Surnames V to Z

VAN BOSCH Johann Jacob

Verskeie stamvaders met die familiename Bosch, Bos, Van Bosch, Van den Bosch of Van der Bosch het hul hier aan die Kaap gevestig en 'n nageslag nagelaat. Een van die grootste families is die nageslag van Johann Jacob Bosch van Berlyn, Duitsland. Die familienaam is egter verhollands en staan vandag bekend as Van Bosch. Aanvanklik is hy in dokumente aangetoon as Bosch, later Bos, en nog later Van Bos en uiteindelik Van Bosch. Sy voorname het ook dikwels gewissel van Johann Jacob tot Johan Jacob en later selfs Johannes Jacobus totdat hy uiteindelik Jan Jacob genoem is.

Die familienaam BOSCH kom in sowel Nederland as Duitsland voor. Dit het gedui op 'n familie wat naby 'n bos of 'n woud gewoon het. Dr. Pama verklaar egter dat Bos, Bosch en Bosso ou Nederlandse mansname was. [1]

Johann Jacob BOSCH afkomstig van Berlyn in Pruise, Duitsland vertrek op 7 Augustus 1788 as passasier op die skip Noord-Holland uit die hawe van Texel in Nederland na die Kaap die Goeie Hoop. Hy sit voet aan wal hier in die Kaap op 19 Desember 1788. Watter beroep hy be-oefen het en waarheen hy oppad was, is onbekend. Wat wel bekend is, is dat hy hier agtergebly het toe die Noord-Holland weer op 14 Januarie 1789 sy vaart na Batavia voortgesit het. Hy het nooit weer sy vaderland gesien nie. Die Noord-Holland was 'n fluitskip van 894 ton onder bevel van skipper Adriaan Kneppel wat deur die VOC van Tamme Beth en Zonen te Amsterdam gehuur is. [2] In sy aansoek om burgerskap noem hy die skipper "Capitein Knuppel". Die stamvader moes 'n baie goeie geheue gehad het as hy na 22 jaar selfs die skipper se naam kon onthou, alhoewel verkeerd gespel. Bosch was een van die min stamvaders wat gedurende die agtiende eeu hier aangeland het en nie in diens van die VOC was nie. [3]

Hoe oud hy was toe hy hier aangeland het, is ook onbekend maar as ons sy vrou se geboortedatum as maatstaf gebruik en aanvaar dat hy 'n paar jaar ouer was soos gebruiklik dan kon hy moontlik tussen twintig en vyf en twintig jaar oud gewees het. Dit maak sy geboortejaar tussen 1763 en 1768. Sy toekomstige vrou was vyftien jaar oud toe hy hier aangekom het. Op 18 Desember 1791 trou hy met die agtienjarige Elisabeth Dorothea Roos (gedoop 4 Februarie 1773) dogter van Gysbert Roos en Wilhelmina Booysen. Tussen die jare 1792 en 1816 het hulle drie seuns en twee dogters in die NG Kerk, Tulbagh gedoop. Die vierde kind, Johannes, is egter in 1802 in die Paarl gedoop. [4] Sy was negentien met die geboorte van hul eerste kind en twee en veertig met die geboorte van hul laaste kind.

Op 7 Oktober 1806 rig Jan van Bosch 'n versoek aan die Engelse Goewerneur Luitenant-Generaal Sir David Baird en versoek die toekenning van 'n leenplaas, De Kruydfontein geleë aan die Gamka- of Groote Leeuwenrivier tussen Abrahamskraal en Bitterwater in die distrik Tulbagh en veldkornetskap van Barend de Clercq. Die aansoek word goedgekeur met die endossement "Accordeert" en geteken deur J H Fischer, Sekretaris. [5] Hierdie is die oudste dokument aan die Kaap waarin die stamvader genoem word, behalwe natuurlik die inskrywings in die doopregister van die gemeente Tulbagh.

Op 28 September 1810 rig Jan Jacob van Bosch 'n versoek aan die Goewerneur Du Pré Graaf van Caledon om burgerskap. Hy word eers bekend gestel deur al sy persoonlike besonderhede te boekstaaf en noem ook dat hy destyds met verlof van die toemalige regering die VOC hier aangebly het. Hy verwys ook na die aangehegte getuigskrif van Gabriël Vos en Fredrik Rossouw waarin hulle hom as 'n vreedsame, stil en gehoorsame burger beskryf. Laastens vra hy die goewerneur om burgerskap van die kolonie aan hom te verleen. Hy teken as Jan Jacob van Bosch. [6]

Hoekom hy 22 jaar gesloer het voordat hy om burgerskap aansoek doen is nogal vreemd. Miskien was hy tog wel na sy aankoms hier in diens van die VOC. Dr. Pama maak melding van die feit dat hy in 1803 opsigter was van die regeringsgeboue in die Kasteel, maar noem geen bron nie. Hyself noem in sy aansoek om burgerskap dat hy nog altyd in die "Buiten Districten" woonagtig was en 'n bestaan uit die landbou gemaak het. Sy oudste seun was nou agtien jaar oud en miskien het hy meer grond nodig gehad en moes dus nou noodgedwonge burger word om leenplase in die hande te kry. Dit is dan ook presies wat hy sewe maande later doen!

