Surnames V to Z

WESSELS Jan

Die nageslag van Jan Wessels
Sedert die aankoms van Jan van Riebeeck in 1652 is alle pogings aangewend deur die VOC om blanke burgers na die Kaap te lok. Hierdie pogings was nie baie geslaagd nie, vanweë die ekonomiese bloeitydperk in Nederland self. Die 30-jarige oorlog het egter vir die Duitsers groot ekonomiese probleme en armoede gebring. Baie van hierdie werklose Duitsers het hulle toe as “soldate” by die VOC aangesluit. Dit is dus te verstane dat van die 420 soldate aan die Kaap in 1761 was 398 Duitsers.

Johannes (Jan/Johann) Wessels of Wessel van ‘t Ampt ter Harpstede (gemeente/gemeenskap Harpstede), Duitsland. Die huidige naam van Harpstede is Harpstedt en is naby Bremen geleë. Jan het toe van Hamburg, die hawestad van Duitsland na Nederland vertrek waar hy by die VOC as “soldaat” aangesluit het. Hy vertrek op 27-6-1660 met die Witten Olifant, wat van Nederland na Batavia gevaar het, na die Kaap. Die Olifant het op 15-11-1660 aan die Kaap gekom. Die Witten Olifant is soms net die Olifant genoem. Die volgende oor die Olifant kom uit die publikasie “Duch-Asiatic Shipping in the 17th and 18th Centuries , R.D.P Vol 2” : Die kaptein van die skip was Filips de Bakker. Op die skip was 212 matrose, 150 soldate en 2 passasiers. Tydens die seereis na die Kaap het 6 mense ter see gesterf en 16 het die skip in die Kaap verlaat. Ons kan dus aanneem dat Jan op 15-11-1660 van Duitsland as “soldaat” aan die Kaap gekom het. Jan trou op 16-5-1683 met Rebekka VAN BAELBERGEN, weduwee van Ds. Petrus Hulsenaar, maar sy is kort na die huwelik oorlede. Jan hertrou in Kaapstad op 10-9-1684 met Helena Wynands BEZUIDENHOUT, ~ 23-6-1669, ? 1713, d.v. die stamvader Wynand Leenderts Bezuidenhout en Jannetjie Gerrits.

Met verwysing na Argiefbewaarstukke - Resolusies van die Politieke Raad Deel 1 1651 – 1669 p.315, kry ons : “Jan Wessels van ’t ampt te Harpstede soldaet soo daningh (sig) met ’et schip den Eliphant ano. 1660, en 9 gl. ter maent alhier aengelant wort mits desen, voor landtbouwer aengenomen en omdat dien atbeijt wat moeijelijck valt op zijn versoeck toegeleijt een beloningh van elf guldens ter maent, heden ingaende mits daer voor sijn verbonden tijt alhier sal hebben uijt te dienen”.Aanvanklik het daar gestaan : “Jan Wessels van Haeffkesbeeck”. Die woord “Haeffkesbeeck” is egeter deurgehaal en vervang met ” ’t ampt te Harpstede”. In die resolusie van 10 April 1665 vind ons ’n verwysing na Jan Wessels van Haeffkesbeeck wat in 1660 as soldaat met die Eliphant uitgekom het. Hy is as landbouer (beesslagter) in diens geneem. Hy het dan ook in 1665 vryburger geword.

Die landmeterskets van die plaas Westerdal soos op die transportakte. Alhoewel die oorspronklike akte op 7 September 1702 deur W.A. van der Stel onderteken is, het die Engelse regering na hul oorname die grond opgemeet en hierdie akte opgestel. Die plasie is na Jan se dood op 20-8-1714 aan Pieter van der Westhuizen verkoop.

Alhoewel sekere bronne beweer dat hy eers in 1680 hier aangekom het, dui die bestaande getuienis daarop dat die 1660 datum meer waarskynlik is. Om dit te toets spekuleer ons nou dat hy as 18-jarige soldaat hier aangekom het, en sou dan met sy eerste en tweede huwelike onderskeidelik 41 en 42 jaar oud gewees het. In 1686 met die geboorte van sy eerste kind sou hy dan 44 jaar wees. Dit skep nie probleme nie aangesien sy vrou, Helena dan vier-en-twintig jaar jonger was as hy. Die feit dat Helena op 19-4-1710 weer hertrou het met Petrus Tavenreith (onderwyser van W.A. v.d. Stel se kinders; maar het later in onguns geraak en toe privaat Latyn gegee) van Rheinsburg, beteken dat Jan oorlede is voordat hy 68 jaar oud was. Hy is volgens Dr. Con de Villiers in die ou Groenpunt begraafplaas aan die bopunt van Wesselsstraat in Seepunt begrawe. ’n Gedeelte van hierdie begraafplaas is nog sigbaar maar die grootste gedeelte van die grafte is sodanig verweer dat dit nie meer uitgeken kan word nie. Wat wel behoue gebly het, en tans ’n nasionale monument is, is die Pieter Woutersen grafkelder wat in 1827 deur Woutersen se eggenote opgerig is. (Sien ook d6e2f10 i.v.m. Woutersen grafkelder)

Helena Bezuidenhout is aangekla van owerspel met Andries Beets terwyl sy getroud was met Jan Wessels (C.J. 3635 Diverse Process-stukken. Getuienis 1-12-1688 bl. 11-12) Sien ook “Die Vryleiden en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting 1657 - 1707” deur G.C. de Wet, bl. 176. Andries Beets was ’n skoenmaker wat in 1688 aan die Kaap aangekom het. Die verwysing in die lg. werk is egter gemaak in verband met huwelike wat weer versoen geraak het, terwyl daar verskeie in die skeihof beland het. Andries Beets is toe ook wel in 1688 getroud.


Vroeë weergawe van Jan Wessels se handtekening - Let op hoe die Duitse dubbel “s” nog gebruik word.
Die handtekening op die voorblad van die dokument dateer uit 1685.

Alhoewel sekere bronne aandui dat Jan en Helena het gaan boer op Meer-en-Dal aan die Tierberg. (Tygerberg - Vissershok, naby Durbanville), weet ons uit die grondbriewe dat die plaas Westerdal, naby die huidige Durbanville, op 7 September 1702 aan stamvader Jan toegeken is en dit nogal deur W A van der Stel. In 1706 het W A van der Stel nog ’n leningsplaas in die Groene Kloof (huidige Darling) aan hom toegeken.

