MURRAY Andrew [Ds]
Ds Andrew Murray (26 Mei 1794, Milltown of Clatt, Skotland - 24 Junie 1866, Graaff-Reinet, Suid-Afrika) het in Julie 1822 in Suid-Afrika aangekom om onder veral die Hollandsprekende bevolking te arbei as predikant van die Graaff-Reinet gemeente. Hy het in hierdie hoedanigheid gedien vanaf sy aankoms in 1822 tot met sy afsterwe in 1866, op 72-jarige ouderdom. Hy is as predikant van Graaff-Reinet opgevolg deur sy seun Charles (b5). Gesamentlik het hierdie pa en seun die Graaff-Reinet gemeente gedien vir ‘n onafgebroke termyn van 82 jaar!
Andrew Murray is op 26 Mei 1794 gebore in die "Milltown of Clatt" in die Aberdeenshire-distrik van Skotland. Die destydse goewerneur aan die Kaap, Lord Charles Somerset, het dr Thom van die Londense Sendinggenootskap Skotland toe gestuur om predikante en onderwysers te werf vir diens onder die Nederlands-sprekende mense in die Kaapkolonie. Andrew het die uitnodiging aanvaar. Sy vader het toe nie meer geleef nie.
“Andrew wished to be a missionary, but his mother’s dread of separation and her fear of cannibals prevented him. When he received the offer of work among the Boers of South Africa, the thought that he might at the same time labour among natives, was an additional incentive to accept it. His mother was very ill when he left – so ill that her son’s destination was not told her. His brother, John, accompanied Andrew through the fields to the highway to meet the stagecoach for London. While awaiting the coach the brothers knelt together and prayed, and sang “O God of Bethel.” They parted and never met on earth again, but when about fourteen years later John and Andrew of the second generation were sent to Scotland for their education, it was to the house of their Uncle Rev Dr John Murray they were sent and there they lived for seven years.” (From “A Family Gathering at Kalk Bay”, November 10, 1906.)
Op 31-jarige leeftyd is Andrew Murray in 1825 in Kaapstad getroud met die sestienjarige Maria Susanna Magdalena Stegmann (5 Maart 1809 - Augustus 1889). Uit hierdie huwelik van Andrew en Maria is 16 kinders gebore; 8 seuns en 8 dogters:
• b1 John (15 September 1826 - 27 Desember 1882: Ouderdom 56) predikant, getroud met Maria Ziervogel
• b2 Andrew (9 Mei 1828 - 18 Januarie 1917: Ouderdom 88) predikant, getroud met Emma Rutherfoord
• b3 William (21 Oktober 1829 - 16 Julie 1899: Ouderdom 69) predikant, getroud met Ellie Gie
• b4 Maria (19 Junie 1831 - 5 Desember 1912: Ouderdom 81) getroud met ds Johannes Henoch Neethling
• b5 Charles (26 Februarie 1833 - 23 September 1904: Ouderdom 71) predikant, getroud met Amelia Bailie
• b6 George (1834 - 1840: Ouderdom 6)
• b7 Jemima (26 April 1836 - 3 Januarie 1904: Ouderdom 67) getroud met ds Andries Adriaan Louw
• b8 Isabella (1838 - 1839: Ouderdom 1)
• b9 Isabella (Bella) (24 Desember 1839 - 14 Junie 1927: Ouderdom 87) getroud met ds Jan Hendrik Hofmeyr
• b10 Catherine (Kitty) (1841 - 1860: Ouderdom 19)
• b11 James (1843 - 25 September 1914: Ouderdom 71) ongetroud
• b12 George (7 Augustus 1845 - 18 Mei 1921: Ouderdom 75) predikant, getroud met Kitty Louw
• b13 Robert (1847 - 1850: Ouderdom 3)
• b14 Helen (Ellie) (22 September 1849 - 20 Desember 1937: Ouderdom 88) ongetroud
• b15 Margaret (1852 - 1857: Ouderdom 5)
• b16 Elizabeth (Eliza) (20 November 1855 - 5 November 1917: Ouderdom 61) trou met ds Hendrik L Neethling
Van hierdie 16 kinders is 4 klein dood - b6 George (6); b8 Isabella (1); b13 Robert (3); en b15 Margaret (5) - terwyl b10 Catherine as jong meisie op 19-jarige ouderdom dood is. Van die oorblywende 11 kinders wat volwassenheid bereik het, het een seun - b11 James (71) - en een dogter - b14 Helen (88) - nooit getrou nie. Al 9 kinders wat getrou het en ‘n nageslag nagelaat het, het lewenslank in pastorieë gebly: al 5 die seuns het predikante geword en al 4 die dogters het met predikante getrou! Die jongste dogter - b16 Elizabeth - se eggenoot is op relatief jong ouderdom oorlede en sy het net 3 kinders gehad. Die ander 8 getroude kinders se gesinne het gewissel tussen 11 en 16 kinders elk. Gevolglik het Oupa Andrew en Ouma Maria nie net 16 kinders gehad nie, maar ook 108 kleinkinders!
