Surnames V to Z

Written by A.J. Buys on . Posted in V - Z.

WAIT James

James Wait is op 10 September 1783 in St. Leonard’s Mill, naby Lauder in die Berwickshire landstreek van Skotland gebore. Sy ouers was James Wait en Mary Jamison. James was ‘n boer in Lauder en is circa 1806 met Alison Bain (ook soms gespel Bean) getroud. Hulle eerste vier seuns is in Skotland gebore. Op 16 Junie 1817 vertrek die gesin met die brik 'Clyde' vanaf die Downs met 89 emigrante na die Kaap as deel van Benjamin Moodie se emigrasieskema. Hulle arriveer op 27 September 1817 aan die Kaap nadat hulle vyfde seun tydens die seereis gebore is.

James is deur Frederik Korsten as plaasbestuurder aangestel op sy plaas Gamtous Riviers Wagendrift. Die plaas word in Desember 1821 aan die Londense Sendinggenootskap verkoop en hulle verander die naam na Hankey. James en sy gesin vestig hulle op 'n eie plaas wat hy Honey Clough noem en in Desember 1824 ontvang hy die titelakte vir die plaas. In 1827 word James Wait deur die Sendinggenootskap gekontrakteer om 'n besproeiingskanaal langs die Kleinrivier na Hankey te bou. Dit is in 1830 voltooi en die 6 km lange kanaal was die eerste van sy aard in Suid-Afrika. Alison is in September 1831 oorlede. Op 4 April 1850 is die plaas tussen James se drie seuns, Thomas (b3), John (b9) en Ignatius (bl0), verdeel. Die plaas se naam is verafrikaans, eers na Honey Kloof en later na Heuningkloof. James se kleinseun James Thomas Wait (b3c2) boer later op Heuningkloof en word een van die baanbrekers van die Suid­-Afrikaanse sitrus uitvoerbedryf. James Wait is op 27 April 1866 in Humansdorp oorlede.

KINDERS

b1     JAMES, gebore 1.1.1809 Lauder, gedoop 15.1.1809 Lauder, oorlede 30.10.1866. Boer op Mimosa Vale in die Gamtoosvallei, ook ‘n skrynwerker en wamaker. X 8.8.1833 IGNASINA PETRONELLA DU PREEZ, gedoop 10.7.1814. Dogter van IGNATIUS PETRUS DU PREEZ en ANNA CATHARINA VAN VUUREN.

b2     WILLIAM, gebore 10.4.1810 Lady's Mill, Lauder, Skotland. Woon op Uitenhage, later Willowmore. X 17.9.1837 ANNA MARGARETHA MARIA DORFLING, gebore 1815 Humansdorp, oorlede 26.9.1883 Willowmore, d.v. JOSEPH en ANNA MARGARETHA DORFLING

b3     THOMAS, gebore 1.4.1812 Lady's Mill, Lauder, Skotland. Oorlede 13.5.1877, X 29.5.1852 Humansdorp SALOMINA JACOBA VAN ROOYEN van Mistkraal, gebore 22.5.1833, oorlede 25.4.1922, d.v. CHRISTIAN STEPHANUS VAN ROOYEN en HESTER GERMINA RAUTENBACH.

b4     ALEXANDER, gebore 22.12.1813 Skotland. Boer op die plaas Waterval langs die Kromrivier naby Kareedouw, oorlede 1911, X 5.3.1840 ANNA CATHARINA (“BREITA”) ACKERMAN, gebore 20.4.1821, oorlede 1912, suster van CHARLES (b6) se vrou.

b5     WALTER, gebore 1817 op die skip Clyde. Woon naby Uitenhage. Boer, oorlede 25.8.1877 Uitenhage, X 25.4.1841 MARTHA CATHARINA MARGARETHA BLACK, gebore 24.6.1823 Humansdorp, oorlede 17.9.1886 Uitenhage.

b6     CHARLES VICTORIA REQUIER, gebore 3.8.1818 Gamtous Riviers Wagendrift (ook aangegee as “Scotch Rooi Draai, Hankey”), gedoop 29.10.1818 N.G. Kerk Uitenhage. Boer op Kleinfontein. Oorlede 3.11.1915, X 4.12.1848 MARTHA JACOBA MAGDALENA ACKERMAN, gebore 26.3.1829 Kromrivier, oorlede 29.3.1906 Klipfontein. Sy was 'n suster van sy broer ALEXANDER (b4) se vrou.

b7     MARIA SUSANNA PETRONELLA, gebore 7.7.1820, gedoop 22.12.1820 Uitenhage, oorlede 30.6.1849, X 18.7.1841 JACOBUS JOHANNES (JAMES) KEMP, gebore 30.8.1819 George.

b8     ALLISON MARGARET, gebore 1823, oorlede 9.1.1901, X 19.9.1853 JAMES MEARNS, gebore 1824 Scotland, oorlede 25.4.1874.

b8b ‘n Dogter? Op sy belastingopgaaf vir 1826 was dit aangeteken dat James en Alison sewe seuns en drie dogters het. Die derde dogter moes kort hierna gesterf het aangesien daar geen latere verwysing na haar gevind kon word nie.

b9     JOHN (“JAN”), gebore 11.7.1825 Honey Clough. (21.8.1821 word ook soms aangegee as sy geboortedatum.) Boer op Honey Clough, oorlede 29.7.1914, X 22.11.1852 CORNELIA JOHANNA VAN DER WATT, gebore 7.8.1830, oorlede 3.5.1900, d.v. JOHANNES GEORGE VAN DER WATT en ADRIANA JOSINA DU PREEZ.

b10   IGNATIUS PETRUS THEODORUS ALEXANDER (“IG”), gebore 25.4.1830 Port Elizabeth. Hy is nooit getroud nie. Boer en spekulant. Woon op Hankey en Milton. Oorlede 16.5.1914

b10b ‘n Dogter? Die dood van ALISON WAIT met die geboorte van haar laaste kind, ‘n dogter, is ‘n ou familie-legende. As dit die geval was, dan het die dogter ook tydens of kort na haar geboorte gesterf aangesien daar geen latere verwysing na haar gevind kon word nie.

Verwysings:

André Buys, Heuningkloof se mense: Die Wait familie van Suid-Afrika, 2005

Saamgestel deur:
AJ Buys