Die afleiding kan dus gemaak word dat die van der Stels en Jan reeds bekend was voor Johanna, oudste dogter van Jan, se troue met Frans van der Stel. Maar teen hierdie tyd het die gevoel van die burgers ook sterk geswaai teen die bestuur van W A van der Stel. Moontlik het stamvader Jan nie teen hierdie tyd bewus gewees dat sy eie sestienjarige seun, Johannes, nog met een van die grootste vyande van W A van der Stel nl. Wessel Pretorius se dogter later sal trou nie. Dit beteken dat die eertydse van der Stel-vriende en familie a.g.v. Frans se troue met Johanna later die vyande sou word van die tweede geslag Wesselse. Dit is een van die redes waarom Johannes na sy troue in 1713 met Geertruy Pretorius grond aan die Lourensrivier bekom het en nie verder op Westerdal of Groene Kloof geboer het nie.

Die oorsprong van die naam van die plaas Westerdal, ’n buurplaas van Meerendal, is onbekend, maar die “Wes” kon sekerlik net afgelei word van die windrigting of die van Wessels. Meerendal is toegeken aan Jan van Meerland in 1702 en Jan Wessels se naam kom nooit voor in die aktes as ’n eienaar van Meerendal op enige stadium nie. Die plase Meerendal en Westerdal saam met ’n addisionele stuk grond tussenin het in 1894 gekom in die hande van ’n ene C.D.J. de Wit. Om die titelaktes te vergemaklik is daar ’n gewysigde titelakte (C.A.T. 21-4-1894) opgetrek wat na die hele stuk grond verwys het as Meerendal. Westerdal is later verengels na “Westerdale” en die onderste gedeelte van Meerendal word vandag nog aangedui as “Westerdale”. Die oorspronklike plaas Meerendal word aangedui in die Geskiedenis Atlas van A.J. Boeseken - kaart no. 53. Dit behoort vandag aan Mnr. Jack Starck (1984) en is naby die huidige Durbanville. Die plaas is bekend vir sy rooiwyne.

Die sensusopnames van die vroeë Kaap gee ons ’n idee dat Jan redelik vooruitstrewend was en let ook op dat alhoewel Jan eers sy grond in 1702 ontvang het, het hy wel alreeds in 1688 geboer:

1688 - 2 Perde, 12 Beeste en 200 skape. Hy het ook 1 “knegt” in diens gehad.

1692 - 1 “knegt”, 7 slawe (waarvan 5 kinders was), ’n vrou, twee kinders, 2 perde, 22 beeste, 900 skape,
3 mud koring, 12 mud gort en 5 wapens.

1695 - Geen verwysing na Jan Wessels.

1700 - 9 slawe, 3 perde, 58 beeste, 1000 skape, 5 varke, 6000 wingerdstokke maar geen wyn - sekerlik ’n
aanduiding dat hulle nog nie produseer nie en dus jonger as 5 jaar moes wees, 60 mud koring, 10
mud rog, en 20 mud gort, 4 wapens.

1705 - Geen verwysing na Jan Wessels - Hy was toe waarskynlik reeds oorlede.

1709 - Weduwee Jan Wessels (Helena Bezuidenhout) - 13 slawe, 11 perde, 132 beeste, 1100 skape,
18000 wingerdstokke en 6 leggers wyn, 280 mud koring/rog, en 20 mud gort, Geen wapens.

1712 - Petrus Tavenreith (Hy en Helena was toe getroud binne gemeenskap van goedere) - 14 slawe, 10
perde, 132 beeste, 600 skape, 20000 wingerdstokke en 1 leggers wyn, koring/rog, en gort. Dit is
dus duidelik dat die 6 leggers wyn in 1709 een of ander fout moes gewees het.

Volgens EC Godee Molsbergen se publikasie “Reizen in Zuid Afrika” word op p 66 verwys na Resolusies van die Politieke Raad 1662 waarin besluit sou word van Korporaal Cruythoff se reis met twaalf man noordwaarts deur Namakwaland op soek na die verwagte Vigiti Magna. Jan Wessels en vermoedelik sy broer Dirck wat saam met hom aan die Kaap geland het, het die tog meegemaak. Hierdie geselskap het baie terugslae ondervind, veral met die inheemse bevolking. Dirck is sodanig deur ’n pyl in die been getref dat Cruythoff die pyl verder deur die been moes druk, want hy kon die pyl nie terugtrek nie. ’n Os as pakdier is as draagbaar gebruik. Volgens inskrywing p 101 “maerseerden hulle soo soutjies” met voetnota Zoetjes.

Dirck moes sodanig herstel het, want op 27 September 1663 word ’n opvolgtog beplan met 16 man waaronder Jan en Dirck was. Hierdie keer was dit onder leiding van Sersant de la Qurre. Vanweë baie ontberings is hierdie landtog ook gestaak.

Volgens Argiefrolle word daar in 1661 verwys na Jan Wessels van Havelberg? as dienaar terwyl in 1662 weer vermeld word van beide Jan en Dirck van t’ Ampt te HarpStede as soldate. In 1665 lees ons in die monsterrolle V.C. 39 Vol. 2 van hulle as landbouers wat beteken dat hulle intussen Vryburgers geword het.

Daar is ook ’n verwysing na ’n Derck Wessels (Jan se broer?) van ‘t Ampt ter Harpstede wat in 1660 met die boot “Vollehove” in die Kaap geland het, maar geen melding word weer van hom gemaak nie.

b1 Johanna, ~ 26-5-1686, x 3-1-1707 met Francois (Frans) VAN DER STEL, ~ 1668, ? Nederland 20-4-1718, seun van Goewerneur Simon van der Stel en Johanna Jacoba Six. Frans was ook bekend as “ Frans de jonker” vanweë sy lewenstyl. Nie ver van W.A. van der Stel se plaas, Vergelegen, nie, op die plaas “Parel Vallei”, het Frans, volgens ’n beskrywing van Ds. Francois Valentyn, vir hom en Johanna “een zeer fraaie plaats” aangelê. Die plaas “Parel Vallei” is ’n deel van die hedendaagse Somerset-Wes en die opstal van Parel Vallei behoort tans aan mnr. Johann Rupert. Die oorspronklike opstal het afgebrand en is later weer in Kaap-Hollandse styl herbou, maar met moontlike veranderings.

