth moontlik gemaak het om na die Kaap te verhuis.
Persone wat oorweeg sou word om na die Kaap te gaan, moes selfonderhoudend wees en Josué met sy kennis van landbou, wynbou en sy vaardigheid as timmerman het hieraan voldoen. Verskeie voorwaardes is ook gestel, onder andere:
- Hulle sou kosteloos op die skepe van die handelsmaatskappy die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) vervoer word, mits `n eed van getrouheid aan die Kompanjie afgelê word.
- Slegs bagasie wat vir eie gebruik nodig was, kon saamgeneem word. Op kontantgeld was daar egter geen beperking nie.
- Landbouers sou soveel grond kry as wat hulle kon bewerk, terwyl landbougereedskap, saadkoring en vee aan hulle verkoop sou word.
- Hulle sou verplig wees om vir vyf jaar aan die Kaap te bly, maar kon met die nodige motivering `n versoek rig tot die Here XVII, die hoogste gesag van die VOC, om die tydperk te verkort.
- Indien hulle na vyf jaar weer na Nederland wou terugkeer, moes hulle teen `n vasgestelde tarief die reisgeld betaal en kon hulle niks uit die Kaap saamneem nie, behalwe dit wat hulle aan hul persoon gehad het.
Die eerste Franse vlugtelinge het einde 1687 uit Nederland vertrek en in 1699 is die VOC versoek om nie meer Franse Kaap toe te stuur nie. Dit is dus onseker óf Josué en Elisabeth onder die voorgemelde voorwaardes óf op eie inisiatief Kaap toe gekom het.
Vaart van Nederland na die Kaap
Oor die algemeen was die skepe waarmee die vlugtelinge oorgekom het klein en het passasiers gewoonlik hutte op die agterdek gehad sonder enige wasgeriewe. Voedsel wat aan boord geneem is, is noukeurig deur die VOC gespesifiseer, o.a. brood, ingelegde vis en vleis, bier, wyn, brandewyn, botter, olie, asyn, lemmetjiesap, stroop, pruimedante en rysgort. Vars voedsel, water en bier het gou bederf terwyl wyn langer goed gebly het. Skeurbuik, hoofsaaklik deur die gebrek aan vars voedsel veroorsaak, het algemeen voorgekom en het bygedra tot `n hoë persentasie sterfgevalle tydens `n seereis. Verder was daar nog gevare soos storms, brand en aanvalle deur seerowers.
Volgens verskeie publikasies het Josué en Elisabeth aan boord van die Reigersdaal na die Kaap gevaar, maar die brondokument wat bevestig dat hulle wel aan boord was, kon tot dusver nie opgespoor word nie. Uit skeepsrekords, hul huwelik en doop van hul oudste kind, is aanvaar dat die inligting in hierdie publikasies korrek is.
Die Reigersdaal, ongeveer 44 meter lank en 11 meter breed, vertrek op 2 Mei 1700 vanaf Goeree, `n Suid-Hollandse eiland, na die Kaap met 253 mense aan boord; 172 seemanne, 70 soldate en 11 passasiers – name van diegene aan boord is nie aangeteken nie. `n Vaart na die Kaap het in daardie jare ongeveer vier maande geduur en die Reigersdaal arriveer Saterdag 21 Augustus 1700 in die Kaap, maar moes tot die volgende middag voor die hawe lê. ‘Op de naarmiddag' van Sondag 22 Augustus anker die skip in die hawe 'onder een slap zuyd west luchtje'. Martin de Jeught, die skipper, rapporteer slegs een sterfgeval en agt siekes aan boord wat die indruk skep dat die vaart sonder enige buitengewone voorvalle afgelê is.
Plaas Het Kruys Pad, Kaapstad
Josué en Elisabeth vestig hulle aanvanklik op die plaas Het Kruys Pad (huidige voorstad Brackenfell).