Op 30 April 1811 rig hy hom tot die Goewerneur, Graaf Caledon en versoek die toekenning van twee leenplase aan hom. [7]

1. Stinkfontein geleë aan die Leeurivier, onder die jurisdiksie van die Drosdy van Tulbagh en in die veldkornetskap van P van der Westhuisen.
2. Diederik Koekemoer se gewese plaas geleë in die Koekemoershoek Distrik van Tulbagh, onder die jurisdiksie van die Drosdy van Tulbagh en in die veldkornetskap van P van der Westhuisen.

Op 19 Februarie 1812 doen sy oudste seun, Carel Johannes van Bosch, nou twintig jaar oud, self aansoek om 'n leenplaas genaamd Blaauwekrans gewese plaas van Jan Roex geleë aan die Cobus Louwsrivier in die Koup. [8]

Op 4 Januarie 1812 stel Jan Jacob van Bosch en Elisabeth Dorothea Roos woonagtig in die Koup 'n gesamentlike testament op voor Jan Fredrik Munnik, Sekretaris van die Distrik Tulbagh. Hulle onderteken dit as Jan van Bosch en Eliesabeth Dorothea Roos. [9]

Die stamvader was tweemaal met die regering in slawekwessies betrokke wat hom boetes op die hals gehaal het. Die eerste voorval was gedurende 1818 nadat hy op 'n openbare veiling van die weduwee van Christian Pieter de Wit op 26 Junie 1817 'n saal, 'n merrie, 'n viool en 'n slaaf Ziedel van die Kaap gekoop het. Die items is in Oktober 1817 ten volle betaal by die Sekretaris en Vendusiemeester in Tulbagh. In 1818 word hy toe beboet met Rds.100 omdat hy nagelaat het om 'n slaaf te registeer. Hy rig 'n skrywe aan Goewerneur Lord Charles Somerset om kwytskelding van die boete en stel 'n lang verweer op waarin hy verskeie redes aanvoer onder andere verwys hy na die Proklamasie van 30 Januarie 1818 en wys daarop dat sy transaksie voor gemelde proklamasie plaasgevind het. Hy meld ook dat hy baie ver en afgesonderd in die Koup bly en as gevolg van die swak kondisie van sy trekosse nie gereeld na die owerhede kon reis nie. [10]

Op 10 Desember 1824 rig hy weereens 'n skrywe aan Goewerneur Lord Charles Somerset om kwytskelding van 'n boete van Rds. 200 omdat hy kwansuis nie die owerhede laat weet het dat twee van sy slawe, Ziedel en Adam, in Junie 1822 dood is nie. Hy meld dat hy binne die voorgeskrewe tydperk die oorlede sekretaris van Beaufort, Mr. Bergmano, in kennis gestel het van die sterftes maar dat laasgenoemde toe al reeds baie siek was en gevolglik nagelaat het om die slawe se name van die slaweregister te verwyder. Dit wil dus voorkom asof beide voorvalle mistastings aan die kant van die regering was en die stamvader heel onskuldig was. Dis onbekend of hy toe wel die boetes moes betaal het of kwytskelding ontvang het. [11]

Sy eggenote, Elisabeth Dorothea Roos, is op 1 November 1848 op Beaufort Wes oorlede in die ouderdom van 75 jaar. Na amper 62 jaar op Suid-Afrikaanse bodem is Jan Jacob van Bosch op 18 Julie 1850 op Beaufort Wes oorlede in die ouderdom van ongeveer 82 jaar. Sy boedelrekening opgestel op 22 Mei 1851 en ingedien by die Meester se kantoor op 10 April 1852 bedra £183-2-11. Die uitgawes geëis teen die boedel bedra £38-9-10 waarvan die grootste uitgawe £15 is vir die oordrag van die plaas Leeuw Fontein deur Abraham Visser aan die "Land Board". Sy doodskis het £2-5-0 gekos. Dit laat £144-13-1 vir verdeling tussen die erfgename. Sy vyf oorlewende kinders erf dus elkeen £28-18-7. Hy het dus tot met sy dood op Leeuw Fontein geboer alhoewel sy sterfkennis aandui dat hy op Houwater oorlede is. [12]