Op 10 Januarie 1707 is die plaas, De Paarden Stal - soos Groot Paardevlei toe genoem is - aan Frans toegeken deur Kommissaris Daniël Heyns. Die plaas het destyds gestrek van die ou Somerset-Wes-pad tot by die berg en voor tot by die see, vandag die Strand. Dit is onwaarskynlik dat Frans self op Groot Paardevlei gebly het, want hy het reeds ’n huis op die aangrensende plaas Parel Vallei gehad. Groot Paardevlei is tans die eiendom van Historiese Huise. Volgens ’n ooreenkoms met Historiese Huise het SANLAM Groot Paardevlei laat restoureer sodat die huis as historiese monument vir die nageslag bewaar kon word. Die huis word nou aan SANLAM verhuur met die voorwaarde dat hulle dit sal bewaar. Die vorige bestuurder van SANLAM, mnr. Pierre Steyn, het in die huis (wat in 1702 gebou is) gewoon.

As gevolg van die heftige verset van die Vryburgers teen die wanadministrasie van sy broer, Willem Adriaan, moes Frans ook op bevel van die Here XVII die Kaap in April 1708 “ten enigen dage” verlaat. Frans is op 23 April 1708 saam met sy broer Willem Adriaan teruggestuur na Holland. Hulle het met die boot Oestgeest vertrek nadat daar die vorige aand behoorlik afskeid van hulle geneem is op Constantia waar Johanna en haar vierweke-oue babadogter agtergebly het om haar skoonpa, Simon op te pas.

Johanna het hier gebly om Frans se sake waar te neem, en omdat Frans die vurige hoop gekoester het dat die Kompanjie hom na verloop van tyd weer sou toelaat om na die Kaap terug te keer, is sy gronde nie voor 1717 verkoop nie. Johanna het toe by haar skoonvader gebly en hom opgepas tot en met sy dood. Sy was ook die eksekutrise van Simon van der Stel se boedel.

Constantia was bekend as die plek vir groot onthale en as gasvrou het sy hiermee bekendheid verwerf. Sy was ook die eerste dame wat musiekaande gehou het. Volgens aantekeninge van Francois Valentyn het sy ook musieklesse geneem. Hy verwys ook na ’n musiekaand in 1714 en hoe hy onthaal is deur die waarnemende gesaghebber Helot en Johanna Wessels. Teen hierdie tyd was Simon reeds oorlede. Simon is op 24 Junie 1712 oorlede en in die Groote Kerk begrawe. ’n Monument ter ere van hom is agter die preekstoel opgerig, maar toe die kerk die vorige eeu herbou is, is dit ongelukkig verwyder.

Helot het reeds op 24 Maart 1712 waargeneem, want op die dag het hy ’n lisensie toegestaan aan Johanna Wessels om twee vragte wildsvleis te laat skiet.

Ons verneem verder van haar toe ’n leningsplaas aan die Bergrivier toegeken is aan juffrou Wessels, huisvrou van Frans van der Stel. Dit was op 19 Desember 1715, maar teen Mei 1717 is dieselfde plaas aan Francois du Toit toegeken. In die jare was sy ook een van die rykste vroue in die Kaap. Opgaafrolle toon dat sy oor heelwat vee beskik het.

Frans van der Stel is op 20 April 1718 oorlede. Johanna en haar tienjarige dogters het toe die Kaap verlaat en hulle in Haarlem, Holland gevestig.

[c1] Johanna Jacoba VAN DER STEL, ~ 31-8-1704.

[c2] Maria VAN DER STEL, ~ 9-5-1706.

[c3] Helena VAN DER STEL, ~ 25-3-1708.


b2 Johannes, ~ 1-1-1690, ? c. 1718, x Stellenbosch 10-9-1713 met Geertruida (Geertruy) PRETORIUS, ~ c. 1700, d.v. Wessel Pretorius, ~ 3-6-1674, en Geertruy Elbers, ~ 6-6-1677 - (Die voornaam Wessel wat later baie algemeen voorkom, kom dus waarskynlik van die Pretoriusse). Johannes het reeds op 16-jarige ouderdom en wel op 17-6-1706 en 21-9-1706 weiregte verkry. Ander weiregte is aan die Lourensrivier op 30-6-1712 en 30-1-1713 en weer op 20-3-1716 aan hom toegeken, asook aan die Groene Kloof, naby die teenswoordige Darling.

Die plaas Vredenburg, dist. Stellenbosch is op 24-1-1691 deur Simon van der Stel aan Hendrik Elberts toegeken. Later het dit aan sy seun, Izak, behoort, want ons lees uit dokumente dat Johannes koop of erf die plaas Vredenburg, dist. Stellenbosch uit die boedel van Izak Elbers op 22-7-1716. Johannes koop ook daarna die plaas Vlottenburg op 5-11-1716. Beide Vlottenburg en Vredenburg het behoort aan Hendrik Elbers en in 1687 oorgegaan na sy weduwee. Hendrik Elbers was die oupa van Johannes se vrou, Geertruy Pretorius. Johannes en Geertruy is getroud op 10 September 1713 en sy moes baie jonk gewees het, want haar doopdatum word gegee as omstreeks 1700. Johannes was toe drie-en-twintig jaar oud. Hulle was slegs sowat vier jaar getroud toe Johannes op 28-jarige ouderdom oorlede is. Hulle het twee seuns gehad nl. Johannes en die Overbergse stamvader Wessel. Op 20-12-1713 is Johannes verkies op die heemraad in die plek van sy skoonvader Wessel Pretorius wat oorlede is. Op 4-1-1718 word in vergadering van Politieke Raad genoteer dat ’n lyfbediende van Johannes Wessels met die naam Dawid probleme geskep het deur onder meer te dros en brand te stig op die buurplaas van Pieter van der Bijl. Dawid was 13/14 jaar oud en is as ’n “vagebond” beskryf. Johannes was blykbaar toe nie meer ’n heemraadslid nie. Hy is omstreeks 1718 oorlede. Sy testament is opgestel op 23-9-1717 en hier word verwys na oud-heemraad. Die voogde van sy twee seuns was Pieter v.d. Bijl en Joost Reynland. Pieter was die voog van Wessel b2c2 en Joost was die voog van Johannes b2c1. Hy versoek ook dat sy slaaf Pieter van die Kaap vry sal wees na sy dood.

