Skip to main content

logo new

Surnames V to Z

VAN SCHALKWYK Theunis

 

 

Theunis Dirkse VAN SCHALKWYK, * ca. 1645, + 1717. Hy het omstreeks 1665 in diens van die VOC na die Kaap gekom as "busschieter", d.w.s. soldaat.
Hy trou op 14 Junie 1669 met Jacomijntje HERMANS (Hermensz?) van Philippine in Nederland, "n diensmeisie vanaf "n skip wat by die Kaap aandoen.
"n Doopinskrywing in die Kaapse doopregister lui:
"Een soontje van Theunis Schalqwyck ende Jacomijntje sijn huisvrouw wiert genaamt Dirck 15 May 1672"
Hy is waarskynlik klein dood.
Hulle het daarna nog "n seun en "n dogter.
Vanaf 1668 tot 1707 tree Theunis D op as privaat houtkapper. Intussen het hy baie ander ondernemings: Hy vang vis, o.a. naby die teenswoordige Gordonsbaai, en kry in 1675 die alleenreg om dit in die Kaap te lewer.
Hy kry ook in 1694 "n vergunning om bier te brou en te verkoop -- later ook sterk drank. In 1695 en weer in 1706 kry hy die reg om moutbier te brou maar nie een van hierdie twee pogings was blykbaar suksesvol nie.
Soos die meeste van sy tydgenote, bots hy ook met die gereg oor sluikhandel en wel in 1685.
Sy naam verskyn in die opgaafrol van Stellenbosch vir 1692, sonder vrou (oorlede omstreeks 1679) maar met een seun en een dogter. Hy woon toe reeds 7 jaar op dieselfde plek en besit 16 volwasse slawe en hul 5 kinders, verder 13 vuurwapens, 1700 skape, 4 perde, 10 varke en 180 beeste. Hy het 8000 wynstokke op sy plaas en het 260 mud graan geoes. Hy was toe die tweede grootste graanboer en een van die welvarendste boere aan die Kaap. Dat daar in sy nageslag ook knap boere was, en nog is, is dus vanselfsprekend. Hy het toe waarskynlik op Paarl Diamant by Paarlberg, wat op 20 Junie 1693 aan hom toegeken is, geboer tot 1706. Twee jaar later was hy nog welvarender met 200 beeste, 2700 skape en 16000 wingerdstokke.
Daar is later nog plase aan hom toegeken; De Drie Fonteinen by Paarlberg (wat nooit aan hom oorgedra ia nie en later in ander plase ingelyf is), Orangen of Oranjerie aan die Paardeberg op 1 Januarie 1707, Alphen by Constantia op 13 Oktober 1714 en Blommesteijn (nou Kenridge, Durbanville) op 17 Oktober 1714. Hy het ook Leeuwenjagt aan die Paarlberg kortstondig besit. Met sy dood het hy die plase Klipheuvel en Doodekraal besit.
Hy was offisier in die Burgermag in 1687, dien in die Burgerraad 1696-7, in die Huwelikshof tussen 1696 en 1705 en Hof vir Klein Sake 1699-1700.
Ná Jacomijntje se dood was Theunis Dirkz nog twee maal getroud: op 25 Januarie 1682 met Geertruy JANSZ van Buiren (weduwee van Cornelis Adriaanz nan der Nes/van den Es van Amsterdam) en op 25 September 1689 met Gysberta Adriana VAN BREUGEL (weduwee van Cornelis Stek van Rhenen).
Hy sterf in 1717 en laat "n seun Dirk en dogter Anna (getroud in 1712 met Jan Brommert) agter.
X (1) 14-06-1669 Kaapstad Jacomyntje HERMANS, * <1650, + <1682.
X (2) 25-01-1682 Kaapstad Geertruy JANSZ [341]. Voorh. getr. Cornelis Adriaansz van der NES. Heese manuskrip.
X (3) 25-09-1689 Kaapstad Gysberta Adriana van BREUGHEL, * 1670, d.v. Adriana KEMP. Voorh. getr. Cornelis STEK. Heese.
Uit die eerste verhouding:
1. Dirk van SCHALKWYK, ~ 15-05-1672 Kaapstad, + jonk.
2. Dirk van SCHALKWYK, ~ 10-10-1677 Kaapstad.
3. Anna van SCHALKWYK, ~ 15-10-1679 Kaapstad.
X.

