Surnames V to Z

VERMAAK Gerrit Augustijnsz

VERMAAK :
DIE SUID-AFRIKAANSE STAMVADER, GERRIT AUGUSTIJNSZ

Verskaf en Navorsing deur NJ (Nico) Vermaak
1This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Hierdie artikel is grootliks opgeneem in FAMILIA 38, 2001 no1

Tot onlangs het die skrywer en ander bekende medewerkers aan die genealogie van die familie Vermaak oor 'n aantal brokkies inligting beskik in verband met ons stamvader, GERRIT AUGUSTIJNSZ VERMAAK. Daar is egter sover vasgestel kon word nog niks spesifiek oor hom gepubliseer nie. Die skrywer het 'n tyd gelede die voorreg gehad om 'n paar uur in die Algemene Rijksarchief in Den Haag, Nederland deur te bring en was gelukkig genoeg om 'n klompie aanvullende inligting in Landmonsterrolle en Skeepssoldyboeke van die VOC te vind. Dit word nou hier weergegee tesame met inligting uit ander argiefbronne wat tot nou toe raakgelees is.

Uit vorige werke2 was dit bekend dat GERRIT AUGUSTIJNSZ VERMAAK, in ongeveer 1710 as matroos in die Kaap aangekom het. Hy was afkomstig vanuit Maarssen ('n klein dorpie aan die Vecht-rivier sowat 7 Km noord van die stad Utrecht) waar hy op 16 Junie 1690 gedoop is in die kerkgebou van die Nederduits Hervormde Kerk wat vandag nog in gebruik is. Hier is sy
doopinskrywing, hier is 'n skildery deur Jan vd Heiden c 1670 van Maarsen kerk,'n lugfoto van Maarssen kerk.

SY VERTREK UIT HOLLAND EN AANKOMS AAN DIE KAAP
Uit die Landmonsterrol van die VOC vir die verslagjaar tot 30 Junie 17103 blyk dit dat Vermaak op daardie datum een van presies 500 persone in kompanjiesdiens aan die Kaap was en dat hy as matroos een van 98 persone was wat in die kategorie "Van Zeevaaert" ingedeel was. Teenoor die name van elkeen van die persone op die Landmonsterrol verskyn ook die naam van die skip waarmee, en die jaartal waartydens, die persoon in die Kaap aangekom het. Daarvolgens het Vermaak in 1709 aan boord van die skip Huis te Loo in die Kaap aangekom.

Met hierdie inligting was dit toe moontlik om die Scheepssoldijboek van die Huis te Loo4 te raadpleeg. Daaruit is bevestiging verkry daarvoor dat Vermaak (daarin gespel "Vermaack") vanuit Maarssen afkomstig was. Dit verskaf verder die inligting dat die Huis te Loo op 10 Junie 1709 vanuit Texel geseil het. Teenoor die datum 9 Desember 1709 word 'n "gagie" of soldy van 54 Gulden tot Vermaak se krediet in die soldyboek aangeteken ten opsigte van sy diens aan die Kompanjie tydens die seevaart, bereken teen 'n besoldiging van 9 Gulden per maand. Volgens 'n inligtingstuk van die Rijksargief is laasgenoemde datum die een waarop die skip in die Kaap aangekom het. In die werk DUTCH-ASIATIC SHIPPING5 vind ons bevestiging daarvoor dat die Huis te Loo op 10 Junie 1709 vanuit Texel vertrek het, maar daarin word egter aangedui dat daardie skip op 6 November 1709 in die Kaap aangekom het. Daarteenoor vind ons verwysing in Suid-Afrikaanse Argiefstukke6 na die aankoms van daardie skip op 4 November 1709. In die Joernaal7 waarin die aankomste van verskeie skepe geboekstaaf is, is daar rondom bovermelde datums geen vermelding van die Huis te Loo nie. Sy het egter op 22 Desember 1709 deelgeneem aan 'n kanonsaluut ter ere van die 49e verjaarsdag van die Goewerneur8. Sou mens kon aanvaar dat die Huis te Loo wel op 4 of 6 November 1709 hier aangekom het maar dat Vermaak tot die einde van die volgende vol maand, dws tot 9 Desember op die skip diens gedoen het?

Die Huis te Loo het op 26 Desember 1709 na Batavia vertrek waar dit op 10 April 1710 aangekom het.