Daar bestaan ’n foto van ’n ou nederige T-vormige woonhuis op Vredenburg wat in 1965 geneem is. Daar bestaan ook ’n foto van die tweede woonhuis wat deur Jacob Roux in 1789 gebou is. Net agter diè huis kan ’n mens die eerste woning sien. Hierdie foto is sowat 100 jaar gelede geneem. Dit kan met redelike sekerheid aanvaar word dat dit foto’s is van die oorspronklike woonhuis van Vredenburg wat voor 1686 gebou is, want die vroegste gedateerde afbeelding van ’n Stellenbosch woning (1686) verskyn op die grondbrief van die plaas Vredenburg, uit die pen van Johannes Mulder, Stellenbosch se eerste landdros en landmeter. Oorspronklik was dit ’n een-vleuel drie-vertrek huis (kombuis, voorhuis en slaapkamer - elk het die volle breedte van die vleuel beslaan). Later is hierdie huis vergroot in ’n T-vormige huis. In ou Kaapse huise ongeag van wat sy grondplan was, is die kombuis altyd aan die end van ’n vleuel geplaas en aan die stertpunt van die T as dit ’n T-vormige huis was, want die gewel is gebruik om die skoorsteen van die vuurherd te stut. Omdat die kombuis van hierdie huis nie aan die stertpunt van die T geplaas was nie moes die stertpunt dus later aangebou gewees het.

Na Johannes dood het sy jong vroutjie op 1-4-1719 weer getrou met die wewenaar Johannes (Jan) Cloete. Jan het drie klein kindertjies gehad ( twee seuns en ’n dogter) toe hy met Geertruy getroud is. Geen kinders is uit die huwelik van Jan en Geertruy gebore nie. So het Vredenburg en Vlottenburg gekom in die hande van die Cloetes. Op 30-11-1736 was die plaas nog in besit van Geertruy Wessels (geb. Pretorius), weduwee van Jan Cloete. Op 9-11-1736 verkoop weduwee Cloete die helfte van Vlottenburg/Vredenburg aan Hester Ternwinkel, wed. van Pieter v.d. Bijl. Op 30-11-1736 koop wed Cloete weer ’n gedeelte van wed. P. v.d. Bijl - dit lyk of dit slegs ’n ruiling was. Op 21-2-1742 koop Johannes Lobster Vlottenburg van wed. Cloete, en op 24-7-1743 koop Mattheus Guillamet weer Vlottenburg. Op 26-5-1756 koop Jan de Villiers, P/seun, Vlottenburg. Ander grondeienaars van persele te Vlottenburg/Vredenburg was Paul Roux, Hendrik Vos, Pieter Gerhard Myburgh, Francois Roos, Cecil John Rhodes, Piere Rockefort, G. Hanseret en Antonie Vlotman.

In 1926 koop mnr. Tielman Neethling Vredenburg. Hy was ’n wetenskaponderwyser en met sy kennis van chemie het hy begin om sjerries te maak op die plaas. Dit was so suksesvol dat die maatskappy Santhagens, wat hulle juis toe in Suid-Afrika gevestig het, die hele produksies gekoop het en onder die handelsnaam Vredenburg verkoop het. Nadat die ooreenkoms tussen die Neethlings en Santhagens tot ’n einde gekom het, moes die Neethlings ’n ander handelsnaam vir hulle wynprodukte vind wat hulle wou bemark, want die handelsnaam Vredenburg het aan Santhagens behoort. Hulle het toe besluit op die handelsnaam Vredenheim. Vredenheim Wynlandgoed is vandag ’n plaas op een van die wynroetes. Alhoewel Vredenheim as ’n wynlandgoed geregistreer is, word slegs 10 000 bottels wyn onder die handelsnaam Vredenheim op Vredenburg per jaar gebottel en daar verkoop, die res van die wyn van word aan Stellenbosch Farmers’ Winery gelewer. Vredenburg lê langs die Eersterivier en is sowat 5 km van Stellenbosch op die pad na Lynedoch en die N2 Nasionalepad.

Die plaas Vredenburg behoort vandag (1998) aan mnr. C.J. (Coen) Bezuidenhout. Die tweede woonhuis op Vredenburg wat 1789 deur Jacob Roux gebou is, is in 1930 gerestoureer. Die ou T-vormige huis is egter na 1970 gesloop.

c1 Johannes, ~ 25-11-1714.

c2 Wessel, ~ 6-12-1716, burger Stellenbosch x 21-7-1737 Susanna ODENDAAL, ~ 9-1-1717, d.v. Willem Odendaal en Susanna Biebouw, xx 14-11-1762 Margaretha RADYN, ~ 26-10-1727, d.v. Jurgen Radyn en Maria Malherbe. Susanna Biebouw was die buite-egtelike kind van Detlef Biebouw van Mecklenburg, Duitsland en die slavin Diana van Bengale, slavin van Cornelis Linnes.

Alle tipe slawe was skaars aan die Kaap en die seekapteins en amptenare op verbygaande skepe het ’n goeie mark vir hulle slawe gevind aan die Kaap as hulle na Nederland onderweg was, want in Nederland was slawe nie toegelaat nie. So het Admiraal Jacob Cauw, wat van Batavia na Nederland oppad was, sy vrou se slavin, Diana van Bengale - ook bekend as Diana van die Kus, aan die boekhouer Augustijn Boccaert op 15-5-1666 vir 70 Riksdaalders verkoop op voorwaarde dat as Admiraal Cauw of sy vrou na die Ooste sou terugkeer, kon hulle weer Diana terugkoop. Diana was later die slavin van Cornelis Linnes,sy is op 23-2-1687 gedoop en in 1695 oorlede.

Susanna Odendaal was die vierde kind van Willem Odendaal en Susanna Bibouw. Hulle tweede kind, Engela, is getroud met Barend de Klerk - FW de Klerk se voorouers.

Die eerste 11 kinders, is kinders van Odendaal en die laaste 4 van Radyn. Diana was ook die halfsuster van Hendrik Bibault (Biebouw) wat vroeg in die 18de eeu bekendheid sou verwerf het toe hy op Stellenbosch uitgeroep het dat hy ’n “Africaander” was.