Dirk van SCHALKWYK, ~ 10-10-1677 Kaapstad, + >1708, s.v. Theunis Dirkse van SCHALKWYK en Jacomyntje HERMANS. Sy doopinskrywing lui:

"Ao 1677 Den 10 octor Naam Dirck
Ouders Teunis Dirkz van Schalckwijck en Jacomijntio Hermans
Getuigen Tobias Marquardt en Catharina van den Bergh".

Hy trou met "Maritie" Olivier.
"n Plaas Waterpoel by Paarlberg is op 19 Augustus 1692 aan Dirk van Schalkwyk toegeken. Was hy dalk al "n paar jaar oud toe hy in 1677 gedoop is? In 1709 verkoop hy die plaas Rhebokskloof, "n deel van Waterpoel aan Jacques Malan en Claas Meijboom koop Slot van Paardeberg ná sy dood. Hy was "n minder welvarende boer as sy pa; by sy dood besit hy 205 beeste, 1617 skape en 5000 wingerdstokke.
Hy is oorlede in 1713, ná sy vrou, en laat vier minderjarige weeskinders agter, Theunis, Ockert (wat heet na sy oupa Olivier) Gerrit en Gysbert.

X Maria OLIVIER [287], d.v. Ockert Corneliszoon OLIVIER en Aletta VERWEY.
Uit hierdie verhouding:
1. Theunis van SCHALKWYK, ~ 04-04-1705 Drakenstein .
2. Ockert van SCHALKWYK, ~ 14-11-1706 Drakenstein, + >1755.
X. Voorh. getr.
3. Gerrit van SCHALKWYK, ~ 02-09-1708 Stellenbosch.
X.
4. Gysbert van SCHALKWYK, ~ 23-11-1710 Kaapstad, + na 1717.
5. Jacomina van SCHALKWYK, ~ 23-04-1713, + voor 1717.

Theunis van SCHALKWYK, ~ 04-04-1705 Drakenstein, s.v. Dirk van SCHALKWYK (kyk 286) en Maria OLIVIER (Maritie). Hy was getroud met Maria Slabbert en het drie seuns met nageslag gehad: Dirk, Gerrit Dirkse en Gysbertus. Ockert (moontlik sy 28-jarige seun) gaan in 1774 met veldkommandant Nicolaas van der Merwe op "n ekspedisie teen die Boesmans. Op 13 September word hy naby Doolhoffs Rivier in sy linkerdy getref deur "n gifpyl, waarvan "n deel afbreek in die diep wond. Op die 21ste sterf hy en word begrawe op Koekemoer se plaas.
Hy besit weiregte op Gansekraal vanaf 1730 tot 1743.
Theunis was volgens die opgaafrolle ook "n redelik suksesvolle boer, soos sy pa.
X 03-12-1730 Maria SLABBERT , d.v. Jasper SLABBERT en Johanna MYBURGH

Saamgestel deur:
Ockert Malan


OPDATERING VAN OUER BYDRAE.

