Surnames V to Z

Written by Leon von Moltke on . Posted in V - Z.

VON MOLTKE Rudolph Leopold

Rudolph Leopold von Moltke

Nou ja … soos Eddie sê: "Hy was wat ons klomp kinders saam níé was nie."(1)

Volgens vertellings, wat onbevestigbaar is was Rudolph Leopold (2) ("Rudolph") die buite-egtelike kind van 'n von Moltke en 'n barones von Strauss. Om die skande uit die adelike families uit te hou, is hy met 'n Hollandse verpleegster na Suid-Afrika toe gestuur. Wat sy naam op daardie stadium was, is onbekend. 'n Jong prokureur met die naam van Reitz (die latere president van die Oranje Vrystaat) het die hele reis en die (klaarblyklike) aanneming georganiseer. In Suid-Afrika is Rudolph deur 'n van Jaarsveld-familie aangeneem en hy het die naam Paul Albert gekry, 'n naam wat hy tot minstens by sy tweede troue in 1882 gehou het.

Ná sy hoërskool loopbaan, het sy regte ma hom laat terugkom na Duitsland toe, om sy hoër opleiding daar te ontvang. By sy aankoms daar, het sy moeder met die hele sak patats vorendag gekom. Hy was blykbaar woedend en wou met die Duitsers niks meer uit te waai hê nie. Volgens Eddie is dít ook hoekom hy later met 'n Engelse meisie getroud is. Hy het wel die geleentheid gebruik om sy naam te verander na von Moltke.

Terug in Suid-Afrika het hy begin om met perde en ander vee te spekuleer, met Calvinia as sy basis. Op een van sy togte het hy Frances TERRY ontmoet in Fraserburg. Sy het van Blackpool in Engeland afgekom en in die Karoo gaan bly weens haar swak longe. Longprobleme was 'n algemene kwaal onder mense wat naby die steenkoolmyne gebly het, en veiligheidstandaarde en regulasies wat besoedeling beheer was in daardie stadium nog ongehoord. Sy was 'n fotograaf van beroep, maar ongelukkig kon geen van haar foto's opgespoor word nie.
Rudolph Leopold von Moltke -
stamvader van die Afrikaner von Moltkes

Hulle eerste kind, Sarah Amelia Gertrude (Gertrude) (wat later met Mike Berning getroud is), is skaars tien maande na hulle huwelik gebore. Die volgende twee seuns is vernoem na die twee vorste van die lande waaruit die ouers afgestam het, die eerste was Albert Edward na die Engelse koning en die tweede was Wilhelm Frederick, na die Duitse keiser, blykbaar om darem so 'n mate van regverdigheid te behou tussen die Duitse voorsate van die familie en die Engelse invloed van Frances Terry. Daarna het nog twee seuns gevolg, Dick en Tom.

Kort na die geboorte van die laaste van vyf kinders, is Frances Terry aan tuberkulose oorlede in Fraserburg. Haar sterftesertifikaat dui onder andere aan dat sy 'n klomp volstruise agter gelaat het! Die kinders was almal nog bloedjonk, met Tom wat net 'n jaar oud geword het. Gedurende hierdie tyd het Rudolph (op daardie stadium nog steeds Paul Albert) met Ada MURRAY getrou, by wie hy een dogter gehad het, Mary. Van dié huwelik en van Mary is daar ongelukkig niks bekend nie.

Daar is nie veel bekend oor Rudolph nie, maar dit blyk of hy nie té gewild was by die gereg nie. In die Kaapse argief is 'n brief waarin iemand, wat hom tevore voorgestel het as vrederegter, hulle nominasie terugetrek het, weens Rudolph se beweerde (maar nooit bewese) betrokkenheid by 'n diefstal van volstruise. In die geslagsregisters wat uncle Dick gemaak het, verskyn sy naam in party registers as Rudolph Leopold en in ander as Rudolph Ludvic. Hieroor sê Eddie net: "… ja en in die poliesregister sal jy nóg tien ander name ook sien!"

Frances Terry -
die Engelse stammoeder van die Afrikaner von Moltkes

As deel van sy spekulasie-bedrywighede het hy vir 'n ene Mills £500 se goedere (meestal klere, "blinkgoed", ensovoorts) teen die einde van 1894 in Madagaskar gaan smous. Blykbaar het hy 'n redelike klomp kontant ook gehad, maar die rede hiervoor is duister. Kort voor sy terugkeer skryf hy aan Mills dat hy baie siek is aan malaria en dat hy hom dalk nie weer sal nie. Sy handelstog was blykbaar redelik suksesvol, maar hy moes 'n klomp van die muntstukke daar los omdat dit te swaar was om te vervoer. Stories doen die rondte dat dié tog nie net 'n handelstog was nie, maar dat die eintlike rede was om wapens te smokkel. Dit blyk na alle waarskynlikheid nie die waarheid te wees nie, aangesien daar slegs twee vuurwapens in sy inventaris van goedere was en dit taamlik algemeen was om vuurwapens te ruil in daardie tyd.

By sy terugkeer na Port Elizabeth is hy dadelik in die hospitaal opgeneem, waar hy nie lank daarna nie oorlede is aan malaria. 'n Ontstelde Mills het dadelik die magistraat gaan sien, want Rudolph het hom nog nie terugbetaal na die tog nie (sy beëdigde verklaring vertel onder andere hoe hy die losieshuis in Port Elizabeth besoek het waar Rudolph gebly het, net om te hoor dat laasgenoemde ernstig siek in die hospitaal lê). Rudolph het intestaat gesterf en volgens sy sterftesertifikaat (die dokter erken dat hy nie heeltemal seker is van sy feite nie) het Rudolph slegs sowat £25 se losgoed nagelaat, asook die hoofpyn vir Mills om sy eiendom uit Rudolph se boedel te probeer hou. Wat van Mills en sy aansoek geword het is nie bekend nie, maar dit klink logies dat sy eis water gehou het, na aanleiding van wat met die kinders gebeur het na Rudolph se dood.

Die kinders (Eddie was negentien) was op daardie stadium in 'n High Church of England kosskool en toe die geld opraak vir hulle verblyf, is hulle gedwing om die kosskool verlaat. Die ou Hollandse verpleegster wat Rudolph uit Duitsland gebring het, is intussen met 'n Laubscher getroud en sy het haar oor die weeskinders ontferm en hulle groot gemaak op hulle plaas Droogeheuwel in die Kaapprovinsie. Dit was 'n groot gesin en in die familieregisters wat uncle Dick gemaak het, spreek hy die hoop uit dat die von Moltke-familie altyd sal onthou hoe goed die Laubschers vir hulle weeskinders was en dat die twee families altyd kontak sal behou, iets wat ongelukkig blykbaar nie gebeur het nie.

STAMBOOM
Rudolph Leopold se onmiddellike stamboom is soos volg:

Voetnotas:
1. Die meeste van hierdie gedeelte is saamgestel uit vertellings van Eddie von Moltke, wat self erken dat dit meestal hoorsê is, veral aangesien Rudolph oorlede is terwyl al sy kinders nog minderjarig was. Dit lyk of die storie oor die buite-egtelike kind waar kan wees, soos Wulf von Moltke van Büdingen, Duitsland bevestig het. Die gedeelte oor Madagaskar is saamgestel uit 'n dokument wat in die Staatsargief in Kaapstad opgespoor is.

2. Sy geboortedatum is onbekend en word in uncle Dick se geslagsregisters aangegee as 1850, terwyl 'n familieregister van die von Moltkes wat in die FAMILIA (die genealogiese vereniging van Suid-Afrika se tydskrif) in 1971 gepubliseer is dit aangee as 1848. Daarvolgens is hy in Mecklenburg in Duitsland gebore.


Saamgestel deur:
Leon von Moltke.