Het Kruys Pad is op 15 Maart 1712 aan Josué toegeken, maar daar kan nie veel van hierdie datum afgelei word nie aangesien plase wat aan boere toegesê is (toestemming om die grond te bewoon en te benut), dikwels eers etlike jare later amptelik per grondbrief aan hulle toegeken is (hul eiendom geword het).
Boedery op Het Kruys Pad
Weens die onvolledigheid van die opgaafrolle, wat basies vir belastingdoeleindes voltooi is, is min bekend oor Josué se boerderyaktiwiteite gedurende sy eerste paar jaar aan die Kaap. Die eerste inskrywing wat vir hom teëgekom is, is dié van 1704 waar hy slegs 4 koeie besit. Die tweede inskrywing is dié van 1709 waar hy reeds 8 000 wingerdstokke verbou, 5 perde en 18 beeste besit en ook koring saai.
Plaas Orléans, Paarl
Tans is gedeeltes van die voorstede New Orleans en Charleston Hill in die Paarl op die oorspronklike Orléans geleë. Die Palmietrivier wat deur die plaas gevloei het, is tans bekend as die Hugosrivier en Paarlrots, bo-op Paarlberg, is suidwes van Orléans geleë.
Goewerneur Simon van der Stel was aanvanklik nie ten gunste van vestiging aan die oostekant van die Bergrivier nie en die gebied bekend as Klein Drakenstein, waar Orléans geleë was, word eers in 1692 amptelik oopgestel vir bewoning. Kort na sy aanstelling as Goewerneur in 1699 laat Willem Adriaan van der Stel plase opmeet, onder andere Orléans (57 morg 300 vierkante roede) en dit word in 1699 aan Matthieu Frachas toegesê. Josué koop Orléans by Frachas se opvolger Casper Jansz en die plaas word op 11 Oktober 1713 amptelik sy eiendom.
Josué en Elisabeth boer tot en met hulle dood op Orléans.
Boerdery op Orléans
Tot en met Josué se dood op 54-jarige ouderdom in Oktober 1721 verbou hy, volgens sy opgaafrolle, hoofsaaklik wingerd en produseer tot 3 lêers (1 732 liter) wyn per jaar. Beeste, perde, skape en varke word aangehou en koring en rog word gesaai.
Volgens sy boedelinventaris van 10 Desember 1722 word sy bates op 4 030 gulden Indiese valuta waardeer wat onder andere die volgende insluit: die plaas Orléans, 15 beeste, `n ou wa, ‘n ploeg, ‘n eg en huisraad. Sy laste beloop 636 gulden Indiese valuta wat aan Weeskamer verskuldig is (600 plus een jaar se rente van 36).
Na Josué se dood, bly die 45-jarige Elisabeth en haar tien oorlewende kinders, tussen die ouderdomme van 4 en 20 jaar, op Orléans aan waar sy, volgens haar opgaafrolle, met die boerdery voortgaan. Sy hertrou met die 57-jarige wewenaar Paul Roux, onderwyser, voorleser en sieketrooster vir die Franse Gemeente van Drakenstein. Hulle kon egter nie lank getroud gewees het nie aangesien hy op 7 Februarie 1723 oorlede is, sestien maande na haar eerste man. Daarná is sy nie weer getroud nie.
Hulp met die boerdery word verkry met die aankoop van haar eerste slaaf in 1728 en teen 1737 besit sy vier slawe, `n slavin en `n slaweseun. Op 27 September 1732 sluit sy `n kontrak met Johannes Houbertus, haar skoonseun getroud met Maria (b6), om haar 'voor den tyd van een geheel Jaar trouw en naarstig te dienen als knegt' teen`n maandelikse betaling van twaalf Caabse guldens, voedsel, drank en goeie huisvesting. Op 26 Oktober 1733 word die kontrak vir `n verdere jaar verleng.