Uit: CAPENSIS 4/2011 pp 32-44

Theunis Dirkz van Schalkwyk en sy Jacomijntje

Op 8 Desember 1663 vertrek die fluitskip Nieuwpoort of Nieupoort van die Amsterdamse Kamer van die VOC vanaf Texel op sy tog na Batavia via Cabo de Goede Hoop. Aan boord is daar 125 persone waarvan 38 soldate is.
In vergelyking met ander soortgelyke vaarte was hierdie een voorspoedig, want dit bereik die Kaap vier maande later, sonder lewensverlies, op 13 April 1664[1].
Ses van die opvarendes, waaronder een soldaat, beëindig hul reis aan die Kaap. Daar kan aangeneem word die een soldaat hý was: die bosschieter Teunis Dircxs van Schalckwijck. Sy naam duik ook op in die notule van die Politieke Raad se vergadering van 10 April 1665 onder leiding van Kommandeur Zacharias Wagenaar[2]:

"Dewijle Teunis Dircxs van Schalckwijck voor bossr. a 11 gl. met 'et fluijtschip Nieupoort ao. 1664, alhier aengelant, ende zedert die tijt aen 't timmeren gestelt is, waer van oock goede preuve doorgaens gegeven heeft, Soo wort denselve op sijn versouck ende bequaemheijt tot timmerman geconfirmeert, ende een beloninge van veerthien guldens ijder maent toegeleijt, heden de gagie aenvanck nemende, en sall daer voor sijn verbonden tijt in dat werck alhier continueren."

Dit laat 'n mens vermoed dat Teunis Dircsz van Schalckwijck, hoewel hy hom as soldaat (bossr. d.i. bosschieter) by die VOC aange-sluit het, eintlik 'n bequame timmerman van beroep was en dat hy in die Kaap agtergebly het omdat die Kommandeur hom nodig gehad het.
Wie was hierdie Teunis Dircxs van Schalckwijck wat later meer algemeen bekend was as Theunis Dirkz van Schalkwijk? Sou 'n mens iets meer van sy voorgeskiedenis kon uitvind?
Amptenare van die VOC is aangeteken in sg. scheepsoldijboeken waarin hul volle besonderhede, soms ook dié van hul naasbestaandes, in Nederland aangeteken is[3]. In hierdie boeke is besonderhede oor amptenare geliasseer onder die naam van die eerste skip waarmee hul uit Nederland vertrek het. Ongelukkig het die scheepsoldij-boek van die Nieuwpoort nie bewaar gebly nie.
Deur vergelyking van amptelike inskrywings van sy naam — Theunis Dirkz van Schalkwijk soos bv. in die huweliksregister en op sy grondbrief – met ander tydgenote se name — soos Willem Schalkz van der Merwe en Cornelis Gerritz van Nieuwkerken — is dit heel waarskynlik dat sy opgeskrewe naam die taamlik algemene destydse patroon volg van: voornaam + patroniem + geboorteplek. Trouens, sy naam verskyn in die Resolusies van die Politieke Raad soms as Theunis Dircksen, Theunis Dirxs en Theunis Dircxz.
Hy was dus Theunis, die seun van Dirk, gebore in Schalkwijk. Die feit dat albei sy seuns Dirck gedoop is, versterk die vermoede dat Dirck ook sy pa se naam was.
Mettertyd het Van Schalkwijk die aard van 'n familienaam verkry. Theunis se enigste oorlewende seun was eers bekend as Dirck Theunissen van Schalkwijk of Dirk van Schalkwijk Theunisz en later net Dirk van Schalkwijk, eerder as Dirk Theunisz van de Caap soos hy volgens die ou patroon sou moes geheet het.
Op dié manier het die familienaam Van Schalkwijk (later verafrikaanse na Van Schalkwyk) in Suid-Afrika gevestig geraak.

Waar het hy vandaan gekom?
Daar is twee klein dorpies in Nederland met die naam Schalkwijk. Geeneen se behoue doopregisters begin egter vroeg genoeg om Theunis se naam te bevat nie. Hy is waarskynlik gebore tussen 1630 en 1650 en selfs al sou daar iewers in die nabyheid van een van die Schalkwijks 'n doop opgeteken wees van 'n kind Theunis met 'n vader Dirck, sou dit haas onmoontlik wees om op grond daarvan 'n verbintenis met die Kaap vas te stel.
Theunis sowel as Dirck was in dié tyd redelik algemene voorname. (Die oudste doopregisters wat van die omgewing gevind kon word, is by Wijk-bij-Duurstede en dié begin in 1635.)
Tensy duideliker leidrade dus opgespoor kan word, lyk 'n verdere soektog na Theunis Dirkz van Schalkwijk se Nederlandse wortels taamlik uitsigloos.
Dit is wel moontlik om 'n beeld te vorm van die samelewing in Nederland wat Theunis Dirkz gevorm het en waarvandaan hy sy tog na die Suide aangepak het.