Wessel is op 21-jarige ouderdom getroud met Susanna Odendaal en wel op 21-7-1737. Op 7-4-1738 is hulle as lidmate van die Stellenbosch gemeente voorgestel en aangeneem. Hierna het hulle verhuis na hulle moeder se leningsplaas in die Overberg. Sy het die plaas Roodebloemskraal aan die Steenboksrivier oorgeneem by weduwee Piet van der Bijl op 2-4-1738. Die van der Bijls het slegs op die plaas geboer en nie self daar gewoon nie. Interessant dat ’n weereens ’n van der Bijl koppeling was met hierdie oorname. Pieter van der Bijl was die voog van Wessel b2c2, een van die seuns van Johannes (b2). Alhoewel moeder Geertrui hertrou het met Jan Cloete en slegs ’n dogter uit hierdie huwelik gebore is, is te verstane dat sy sou omsien na haar seun Wessel. Dieselfde het gebeur toe Wessel op 26-11-1748 Mosselrivier aan die Kleinrivierskloof (huidige Hermanus) oorgeneem het. Sy stiefvader Jan Cloete het reeds in 1724 hierdie plaas begin. Teen 25-10-1757 neem Wessel ook Carnmelksrivier oor wat ook tien jaar terug aan sy moeder die weduwee Jan Cloete behoort het. Op 29-10-1759 neem hy ook die plaas Goudini en kort daarna Springerskuil oor. Hy is nou opdreef en op 11-3-1760 brei hy sy boerdery aan die kus uit deur Attaquaskloof (Hemel en Aarde) aan die Onrusrivier oor te neem. Later na sy dood in 1787 neem sy jongste seun by sy eerste vrou, Adriaan Gerhardus die plaas oor op 20-3-1788. Hendrik Cloete van Constantia neem weer Mosselrivier as ’n “lusthof” oor op 24-2-1788. Hierdie “lusthof”, ook genoem as ’n goeie osplaas omdat die weiding soet was, word later die dorp Hermanus. Springfontein aan die suidoostelike oewer van die Kleinriviermond word ook deel van die transaksie. Blykbaar het die Wesselse ook op hierdie plaas geboer.

Wessel het seker sy eerste kennismaking met die Overberg gemaak toe sy stiefvader Jan Cloete Mosselrivier (huidige Hermanus) so vroeg as 1724 as weidingsplaas bekom het. Die kalkryke laagland met die Kleinrivier as oostelike en die Onrusrivier as westelike grens, was baie gesog veral die verwisseling van die diere vanaf suur- na soetveld.

Wessel het by sy eerste vrou, Susanna elf kinders gehad en by Margaretha vier. Dit lyk tog of sy moeder, Geertrui steeds sterk gestaan het. Miskien was dit die rede waarop sy tweede vrou, Margaretha haar losgemaak het van Roodebloemskraal en na sy dood op 7-9-1790 die aangrensende plaas Spiegelkraal oorgeneem het. Hulle het reeds vanaf 1759 op Goudini en Springerskuil geboer en op 6-10-1792 hernu sy weer die weiregte. Teen 1803 was sy steeds betrokke en volgens ’n opgaafrol in 1813 was haar boerdery as volg : 8 ryperde, 52 aanteelperde, 24 trekosse, 21 aanteelbeeste, 204 skape, 21 bokke en 101 mud koring en 9 mud gars geoes. Dit kan ook aanvaar word dat sy meer omgesien het na haar eie kinders, in hierdie geval die kinders van haar oorlede seun Jurie en skoonseun Hans Jacob Swart. Teen 1840 het Goudini wel aan Hans Jacob Wessels behoort waarna dit in 1862 aan die Kleyns verkoop is. Wessel het ook met ’n watermeule op Roodebloemskraal begin.

Na Wessel se dood was die opstal en sekere losgoed op Roodebloemskraal steeds die eiendom van moeder Geertrui, want die kennisgewing vir ’n publieke veiling op 13 Oktober 1787 verwys na Weduwee van Wessels de oude. Jan Christoffel Bredenkamp het vir Rodebloemskraal gekoop, maar die watermeule is steeds deur die Wesselse voortgesit. Wessel (c2d4) het ook nog daar geboer. As ou moeder Geertrui nog gelewe het sou sy 87 jaar oud gewees het terwyl Margaretha sestig sou wees. Die afleiding kan gemaak word dat Margaretha voortaan op Goudini sou bly.

Ter verduideliking van die veiling kan genoem word dat dit ’n leningsplaas was. Gevolglik was daar ’n soort van klandisiewaarde op die opstal. Eers na 1830 het boere besitreg gekry.

In 1833 koop Kolonel William Holmes Dutton vir Rodebloemskraal van Jan Christoffel Bredenkamp en hierdie plaas word nou ’n erfpagplaas en Kolonel Dutton verander die naam Rodebloemskraal na Dryton. Die huidige eienaar van Dryton is Kobus Theunissen van Caledon.

Wessel Wessels van Roodebloemskraal was alombekend. Heelwat toggangers verwys na hom in geskrifte. Amptelike ekspedisies soos diè van Vaandrig Beutler in 1752 en diè van Goewerneur van Plettenberg in 1778, meld van besondere gasvryheid wat hulle daar geniet het.

Teen die einde van sy leeftyd het sy kinders baie van die plase oorgeneem, maar op Roodebloemskraal was daar steeds 8 ryperde, 20 aanteelperde, 20 trekosse, 14 aanteelbeeste, 100 skape, 50 bokke en 130 mud koring en 18 mud gars geoes.

Toe Wessel in 1738 hier begin het, was die streek nog yl bewoon deur Europeërs wat op soek na ’n permanente woonplek. Amptenary en veral W.A. van der Stel het voor die tyd op verskeie veeplase as leningsplase geboer, maar na die insinking van hulle bedrywighede het enkele burgers vanaf 1709 tot 1720 hulle hier gevestig. In die dertigerjare het meer burgers oor die berg gekom om hier ’n heenkome te vind. Die algemene neiging was om in die nabyheid van ander bure te bly vir veiligheid. Die naaste dorp en kerk was Stellenbosch en die roete oor die berg was moeilik begaanbaar. Op hierdie stadium was die Elandskloof of Gantou die enigste roete soos aanvanklik deur grootwild oopgetrap.

