Skip to main content

logo new

Surnames R to U

SWART Janzoon

SWART Janzoon is ongeveer in 1646 gebore soos die Hollanders sal sê 'als een zoon van Jan'. Vanne het eers later gekom en tydens Napoleon se tyd is dit verpligtend gemaak, alhoewel dit wil voorkom of die Nederlandse emigrante reeds vroeër vir hulle vanne geneem het, wanneer hulle Nederland verlaat het. Waarom hy nou juis die van Swart vir hom sou neem, sal hy alleen weet, al sê die slim boeke dat dit mense met sogenaamde donker gelaat is.

Alhoewel Prof. Con de Villiers, die opsteller van ons geslagsregister, geen dokumentêre bewyse daarvoor het nie, word Janzoon Swart se aankoms gewoonlik as 1685 aangegee.

Hy het in 1685 in die Kaap aangekom as sieketrooster in diens van die Hollands Oos Indiese Kompanje. Sy vrou met hul drie seuntjies Nicolaas, Johannes en Pieter het in 1692 in die Kaap by hom aangesluit.

Vanaf 1697 tot 1701 het hy Sybrand Mankadan opgevolg in die pos van sieketrooster en onderwyser op Stellenbosch. Na die aflê van die eed van getrouheid op 16 Januarie 1694 het hy diens gedoen as sekretaris van die plaaslike landdroskantoor in welke hoedanigheid hy tot 27 Augustus 1701 die persoon was wat onder andere testamente, kodisille, kontrakte en prokurasies vir die publiek moes opstel.

Die huis op die hoek van Andringa en Dorpstraat in Stellenbosch waar die stamvader gewoon het, is vandag die Jan Cats restaurant en vorm deel van die Stellenbosch Hotel.

  • Protestantse kind

Hy is as eg Hollander gebore want beide Hoorn en Amsterdam is deel van die huidige Noord-Hollandse provinsie. Verder is hy gebore net na die tagtigjarige oorlog wat vanaf 1568 tot 1648 geheers het tussen die Protestante en Rooms-Katolieke. Hierdie stryd was dus nog baie vlak in mense se gemoed en gedagtes tydens Jan se grootword jare.

Tydens die 80-jarige oorlog voer die Geuse 'n soort guerrilla-oorlog vanaf die water. In  1572 kies Enkhuizen sowel as ander Westfriese en Waterlandse stede (waaronder Hoorn ook), die kant van die prins van Oranje teen die Spanjaarde. Enkhuizen 16 op 'n sleutel posisie vir die beheer van die Zuiderzee (vandag Markermeer). Daarom kon die Geuse in 1573 'n slag lewer vanaf die water om Westfriesland onder beheer te kry, deur die aankomende Spaanse vloot vanaf Amsterdam, te verslaan. 'De Hollanders hadden getoond op het water heer en meester te Zijn” 

Vir die slag van Alkmaar trek ene Joost Janszoon 'n kaart op vir die Geuse, wat ontsag by die Spanjaarde ingeboesem het. Was hy nie dalk familie van onse Jan Janszoon nie ?

As daardie skeiding nou nog te bespeur is in die Nederlandse samelewing, hoeveel te meer nie nog ongeveer 340 jaar gelede nie ? Sommige dele van Nederland is oorwegend Rooms en ander is weer oorwegend  gereformeerd. Maar vandag het hierdie skeiding klein geword en in sommige gevalle verdwyn. Die wat wel nog kerk toe gaan, van beide sogenaamde Protestantse kant as Katolieke kant, vorm nou, in verskeie plekke, een kerk. Hierdie neiging is in baie dele van Nederland te bespeur, behalwe in 'n paar standvastige gereformeerde dorpe. Ter wille van die nuwe wêreldorde om eerder die verskille tussen mense, maar ook die verskille van die verlede te begrawe en saam voort te gaan deur die ooreenkomste tussen mense te beklemtoon, word een kerk of assosiasie gevorm volgens 'n predikant van 'Same op Weg" (Dit is die een kerk wat reeds in party dele van Nederland gevorm is tussen die verskillende gereformeerde kerke, maar hoofsaaklik die Gereformeerde en Hervormde kerk. Daar is ook pogings om ander kerke en onder andere Rooms-Katolieke kerk te betrek) met wie ek in Bergen, Noord-Holland, gepraat het. Dit kan vir sommige mense baie verwarrend voorkom aangesien hierdie eenwording plaasvind  ongeag die grondliggende beginsel verskille wat daar tussen Protestante en Katolieke is.