Schalkwijk by Haarlem[4]
Een van twee plekke met die naam Schalkwijk is vandag grootliks ingeneem deur voorstede van Haarlem-Heemstede, maar die suidelike deel, tussen die Spaarne en die Haarlemmermeer-ringvaart, is hedendaags nog landelik.
Toe Iarlem in 1245 stadsregte gekry het, het Scalc-wijc wat vanaf die elfde eeu bekend was, nie onder Haarlem se bestuur gekom nie, maar wel onder die invloedsfeer van hierdie nuwe stad. Suyt-Scalcwijk het vanaf 1367 saam met omliggende dele aan die Spieringmeer – soos Vijff Huijssen, Nieuwerkerk, Rietwijck en Rietwijckeroord – oor die eeue onder 'n veranderlike en swak gedefineerde administrasie geressorteer[4].
Hierdie Schalkwijk was 'n moerasgebied aan die monding van die Spaarne en onderhewig aan oorstromings en rampe, soos 'n groot oorstroming in 1509.
Teen die 17de eeu is daar reeds sprake van polders in hierdie gebied waar turf uitgehaal is en op beskeie skaal vee aangehou en hooi verbou is.
As Theunis Dirkz 'n boorling uit hierdie armoedige omgewing was, is dit onwaarskynlik dat hy sy geboorteplek as Schalkwijk sou aangee omdat daardie gehuggie, sover bekend, geen bestendige kerklike of burgerlike administratiwe sentrum was nie.

Stichtdorp Schalkwijk[5]
Dit is waarskynliker dat Theunis afkomstig was van die dorp Schalkwijk naby Culemborg, suidoos van die stad Utrecht.
Hierdie gebied is in ongeveer 1120 deur die biskop van Utrecht vir landbou beskikbaar gestel.
Die naam kom waarskynlik van die Saksiese woord scalc wat dienaar beteken. Dus die wijk waar die schalk (van die biskop) woon.

Die adellikes
Reeds in 1128 is daar al melding van Egidius of Gilles van Schalkwijk terwyl Willem van Schalkwijk in 1165 in diens van die biskop was.
In 1236 word Ghiselbertus van Schalkwijk genoem. Hy was waarskynlik die vader van Arnold van Schalkwijk, ridder, maarschalk van het Sticht (Utrecht) en abachtsheer van Schalkwijk, die eerste bekende eienaar van die kasteel Schalkwijk.
Op sy beurt was 'n seun van Arnold, Heer Ghiselbert, in 1287 onder die biskop van Utrecht een van zes van de hoogste importantie.
Twee van Heer Ghiselbert se seuns, Hendrik en Berthold, sneuwel in 1304 in die oorlog teen Vlaandere naby Schalkwijk aan die Vlaamse kant en die kasteel word tot op die grond afgebreek.
Die kasteel is hierna egter weer opgebou en dit was tot 1321 in besit van hierdie familie, o.a. ook van Bernard/Berend van Schalkwijk.
Hierdie adellike familie het waarskynlik kort hierna uitgesterf want die familienaam Van Schalkwijk verdwyn uit rekords. In Nederland is Schalkwijk (sonder die Van) egter nog 'n bekende familienaam.

(Later bygevoeg deur OGM: Dit is eienaardig dat beide in 1850, en in 1962 hierdie familienaam afwesig was onder die inwoners van die dorp Schalkwijk.)