Die eerste vorm van groot groepering was die totstandkoming van Baviaanskloof, later Genadendal-sendingstasie wat in 1737 deur George Smith, van die Morawiese Sendeling-genoodskap, begin is. Die inheemse bevolking het verskeie krale oor die gebied bewoon. Die pokke-epidemies van 1713, 1755 en 1767 het hulle getalle drasties ingekort. Die laaste epidemie het feitlik die einde beteken van ’n eens bedrywige veeboerdery soos deur hulle beoefen is. Die Europese invloed en leefstyl het ook nadelig ingewerk, want hulle was nie gewoond aan tabak en alkohol nie. Dagga vir medisinale gebruik was wel aan hulle bekend, maar nie enige middel wat gewoontevormend was nie. Baviaanskloof was ’n dagreis ver van Roodebloemskraal, terwyl krale wat steeds bewoon was soos Oudekraal en Jongensklip slegs een tot twee uur van Wessel se plaas was. Oudekraal was die hoofvesting wan die betrokke Khoi-stam in die geweste en Jongensklip is ’n aanduiding dat die jong kaptein en seun van die Khoi-stam daar gewoon het. Van hierdie mense het wel as slawe by die burgers of nuwe intrekkers gewerk.

Die naam Roodebloem is ook interessant. Dit is moontlik dat die van der Bijls die naam gegee het, want hulle was ook betrokke by Roodebloem in die Kaapse Vallei. Anderkant Tygerberg en Westerdal van die Wessels-stamvader was ook ’n plaas wat Roodebloem geheet het. ’n Ander moontlikheid vir die naam is die oranje-rooi inheemse iris blommetjie, Moraea insolens, wat op Roodebloemskraal voorkom. Sover bekend is Roodebloemskraal die enigste plek ter wêreld waar hierdie blommetjie inheems voorkom. Tans is diè gedeelte van enkele hektaar omhein en as ’n natuurerfenisgebied geproklameer om die rooiblom, Moraea insolens, te beskerm. Daar is tans sowat 25 van diè bedreigde blommetjies, nadat hulle die laaste paar jaar baie min geblom het. Hierdie blommetjies is 1987 ontdek.

Daar bestaan nog ’n deel van ’n goedbewaarde ou skermmuur op die werf en dit was moontlik die eerste konstruksie. Die Wesselse was die eerste Europese bewoners op Roodebloemskraal en dit kan aanvaar word dat hulle eers so ’n skermmuur sou pak voordat ’n huis gebou is.

’n Ander uitstaande kenmerk is die feit dat Wessel en sy sewe seuns op eie stoom sodanig vooruitgeboer het dat hulle binne veertig jaar tot met sy dood oor die volle breedte van die Overberg geboer het. Wat dit nog meer merkwaardig maak is die feit dat nie een van die seuns grond van hul vrouens se kant gekry het nie. Met die hertrou van die oudste seun, Jan se weduwee is daar wel Wesselsgrond oorgeplaas na die Willemses.

Wat die agt dogters betref, is sewe met gevestigde boere getroud terwyl slegs die jongste, Elisabeth Christina se huwelik met Hans Jacob Swart Wesselsgrond na die Swarts oorgeplaas het. Die versagting hier is die feit dat die jongste seun, Jurgen d14 se kinders ook by hierdie huisgesin grootgeword het en ook later sou grond kry van ouma Margaretha (Radyn) Wessels.

Ouma Margaretha (Radyn) was die tweede vrou van Wessel en ’n ewe ondernemende vrou. Na haar man se dood in 1787, boer sy steeds voort op Spiegelkraal, Goudini en Springerskuil.

Soos genoem was die leefwyse in die Overberg maar elkeen op hulself ingestel. Gelukkig was die sendingstasies op Baviaanskloof binne bereik en ABC leesklasse beskikbaar. Of die gesinne veel oor die berg na Stellenbosch sou gaan, sou seker maar beperk wees of tenminste een maal per jaar vir doopplegtighede. Met hulle plase aan die see by Hermanus en Onrus sou hulle seker van tyd tot tyd hul seekosvoorraad kon aanvul.

Vreemd om dit so te noem, maar ’n skeepstranding aan die kus het aan die inwoners van die Overberg ’n besondere verwagting gelaat. Nie wat menseverlies betref nie, maar al die waardevolle goed wat sou uitspoel vanaf so ’n wrak. Houtbalke, lyne, seile ens.. Alles kon nuttig gebruik word. Heelwat vate drank is soms tydens so ’n ramp uitgespoel en soms is daar vuisgeslaan om dit in die hande te kry. Die veldkorporaal van die wyk moes die uitgespoelde goedere bewaak en verslag doen aan sy veldkornet waarna dit aan die Landdros en Heemrade te Stellenbosch gerapporteer word. Daar was streng wetgewing teen “vrije rapen” en die eerste plakkaat teen strandroof is reeds op 18 Junie 1722 uitgevaardig. So was dit op papier, maar in die praktyk het die nuus van so ’n stranding vinnig versprei en die boere het van heinde en ver met hulle waens na die ramptoneel gehaas. Een so ’n stranding was die Nicobar in 1783 waar dit naby die huidige Pearly Beach op rotse geloop het. Nege persone waaronder ’n vrou, Margaretha (Radyn) Wessels is van strandroof aangekla.

d1 Johannes (Jan), ~ 1-6-1738, burger Stellenbosch, ? 1782, x 21-2-1767 Cornelia STEYN, ~ Tulbagh 6-4-1749, d.v. Hermanus Steyn en Martha Potgieter. Op 29-10-1764 het Jan weiregte gekry op die plaas Boschrivier aan die Kleinrivierskloof. By die Overbergse tradisie is dit gewoon dat die oudste seun moes uitkyk na ’n ander plaas. Die jongste het gewoonlik die hoofplaas geërf. Die middelste seun(s) moes gewoonlik ’n ander heenkome vind; trou met ’n vrou wat sou grond erf of verder oos en of noordwaarts trek. Die erflating aan die jongste het die voordeel vir die ouers ingehou om langer op die hoofplaas aktief te kon boer.

Intussen was Jan nog verantwoordelik vir die twee watermeulens op sy pa se plaas Roodebloemskraal. Daar is ook ’n watermeule op die plaas Boschrivier gebou. Die meulens op die twee plase is nog steeds daar; alhoewel nie meer in werkende toestand nie.

Na Jan se dood op ’n jeugdige ouderdom van 43 jaar is sy weduwee weer op 30-10-1782 met Mattheus Willemse getroud en het die plaas Willemse eiendom geword tot in 1806.

d2 Willem Wessel, ~ 12-6-1740, burger Stellenbosch x 10-11-1765 Elisabeth FOURIE.

d3 Judith, ~ 1-7-1742, x Jacobus FOURIE.

d4 Wessel (Johannes Albertus) ~ Stellenbosch 18-10-1744, burger Stellenbosch, x Stellenbosch 4-2-1770 Elisabeth Christina VAN DYK - 5 kinders; xx Kaapstad 14-7-1782 Zacharya SWART - 9 kinders. ’n Derde vrou was kinderloos. Die Johannes Albertus gedeelte van die naam kom van ’n sterfkennis van een van Wessel se seuns, Johannes Albertus.