Omdat hierdie verskil vandag nog steeds bestaan word daar gepoog om dit onopsigtelik te maak. Dit is tog waarom daar Geuse en Hugenote was wie se bloed ook in ons are vloei - deur Janzoon en sy seun Pieter Want die Hugenote-bloed is deur Sara du Buis, wat met Janzoon se derde seun Pieter getroud is, in ons Familie ingebring. Daarom het ons almal wat van Pieter Swart afstam, dit wil sê ons met pienk naamkaartjies by die byeenkoms te Roodeplaatdam op 17 September 1994 daardie Hugenote-erfenis en plig. Maar elke Swart het ook hierdie plig, want dit is baie duidelik dat die Westfriese, wat Janzoon baie waarskynlik ook was, almal Geuse was. Ons Afrikaners is mos nie so bewus meer van hierdie verskil nie aangesien die Katolieke nie hier nog so 'n groot bedreiging was nie. Dit is ook heeltemal te verstane aangesien ons voorouers daar uit Europa weggegaan het en die wat tevrede daarmee was, daar agter gebly het.

  • Omgewing 
  • Provinsie Noord-Holland

 Die provinsies Suid-Holland en Noord-Holland is vandag die digste bevolkte deel van Nederland. Die gedeelte vanaf Rotterdam, aan die Rijnrivier in die suide tot by Alkmaar in die noorde en Amsterdam in die noordooste, is bykans aanmekaar bebou en staan hierdie megapolis vandag bekend as Nederland se Randstad.

Alhoewel Suid-Holland die blom teel Mekka is waar die tulp vanjaar sy 400 jaar van blom in Nederland herdenk, kom daar tog ook blomme in die westelike deel van Noord-Holland tussen Haarlem en Bergen voor. Die Noord-Hollandse boerderye het ook hulle eie unieke boustyl, met die bekende kaasmakerye van Edam en Alkmaar naby aan Hoorn.

Alhoewel Hoorn amptelik deel van die provinsie Noord Holland is, was dit vroeër deel van West Friesland, wat strek van Den Helder tot by Hoorn. Daarom dat die Westfries museum ook in Hoorn geleë is. Hierdie Westfriese het ook hulle eie tradisionele kleredrag, wat vroeër met goud en diamante versier was. Dan wonder jy onwillekeurig of Janzoon ook so aangetrek het.

Noord-Holland is die waterrykste gebied van Nederland. Tussen Zaandam en Hoorn is die Schermer polder(‘n Drooggelegde)  meer en in hierdie hele gebied was daar in die 1600's meer as 'n 1 000 windmeulens, wat al die mere moes droogmaak deur die water uit te pomp. Die hele land is 'n netwerk van kanale en slote net om van die afloopwater ontslae te raak. Die eerste dyke is reeds deur die Noord-Hollanders rondom  die jaar 1000 gebou. Die Westfriese omring dyk van 126 km is omstreeks 1300 met Hollandse kapitaal gebou, om die Westfriese beter teen die water te beskerm die streek meer toeganklik vir die Hollanders te maak. Die Westfriese het toe al ‘n geruime tyd die lewe van die Hollanders versuur deur plundertogte en invalle. Dit was dus die einde van 'n vrye West Friesland.

 Nadat mense met kapitaal reeds verskeie kompanjieë begin het, verenig hulle in 1602 in die 'Verenigde Oostindische Compagnie'. Hierdie VOC kry dan ook die handelsmonopolie na die Kaap die Goeie Hoop. Die  aandele van die VOC was die helfte in Amsterdam en die res in Middelburg, Rotterdam , Delft, Hoorn en Enkhuizen gevestig. Dat Holland 'n seevarende volk was, blyk daaruit dat hulle in 1664 nie minder as 16 000 skepe gehad het, teenoor Frankryk se 200. Heelwat vissersdorpe soos Edam, Volendam en Monnickendam kom aan die Ijsselmeer voor met Hoorn seker die grootste.

Hoorn kry reeds in 1357 stad regte. Maar tydens die koop vaardery van die VOC, ontplooi Hoorn en ander Westfriese dorpe tot uitvoerhawens en kapitaalkragtige stede So groei Hoorn dan uit tot “centrum van geestelijk leven” lakenwewerye, tou makerye en visnet breiery. Hoorn kry blykbaar sy naam daarvandaan dat hy in die' Hoorn' van Noord-Holland geleë is en nie so seer soos wat ons gedink het 'n blaas horing nie. Vandag is Hoorn egter 'n groot vooruitstrewende Hollandse stad, met baie inwoners wat in Amsterdam werk.