Die boere van Schalkwijck
Die inwoners wat hulle in die twaafde eeu daar gevestig het, was waarskynlik hoofsaaklik van Friese oorsprong. Oor die eeue was Schalkwijk 'n dorp met agrariese karakter, hoofsaaklik veeteelt weens die moerassigheid van die streek; in 1632 was daar 462 inwoners. Aan die begin van die 19de eeu was sowat 60% van die inwoners nog werksaam in die landbou. Hierdie boere het oor die eeue 'n gevestigde gemeenskap gevorm.
Tot in 1960 was tweederdes van die sowat 2 000 inwoners boorlinge van die dorp.
Soos die res van die Ryndelta was Schalkwijk gedurig onderhewig aan oorstromings. Dit is dus heel waarskynlik dat die jong Theunis ook so 'n gebeurtenis beleef het.
Hoe was toestande andersinds in Schalkwijk gedurende Theunis se jeugjare? Wel, skryf Heijmink-Liesert in sy boek Schalkwijk: Over het algemeen stonden de stichtste (Utrechtse) landlieden in die tijd bekend om hun liefhebberij om bij elke gelegenheid het mes te trekken. Het zogenaamde bekkensnijden was populair onder het volk. De vrouwen uit deze stand hadden min of meer een soort van afkeer van een jongeman wiens gelaat niet met schrammen en littekens was doorkerfd. Toch is dit geen karakteristiek, want vrijwel de meeste leidden doorgaans een streng en sober leven, voornamelijk uit zucht tot zuinigheid, zij waren bovendien werkzaam, rond en eerlijk, tenminste zo lang zij ver genoeg van de stad bleven wonen."

Hopelik is slegs hierdie laaste sin ook nog van toepassing op Theunis Dirkz van Schalkwijk se nasate in ons land!
Daar was in Theunis se jeugjare 'n opspraakwekkende gebeurtenis in sy waarskynlike geboortestad.

Aanval op die kasteel
Ná die afwerping van die Spaanse juk, en die stigting van die Republiek der Zeven Verenigde Nederlanden, is daar in 1580 in Utrecht 'n plakkaat uitgevaardig wat die Katolieke kerk verbied. Die gevolg was dat Katolieke ondergronds gegaan het, in privaat huise aanbid het en in die geheim priesters aangestel het, sogenaamd as onderwysers.
So het jonkheer Adriaan Ram in 1634 die kasteel Schalkwijk aangekoop, 'n Katolieke kerk in die toring ingerig en 'n priester, Dirk Jacobsz van der Horst, sogenaamd as huisonderwyser aangestel. Die maarskalk, Johan Strick, het snuf in die neus gekry en op die Sondagoggend, 1 Junie 1651, gedurende 'n mis, op die Katolieke toegeslaan.
Omdat die valbrug van die kasteel opgetrek was, moes Strick en sy manskappe probeer om met lere toegang te verkry. Toe die oorwegend Katolieke inwoners die aanval agterkom, het hulle die invallers met stokke, hooivurke en ander gereedskap verdryf. Strick het nog dieselfde dag met versterkings teruggekeer en die oorhand gekry. Die priester kon ontsnap, maar jonkheer Ram en sy geloofsgenote is gevange geneem en moes boet: jonkheer Ram se kasteeltoring is afgebreek, hy is sy status ontneem, hy moes 'n boete betaal en is saam met sy gesin vir tien jaar verban. Sy medepligtiges is ook verban, maar vir korter tydperke.
Die vervolging van die Katolieke was egter blykbaar futiel, want in 1840 het meer as 80% van die inwoners van Schalkwijk nog hierdie geloof aangehang.
Dit is dus heel moontlik dat Theunis Dirkz Katoliek opgegroei het en noodgedwonge weens die verbod op die Katolieke Kerk, ook aan die Kaap, in die amptelike Gereformeerde Kerk getroud is en sy kinders laat doop het. Dit val ook op dat, hoewel hy in verskillende burgerlike rade gedien het, hy later nie 'n kerkraadslid was nie.
Die kasteel Schalkwijk het later geleidelik verval todat dit in die tweede helfte van die 18de eeu totaal gesloop is. Selfs die grag rondom het mettertyd verdwyn totdat dit in 1988 weer oopgegrawe is[6].