Hierdie skip was 'n pinas met tonnemaat van 875 metrieke ton en is in 1691 in Amsterdam gebou. Die vaart wat ons stamvader na die Kaap gebring het was haar sewende (en skynbaar laaste) vaart en sy het op daardie vaart gestaan onder die kapteinskap van Broer Hofman. Die bemanning het bestaan uit 136 seevaarders en 92 soldate. Verder was daar 7 passasiers aan boord, waarvan 6 verstekelinge was. Tydens die vyfmaande lange reis na die Kaap is 28 van die seevaarders en 18 van die soldate oorlede. Die Huis te Loo het as lid van 'n vloot van vier uit Texel weggevaar : op dieselfde dag is die Abbekerk, Neptunus en Oegstgeest ook daar weg. Hierdie drie skepies het egter eers 'n lang tyd na die Huis te Loo in die Kaap aangekom, die Abbekerk eers op 4 Februarie 1710!

DIE NUWE TUISTE
Wat sou in ons stamvader se gedagtes omgegaan het toe hy in die Kaap aankom? Uit die reeds aangehalde werk van Leibbrandt weet ons dat die Suidoos op 3 November "blew so terrifically that people had enough to do to keep on their legs." Op die volgende dag het die wind skielik gaan le maar dagbreek het gepaard gegaan met "strong lightning, and vehemently heavy thunder with heavy rain."9

Kaapstad was destyds maar 'n dorpie van skaars 200 geboue en die lewe van 'n matroos was rof en het min in gemeen gehad met die geromantiseerde partytjies van Lady Anne Barnard en haar sosiale kring. Ek wonder of Gerrit 'n ooggetuie was van die argument, gekoggel en uiteindelike messtekery waartydens die matroos bekend as "Dolle Dries" deur sy mede-matroos,'n Griek genaamd Demetrius Petrus doodgesteek is.10 Demetrius se hardnekkige ontkenning van skuld lei daartoe dat hy aan marteling onderwerp word: op 16 November 1709 is hy opgehys met 'n 50 pond gewig aan elkeen van sy groottone. Dit laat hom bieg en op 21 November word hy verhoor en "sentenced to be shot on the place of execution, and buried on the one outside, paying all the costs."11 Voor die einde van daardie jaar is nog twee matrose op afsonderlike klagtes van messtekery verhoor: die een is gehang en die ander eers gemartel en toe vir ses jaar gevangenisskap in boeie na Robbeneiland gestuur. Die Kaap was duidelik 'n plek waar 'n man in sy spoor moes trap.

HUWELIKE EN EERSTE SUID-AFRIKAANSE VERMAAKS
Aan die Kaap het ons Stamvader twee vrouens gehad. Sy eerste "huwelik", met die voormalige Ceylonese slavin of "vryzwartin" Catharina van Colombo, het ingevolge 'n Resolusie van die Kaapse Kerkraad van 9 Desember 1720 egter nooit bestaan nie.12 Daardie besluit is skynbaar geneem kort na die oorlye van die Catharina van Colombo en die hoofdoel daarvan was om haar ander drie kinders op ander burgers te bestel. So is twee van die kinders by die burger Harem van Marlo en die een wat nog "suigt" by Otto Ernst van Graan geplaas. Die besluit maak nie melding van haar seun:
Hermanus Vermaak wie op 25 Junie 1713 as die seun van Gerrit Augustijnsz gedoop is nie, en uit die feit dat daardie seun die Vermaak-naam behou het, lei Ds. Hopkins, voormalige argivaris van die NG Kerk, af dat hy by sy pa en stiefma grootgeword het.13

Gerrit Augustijnsz is op 22 Julie 1714 weer (?) getroud, en wel met Sophia van Eck. Haar van word ook soms as "van Ik", "van Ek" en as "van Neck" aangegee. Sy is in Amsterdam gebore as die dogter van Cornelis van Eck en Elisabeth Schmidt. 'n Enkele seun is uit die huwelik tussen Gerrit en Sophia gebore, naamlik:
Cornelius, en hy is op 19 Mei 1715 gedoop.

Hermanus is op 11 Julie 1740 met Eva Bastiaanse getroud. Sy was die dogter van Johannes Bastiaanse en 'n onbekende oosterling. Uit hierdie huwelik is ses kinders gebore, waarvan twee seuns was. Die een seun (b1c5 Johannes Adriaan) het, sover tot dusver bekend, net 'n enkele kind, en 'n dogter daarby, nagelaat. Die ander seun (b1c4 Hermanus Augustinus) het 'n Vermaak-nagegeslag tot gevolg gehad waarvan 'n groot deel later in die Molteno-omgewing aangetref word. Hierdie groep is egter baie kleiner in getal as die nageslag van Cornelius.