Die familie het in 1909 ‘n besonderse boek, “Unto Children’s Children”, uitgegee oor dié merkwaardige gesin en familie (spesiaal vir interne sirkulasie binne die familie). Die boek bevat onder meer kort lewensbeskrywings van elk van die twee ouers en elk van die 11 volwasse kinders. Die boek bevat ook die eerste gepubliseerde stamregister van die familie. Latere uitgawes van die stamregister sluit dié in wat gepubliseer is deur Emma Horn (1954), Caroline Murray (1977) en Koos Reyneke (1996).
Die Afstammelinge en die 2012-Stamregister
Van die oorspronklike egpaar Andrew en Maria Murray van Graaff-Reinet en hulle 16 kinders en 108 kleinkinders het daar ‘n nageslag gegroei wat vandag geskat word op bykans nege duisend, waarvan seker meer as vyfduisend nog lewe. Hierdie nageslag, wat in die 9 “takke” van die familie ingedeel kan word, word in ‘n redelike mate weergegee in die 2012-weergawe van die familie-stamregister. Verreweg die kleinste van hierdie 9 takke is die b16 (Eliza)-tak, met minder as 80 name, terwyl die b12 (George)-tak die grootste is, met oor die 1400 name.
[Daar is ongeveer 7 000 naam-inskrywings in die 2012-weergawe van die familie-stamregister (wat in beide Afrikaans of Engels nog in druk beskikbaar is of op 'n CD met beide die Afrikaanse en Engelse tekste op een CD). Sommige van hierdie name verskyn egter meer as een keer in die boek, bv die hele Reyneke-subtak. So is daar gevalle van name wat selfs driemaal in die boek verskyn, maar daar is ongelukkig ook talle individue en sub-vertakkings wat nie opgespoor en kontak mee bewerkstellig kon word nie.]
Naas die 9 hooftakke van die familie kan daar ook met reg gepraat word van die verskillende “subtakke”. Ná die naam van die kind, of tak, in die lys hier onder, word die aantal kleinkinders genoem en daarna die aantal subtakke, met ander woorde die aantal kleinkinders wat wel ‘n nageslag gelaat het. Dit gee ‘n totaal van 62 subtakke (sommige baie klein, sommige baie groot):
Een van hierdie subtakke (b5c4) bevat slegs 8 name en het in sekere sin “doodgeloop”, deurdat almal reeds oorlede is. Twee ander takke (b7c1 en b12c12) is in werklikheid net een (die Reynekes), weens die huwelik van ds Johan Reyneke (b7c1d2) met Elize Murray (b12c12). Ons kan dus praat van 60 “aktiewe” of “lewende” subtakke in 2012. Die kleinste hiervan is b2c11 (in die Andrew-tak), met 11 name (6 lewend) en die grootste subtak is b7c4 (die “Morgenster-Louws” in die Jemima-tak), met oor die 400 name aangeteken in die 2012-uitgawe van die stamregister.
Talle van die afstammelinge het besondere bydraes gelewer en bekendheid verwerf. Die bekendste hiervan is sekerlik die tweede oudste seun, dr Andrew Murray, van Wellington. Daar is egter ook talle andere wat vermeldingswaardig is - ook onder die aangetroudes. Die familie word veral gekenmerk deur die rol wat talle nasate steeds bly speel het op die kerklik-godsdienstige en onderwys-gebiede. Dit het veral ook baanbrekerswerk in die sendingvelde van die vasteland ingesluit. In hierdie stamregister verskyn onder meer die name van talle vooraanstaande akademici en hoofde van sommige van die bekendste skole in die land. Miskien minder bekend is die leidende rol wat sommige nasate ook op ander terreine gespeel het, insluitende die letterkunde, regswese, ekonomie, sakewêreld en op sportgebied. Dit sluit byvoorbeeld verskeie Springbok-rugbyspelers in.
Van die grootste belang is egter die talle nasate wat sommer net gewone mense was en is, wat hulle rol op daaglikse vlak in hulle gesinne en gemeenskappe speel en op hierdie vlak die waardestelsels uitleef wat kenmerkend was van die die gesin van Andrew Murray van Graaff-Reinet.
------------------------
Onttrek – en aangepas - uit: “Andrew Murray van Graaff-Reinet, Stamregister 2012” uitgegee deur die Andrew Murray Familiebond
Kontak: Teo Louw (teolouw[at]yahoo.co.uk)
Saamgestel deur Johan Ahlers.
- Hits: 10753