In 1743 verbou sy 9 000 wingerdstokke; produseer 10 lêers (5 773 liter) wyn; besit 3 perde, 29 beeste en 200 skape; en saai ook koring. Daarná word sy nie weer in die opgaafrolle opgeneem nie waaruit afgelei is dat sy in ongeveer 1743 op 67-jarige ouderdom oorlede is.
Orléans na die Stamouers se dood
Op 19 November 1745 word Orléans die eiendom van die Stamouers se jongste seun Pieter (b8) wat, volgens sy opgaafrolle, die boerdery voortsit en verder uitbrei. Ten tye van sy dood op 81-jarige ouderdom op 4 Desember 1792 het hy 20 000 wingerdstokke verbou en 20 lêers (11 547 liter) wyn geproduseer.
Voor Pieter se dood verkoop hy Orléans aan Anna Minnaar, weduwee van sy suster Magdalena (b11) se seun Josua le Roux. Volgens Pieter se boedelinventaris van 23 Januarie 1793 moes sy die plaas in sewe gelyke jaarlikse paaiemente afbetaal – die eerste paaiement op 21 Desember 1793 en die laaste paaiement op 21 Desember 1799.
Stamouers se 11 kinders
Uit die huwelik tussen Josué en Elisabeth is elf kinders gebore, vyf seuns en ses dogters.
Die Cellier-van word voortgedra deur die nasate van Jan (b2) en Abraham (b7) as Cellier, Celliers, Cillie, Cillié, Cilliers en Dú Cellier.
(Die vanspellings Celliers, Cillie en Cilliers word ook gebruik deur sommige Lascelles- en Zeelie-nasate.)
Jan (b2) trou op 5 Desember 1728 in die Paarl met Anna Marais, weduwee van Gabriel Rossouw. Agt kinders, drie seuns en vyf dogters, word uit hul huwelik gebore.
Abraham (b7) trou op 6 Desember 1744 in die Paarl met Anna Rossouw, sy broer Jan (b2) se stiefdogter. Twaalf kinders, drie seuns en nege dogters, word uit hul huwelik gebore
Die oudste en jongste seuns Josué (b1) en Pieter (b8) was nooit getroud nie en sterf op 69-jarige en 81-jarige ouderdom, respektiewelik.
Elisabeth (b4) trou in ongeveer 1724 met Pierre Malherbe en ses kinders, drie seuns en drie dogters, word uit hul huwelik gebore.
Francina (b5) trou op 12 April 1727 in die Paarl met Pierre le Roux en tien kinders, vyf seuns en vyf dogters, word uit hul huwelik gebore.
Maria (b6) trou op 7 September 1732 in die Paarl met Johannes Houbertus (`n Hollander) en na sy dood hertrou sy op 8 Mei 1735 met Urbanus Sauerman (`n Duitser). Twee kinders, `n seun en `n dogter, word uit haar tweede huwelik gebore. Maria is die enigste kind van die Stamouers wat nie met `n Hugenote-nasaat trou nie.
Magdalena (b11) trou op 29 April 1736 in Stellenbosch ook met `n Pierre le Roux en elf kinders, ses seuns en vyf dogters, word uit hul huwelik gebore.
Pierre (b3) sterf as kind terwyl Susanna (b9) en Judith (b10) binne tien dae van mekaar sterf: Susanna op 20-jarige ouderdom op 14 Julie 1733 en Judith op 17-jarige ouderdom op 24 Julie 1733.
Geletterdheid van die Stamouers en hul kinders
Beide Josué en Elisabeth was ongeletterd en teken verskeie dokumente met `n kruis.
Dit is onbekend of die Stamouers enigsins Hollands magtig was, maar hul kinders sou weens regeringsbeleid Hollands moes aanleer. Hierdie beleid het veroorsaak dat die Franse taal aan die Kaap in onbruik geraak en uiteindelik uitgesterf het.