Cornelius, (wat volgens sy vrou se sterfkennisgewing Cornelius Tobias geheet het) is op 23 of 28 Maart 1745 getroud met Susanna Elisabeth Scheepers (op sommige plekke ook as Susanna Maria aangedui). Hulle het nege kinders gehad, waarvan ses seuns was. Die oudste seun (b1c3 Cornelius Tobias) het wasdom bereik en is getroud maar het geen nageslag nagelaat nie. Die heel jongste (b2c9 Stephanus Jeremias) is skynbaar jonk en ongetroud oorlede. Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse Vermaaks stam dus van die ander vier seuns af. Van b2c5 Gerrit se afstammelinge vind mens later 'n groot klomp in die Vrystaat veral in die Brandfort-omgewing en ook in die Uitenhage en Steytlerville omgewings. Daar is heelwat van b2c6 Jacobus Stephanus se afstammelinge in Natal veral rondom Pietermartitzburg en Vryheid/Utrecht. Die afstammelinge van b2c7 Johannes tref ons hoofsaaklik in die Gamtoosvallei aan, maar ook in Humansdorp en Uitenhage. Die nageslag van b2c8 Coenraad is sterk verteenwoordig in Noord-Natal en veral rondom Helpmekaar maar ook in die Suid-oos Transvaal. Daar was ook 'n groep Dorsland-trekkers onder Coenraad se afstammelinge. Die Vermaaks is egter nie vasgeketting nie en het die wereld vol rondgetrek sodat geboorteplek beslis nie noodwendig 'n linie-verband aandui nie.

VRYBURGER VERMAAK
Die Scheepssoldyboek van die Huis te Loo vermeld verder dat ons stamvader vir die volgende ongeveer vier jaar as matroos aan die Kaap diens gedoen het totdat hy op die laaste dag van Oktober 1713 'n vryman, dws 'n vryburger, geword het.

Sy naam kom voor in die "GENERALE MONSTERROLLE 1701-1715"14 vir die jaar 1710/1711 onder die opskrif "Van de Zeevaart", maar in die opgawes vir die verslagjare 1712 - 1715 kom sy naam nie voor nie. Vir die vier jaar 1716 tot 1719 en vir die jaar 1722 vind ons wel weer sy naam in die "Monsterrolle Vrije Lieden 1702-1725"15 In laasgenoemde vyf opgawes word sy vrou as Sophia van Ek aangetoon. In die opgawe van 1725 verskyn sy naam nie, maar die naam van Catharina van Colombo kom wel daarin voor. Die afleiding dat haar kinders na haar dood op aan die sorg van ander toevertrou is, is dus moontlik nie korrek nie.16

Die skrywer het ook gekyk na die VOC Landmonsterrol van 1716. Soos verwag kom Gerrit Augustijnsz se naam nie daarin voor nie. Dit is egter interessant om daarop te let dat die totale aantal persone in Kompanjiesdiens in hierdie jaar gestyg het tot 697 vanaf die 500 van ses jaar tevore.

Die Rol van Vryburgers vir die jaar 1716 gee verdere inligting oor die bevolking aan die Kaap. Vir die gebiede Drakensteyn en Stellenbosch word die bevolking van persone wat buite die kompanjiesdiens gestaan het, soos volg aangegee:

"Mans 322
Vrouens 160
Soons 258
Dogters 265
Knegte 30
Slave 809
Slavinne 108
Slave jongetjes 50
Do wijfjes 49"

Ander bates van die Vryburgers word ook vermeld en sluit in 1379 perde, 8667 beeste, 303 varke en 1 405 300 wynstokke. Gerrit Augustijnsz se naam kom voor in hierdie Rol tesame met die van sy vrou, Sophia van Eck (daar gespel "van Ik") met vermelding dat hulle een seun gehad het. Hy maak egter net 'n uiters geringe bydrae tot die bates van die Kaap: geen slaaf, bees, perd of wingerdstok nie, net maar 'n snaphaan en een ander ding wat skrywer nie kon ontsyfer wat dit was nie. Die naam van "Catharina van Hurt (?) Kolombo" kom ook op dieselfde rol voor. Teenoor haar naam word geen man vermeld nie maar dit dui wel aan dat sy vier seuns gehad het. Een van hulle is waarskynlik die seun van Gerrit.

As Vryburger het ons Stamvader skynbaar 'n bestaan gemaak as messelaar.17 Ons sal seker nooit weet of enige van sy handewerk vandag nog te sien is nie, maar die argiefbronne is duidelik dat dit nie altyd of enduit met hom goed gegaan het nie.

Op 26 Oktober 1722 maak hy homself skuldig aan wat vandag in die omgangstaal as AWOL bekend sou staan ("sig van sijn wagt hebbende geabsenteert" 18). Vir hierdie oortreding verskyn hy op 4 Januarie en 1 Februarie 1723 voor 'n burgerlike krygsraad en word aan hom 'n boete opgele. Maar aangesien "denselve Vermaak hartneckig blijf weigeren deselve te betalen, aals meede dat gedaagte gene vaste wooning nog eenige de minste vaste of tilbare goederen hier is hebbende, waar uijt de boete per excecutie soude konnen gehaalt werden,..." versoek die Burgerkrygsraad die Politieke Raad om te beveel dat Vermaak weer in Kompanjiesdiens opgeneem word.

Die Politieke Raad het oor die beskuldigde geen goeie woord te se gehad nie en voldoen aan die versoek. Die Raad verwys na Vermaak se skandelike verstoting van sy eie huisvrou en kind, die onnatuurlike en harde behandeling haar aangedaan en na "de dagelijxe excessen in den drank, desselfs exemplaire luij en leedigheijt, mitsgrs. de notoire ongehoorsaamheijd tegens sijne wettige burger officieren..." Omdat sulke gedrag 'n oop deur sou skep tot navolging van dergelyke ergerlike handelinge, word Vermaak gevolglik van sy burgerskap ontneem, en weer in die diens van die E-kompanie opgeneem as matroos.

WEER VOC MATROOS
Op 2 Februarie 1723 tree hy gevolglik gedwonge weer in Kompanjiesdiens. Op 7 Junie 1723 word hy in die Scheepssoldyboek hierbo vermeld gekrediteer met sy gagie ten opsigte van diens op die skip MIDDELWOUD oor die periode van 4 maande en 5 dae sedert 2 Februarie. Volgens DUTCH-ASIATIC SHIPPING19 het hierdie skip op 24 Februarie 1723 onder die kapteinskap van Kornelis Braams uit die Kaap gevaar en op 9 Junie 1723 in Batavia aangekom. Weereens kan die 2 dae verskil tussen die besoldigingsdag en die aankomsdatum nog nie verklaar word nie.

Kort na Vermaak aan boord van die Middelwoud gegaan het, doen sy vrou, Sophia van Ek by die Politieke Raad aansoek dat die helfte van sy soldy aan haar uitbetaal moet word.20 Sy kla dat sy van die begin van haar huwelik met Vermaak onverdraaglike slegte behandeling gehad het, en dat dit wereldkundig is, sodanig dat sy dit nie langer kon of wou verdra nie, en hom gevolglik verlaat het. Sy kla dat hy nooit 'n stuiwer betaal het van die 3 riksdalers wat hy, ingevolge 'n vonnis, per maand aan haar moes betaal het nie. Die Politieke Raad het egter geen presedent van die aard gehad waarvolgens hulle kon optree nie, en verwys die aangeleentheid na die "Hooge Indische Regeeringe" met 'n aanbeveeling dat dit gunstig oorweeg sal word.

Gedurende 1723 volg daar nog twee kredietinskrywings in die skeepssoldyboek maar die is moeilik ontsyferbaar. Dit wil egter voorkom of Vermaak eers teen die einde van November 1723 teruggekom het in die Kaap. In 1724 verdien hy nogeens twee kredietinskrywings, een ten opsigte van diens aan die Kaap en een ten opsigte van diens op 'n skip wat moontlik die Datvoor Visaeren geheet het, maar daardie naam het ek nog nie in ander bronne teegekom nie.

TERUG HOLLAND TOE
Op 18 Februarie 1727 word Vermaak skynbaaar uit kompanjiesdiens aan die Kaap ontslaan en op 15 Junie 1727 is die laaste kredietinskrywing in die Skeepssoldyboek gemaak tw. ten aansien van 3 maande en 7 dae se diens op die Slot Aldegonde. Volgens DUTCH-ASIATIC SHIPPING21 is hierdie jag met 'n tonnemaat van 1160 ton onder die kapteinskap van Leonard de Rijke op 26 Februarie 1727 uit die Kaap uit weg en het sy op 20 Junie 1727 in Texel aangekom. Weereens kom die datums amper ooreen maar is daar tog 'n verskil wat die skrywer nog nie kan verklaar nie.