Die stamvader se jongste seun, Hendrik van Bosch, het jonk en ongetroud op 15 November 1838 gesterf in die ouderdom van 27 jaar 5 maande en 21 dae. Hy het op Roode Heuwel ook bekend as Blaauwkrans geboer. Die plaas is ten tyde van sy dood van die hand gesit vir £75. [13]

Die stamvader se tweede seun Gysbert van Bosch en Maria Margaretha Hoon het geen kinders gehad nie. Hulle stel 'n gesamentlike testament op 30 Julie 1857 op en Gysbert is kort daarna op 10 Augustus 1857 in die ouderdom van 63 jaar 6 maande en 16 dae oorlede op Prins Albert. Hulle bemaak £200 aan die NG Kerk, Prins Albert. [14]

Uit die dokumentasie wil dit dus voorkom asof Jan Jacob met sy aankoms eers iewers noord van die huidige Wellington langs die Bergrivier geboer het, daarna 'n tydlank van ongeveer 1802 tot 1806 in Kaapstad gewerk het waarna hy tot aan sy dood in die Koup Karoo in die omgewing van die huidige Leeu-Gamka en Kruidfontein, 85 kilometer suidwes van Beaufort Wes, langs die Gamkarivier geboer het.

Die Van Bosch nageslag stam dus almal van die oudste seun, Carolus (Carel) Johannes en die derde seun Johannes af.

Johann Jacob BOSCH * c. 1768 – † 18.7.1850, afkomstig van Berlyn in Pruise, Duitsland vertrek op 7 Aug 1788 as passasier op die fluitskip Noord-Holland (894 ton) onder bevel van skipper Adriaan Kneppel uit die hawe van Texel in Nederland na die Kaap die Goeie Hoop. Aankoms 19 Des 1788. Verhollands en later bekend as Van Bosch. In 1803 was hy opsigter van die regeringsgeboue in die Kasteel. Toekenning van leenplaas, De Kruydfontein geleë aan die Gamka- of Groote Leeuwenrivier tussen Abrahamskraal en Bitterwater op 7 Okt 1806. Aansoek om Burgerskap 28 Sep 1810, boer op Leeuw Fontein in die Koup † Houwater, Beaufort Wes 18 Jul 1850 x 18 Des 1791 met Elisabeth Dorothea ROOS = 4 Apr 1773 † Beaufort Wes 1 Nov 1848 d.v. Gysbert Roos en Wilhelmina Booysen. Vier seuns en twee dogters.

b1 Carolus Johannes = Tulbagh 18 Nov 1792, doen aansoek om leenplaas genaamd Blaauwekrans gewese plaas van Jan Roex geleë aan die Cobus Louwsrivier in die Koup op 19 Feb 1812 x Tulbagh 2 Sep 1821 Martha Susanna KORF xx 28 Feb 1840 Amerentia Maria WlLDERS xxx Beaufort-Wes 24 Jul 1843 Anna Maria GANS

b2 Gysbert * Bergrivier, distrik Wellington = Tulbagh 8 Jun 1794 † Prins Albert 10 Aug 1857 (63.6.16) x Worcester 24 Okt 1831 Maria Margaretha HOON = 23 Aug 1801 † 11Jun 1869 (68) d.v. David Simon Hoon en Maria Roos (sien Worcester kerkraadsnotule 11 Feb 1832). Kinderloos. Hulle bemaak £200 aan die NG Kerk, Prins Albert.

b3 Elisabeth * 17 Jul 1798 = Tulbagh 9 Sep 1798 x Beaufort-Wes 1 Mei 1825 Nicolaas VAN DER WESTHUIZEN

b4 Johannes * 23 Nov 1801 = Paarl 24 Jun 1802, boer op Leeuwfontein, Koup, Distrik Beaufort Wes † 1865 x Beaufort-Wes 6 Mar 1825 Fredrika Elizabeth KRUGER * Swellendam 27 Jul 1810 † Verdragensfontein, Koup, distrik Beaufort Wes 6 Des 1834 d.v. Johannes Kruger en Fredrieka Griesel. Twee seuns en drie dogters. xx Beaufort-Wes 13 Des 1835 Elsie Maria Magdalena MARAIS. Drie seuns. xxx Anna Dorothea SMIT. Twee seuns en een dogter. Altesaam elf kinders. [15]

b5 Hendrik * 24 Mei 1811 = Tulbagh 5 Jan 1812, jonk en ongetroud † 15 Nov 1838 (27.5.21). Boer op Roode Heuwel ook bekend as Blaauwkrans. Die plaas is ten tyde van sy dood van die hand gesit vir £75.

b6 Willemina * 26 Des 1815 = Tulbagh 22 Des 1816 x Beaufort-Wes 15 Jul 1844 Jan Januarie VYVER van die Kaap.