Wessel was in 1813 in besit van Elandskloof aan die Karsrivier en het ook daar gewoon. Van die omskrywing van die plaas moet afgelei word dat dit die teenswoordige “Ouwerf” was. Die plaas was ook op ’n stadium bekend as Middelplaas - dit was toe een van Wessel se kleinseuns Jan Jurie daar gewoon het. ’n Gedeelte van die oorspronklike plaas staan vandag nog bekend as Elandskloof. Ander gedeeltes is Schietpad, Karsrivier en Hansrivier. In 1813 was Wessel ook in besit van Roodebloemskraal wat voorheen aan sy vader behoort het.
Hierdie stamlyn was die mees behoudende grondbesitters in die Overberg. Hy het kort na sy troue laer af in die Overberg getrek en ’n nuwe plaas aan die Karsrivier onder die Elandskloof aangelê. Die naam Kars, Karse was oorspronklik Kasterivier soos deur die inheemse bevolking genoem. Dit beteken spoelklippies wat blink in die son. Daar is nog van die Overbergse mense wat praat van Kasterivier.

Teen die draai van die eeu was hy ’n vooruitstrewende man en neem ook die voortou saam met sy swaer, P.L. de Bruyn, P Marais en sy skoonseun veldkornet Hans Jacob Swart om voorspraak te doen vir dorpstigting. Teen 1811 is Caledon aangelê aan die Swartberg by die warmbron. Ons sal later verneem dat sy nageslag ook sterk gemeenskapleiers en verdere inspraak tot dorp en gemeentestigting sou hê.

Vandat ons voorgeslagte in die Overberg gevestig het, was die gesinne groot en naamgewing moes nou meer aandag kry. Vir naslaandoeleindes is die feit dat naamgewing sterk gekoppel was om die beurt vanaf vaders- en moederskant, ’n goeie hulpmiddel.

Name en herkoms soos algemeen in gebruik in die eerste geslagte : Wynand uit Bezuidenhout, Hendrik en Wessel uit Pretorius, Jurgen uit Radyn, Adriaan en Willem uit Odendaal, Hans Jacob uit Swart, Jacobus en Louis uit Fourie, Mattheus uit Willemse, Hermanus Petrus uit Steyn, Gerhardus Casper uit Badenhorst, Philippus Lodewicus uit de Bruyn, Andries uit van Dyk, Stephanus en Isak uit de Villiers, Albertus uit Gildenhuizen na Moolman en Wessels.

d5 Geertruy Susanna, ~ 11-9-1746, x 8-12-1768 Barend GILDENHUIZEN. Hulle het geboer op hul vader Barend Gildenhuizen se hoofplaas, Hartebeeskraal aan die Sonderendrivier, ook aan die Swartrivier.
d6 Hendrik Petrus, ~ 8-12-1748, burger Stellenbosch, x 26-3-1774 Catharina Elisabeth MOOLMAN. Op 19-8-1778 neem hy die plaas Hansiesrivier by sy vader oor. Hy boer ook op Houtkloof, Rietkuil en Zoutkuil. Teen 1796 het hy verder noordooswaards beweeg en vestig hom op die plaas Ganzekraal aan die Sonderendrivier. Twee jaar later neem hy dit oor by sy skoonvader. Hy het mettertyd uitgebrei en die plase Poort na die Slangrivier en Leeukraal bygekry. Op 27-3-1689 meld Vaandrig Isac Schrijver van “Ganse Coral” Reeds so vroeg as 1714 neem Isac Scheepers besit en die plaas word beskryf as “Zynde deeze de eerste plaatz van’t Stellenbosch district”. In 1803 het Hendrik eiendomsreg verkry en boer daar tot 1811 waarna Nicolaas Linde oorneem. Teen dieselfde tyd trou sy oudste seun Petrus Johannes (d6e2) met ’n Groenewald wat aangrensende grond besit het. Hierdie Wessels familie het mettertyd na Joostenbergvlakte verhuis.

Hendrik was ’n suksesvolle boer, maar ook ’n korrelkop. Tydens die eerste Britse verowering aan die Kaap het ’n aantal Overbergers geweier om die Britse eed van getrouheid af te lê. Hulle het persoonlik voor die Landdros verskyn op Stellenbosch. Hendrik Petrus het botweg geweier en geen redes aangevoer nie. Op ’n keer was Hendrik weer in botsing met sy buurman Linde oor die Kaapse wapad wat oor sy grond op Ganzekraal sou gaan. Sy vrou Kaatjie, soos alombekend, het ook nie veel verdra nie. Skinderstories het meegebring dat hulle volgens Johanna Duminy se dagboek in onguns was by die bure. Op ’n staduim wou die Overheid een van hulle waens opkommandeer en het Kaatjie die speke van die wawiele sodanig beskadig dat die wa nie geskik sou wees vir die langpad nie. Andersins meld Johanna Duminy in haar boek van die besondere gasvryheid en hope kos wat ’n mens by die Wesselse kon geniet. Hierdie plaas, Ganzekraal, was ook aan die ou Kaapse wapad.

Dit beteken dat Overbergse stamvader c2 en sy seuns op plase oor die breedte van die Overberg geboer het. Suid was Mosselrivier (Hermanus) en noord was Ganzekraal (deel van die plaas Lindeshof naby die huidige Riviersonderend).

d7 Susanna Elisabeth, ~ 11-4-1751, x 25-4-1773 Coenraad Johannes GROENEWALD. Hulle het op die plaas Boesmansrivier aan die Sonderendrivier gaan vestig. Het ook Dwarskloof en Springfontein bygekry.

d8 Johanna, ? 13-8-1758, ~ 28-10-1758, ? 28-3-1818 x 30-10-1774 Petrus Lafras MOOLMAN, xx Petrus Jacobus RADEMAN. Hulle het laer af aan die Sonderendrivier gebly.

d9 Wynand, ~ 12-10-1755, burger Stellenbosch, x 26-1-1780 Sara Johanna UYS. Op 6-3-1781 het hy begin boer op Wolwengat aan die Kleinrivierberg.

d10 Engela Magdalena, ~ 17-9-1758, x 23-2-1777 Johannes Zacharias MOOLMAN. Hulle was drie jaar getroud en sy het nie kinders nagelaat nie.

d11 Adriaan Gerhardus, ~ 21-2-1762, burger Stellenbosch, x 16-10-1786 Maria Johanna STEYN, xx Caledon 12-9-1819 Susanna Margaretha MAREE. Op 30-4-1781 moes 15 gekommandeerdes met o.a. Wessel (d4), Wynand (d9) en Hendrik (d6) aanmeld vir militêre diens op Stellenbosch. Intussen skryf hulle broer Adriaan Gerhardus (d11) van die wyk Kleinriviersmond ’n mooi brief aan die Landdros dat hy en 2 ander graag sou wou tuis bly om na die vrouens om te sien.

Op 20 Maart 1788 neem hy die boerdery op Attaquaskloof aan die Onrusrivier oor (Hemel en Aarde vallei naby Hermanus). Sy vader het self op die plaas geboer vanaf 1760 tot met sy dood in November 1787.

d12 Maria Margaretha, ~ 6-11-1763, x 6-7-1785 Burgert VAN DYK. Hulle het sewe kinders gehad. Hulle vader, die Overbergse van Dyk-stamvader, Andries het in 1755 aan die Botrivier geboer tot 1777. Daarna het die Van Dyks op die plaas Sandfontein gaan vestig. Die plaas het aan Roodebloemskraal gegrens. Burgert se ouer suster Elisabeth Christina was getroud met Wessel d4 broer van Maria d12.

d13 Margaretha Elisabeth, ~ 9-8-1767, x 20-10-1785 Louis FOURIE. Hulle het op die Fourie-plaas Grootvlei aan Swartberg gewoon.

d14 Jurgen Wessel, ~ 27-8-1769, burger Stellenbosch, x 31-7-1796 Christina Magdalena PAS. Christina was die kleindogter van die Opperchirurgyn Christiaan Pas van Kopenhagen. Hyself was getroud met Maria Radyn, oudste suster van weduwee Margeretha (Radyn) Wessels. Die jong Wessels egpaar het voortgeboer op Goudini. Jurgen is ook die eerste draer van Jurgen uit die Radyns na die Wesselse.

d15 Elisabeth Christina, ~ 28-6-1772, ? 1803, x 5-7-1789 (Veldkornet) Hans Jacob SWART. Op 23-9-1804 hertrou Hans met die weduwee Christina Magdalena Pas. Dit beteken dat die drie Wessels kinders uit haar eerste huwelik met Jurgens d14 en Hans Jacob se vier kinders by Elisabeth d15 nou almal onder haar sorg is, alhoewel Wed. Margaretha (Radyn) Wessels volgens haar testament in 1803 wel voorsiening vir die kinders gemaak het. Hierdie huwelik was ’n gerieflike skuif vir die familie en boerdery op Goudini. Hans was ook ’n neef van Zacharya Swart, die tweede vrou van Wessel d4. Hulle oupa, Jan Swart was van Swartrivier (Caledon). Die vermoede is dat Hans Jacob sterk gerugsteun is deur moeder Margaretha Radyn, weduwee Wessels. Soos reeds genoem was hy ook een van die vier voorspraakmakers vir die latere dorpstigting van Caledon in 1811. Teen hierdie tyd was hy al veldkornet van die Swartberg-wyk. Volgens sy handskrif en briefwisseling met Landdros van der Riet op 13 April 1810 oor die twee Wessels-watermeulens op Roodebloemskraal, blyk dit dat hy minstens vyf of ses jaar onderwysonderrig ontvang het. Daar is van mening dat met sy skrywe van die vier aanspraakmakers op 25 September 1810 aan genoemde landdros, sy kennis ook sou help met die motivering en behoefte van ’n eie kerk en dorp. Hulle verwys veral na die vasstelling van die binnegrense tussen Stellenbosch, Tulbagh en Swellendam sodat voorgestelde kerkdistrik in Caledon lewensvatbaar kon wees.

Uit Hans Jacob se laaste huwelik is nog drie seuns gebore. Ons verneem later van hulle toe hulle Voortrekkers geword het.

b3 Maria, ~ 7-9-1692, x 17-11-1715 Arnoldus PAUW, van Purmerend, Nederland.

b4 Hendrik, ~ 19-6-1695 (nageslag onbekend).

b5 Wijnand Marthinus, ~ 6-1-1704, x 5-8-1735, met Johanna VAN AKEN. Wynand en Johanna se dogters is almal met Hollanders getroud, wat die Kaap verlaat het.

c1 Catharina Alberts, ~ 2-9-1736.

c2 Magdalena Margaretha, ~ 7-9-1738.

c3 Anthonia Alida, ~ 28-9-1740, x 22-2-1761 Lambertus UYTING van Delftshaven. Hy was die opperchirurgyn op die retoerskip “Overschie”.

c4 Christina Jacomina, ~ 20-7-1744.

c5 Johannes Albertus, ~ 4-7-1747.

b6 Daar bestaan verwysings, o.a. in die Argiefjaarboek van Suid-Afrikaanse Geskiedenis, wat daarop dui dat daar ’n sesde kind genaamd Marthinus in die huishouding was tot op ’n ouderdom van ongeveer 12 jaar en dat sy moeder ene Katharina Ceaser van die Kaap was, en sy vader onbekend. Een bron gee b5 se naam aan as Wijnand en b6 as Marthinus - ek het egter by die De Villiers/Pama weergawe vir b5 gebly. Daar is egter geen melding hiervan in “Groep sonder Grense” deur Dr. Heese wat uitvoerige navorsing en verbintenisse tussen blankes en anderskleuriges van hierdie tyd noteer.

Dit kan aanvaar word dat Katharina in die Wessels-huishouding gewerk het en dat haar kind gedoop sou word as Wessels. Dit was ’n gebruik.

Bronne:

Heese en Lombard
GC de Wet Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting
J Hoge Personalia of the Germans at the Cape
Simon Wessels' Web page http://users.iafrica.com/s/sw/swessels/

Navorsers:
Simon JC Wessels This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. en SFG Wessels

Die boek "Die Nageslag van Johannes Wessels" (2002 uitgawe) saamgestel deur SJC Wessels en SFG Wessels is te koop teen R130 plus R35 posgeld en verpakking in RSA. Enige ander inligting inligting oor die Wessselse sal verwelkom word. This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

PrintEmail