Aan die debietkant van die Scheepssoldijboek vind ons na daardie datum nog twee inskrywings wat die skrywer ook nie kon ontsyfer, tw. teenoor die datums 1 Julie 1727 en 21 Januarie 1728. Onder hierdie twee inskrywings verskyn telkens die woorde " 't merk X van Gerrit Augustijn Vermaak". Soos so baie van sy tydgenote was ons Stamvader dus ook ongeletterd.

DIE SPOOR LOOP DOOD
Wat na 1728 van Gerrit Augustijnsz Vermaak geword het sal seker ten minste 'n tyd lank nog 'n geheim bly. Dit kan egter aanvaar word dat hy voor 1737 oorlede is. In Mei 1737 doen Tobias van Neck by die Politieke Raad aansoek vir verlof om, wanneer nodig en vir solank as wat dit nodig mag wees, sy suster Sophia, die weduwee van Gerrit Vermaak, in 'n kamer in sy eie huis toe te sluit. Die doel met hierdie drastiese stap word soos volg in die Resolusies van die Politieke Raad aangeteken:

"...om dus voor te komen de uitwerkselen van het ergerlijk gedrag,en de schandaalen waaraen sig gemelte Sophia van Neck, voornaamlik in dronkenschap, tot spot en smaed van ider, langs straaten en weegen komt bloot te stellen."22

SLOT
Met 'n begin soos die wat die Vermaaks in Suid-Afrika gehad het kon dit daarna eintlik net beter met ons gaan. Ek wens daar was iewers 'n beroemde skrywer of filosoof wat iets treffends gesĂȘ het met die strekking dat jy met familienavorsing altyd op risiko is om goed te ontdek wat maar liewers vergete moes bly. Ek hoop ons wat nou leef se nageslag sal daardie versugting gespaar bly!

1. Posbus 668,Johannesburg 2000.E-Pos:This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. Die skrywer is 'n patentprokureur met kwalifikasies BSc(Chemie en Fisika)en LLB. Genealogie en geskiedenis is suiwer amateur-belangstellings en lesers word gevra om hierdie stukkie in daardie gees te aanvaar.
2. de Villiers-Pama, Geslagsregisters van ou Kaapse Families.
Vermaak N, Genealogie Vermaak
Theunissen N H, Die Brandwag, 2 Augustus 1946
3. Rijksargief, Den Haag, toegangsnommer 1.04.02, Inventarisnommer 11558 & 11559
4. RIJKSRGIEF TOEGANGSNOMMER 1.04.02, INVENTARISNOMMER 5597.
5. RPG GROTE SERIES Nrs 166,167 p 304-305
6. Volume 4, p 125 onder die datum 4 Februarie 1710
7. Gepubliseer deur H.C.V. Leibbrandt (red) "PRECIS OF THE ARCHIVES OF THE CAPE OF GOOD HOPE. JOURNAL, 1699-1732" (Hierna genoem "Joernaal")
8. JOERNAAL p 208
9. JOERNAAL p 204
10. JOERNAAL p204-205
11. JOERNAAL p 206
12. Hoge J., Bydraes tot die geslagsregisters van ou Kaapse Families
13. Private korrespondensie 5.5.1980
14. VC VOL 40 p178 Kaapse Argiefbewaarplek
15. VC vol 49 Kaapse Argiefbewaarplek
16. Die inligting in hierdie paragraaf is deur my pa, H.P.Vermaak van Naboomspruit opgespoor.
17. Resolusies van die Politieke Raad, Deel IX p115 vn 119.
18. Suid-Afrikaanse Argiefstukke, Kaap, nr 6, p 246.
19. p366-367
20. Suid-Afrikaanse Argiefstukke, Kaap, Deel 6, p 250-251
21. p 280-280
22. Resolusies van die Politieke Raad, Deel IX 1735-1739 p 115. Ek is dank verskuldig teenoor J F (Atlas) Vermaak wie hierdie Resolusie opgespoor en onder my aandag gebring het.

Navorsing deur:
Nico Vermaak

Print Email