Verdere Loopbaan aan die Kaap
Theunis Dirkz van Schalkwijk het nie lank 'n amptenaar van die VOC gebly nie want op 16 Julie 1668 kry hy van die Politieke Raad verlof om 'n vrye houtkapper te word. Ons lees: met sijn volck in de verlaten hackerijen, d' hel en leen en bosch, (in Leendertsbos) voor den tijt van drie jaren, alleenigh sal mogen cappen, sodanigh timmer-hout als tot gerijff der vrijluijden, ofte andere . . . [7]

Jacomijntje verskyn op die toneel
Die skip Alphen het op 14 Desember 1668 uit Nederland vertrek en op 18 Mei 1669 in die Kaap aangekom[1]. Een van die twee opvarendes wat in die Kaap agtergebly het was Jacomijntje Harmens.
Die rede waarom sy haar reis hier beëindig het is heel interessant! Ons lees in die Dagregister gehou in die fort die Goede Hoop in die jaar 1669, op 5 Junie, onder aantekening van daaglikse voorvalle: Wij hebben oock den vrije houtkapper Theunis Dirckx van Schalckwijk en Jacomijntie Harmens, gewese dienstmeijd van den onderkoopman Cauwenberg met het schip Alphen hier aangekomen om sekere redenen hun toegestaan, in den echtenstaat te begeven, ten aansien al een dach á twee, na vryagie van een halff uur off weijnich meer, met den anderen soeck waren geweest, dienvolgende 't selve qualijk kunde tegengaan of verhinderen[8].
(Overgeset synde: "Ons het ook aan die vry houtkapper Theunis Dirckx van Schalckwijk en Jacomijntie Harmens, gewese diensmeisie van die onderkoopman Cauwenberg wat met die skip Alphen hier aangekom het, om sekere redes verlof toegestaan om hul in die egtelike staat te begewe, in ag genome dat hulle al 'n dag of twee, ná 'n vryagie van 'n halfuur of weinig meer, saam soek geraak het; gevolglik kon die verlof qualijk teengegaan of verhinder word.")

Hulle is toe op 14 Junie 1669 getroud.

Den 14 Juni An. 1669 Theunis Dirckz van Schalkwijk jongm. met Jacomyntje Harmensz van Philippine jonge docht.[9]

Jacomijntje se plek van herkoms
Philippine[10] is 'n klein stadjie in Zeeuws-Vlaandere, teen die grens met België, ongeveer 25 km noord van Gent.
In 1505 kry Jeronimus Laurijn 'n oktrooi van Philip de Schone (dikwels verwar met Philips II van Spanje) om 'n polder in te dyk wat hy Sainct Philippine noem ter ere van sy weldoener. Jeronimus kon ook 'n stad met die naam Philippine daarop stig.
Gedurende die res van die 16de eeu het daar blykbaar nie veel merkwaardigs gebeur nie, met uitsondering van verwoestende vloede wat hierdie dele, soos die res van Nederland, gereeld geteister het.
In 1583 laat die Spaanse veldheer op die polder 'n skans, St. Philipe oprig, een van 'n reeks om Vlaandere teen die Geuse te beskerm.
In 1600 ruk Prins Maurits van Nederland met 'n leër van 13 000 man en 2 600 skepe teen Vlaandere op en verower o.a. die gebied by Philippine van Philips II van Spanje. Vanaf 1633 word Philippine herhaaldelik deur Nederland as basis gebruik in veldtogte. In 1635, terwyl die fort Hoog-Philippine nog in aanbou was, het die Spanjaarde 'n laaste poging aangewend om die vesting te verower. In 1643 is die ommuurde stadjie Laag-Philippine teen die fort gebou en het burgers hulle daar begin vestig.
Tot 1648 met die vrede van Munster, was Philippine dus hoofsaaklik 'n militêre vesting wat waarskynlik gedeeltelik uit die omgewing van lewensmiddele voorsien is. In die daaropvolgende vredestyd het die burgerlike bevolking geleidelik begin uitbrei.
Weens die amptelike verbod op Katolisisme in Nederland en die vesting se strategiese ligging op die grens, was die soldate en gesinne sowel as burgerlikes in Philippine uitsluitlik Protestants en die eerste Gereformeerde predikant het reeds in 1634 daar diens gedoen.
Gedurende hierdie omskakeling van oorlogstoestande na vreedsame bestaan in Philippine het Jacomijntje waarskynlik opgegroei in 'n Gereformeerde tradisie, as kind van óf 'n soldaat óf een van die pas gevestigde burgers.
Pogings om Jacomijntje Harmens se voorgeslag daar op te spoor was vrugteloos. Die beskikbare rekords gaan blykbaar nie verder terug as 1796 nie. Van die eertydse vesting het ook geen spoor oorgebly nie.
Aan die Kaap word sy dus aanvanklik die vrou van 'n vrye houtkapper.

Uit hul huwelik is gebore:

b1 Dirck 15 Mei 1672, heel waarskynlik jonk oorlede
b2 Dirck 10 Oktober 1677
b3 Anna 15 Oktober 1679

Maar Jacomijntje het blykbaar nie baie oud geword nie. In 1682 is Theunis reeds vir 'n tweede keer getroud.

Theunis se loopbaan
Vanaf 1668 tot 1707 tree Theunis Dirkz op as privaat houtkapper[11]. Intussen het hy baie ander ondernemings: hy vang vis, o.a. naby die teenswoordige Gordonsbaai, en kry in 1675 die alleenreg om dit in die Kaap te lewer[12].
Hy kry ook in 1695 en weer in 1706 'n vergunning om bier te brou[13] en tussen 1679 en 1697 om dit, sowel as sterk drank, te verkoop[14].
Soos die meeste van sy tydgenote, bots hy ook met die gereg oor sluikhandel en wel in 1685[15].
Sy naam verskyn in die opgaafrol van Stellenbosch vir 1692, sonder vrou maar met een seun en een dogter.
Hy woon toe reeds sewe jaar op sy plaas (waarskynlik Paarl Diamant by Paarlberg, wat op 20 Junie 1693 aan hom toegeken is) en besit 16 volwasse slawe en hul 5 kinders, verder 13 vuurwapens, 1 000 skape, 4 perde, 10 varke en 180 beeste. Hy het 8 000 wynstokke op sy plaas en het 260 mud graan geoes[16].
Theunis was toe die tweede grootste graanboer en een van die welvarendste boere aan die Kaap. Dat daar in sy nageslag ook knap boere was, en nog is, is dus vanselfsprekend. Twee jaar later was hy nog welvarender, met 200 beeste, 2 700 skape en 16 000 wingerdstokke[17].
Daar is later nóg plase aan Theunis Dirkz toegeken; De Drie Fonteinen by Paarlberg op 28 Februarie 1699, Orangen of Orangerie aan die Paardeberg op 1 Januarie 1707, Alphen by Constantia op 13 Oktober 1714 en Blommesteijn (nou Kenridge, Durbanville) op 17 Oktober 1714[18]. Hy het ook Leeuwenjagt en Rheebokskloof aan die Paarlberg kortstondig besit. Met sy dood het hy die plase Klipheuvel en Doodekraal besit[19].
Hy was 'n offisier in die Burgermag in 1687, dien in die Burgerraad 1689 – 1691, 1696 – 1697, in die Huwelikshof tussen 1696 en 1705 en Hof vir Klein Sake 1699 –1700[20].
Ná Jacomijntje se dood was Theunis Dirkz nog twee maal getroud: op 25 Januarie 1682 met Geertruy Jansz (wed. Cornelis Adriaansz van der Nes) en op 25 September 1689 met Gysberta Adriana van Breugel (weduwee Cornelis Stek).
Hy sterf in 1717 as 'n welvarende man met 'n boedel van byna f46 000 en laat 'n dogter, Anna (getroud in 1712 met Jan Brommert, ekwipasiemeester van die VOC), en die vier jong weeskinders van sy seun Dirk agter[19].

b2 Dirk van Schalkwyk

Alle Suid-Afrikaanse Van Schalkwijks stam van hom af.