Amsterdam se ontstaan word geskat op ongeveer 100. Die stad groei rondom die monding van die Amstel in die lJ. In die rivier is damwal ( 'n Damwal soos ons dit ken, word deur die Hollanders 'n dam genoem).gemaak en later 'n gragte gordel in half sirkels wat begin en eindig in die lJ. Sulke gragte is kenmerkend van Hollandse dorpe. As gevolg van die besetting van Antwerpen (die belangrikste hawe van die '1500's) deur die Spanjaarde en die afsluiting van daardie hawe deur die Watergeuse by Vlissingen (die mond van die Westerschelde), het die Hollanders self suiker en ander benodighede begin invoer deur Amsterdam se hawe. Sodoende het baie kooplui en seevaart deskundiges Antwerpen ontvlug op soek na 'n beter en veiliger bestaan in Amsterdam, met die gevolg dat Amsterdam 'n wêreldstad word.

  • Weer

Die weer in die '1600's was maar soortgelyk aan vandag se weervoorspellings wat daagliks afgewissel word deur die berig "af en toe zon en nu en dan regen" of "nu en  dan zon en af en toe regen ". Wat egter die verskil tussen die twee is, weet nugter alleen en beteken dit maar vir ons gewone mense bloot heeltyd reën en so 'n paar minute se son elke paar dae of as jy dink hy gaan skyn dan sous dit al weer. In hierdie nat, koue en triestige weer wat elke normale mens maar weemoedig stem en nie juis 'n aanmoediging is om berge te versit nie, moes arme Jan as kind grootword en later jare 'n bestaan probeer voer in die vissersdorp hawestad en VOC-Setel van Hoorn en Noord-Holland.

Geen wonder dat hy met sy durf en doelgerigtheid besluit het dat dit nie vir die res van sy en sy gesin se lewe so kan voortgaan nie en hy maar besluit het om 'n ander heenkome te gaan vind. Vir hierdie keuse sal ek Janzoon Swart altyd dankbaar bly - dat ek nou die voorreg kan hê om in die Sonskynland te kan bly.,

  • Herkoms

Na my besoek aan die gemeente-argiewe van Hoorn en Amsterdam, betwyfel ek nou ook baie sterk die aanname dat Janzoon van die vissersdorp Hoorn in Noord-Holland, aan die lJsselmeer na die Kaap gekom het.

Hierdie twyfeling word reeds in 1976 uitgespreek:

Alhoewel die ryk argivaris van Noord-Holland in 1950  aan Prof. Con de Villiers skryf dat daar volgens die monsterrol van 1698 'n sekere Janszoon Swart van Hoorn as 'n sieketrooster in kompaniediens aan Kaap is (Volgens De Villiers (1977, p 5).kon die 'Directeur, Centraal Bureau voor Genealogie, Den Haag, Nederland' nie hierdie feit kontroleer en bevestig in sy brief aan die RGN in 1976 nie (Volgens Bylae A in De Villiers (1977, p 371). - 'n jaar voor Prof. Con se dood.

  • Hoorn 

Die gemeente-argief ('n Gemeente het twee betekenisse in Nederland. Dit kan die dorp se bestuur wees (soos ons dit nou die munisipaliteit sal noem) of Dit kan die kerklike gemeente wees soos ons dit ken) van Hoorn, waar die amptenaar  (Mnr. Hoogeveen) baie vriendelik en behulpsaam was, het ek op 8 Junie 1994  besoek in 'n nuwerwetse gebou in 'n nuwe deel van Hoorn. Hier het ek die Attestaat boeke ('Attestatie boeke 1657 - 1773' (verwysing n 18): Deel l: Deur gewerk vanaf: 16 Maart 1679 tot 12 Januarie 1696 en Deel ll: Deur gewerk: 28 September 1679 tot 12 Januarie 1696)  deurgesoek. ln hierdie boeke is opgeteken as 'n gemeentelid vertrek het “ Ned. Hervormde Gemeente Hoorn, Ledematen die met Attestatie versoecken te vertrecken.” Die enigste verwante name wat ek kon kry is Grietje Claes en Grietje Jansz verskeie Jan Jansz, maar hulle vertrek almal na ander plekke in Nederland en twee broers Jan Janz na Amsterdam. Van hulle vertrek ook na ander plekke gedurende die tye wat Janzoon en sy vrou Grietje Claes na bewering kinders in Amsterdam doop en kon dit heel waarskynlik nie hulle gewees het nie.

Dit is egter nie baie duidelik of daar toe reeds 'n duidelike verskil tussen Hervormd en Gereformeerd was nie, want in die een boek staan daar dat die Gereformeerde kerk sy eerste predikant in 1572 beroep het en die kerkgeboue was die Grote Kerk Noorder/Vrouwekerk en die Oosterkerk. Voorin staan daar egter Hervormde Kerk, maar daar was net een attestaat boek.

Die verskillende gemeentes in die dorp het nie aparte  doop boeke nie. Ek het die doop boek (Doopboek no. 6 A&B (wat strek van 1-4-1640  tot 19-11-1649), het ek deurgesoek vanaf 14 Januarie 1644 tot 2 Oktober 1646) in die omgewing van die moontlike geboorte tyd van Janzoon, maar geen naam of name gekry wat verwant is nie.