Endnote:

[1] Pama, C. Die Groot Afrikaanse Familienaamboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1983. p. 65.
[2] http://vocsite.nl
[3] Kaapstad Argiefbewaarplek : CO 3879 – 494 dd. 28 September 1810 – Jan Jacob van Bosch, Aansoek om Burgerskap.
[4] Kaapstad Argiefbewaarplek : VC 657 : NG Kerkargief, Stellenbosch : Tulbagh Doopregister G4/7/1 – pp. 301, 316, 360; Kaapstad Argiefbewaarplek VC 648 : NG Kerkargief, Stellenbosch : Paarl Doopregister G3/3/5 – p. 57; Kaapstad Argiefbewaarplek VC 659 : NG Kerkargief, Stellenbosch : Tulbagh Doopregister G4/7/2 – p. 217; Kaapstad Argiefbewaarplek VC 660 : NG Kerkargief, Stellenbosch : Tulbagh Doopregister G4/7/3 – p. 108.
[5] Kaapstad Argiefbewaarplek : CO 3896 – 113 dd. 7 Oktober 1806 – Jan Jacob van Bosch, Aansoek om leenplaas De Kruydfontein.
[6] Kaapstad Argiefbewaarplek : CO 3879 – 494 dd. 28 September 1810 – Jan Jacob van Bosch, Aansoek om Burgerskap.
[7] Kaapstad Argiefbewaarplek : CO 3888 – 205 dd. 30 April 1811 – Jan Jacob van Bosch, Aansoek om leenplaas Stinkfontein; Kaapstad Argiefbewaarplek : CO 3888 – 206 dd. 30 April 1811 – Jan Jacob van Bosch, Aansoek om leenplaas.
[8] Kaapstad Argiefbewaarplek : CO 3889 – 359 dd. 19 Februarie 1812 – Carel Johannes van Bosch, Aansoek om leenplaas Blaauwekrans.
[9] Kaapstad Argiefbewaarplek : MOOC 7/1/203 – 85 dd. 4 Januarie 1812 – Jan Jacob van Bosch, Testament.
[10] Kaapstad Argiefbewaarplek : CO 3914 – 609 van 1818 – Jan Jacob van Bosch, Aansoek om kwytskelding van boete.
[11] Kaapstad Argiefbewaarplek : CO 3927 – 581 dd. 10 Desember 1824 – Jan Jacob van Bosch, Aansoek om kwytskelding van boete.
[12] Kaapstad Argiefbewaarplek : MOOC 6/9/52 – 476 en 477 van 7.11.1850 Sterftekennisse; Kaapstad Argiefbewaarplek : MOOC 13/1/146 – 65 dd. 10 April 1852 – Jan Jacob van Bosch, Boedelrekening.
[13] Kaapstad Argiefbewaarplek : MOOC 6/9/79 – 4576 van 4.8.1857, Sterftekennis; Kaapstad Argiefbewaarplek : MOOC 7/1/234 – 63 van 1838 – Inventaris van Hendrik van Bosch.
[14] Kaapstad Argiefbewaarplek : MOOC 7/1/234 – 110 dd. 30 Julie 1857 – Gysbert van Bosch en Maria Margaretha Hoon, Testament; Kaapstad Argiefbewaarplek : MOOC 6/9/79 – 4631 van 31.8.1857, Sterftekennis.
[15] Kaapstad Argiefbewaarplek : MOOC 7/1/128 – 108 dd. 26 Februarie 1835 – Johannes van Bosch, Inventaris.

Bronne:

Annemie Lourens, Malmesbury
Paul Melvyn van Bosch, Malmesbury
Grobbelaar, Pieter W. (red.). Die Afrikaner en sy Kultuur, Deel IV. Families, Familiename en Familiewapens deur Dr J A Heese, Prof Dr G S Nienaber en Dr C Pama. Kaapstad: Tafelberg, 1975. p. 164
Suid-Afrikaanse Geslagregisters, Deel 1, A-C opgestel deur J A Heese en R T J Lombard (Red.), Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, 1986. p. 341
Doopboek van De Hervormde Gemeente van Zoutpansberg van 1850 tot 1868
http://groups.omni-chat.com/oude-kerkboeken/zoutpansberg

Nagevors en Saamgestel deur:
Carel Johannes van Breda

PrintEmail