Met die aankoms van die Hugenote aan die Kaap was die peil van openbare onderwys baie laag en skoolmeesters is deur sommige gesinne in diens geneem op `n kontrakbasis. Een so `n skoolmeester was Jacob Naudé wat in 1718 as matroos in die Kaap aangekom het. Op 30 Mei 1719 sluit Josué `n kontrak met hom vir `n tydperk van `n volle jaar vir sy dienste as skoolmeester en ander redelike dienste waarvoor hy hom mag benodig. Sy maandelikse vergoeding was tien guldens en een pond tabak, asook die voorsiening van voedsel, drank en huisvesting.
In beide die Stamouers se gesamentlike testament van 15 Maart 1720 en Elisabeth se testament van 22 September 1724 word bepaal dat enige minderjarige kinders wat hulle mag nalaat, geleer moet word om te lees, te skryf óf `n handvaardigheid aan te leer.
1691 – Die Gemeente Drakenstein (Paarl)
Die gemeente, hoofsaaklik `n Franse gemeente, is op 31 Desember 1691 gestig.
Aanvanklik het die gemeente in die huis van een van die gemeentelede vergader, maar teen die tyd wat die Stamouers in 1700 in die Kaap aangekom het, was daar reeds `n kerkgeboutjie opgerig, iewers in die omgewing van Babylonstoren – `n klein geboutjie met mure van houtpale en klei en `n grasdak.
Na hewige storms in Oktober 1716 is die kerkgeboutjie sodanig beskadig dat dit onbruikbaar was en is dienste aan huis van dominee Petrus van Aken gehou.
`n Nuwe kerk is gebou naby die plek waar die Strooidakkerk in die Paarl vandag staan en is op 2 Junie 1720 ingewy. Swaar reëns in September 1721 het die nuwe gebou beskadig, maar kon herstel word en was vir meer as tagtig jaar in gebruik totdat dit te klein geraak het.
Die nuwe kerkgebou, die huidige Strooidakkerk in die Paarl, is op 28 April 1805 ingewy. Die ou kerkgebou is op openbare veiling verkoop en gesloop.
Voor die aanstelling van dominee Petrus van Aken op 30 September 1714 is baie van die vroeëre kerkrekords óf verlore óf onvolledig. Onder die 104 lidmate wat hy in 1715 ‘gevonden heeft', was 'Jossue Sellier en syne vrouw Elizabeth Couvret'.
Teen 1725 het die aantal lidmate tot 146 gegroei.
1706 – Willem Adriaan van der Stel
Willem Adriaan van der Stel word in 1699 aangestel as Goewerneur aan die Kaap. Aanvanklik was die VOC-amptenare nie toegelaat om te boer nie omdat hul mededinging die boere finansieel kon knak, maar teen die tyd dat die Stamouers in die Kaap aankom, boer Van der Stel en bykans al die hooggeplaaste VOC-amptenare op hul eie plase. Mettertyd tree hulle ook toe tot die mark wat alreeds swak was en die gewone boere bly sit met hul produkte.
In 1706 word `n klagskrif van ondermeer omkopery en afpersing teen Van der Stel en verskeie amptenare opgestel en vervolging van die ondertekenaars vind plaas. Op sy beurt stel Van der Stel `n getuigskrif op wat tevredenheid met sy administrasie uitspreek en ook van sy goeie karakter en eerlikheid getuig. Persone wat weier om te teken, word ondermeer gedreig dat hulle van hul grond ontneem sou word.
Josué teken Van der Stel se getuigskrif. Die meeste van die Hugenote wat geteken het, het later verklaar dat alhoewel hulle ontevrede was met Van der Stel se wanbestuur, hulle bang was dat hulle hul grond sou verloor. Moontlik was dit ook by Josué `n oorweging aangesien hy op hierdie stadium nog nie sy eie plaas besit het nie.
Die uiteinde van die klagskrif was ondermeer dat Willem Adriaan van der Stel en van sy volgelinge van hul poste onthef en na Holland teruggeroep is.
1708 – Brasman
Brasman was `n vrygestelde slaaf wat sy eie plaas besit het.
In Januarie 1708 was daar `n gesellige byeenkoms aan huis van die Stamouers ‘aant kruijspad tusschen de bottelerije ende tijgerbergen'. Brasman het daar opgedaag op soek na sy sweep en een van die Stamouers se vriende, Jacob Bourbonnais, daarvan beskuldig dat hy die sweep gesteel het. `n Bakleiery het uitgebreek waartydens Brasman vir Bourbonnais met `n mes in die rug gesteek het.
Bourbonnais het die aanval oorleef en `n rekening aan die Raad van Justisie gestuur waarin hy finansiële vergoeding vir ongemak, pyn en verlore tyd eis. Jacob Bisseux, in wie se huis Bourbonnais verpleeg is, eis weer vergoeding vir sy uitgawes.
Die uiteinde van die saak was dat Brasman gevonnis is om gegesel te word, `n gedeelte van die eise te betaal en lewenslank uit ‘deeze landen’ verban is. Waarheen hy verban is, kon tot dusver nie vasgestel word nie.
1707, 1708 en 1710 – Gedeon le Grand
Gedeon le Grand was `n dokter (chirurgyn) wat `n joernaal gehou van sy mediese dienste en enkele fragmente van sy joernaal van 1707, 1708 en 1710 het behoue gebly.
Op die 19de (maand en jaar onseker) skryf hy medikasie van ‘scafran’ vir Josué Cellier voor, maar hierdie inskrywing is later doodgetrek. Scafran is moontlik saffraan, maar daar kon nie vasgestel word waarvoor dit voorgeskryf is en die inskrywing later doodgetrek is nie.
Alhoewel slegs fragmente van die joernaal behoue gebly het, gee dit nogtans `n blik op die mediese behandeling van daardie tyd. Benewens tande wat getrek is, is van die siektes wat aangeteken is; bloedvloeiing, geswelde voete, keelseer, kopseer, kortasem, krampe in die ingewande, longsiekte, maagpyn, niere, sooibrand, snydings, sweer en verkoue.
Medisyne sluit in; aluin, `n saffraandrankie, terpentynsalf en vitrioelolie. Bloedlating as behandeling kom die meeste voor, ondermeer vir pyn aan die arm en skouer; daarnaas purgasies van sennablare en nieskruid. Vir maagpyn is gemmer, kaneel en koljander voorgeskryf.
1738 – Estienne Barbier
Estienne Barbier was `n sersant in diens van die VOC. Hy was, soos die Stamouers, ook van Orléans, Frankryk afkomstig en het in 1734 as gewone soldaat in diens van die VOC in die Kaap aangekom.
In Mei 1737 lei sy beskuldigings van onder andere geldverduistering en korrupsie teen `n luitenant tot `n hofsaak en Barbier word skuldig bevind. Hy appelleer, besef weldra dat sy appèl nie veel kans het om te slaag nie en ontsnap gedurende die nag van 24/25 Maart 1738 uit die Kasteel waar hy onder arres was.
Op hierdie stadium boer die 62-jarige Elisabeth en drie van haar seuns, die 37-jarige Josué (b1), 29-jarige Abraham (b7) en 27-jarige Pieter (b8), nog op die plaas Orléans en bied skuiling aan die 39-jarige voortvlugtende Barbier. Hy bly nagenoeg `n jaar ongestoord op Orléans, omdat die owerhede onder die indruk was dat hy hom op `n skip versteek en na Holland teruggekeer het.
In Februarie 1739 verlaat Barbier Orléans en begin `n hoofsaaklik skriftelike veldtog teen die ongeregtighede van die owerhede. Met die ontevredenheid wat reeds in die Kaap geheers het, het hierdie veldtog die potensiaal gehad om `n burgelike opstand te begin en in Maart 1739 word hy deur die owerhede ‘vogel-vry’ verklaar – hulle soek hom, lewend óf dood. Hy word eers ses maande later in hegtenis geneem, verhoor en ter dood veroordeel. Sy vonnis, wat in die openbaar voltrek is, het behels dat hy aan `n kruis vasgebind word, onthoof word, sy regterhand afgekap word, die res van sy liggaam gevierdeel word en sy ingewande onder die skavot, waar die vonnis voltrek is, begrawe word. Sy liggaamsdele is daarna op pale in die openbaar vertoon – sy kop en regterhand by die ingang van die Roodezandkloof, tussen Paarl en Tulbagh, en sy vier liggaamsdele langs die besigste paaie in die Kaap.
--------------------------------------------------oOo-------------------------------------------------
Bronne
Publikasies
Böeseken, A J, et al, Drie Eeue Die Verhaal van ons Vaderland, Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1952.
Botha, Colin Graham The French Regugees at the Cape, Struik, Cape Town, 1970.
Cilliers, Barend & Olivier, Mariana Geslagsregisters van die Cellier, Celliers, Cillie, Cillié en Cilliers-Families in Suid-Afrika, Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika, Franschhoek, 2015.
Coertzen, Pieter Die Hugenote in Suid-Afrika 1688-1988, Tafelberg, Kaapstad, 1988.
De Jongh, P S Sarel Cilliers, Perskor, Johannesburg, 1987.
Familia. GGSA Kwartaalblad, 1964, no. 2 & 2011, no. 1.
Franken, J L M Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis - Die Hugenote aan die Kaap, Pretoria, 1978.
Heese, J A en Lombard, R T J, Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, Volume 1 (Vanne A-C), Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), Pretoria, 1986.
Hugenote Vereniging van Suid-Afrika, Franschhoek, Bulletins 24 (1986-1987), 25 (1987-1988), 27 (1989-1990) & 29 (1991-1992).
Du Plessis, M J H Hugenotegeskrifte aan die Kaap 1688-1725 (CD). Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika, Franschhoek, 2014.
Le Roux, J G Hugenotebloed in ons Are, RGN, Pretoria, 1988.
Le Roux, J G & W G. Ons Drakensteinse Erfgrond, Klein Drakenstein. Drakenstein Heemkring, Paarl.
Le Roux, J G Bewaarders van ons Erfenis, Deel 2, Distrik Stellenbosch, Privaat Publikasie 2002.
Penn, Nigel Rogues, Rebels and Runaways, David Philip Publishers, Cape Town, 1999.
Schoeman, Karel Armosyn van die Kaap. Voorspel tot Vestiging 1415-1651, Human en Rousseau, Kaapstad, 1999.
Schoeman, Karel. Armosyn van die Kaap. Die Wêreld van `n Slavin 1652-1733. Human en Rousseau (Edms) Bpk, Kaapstad, 2001.
Gemeentearchief Delft, Nederland
Ondertrouregister (Voorneme om te trou) 13.03.1700.
Trouregister 31.03.1700.
Kaapse Argiefbewaarplek (KAB), Kaapstad
Boedelinventarisse (Transkripsies beskikbaar op http://databases.tanap.net/mooc)
Estienne Barbier se Verhoor
Gedeon le Grand se Joernaal
Kontrakte
Opgaafrolle
Sterfteregisters
Testamente
VOC Dagregisters
Willem Adriaan van der Stel se Getuigskrif
N G Kerk Argief, Stellenbosch
(Kerkrekords is beskikbaar op https://www.familysearch.org)
Doopregisters: Drakenstein (Paarl), Kaapstad & Stellenbosch
Huweliksregisters: Drakenstein (Paarl) & Stellenbosch
Lidmaatregisters: Drakenstein (Paarl).
Skeepsrekords
http://www.inghist.nl/Onderzoek/Projecten/DAS
http://www.vocsite.nl/schepen/lijst.html
--------------------------------------------------oOo-------------------------------------------------
Mariana Olivier omariana@lantic.net
Maart 2022
- Hits: 17930