Hulle het nie lyste van mense wat met skepe uit Hoorn vertrek het nie.

Omdat Jan en Grietje sulke algemene name was is was dit baie moeilik, wie is watter een. Dat ek geen verwante name kon kry nie word bevestig deur die brief van die 'Centraal Bureau voor Genealogie',( Brief deur hulle aan die President van die RGN op 22-1-1976 in De Villiers (1977, Bylae 1, p 371). Waarin gemeld word dat die familienaam Swart nie aangetref word nie, maar wel een egpaar Jan Janzoon en Geertjie Glaes met vier gedoopte kinders.

1.4.2 Amsterdam

Die Amsterdamse gemeente-argief aan die Amstelrivier  en in pragtige ou gebou, het ek op 10 Junie 1994 besoek. Aangesien ek saam met ‘n vriendin (en op haar koste) was, was die tyd egter baie beperk, want daar was net die middag oor voordat ek die Sondag na Suid-Afrika sou teruggekeer. Nietemin, teenoor die vriendelikheid waarmee ek in Hoorn ontvang en gehelp is (waar tyd ook maar ‘n faktor was) is ek hier getref deur die onbeskofte kortafheid en gebrek aan behulpsaamheid van die leeskamer se amptenare,  In Suid-Afrika was ek al by verskeie argiewe en oral was die mense oor die algemeen baie vriendelik en behulpsaam – veral as hulle hoor jy kom van ver af, Nou Ja die Hollanders sê vir my vir my hulle is glo baie besig en kan nie nog vriendelik ook wees nie ! Dis nie dat ek nie geweet het wat ek wil nie, soos mense wat by 'n argief kom en sê hulle wil hulle voorgeslag opspoor. Ek het presies geweet en het datum riglyne ook gehad. ln 'n argief het verskillende jaartalle se boeke nommers.

Hierdie nommers word gewoonlik in inventaris boeke opgekyk. Ek moes net uitvind of hulle verskillende inventarisse het vir die verskillende Kerke Soos reeds gesê, was die klerk nie baie behulpsaam nie.

Ek het gou eers in my nuut gekoopte rooi 'Gids Genealogisch onderzoek in en Amsterdam" gekyk, maar kon geen verklaring vir die verskillende kleure van indeks boekies kry nie. Daar is egter rooi, blou en groen boekies. As mens weet wat die kleure beteken, sal dit eintlik maklik werk, want al die name is reeds deur mense uit die doopregister, alfabeties in hierdie boekies geskryf  met die datum en by party die kerk se naam met die doopboek se nommer en bladsynommer, tesame met die mikrofilm se nommer waarin hierdie boek verfilm is. Dan kan jy net die mikrofilm kry, jou bladsy soek en 'n fotostaat maak.

1-4.2-1 Doopregisters

Nou ja, om 'n lang storie kort te knip van heen en weer soekery tussen blou en rooi  boekie ( Kyk in die Bylaag vir die indeks boekies wat deurgesoek het.) , kry ek toe bykans by toemaaktyd die bekende name en datums wat ek gesoek het - in die blou boekies !

Die Jan wat op 26-1-'1682 (Kyk in Bylaag vir verwysing onder Blou doop indeks boekies no. (3).) deur Jan Janszoon en Grietje Claes in die Oosterkerk gedoop is, het dieselfde getuie as by bogenoemde twee name se huwelik inskrywing', (Kyk die verwysing by die trouregisters.)naamlik Geesje Harmens.

Daar kry ek toe ook vir Pieter Swart wat op 7-1-1689 ( Kyk in Bylaag vir verwysing onder Blou doop boekies no. (6).) in die Westerkerk gedoop is, maar die amptenaar kom amper iets oor dat ons nou nog na ure iets wil doen, maar hulle staan nog heerlik en gesels en ons het hulle glad nie opgehou nie. My vriendin so ek kom van Suid-Afrika en ons het so gesoek vir hierdie en wil net die afdruk maak - gooi 'n munt in 'n masjien, maar o nee "dat word niet tegelaat” waarop hy dit by ons vat.

Nou ja, vir iemand wat dalk eendag weer daar kan uitkom moet in die blou boekies soek !! Want dit is toe blykbaar die Hervormde kerke as dit nou ons mense was.  ln die Bylaag gee ek alle indeks boekies wat ek reeds deurgesoek het.

Volgens die 'Centraal Bureau voor Genealagie" (Brief deur hulle Direkteur aan die President van die RGN op 22-1-1976 in De Villiers(1977, Bylae 1, P 372) word daar in die tydperk 1670-1675 geen familie Swart in Amsterdam aangetref nie. Ek stem egter nie hiermee saam nie want ek kry wel die van Swart ( Kyk by die verwysings van die rooi indeksboekies in die bylaag), maar ons name kom nie voor nie.

1.4.2.2 Trouregisters

My vriendin het in die "ondertrouw"-boekies (Ondertrouw-indeksboekies: (1) No  3105: Claas GR Claas HE 1651-1700kry ons wel Claes Grietjie en Janz (Jansen) Jan op 20 April 1675( Trou boek DTB Nr 501 P 449))  gesoek en toe vir Jan Janz (dit beteken Janszoon) en Grietje Claes gekry wat op 20 April 1675 getroud is. Die huwelik inskrywing lui soos volg: 'Jan Jansz. van A.(Amsterdam) Scheepstimmerman, 29 jaren oud, op Ostburg (of Ostenburg), ouders dood geassisteerd met Geesie Harmens, zijn 'siexer' (suster), en Grietje Claes, van A.(Amsterdam), 21 jaren  geassisteerd met haar vader Claes Theunis". Hierdie stem wel ooreen met die inligting wat  die 'Centraal Bureau voor Genealogie'' verstrek het en wil ek saam stem dat na aanleiding van Geesje Harmens wat getuie op beide hierdie huwelik sowel as op die doop van die Jan op 26-1-1682 was, dit heel waarskynlik dieselfde mense was. 

ln Nederland is trou slegs amptelik as jy voor die gemeente in die raadhuis trou. Mense kan as hulle wil dan ook in die kerk trou, maar dit word dan nie opgeteken nie.

1.4.3 Moontlike antwoord

Maar nou ja, of die gedoopte Pieter nou ons Pieter is, is ook maar oor te bespiegel, want in 1689 was sy pa dan aan die Kaap gewees en was dit reeds vier jaar nadat hy uit Holland weg is. Tensy sy ma, Grietje, hom alleen gedoop het, in sy pa se afwesigheid. Sy kon dalk gewag het dat Janzoon Vroeër terug sou kom na Holland en dalk toe maar lateraan besluit het om vir Pieter te doop voordat hy darem te groot is. Ek het nou nie self die doop inskrywing gesien nie om te kyk of daar enige aanduiding van die pa se afwesigheid is nie. My vriendin sal egter vir my 'n fotostaat gaan maak as sy weer in Amsterdam kom.

Volgens die huwelik inskrywing was Jan Janszoon 'n skeepstimmerman op Ostburg, of Ostenburg of selfs Oostburg, maar daar word tog gesê dat hy 'n Amsterdammer was. Die moontlikheid bestaan dat hy in omgewing van Hoorn 'n skeepstimmerman was, want dalk bestaan die plek met sodanige naam nie meer vandag nie. ln die omgewing van Hoorn kom wel name soos Oosterleek, Oosterdijk, Oostwoud, Oostmijzen en Oosthuizen voor. Die VOC het wel 'n timmerwerkplaats in Hoorn gehad (Volgens 'Noord-Holland van strandwal tot randstad' p 12) . lndien die naam Ostburg streng gevolg word, bestaan daar vandag in Zeeuws Vlaandere 'n Oostburg. Dit is naby aan die Westerschelde wat die hoof waterweg na Antwerpen is en daar moes dus noodgedwonge in daardie omgewing skeep timmer werkplekke gewees het. Hy kon wel net tydelik van Amsterdam na hierdie omgewing gestuur gewees het. Janzoon kon selfs Zeeuwse familie daar gehad het, want volgens Pama (1959)1s was daar Zeeuws en Hollandse Swarte gewees.

Al wat vir my na 'n moontlikheid op hierdie stadium lyk , is dat Janzoon as vrygesel in Hoorn gewoon het en tydens sy troue na Amsterdam  is, vanwaar hy dan na die Kaap gekom het. Of dit wel ons voorouers is, sal ons net oor moet wonder tot die tyd ons leer. Die kinders wan wie doop gegewens gekry , bly ook nog maar 'n raaisel wat opgelos sal moet word.

2. JANZOON SWART: DIE MENS

Daar sal nog baie nagevors moet word om die waarheid oor Janzoon Swart uit te vind. Ons ken nog nie eers die waarheid van alles wat in afgelope 309+ jaar hier in Suid-Afrika gebeur het nie. Die feit van die saak is egter dat Jan Janzoon na Suid-Afrika gekom het, al kom hy ook uit watter onbekende is juis hierdie durf van hom wat my so baie oor hom laat nadink het. Daar het soveel oor hom vir my bekend geword, dat hy nou ook vir my lewe gekry het. Net soos Prof. Con van sy ouma, wat hy nooit gesien of geken het, gesê het, kan ek ook nou van Jan Janszoon Swart sê.  So lank as 'n mens nog deur iemand onthou word, is jy nie werklik dood nie'. (Volgens De Villiers (1977, Bylae B, p 373).Hy lewe nou reeds so in my gedagtes sedert ek op 8 en 10 Junie 1994 in  onderskeidelik Hoorn en Amsterdam was, dat dit voel of ek hom nou al baie goed  ken. Daarom wil ek juis nou hierdie lewende mens Jan Janzoon Swart met u deeI en aan u bekendstel

2.1 Doelgerig

Janzoon Swart het 'n doel voor oë gehad: om Kaap toe te gaan. Maar om so 'n ingrypende verandering te maak, moes hy diep gelowig gewees het, want hierdie Kaap-toe-gaandery was nie net 'n mening wat weer oorgewaai het nie, dit was 'n vasbeslote standpunt. Daarom kon hy standvastig by hierdie ideaal van hom gebly het.

Om alle bekende dinge en mense agter te laat en na die woeste vreemde te gaan, kon hy alleenlik gedoen het deur selfstandig dinge te doen en standvastig by sy beginsels te staan, versterk deur sy diep geloof in God Drie-Enig. Maar sy vrou Grietje was ook gewillig om na die vreemde te gaan en so haar man by te staan. Albei was verantwoordelik, want vir daardie tyd trou hulle nie so jonk uitoefen nie hy was reeds 29 en sy 21, Dus kon hulle beredeneerd hierdie keuse uitoefen sonder om halsoorkop te wees

2.2 Denkende oop gees

Janzoon Swart se denkende oop gees wat gebou was op sy Calvinistiese Protestantse fondament, het daartoe gelei dat hy nie vasgevang was in die geykte Hollandse lewe nie. Hy wou nuwe horisonne soek, om daarmee nuwe geleenthede aan te gryp om sy roeping as Protestant uit te leef. Hy kon dus vir homself dink en redeneer en het nie maar met die stroom saamgegaan nie, soos so baie Hollanders van daardie tyd wat maar tevrede was met hulle omstandighede en nie eers gewonder het oor ander moontlikhede nie.

Volgens 'n radioprogram op Afrikaans Stereo van 22-8-1994, bestaan daar vandag nog die opvatting dat Hollanders suinig en bekrompe is. Indien dit die geval meer as 300 jaar gelede was, is dit baie duidelik dat Janzoon net mooi die teenoorgestelde was, want hy dink vir homself en maak so 'n ingrypende besluit wat nie net homself geraak het nie maar sy totale nageslag. Is ons ook bereid om vir onsself te dink en sulke ingrypende besluite te neem, of is ons te bang oor wat die samelewing van ons sal dink ?

2.3 Vrolike gees

Sy denkende oop gees het aanleiding daartoe gegee dat hy ook 'n vrolike gees gehad het. Volgens die aansoek wat hy in 1692 gedoen het dat sy vrou en kinders van Amsterdam na die Kaap per skip moet kom, blyk dit dat hy toe reeds sieketrooster (krankenbezoeker) op Stellenbosch was"( Volgens De Villiers (1977, p 5). Omdat hy en sy vrou bevrydes en vrygemaaktes was, was die kerkraad van Stellenbosch nie met hulle gedrag tevrede nie en in 1700 versoek hulle die Kaapse owerheid om 'n "stichtelijker man" in Jan Swart se plek aan te stel. Hulle was seker so bly om mekaar na sewe jaar weer te sien dat dit heeltemal te verstane is dat hulle vrolik was. Hulle werk was dan juis om die siekes op te vrolik, maar nou ja volgens die kerkraad was hulle vrolikheid blykbaar te onstigtelik !

2.4 Nederig en Volhardend

Hulle was gewone mense - nie 'n goewerneur of een of ander hoogwaardigheid bekleër nie. Nederig maar invloedryk Hulle invloed strek tot by ons 309+ jaar later. Werk word nie verrig, doelwitte word nie bereik en tradisies word nie voortgesit deur vooraanstaandes se mooi woorde, sprankel en glorie nie, maar juis deur nederige volharding in dit waarin gewone mense soos Janzoon en Grietje Swart geglo het en hulle harde werk om dit te bereik. Daarom  kon hul seun Pieter die eienaar wees van die plaas Uilenskraal, naby Gansbaai, om so een van die eerste drie pionier families van die Overberg te word. So lê hulle voetspore oral, vir ons om te volg.

2.5 Beginselvaste Gesinsman

Omdat hy Calvinistiese Protestant was, was hy eerlik en getrou aan sy herkoms, tradisies, taal, kultuur en Godgegewe plig en roeping as vader en laat hy as gesinsman sy vrou en kinders in 1692 ook van Holland af kom (Volgens Kaapse Argief bewaarplek - kyk in De Villiers (1977, p 5).. Hierdeur bevestig hy sy eienskappe van standvastigheid, beginselvastheid en verantwoordelikheid. Daar word van sovele ander beweer (of dit nou kwaadwillig was of nie) dat hulle in die Kaap op verkeerde weë beland het deur met andere te ondertrou. Maar Janzoon Swart het by sy Protestantse beginselvaste fondament gehou.

Getrou aan sy Calvinistiese roeping om die geloof vlam in Afrika te kom uitdra, was, hy getuie by drie doopplegtighede van Kleurlinge in Stellenbosch toe hy sieketrooster was.( Volgens De Villiers (1977, p 5).

2.6 Denkende intelligente mens

Die denkende gees wat Janzoon reeds in Holland gehad het, maak dat hy ook 'n intelligente mens was. Dit het tot gevolg dat hy nie net probleme kon oplos nie, maar dan ook vir ander tot diens en hulp kon wees deur kontrakte op te stel. Om dit te kon doen moes hy tog intelligent gewees het. Daarom hy na' 1694 ook sekretaris van die plaaslike landdros kantoor (Volgens De Villiers (1977, p 5-6) en Pama (1 p 314). Omdat hy slim was self dinge kon uitdink, kon hy nie net kontrakte opstel nie maar ook testamente en ander prokurasies - sonder dat hy daarvoor geleer het. So sluit hy die toekoms vir homself en sy nageslag oop.

2.7 Bouer van 'n volk

Hier in die Kaap aan die suidpunt van Afrika, met sy storms maar ook felle son, wat louter, kom vestig Janzoon Swart 'n Familie Swart, sodat deur die talrykheid van sy nageslag al hierdie eienskappe van hom steeds voortleef. Deur die avontuur te deurleef, het sy vrou die beskawing hier in Suid-Afrika laat voortleef. Daarom is ek diep dankbaar teenoor hom wat die moed en durf gehad om slegs met sy Protestantse beginsels en Goddelike roeping hier na die suidpunt van Afrika te gekom het, om daardie vlam verder te laat voortgaan. Dis ook slegs hierdie Vlam wat ons vandag, 309+ jaar later, as erfenis van hom het. Maar ons is deur ons Familie-Swart-bloed verbind en verplig om hierdie geloof- en tradisie- en waarde vlam voort te dra na die volgende geslagte toe. Deur hierdie vlam het Janzoon Swart en sy vrou Margaretha Claesdochter Coerie saam gehelp om die Familie Swart te bou wat uit verskeie kleinere families bestaan en uiteindelik ons elkeen se gesin, wat die basiese bousteen van die samelewing is.

3. ONS PLIG

Ons elkeen hier het 'n plig, nie net teenoor onsself en ons nageslag nie, maar ook teenoor Janzoon en Grietje Swart.

3.1 Navors van eie voorgeslag

56 het ek net opnuut weer onder die diepe besef gekom van Prof. Con de Villiers (skrywer van ons geslagsregister) se woorde: 'Vir diegene wat werklik lewe is hulle nie dood nie" en kan ek ook saam met hom bevestig dat "my omgang met die dooies het my lewe verryk(Volgens De Villiers (1977, p 4). DAAROM wil ek op elke Swart die oproep doen om belang te stel in jou familie. Nie net deur na feeste toe te kom nie, maar gesels met ouer mense, besoek julle ou begraafplase, vind al die interessanthede maar ook leed, van jou eie voorgeslag uit EN skryf dit neer. Anders sal hulle enigste nalatenskap dalk hulle verlate grafsteen wees.

Doen dit voor dit te laat is en jou geliefdes nie meer daar is nie. Want dink 'n bietjie: hoe sal ons geërfde erfenis kan voortleef as ons dood is, as ons nie nou die dooies laat leef nie ?

Daarom eer ek Janzoon Swart en sy vrou Margaretha Claesdochter Coerie se nagedagtenis. Maar ek dank ook die Here vir die voorreg om 'n nasaat van hierdie twee wonderlike invloedryke mense te wees. Hulle nagedagtenis laat mens egter tot diepe nadenke en besinning kom.

3.2 Om 'n Swart te wees: 'n Belofte en 'n kontrak

Die plig bly nie net daarby om hulle te eer en mooi woorde oor hulle te sê nie. Die plig het 'n verbintenis geword, soos vantevore gesê .Jy  is deur jou bloed en die van SWART verplig en verbind om hierdie vlam van geloof, tradisies en waardes, wat Janzoon gebring het, uit te leef en voort te dra. As jy nie bereid is om hierdie plig en roeping te volbring nie, moet jy besin - want dan mag jy jouself nie meer ‘n SWART noem nie.

As jy dalk slap gelê het met jou plig, moet jou handtekening jou telkens herinner dat jy 'n SWART is en deur die van SWART te dra en te aanvaar, het jy jou deel van hierdie kontrak en belofte aanvaar. Daarom, elke keer as jy jou van SWART teken, hernu jy jou deel van die kontrak. Dan moet jy die Here dank vir die voorreg om stamouers soos Janzoon Swart en Margaretha Claesdogter Coerie te hê en Hom vir krag en genade vra om jou te help om jou deel hierdie belofte en kontrak na te kom.

Daarom is die betekenis daarvan "Om 'n SWART te wees die daarstel en onderhoud van 'n belofte en 'n kontrak.

VERWYSINGS:

AFRIKAANS STEREO. 22-8-1994: Radioprogram
BUREAU VOORLICHTING. 1984: Noord-Holland van strandwal tot randstad. Tweede druk. Provinciaal Bestuur van Noord-Holland Haarlem.
DE VILLIERS, C.G.S. 1977: Geslagsregister van die Swart in Suid-Afrika. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing: Pretoria
GEMEENTE.ARGIEF VAN AMSTERDAM. Besoek: 10-6-1994. Bronne van gegewens soos in voetnotas en Bylaag beskryf.
GEMEENTE-ARGIEF VAN HOORN. Besoek: 8-6-1994, Bronne van gegewens soos in voetnotas en Bylaag beskryf.
PAMA, C. 1959: Die wapens van die ou Afrikaanse Families. A,A Balkema. Kaapstad
PAMA, C. 1983: Die Groot Afrikaanse Familienaam boek Human & Rossouw Kaapstad

Aanvanklik het ek bloot oor die tydfaktor in blou en rooi indeks boekies gesoek en omdat ek niks die blou(Blou doop indeks boekies deurgesoek sonder (1) No. 3390: Bruyns - Charlessen (2) No. 3474: Niks (3) No. 3475: Niks) gekry het nie, maar besluit ek sal in die rooi begin en van 'n kant af werk.

Ek het vyf rooi (Rooi doop indeks boekies heeltemal deurgesoek: (1) No. 1076: Suke - Ters 1611-1620 (geen Swart met ons name nie), (2) No.2427: Jakert - Jochemis 1681-1690 (geen Jansz nie). Doop indeks boekies(Rooi doop indeksboekies heeltemal deurgesoek: (3) No.2603: Swaan P. - Swart Ja. 1681-1690 (baie Swafte, maar geen Jan Janszoon nie), (4) No. 2604: Swart Jo. - Swet 1681-1690, (5) No. 3578: Stoffels S. - Teunisse Ad. 1681-1690 (geen Swart in nie).  deur gesoek, beginnende natuurlik by Swart, maar geen Jan Janzoon wat kind doop of gedoop word nie. Daar is omtrent tien rooi indeks boekies met slegs Jan Jansz. Dit wil sê 'n Jan wat se pa ook Jan was. So hoe op aarde gaan jy weet watter is watter een. Uit blote moedeloosheid begin ek toe weer in die blou (Blou doop indeksboekies met bekende name in:

(1) No. 3475: Jansz Jan en Grietje Claes se kind Marretjie op 12-1-1681 (Doopboek Nr. 87 p.267),
(2) No. 3475: Jansz Jan en Grietje Claes se kind Marretjie op 12-1-1681 (Doopboek Nr. BB p.222),
(3) No. 3476: Jansz Jan en Grietje Claes se kind Jan op 26 Januarie 1682 Oo.K. (dis toe Oosterkerk !) (Doopboek Nr. 87 p. 273) (wel 'n fotostaat gemaak),
(4) No. 3477: Jansz Jan en Grietje Claes se kind Claes op 14-12-1687 No.K. (dis toe Noorderkerk !) (Doopboek Nr. 77 p.528),
(5) No. 3477: Jansz Jan en Grietje Claes se kind Tryntjie op 5-12-'1688 Oo.K. (dis toe Oosterkerk !) (Doopboek Nr. 87 p.315),
(6) No. 3477: Jansz Jan en Grietje Claes se kind Pieter op 7-1-1689 W.K. (dis toe Westerkerk !) (Doopboek Nr. 108 p. 73 of 173).

 Doop indeks boeke soek.

Daar is dit reeds bykans 16:45 en kry ek die bekende name en datums wat ek wou hê! inderhaas gryp ons die mikrofilms en maak fotostate van die een Jan en die huwelik inskrywing. Maar soos reeds gesê is ons nie toegelaat om Pieter se doop inskrywing van 7-1-1689 te maak nie.

Met dankbaarheid en erkenning vir haar harde werk Marna Swart vir die opstelling hiervan namens ons familie bond van die familie SWART

  • Hits: 116

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy