Surnames R to U

Written by Stamouers on . Posted in R - U.

ROUX Paul

ROUX

Paul ROUX gebore omstreeks 1665, was 'n Franse Hugenoot van Oranje wat in 1688 op die Berg China na die Kaap gekom het. Die Berg China verlaat Goeree aan die Rotterdam se kus op 20 Maart 1688 en kom na 'n rampspoedige reis op 4 Augustus 1688 [met die Concord!?] in Tafelbaai aan. Hy vestig hom in Drakenstein en word die eerste onderwyser (aangestel 8 November 1688) sieketrooster en voorleser van die Franse gemeente, Drakenstein. As vergoeding ontvang hy 15 gulden en 'drie realen kostgeld'.

Hy trou in 1689 met Claudine SEUGNET van Saintonge, en na haar dood in 1717 met Elizabeth COUVRET, weduwee van Joshue Cilliers. Paul het nie finansiële bystand nodig gehad nie, en het sedert 1719 die plaas, Nantes, in die Paarl besit. Hy is op 7 Feb 1723 oorlede.

Met die bou van die tweede kerk in die Paarl, waarvan die bouwerk in 1717 begin is, word Roux aangestel om toesig oor die vervoer van skulpe en die breek van klippe te hou.

Paul Roux, die Franse voorleser, koop in 1717 'n stuk grond wat hy Oranje noem. Na sy dood word dit in 1724 die eiendom van sy seun, Jeremia. Hy het 5 seuns en 2 dogters gehad:

1. Paul * omstreeks 1689, boer op Nantes, Paarl X 21 Mei 1719 Elisabeth Joubert weduwee van Guillaume Loret
2. Pieter * omstreeks 1692, x 9 Jan 1718 Susanna de Villiers, d/v Jacob, + 1771.
3. Anne ~ 1 Des 1694
4. Joseph ~ 14 Okt 1696
5. Jeremia ~ 1 Okt 1697
6. Jean ~ 22 Apr 1699
7. Hester x Jan Hendrik Melius

Elizabeth en haar seuns (Kyk ook onder die Celliers-stamvader) sit die wynboerdery op die plaas voort en in 1743, kort voor haar dood, is 10 lêers (5,773 liter) wyn geproduseer. Met tye was daar tot 6 perde, 30 beeste en 200 skape op die plaas en benewens koring word rog ook gesaai. In 1728 koop sy 'n slaaf en in 1743 besit sy vier slawe, een slavin en twee slawekinders. In 1738/1739 toe nog net Elisabeth en drie van haar Celliers-seuns, Josu‚ (b1), Abraham (b7) en Pieter (b8), op die plaas gewoon het, bied sy vir nagenoeg 'n jaar aan die 39-jarige Estienne Barbier, 'n sersant in diens van die VOC wat aan die Kaap voor die gereg gevlug het, skuiling. Nadat hy gevange geneem is, word hy ter dood veroordeel. Volgens die vonnis moes sy liggaam in stukke gekap en daarna in die openbaar vertoon word.

Elisabeth sterf in ongeveer 1743 in die ouderdom van 67 jaar.

 

Verwysings:
De Villiers/Pama
Heese/Lombard
Verwysingsmateriaal, Boksburg biblioteek
Verwysingsmateriaal, Springs LDS FHC biblioteek

Navorsing deur:
Martina Louw (nee van Breda) Kennethl@xtra.co.nz

Mariana Olivier omariana@xsinet.co.za