Sy doopinskrywing lui[21]:
10 Okt 1677. Dirck. Teunis Dirckse van Schalckwijck en Jacomijntje Hermans Getuies: Tobias Marquardt en Catharina van den Bergh

Dirk trou met Maritie Olivier. 'n Plaas Waterpoel by Paarlberg is op 19 Augustus 1692 aan Dirk van Schalkwyk toegeken. Was hy toe 15 jaar oud of dalk al 'n paar jaar oud toe hy in 1677 gedoop is?
Sy handtekening verskyn in 1707 op die petisie ten gunste van W A van der Stel teen Adam Tas. Hy is oorlede in 1713, ná sy vrou, en laat vier minderjarige weeskinders in die sorg van hul oupa Theunis Dirkx, agter:

            c1 Theunis *1705,
            c2 Ockert *1706,
            c3 Gerrit *1708
            c4 Gysbert *1710 (waarskynlik jonk oorlede)

Volgens Dirk se boedelinventaris het hy toe benewens sy plaas, Slot van Paardeberg, met 5 000 wingerdstokke, o.a. ook die volgende besit: 8 slawe, 893 beeste, 6 perde, 1 208 skape en 89 varke[22].

Verwysings

[1] Bruijn et al, Dutch Asiatic Shipping in the 17th and 18th Centuries, Martinus Nij- hof, Den Haag (1979).
[2] TANAP "Resolutions of the Council of Policy of Cape of Good Hope" Cape Town Archives Repository, S A, Reference code: C. 3.
[3] Algemeen Rijksargief, Ondersoek naar een dienaar van de Verenigde Oostindiese Compagnie, Inligtingspamflet, S'Gravenhage, Nov 1990.
4] Marcel Bulte, Het Schalkwijk van Weleer (Haarlemse iniaturen Deel 6) De Vriesenbosch, Haarlem, (1985).
[5] P M Heijmink Liesert, Schalkwijk de geschiedenis van een stichtdorp Rabobank, Schalkwijk, (1979).
[6] www.kasteleninutrecht.eu/Schalkwijk.htm
[7] TANAP "Resolutions of the Council of Policy of Cape of Good Hope" Cape Town Archives Repository, South Africa, Reference code:C.5
[8] KAB VC 5 Day Book 5/6/1669 pp. 522-523 (voorh. 528-529)
[9] Huweliksregister Kaapstad
[10] J. Ch. Cornelis, Stad en Land van Philippine 1505-2005, Vereniging tot Behoud van de Historie van Philippine, 3e herziene druk, Philippine 2005
[11] G C de Wet, Die Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting 1657-1707, Historiese Publikasie-Vereniging, Kaapstad (1981). p.81.
[12] ibid p. 59.
[13] ibid p. 93.
[14] ibid p. 50.
[15] ibid p 222.
[16] KAB J 183.
[17] KAB J 185.
[18] Leonard Guelke, Map: Freehold land Grants The South Western Cape Colony 1657-1750. Dept of Geography, Univ. of Waterloo, Canada, (1967).
[19] KAB MOOC 13/1/1 117.
[20] De Wet p. 189.
[21] Doopregister Kaapstad.
[22] KAB MOOC 8/2 75.

Saamgestel deur:
Ockert Malan.

Korrespondensie:
Ockert Malan, ogmalan@gmail.com

 

  • Hits: 18380

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy