Surnames D to G

Written by Pieter du Venage on . Posted in D - G.

DUVINAGE Abraham

ABRAHAM DUVINAGE was die stamvader van alle Duvenage, Duvenhage, du Venage en ander du Vinage nasate in Suid-Afrika.

S (1) ABRAHAM DUVINAGE Gebore op 06-03-1744 te Rossow, in die distrik Prenzlau, Brandenburg, Uckermark (Noord-Oos Duitsland, naby Pole)

Hy word op 13-03-1744 gedoop te Bergholz, Stettin. Hy was die seun van Jean du Vinage en Catherine Malfrujon. Na sy moeder Catherine se dood, het sy vader Jean, nog twee maal getrou. Hy het altesaam 24 (vier-en-twintig) kinders by sy drie vrouens gehad. ABRAHAM was die negende en laaste kind uit Jean se eerste huwelik. Hy arriveer in 1765 in die Kaap as soldaat, word vryburger en trou op 09-12-1770 te Kaapstad met Elsabe Magdalena HASSE, gebore op 27-06-1753 in Kaapstad. Sy is op 01-07-1753 in Kaapstad gedoop. Sy sterf op 27-05-1782 te Graaff-Reinet, net 29 jaar oud. Sy was die dogter van Johann Hasse van Braunschweig, bekende silwersmid aan die Kaap, en Anna Dorothea Meintjies van den Berg ~ 05-07-1711, weduwee van Matthias Lotter.

ABRAHAM en Elsabe het vier kinders gehad, almal is in Kaapstad gebore

1. JOHANN GEORGE * 25-08-1771, X 23 Apr 1797 Sibella Mulder
2. ELZABE JOHANNA * 20-03-1773, X Jacobus Arnoldus Theron ( hulle kleinseun was Thomas Francois Burgers, President van Transvaal )
3. ANNA DOROTHEA * 05-08-1775, X 15 Mei 1796 Coenraad Hendrik Liebenberg
4. PETRUS CAROLUS * 20-04-1779 Abraham kry later 'n bakkerslisensie in Kaapstad. Daarna boer hy en sy twee seuns in Graaff- Reinet distrik. Later keer hy terug na Kaapstad. Daar sterf hy op 73 jarige ouderdom op 20-03-1817 te Buitengrachtstraat 11, Kaapstad, X 15 Maart 1801 Anna Catharina van der Walt

DIE OORSPRONG EN BETEKENIS VAN DIE VAN DU VINAGE

In Vlaandere is ou dokumente waarin die van in die 14e en 15e eeu gespel is as van den Vinagen en van der Vinage. Daar kom ook variasies voor soos bv. du Wynage, du Vinaige, du Visnage, du Wienage en du Winnage. In die Parlement van Parys is aangeteken dat die betekenis van "de Vinagio" "die heffing" en "die belasting-gaarder" is.

Die ou Franse woord "le vinage" dui oorspronklik die reg van die eienaar of leenheer van die landgoed aan op 'n sekere deel van die wyn afkomstig van die wingerde van sy pagters of leenmanne.

Later is hierdie heffing met geld betaal. Wanneer die woord "vinage" by die naam van 'n persoon gevoeg is het dit aangedui dat hy 'n invorderaar of kollekteerder van belasting was.

Die wet het bepaal: "Die VINAGE wat van die wingerde ge-oes is moet van die boonste rand van die vate af gegee word. Die eienaar van die wyn moes eers wag totdat die vinage, vier mates van die gepersde wyn, gelewer is voordat hyself wyn mag aftap."

Patrice Lasserre van die WNNR in Pretoria verklaar die betekenis van die van as volg: "du Vinage is die fooi wat ontvang is deur die heer van die landgoed vir die gebruik van sy wynpers. Dit was ook die naam wat gegee is aan die man wat die operateur van die wynpers was."

Die term "vinage" is verder gebruik om die tol aan te dui wat gehef is vir die gebruik van paaie, brugoorgange, water oorgange, ens. Dit is ook gebruik om belasting te beskryf wat gehef is op wyn, tekstielware, ens.

Persone wat in Vlaandere en die Hertogdom van Hennegau eiendomsreg gehad het om vinage te hef, was "belastingboer" of "vinage verhuurder" of "vinage heer" genoem. Blykbaar het een van hierdie vinage here die van du Vinage aangeneem en dit aan sy nasate oorgedra. Die vroegste gedokumenteerde persoon met hierdie van was Colart du Vinage, in 1331 'n vinage heer, en in 1334 die eienaar van die vinage by Mauberge, 'n klein markdorpie in Frankryk aan die huidige grens van België.

Dalk was Colart die persoon wat sy beroep sy van gemaak het, of miskien het een van sy voorouers dit gedoen. Daar is ongeveer 6 dorpies en 4 poskantore in Frankryk met die woord "Vinage" as deel van hulle naam, bv. Le Vinage, Le Plat Vinage, Le Petit Vinage, Vinageville, ens. In 1928 het die oudste windmeul in Europa in Mauvinage in België gestaan. Dit is in die jaar 1180 gebou. Hierdie plekke word net vir die interesantheid genoem en het waarskynlik niks met die du Vinage familiegeskiedenis te doen nie.

Die oorspronklike Franse van "du Vinage" is later onder andere ook as Duvinage gespel. Van die Duvinages wat later na Noord-Duitsland verhuis het, het die van ook as Duvinage en Duvenage begin spel.

Met die tyd het die spelling in Suid-Afrika gewissel tussen du Vinage, Duvinage, Duvenage, Duvenhage, du Venage, Duvenagie, Duvenaar, en nog ander. Verskeie van hierdie spelvorms word nog steeds gebruik.

BRONNE
Gegewens soos in die boek deur Pieter du Venage "Die du Vinage, Duvenage familie in Suid-Afrika" Pieter du Venage

NAVORSING
Pieter du Venage

Vir meer inligting kontak my gerus by Pieter du Venage pieterdu@penta-net.co.za
of by http://geocities.com/duvehome