Surnames V to Z

VAN JAARSVELD Adriaan

Adriaan VAN JAARSVELD het in 1702 by die Kaap aangekom. Hy trou op 22 November 1711 met Cornelia NEL, dogter van Guillaume Nel en Jean de la Batte.

Hulle het die volgende KINDERS: 
b1 Adriaan gedoop Stellenbosch 2 Oktober 1712
b2 Albertus gedoop Stellenbosch 30 Sep 1714, X 19 Mei 1743 Maria Jordaan
b3 Johanna Catharina gedoop 12 Jun 1716, X Paarl 2 Mei 1734 Jan Basson
b4 Susanna gedoop 24 Nov 1719, X Willem Adriaan Nel
b5 Hester gedoop 24 Aug 1721, X 13 Maart 1748 Jacob Gerrit van Deventer
b6 Catharina gedoop 11 Apr 1723, X Joseph de Klerk
b7 Willem Adriaan gedoop 15 Sep 1726, X Elizabeth Jordaan
b8 Cornelia gedoop 14 Nov 1728, X Ferdinandus Nel
b9 Rijnier gedoop 8 Okt 1730, X 21 Okt 1758 Anna Hendrina Olivier
b10 Anna Margaretha gedoop 18 Jan 1733, X Gerrit Nel
b11 Engela gedoop 6 Maart 1735, X Stephanus Jordaan

 

Hy sterwe teen die einde van 1750. In sy boedel het hy twee plase gehad: die eindomsplaas Bootmansdrift, Onder-Riebeekkasteel aan die Bergrivier, en die leningplaas De Platten Heuvel, geleë by Jonkershoek.

Bronne:
Heese en Lombard

Saamgestel deur:
AM van Rensburg


Wie was stamvader Adriaan (Arie) van Jaarsveld?

Op grond daarvan dat beide my vader en moeder direkte afstammeling van stamvader Adriaan van Jaarsveld was, beide deur die nageslag van sy tweede oudste seun Albertus1, spreek dit vanself dat ek geinteresseerd sou wees in Adriaan (Arie) se wel en wee voordat hy hom aan die Kaap de Goede Hoop kom vestig het.

Soos in die geval van vele ander Suid-Afrikaanse stamvaders kon die herkoms en oorsprong van Adriaan van Jaarsveld, ondanks intensiewe navorsing deur genealogiese vakkundiges, egter nog nie met enige maat van sekerheid bepaal word nie.

Die bedoeling van hierdie dokument is dan ook nie om te probeer voorgee dat my soektog op ‘n einde is nie maar bloot om die resultate van my eie navorsing en teoriee tot op hede te boekstaaf in die hoop dat dit mede navorsers tot ‘n debat sal aanspoor in ‘n poging om die steeds ontbrekende brokkies van die legkaart omtrent Adriaan van Jaarsveld se herkoms te probeer voltooi.

Adriaan van Jaarsveld

• Des ondanks die feit dat, sover bekend, die naam van stamvader Adriaan (Arie) van Jaarsveld vir die eerste maal in 1702 in amptelike dokumentasie2 in die Kaap de Goede Hoop verskyn kon daar tot op hede nog geen verwysing na hom, of selfs moontlike familie van hom, in die Hollands Oos Indiese Kompanjie (HOIK) se datatabasis vir “opvarendes”, of in die rekords vir werknemers in Batavia en die Kaap gevind word nie.

• Daar word nogtans vry algemeen aanvaar dat die familienaam “Van Jaarsveld” in Suid Afrika sy oorsprong ontleen aan die dorpie “Jaarsveld” wat reeds sedert die middel-eeue in die suide van Nederland (ongeveer 23 km. suid van die stad Utrecht) bestaan.3 In ‘n gesaghebbende werk omtrent sy been van die van familie in Suid Afrika het Professor F.A. van Jaarsveld hierdie moontlikheid tydens ‘n persoonlike besoek aan die dorpie ondersoek. Hy kom egter uiteindelik tot die gevolgtrekking dat alhoewel Jaarsveld nie as die geboorteplaas van Adriaan van Jaarsveld uitgesluit kan word nie, die dorpie se veelbewoe geskiedenis en die vernietiging van stadsrekords tydens burgeroorloee, asook Holland se jare lange skermutselings met Frankryk en Duitsland, die moontlikheid om dit dokumentere te bewys ‘n haas onbegonne taak maak.

• Heese en Lombard bereken Adriaan van Jaarsveld se geboortedatum as 1682.4 Teen die tyd dat sy naam in 1702 in die Opgaafrol aan die Kaap verskyn sou Adriaan van Jaarsveld dus ongeveer 20 jaar oud wees. Wat opval is dat hy reeds op daardie stadium op ‘n betreklikke jeugdige ouderdom’n “Vryburger” en onafhanklike boer is, sonder enige aanduiding dat hy ooit ‘n werknemer van die Kompanjie was.

• Vrae wat ontstaan is dus die volgende :

a) Het Adriaan wel so lank voor 1702 aan die Kaap aangekom dat hy reeds op daardie stadium sy kontraktuele verpligting teenoor die Kompanjie sou nagekom het of geregtig sou wees op sy “ontslag”? (Indien wel kon daar nog geen dokumentasie opgespoor word wat die omstandighede rondom sy in-, of uitdienstreding toelig nie)

b) Sou dit moontlik wees dat Adriaan as ‘n “Vry” persoon aan die Kaap aangekom het of daar gebore is?

• Met hierdie vrae in gedagte het ek begin soek na enige verwysing na die naam “Van Jaarsveld” aan die Kaap voor 1702 en afgekom op die volgende tergende verwysing deur George McCall Theal5:
"The colonial population had added to it during the next twenty years (since 1690) the names in following list, which, however, cannot be given as absolutely accurate, but only as being as complete as it is now possible to make it. The burgher rolls are not only very defective, but the custom of omitting surnames, which at this period was prevalent in the colony, adds to the difficulty of obtaining information from them. It is thus quite possible that some of the individuals below were here even before the dates assigned:
Between 1691 and 1700
van Jaarsveld, Adriaan
van Rensburg, Nicholas with wife”

• Net die name van Adriaan van Jaarsveld en spesifiek "Nicholas" van Rensburg (Claes Janz van Rensburg?) word hier spesifiek aangehaal aangesien daar skynbaar ook nog geen afdoende bewyse vir die spesifieke datum van die laasgenoemde se aankoms aan die Kaap bestaan nie. Interessant genoeg verskyn die name van Adriaan van Jaarsveld en Claes Janz van Rensburg weer in die selfde asem wanneer “Claas Janse van Rijnsburgh” en sy eggenote, “Aaltje Van Der Merven” op 4 April 1723 as getuies optree by die doop van Adriaan van Jaarsveld se dogter, Cornelia6. Sou dit blote toeval wees of moontlik dui op enige meer spesifieke skakels wat tussen hierdie twee families bestaan het? Meer waarskynlik egter is die moontlikheid dat hierdie twee families later jare in dieselfde distrik in die omgewing van die “Groote Bergrivier” gebly het – Adriaan woon op 16 November 1729 die boedelverkoping by van Alletta van der Merwe wie se eggenoot haar reeds die vorige jaar ontval het.7

• Die Opgaafrol vir 1692 is ook ‘n moontlike leidraad wat verdere navorsing verg aangesien alle pogings om ‘n kopie daarvan te bekom tot op hede vrugteloos was. Theal maak onder andere die stelling dat die opgaafrol vir 1692 een van die mees “akkurate” is wat hy onder oe gehad het. Hy meld onder andere dat hy self 'n afskrif daarvan in die Nederlandse argief vir die Kaapse regering gaan maak het.

• Wat die datum van Adriaan van Jaarsveld se aankoms in die Kaap aanbetref is dit voorts opvallend dat ook Dr. Cor Pama die mening uitspeek dat hy “voor” 1694 aan die Kaap geland het.8 Frustrerend genoeg verskaf Dr. Pama egter geen verwysing na sy bron vir hierdie stelling nie.

• Indien Dr. Pama wel korrek is dat daar dokumentasie in die Kaapse Argief bestaan wat daarop dui dat Adriaan van Jaarsveld reeds voor 1694 in Suid Afrika aangeland het sou hy op daardie stadium, gegewe sy berekende geboortejaar, jonger as 12 jaar oud moes wees. Dit sou dit dus meer waarskynlik maak dat hy moontlik as ‘n lid van ‘n gesin of huishouding in ‘n Opgaafrol voor 1702 vermeld sou word, eerder as ‘n individu.

• Adriaan van Jaarsveld is op 22 November 1711 in Kaapstad met Cornelia Nel, dogter van stamvader, Guillaume Néel (Nel), en Jeanne de la Batte, getroud9 en uit hulle huwelik van bykans 39 jaar is 11 kinders gebore.

• Lammershoek:- Die Raad van beleid het op 31 Julie 1714 die leningsplaas “Lammershoek” (60.2 morg) in die distrik Drakenstein aan Adriaan van Jaarsveld toegestaan.10

• Die feit dat hy aanvanklik gesukkel het om finansieel die mas op te kom word onderstreep deur ‘n verdere Raadsbesluit op 12 Julie 1718 om “eiendomsreg” van die plaas aan hom toe te staan des ondanks die feit dat “…wijl 't selve land op den 9e October 1714 door den landmeeter behoorlijk gemeeten en de caart daar van opgemaakt is geweest, dogh ter consideratie nu weijnigh tijds verleeden hadde ondervonden dat den voorne. Van Jaarsvelt bij gebrek van penningen niet magtigh geweest zijnde te voldoen de zeegels en andere meetloonen aan den landmeeter deeser plaatse, dierhalven den opgemaakte caart onder denselven was blijven berusten en dus verhindert geworden dat den grondbrief ter secretarije niet had konnen worden naer vereijs opgemaakt en geexpedieert;”

• Op soek na “groener weivelde” het Adriaan van Jaarsveld hom 7 jaar later by die groep van “trekboere” aangesluit wat met hulle vee dieper die binneland in, in die rigting van die Koue Bokkeveld, weg getrek het.

• Hy verkoop daarom die plaas Lammershoek drie jaar nadat hy eiendomreg daarvan verkry het, op 27 Junie 1721 vir die som van 2,300.00 gulden aan Gerrit van Aardt.11

• Ten tyde van sy dood in 1750 het Adriaan van Jaarsveld die plase "Bootsmansdrift" by Riebeeck Kasteel (oorspronklik in die besit van sy skoonpa Guillaume Néel) en "Platte Rug" in die Jonkershoek omgewing besit.12

• Opvallend onder die “laste” wat by sy afsterwe in sy boedelrekening gelys word is die volgende inskrywing: “aan d wed:w La Febre over een capitaal ter groote van 2000 (gulden) met een jaar verscheene intrest”.13

• Van belang hier is dat hierdie “weduwee Le Febre” inderwaarheid Catharina van der Sande was wat in 1712 met “Gijsbrecht LaFebre” getroud is.

• Catharina LaFebre (nee Van der Sande) was aan moederskant die kleindogter van Ansela van Bengale en aan vaderskant van Catharina Hoffer. Soos later in hierdie document bespreek word versterk die feit dat sy bereid was om so ‘n aansienlike bedrag aan Adriaan van Jaarsveld voor te skiet die vermoede dat haar vader, Rijnier van der Sande, moontlik ‘n halfbroer van Adriaan van Jaarsveld was.

Adriana van Jaarsveld / Hoffer

Soeke na verwysings vir moontlike familielede en tydgenote van Adriaan van Jaarsveld het my vervolgens onvermydelik gelei na die aangrypende verhaal van Adriana van Jaarsveld wat in 1694 op die jeugdige ouderdom van 13 van ontug oor die kleur/godsdiens skeidslyn met die vrygemaakte slaaf, Jantje van Batavia, aangkla is. ‘n Meer volledige bespreking van die vele weergawes (en verpolitisering) van die omstandighede omringend aan hierdie insident val buite die bestek van hierdie dokument.

Die volgende aantekeninge deur Professor Leon Hattingh plaas egter die gebeure in perspektief:14

"
• Adriana van Jaarsveld is aanvanklik as ’n weeskind deur die Kaapse Weeskamer op ’n tweejaar proefbasis in die pleegsorg van die landros van Stellenbosch, Johannes Mulder, en sy vrou Jacoba Kichelaar, geplaas. Na die verstryking van hierdie proeftdperk het sy egter by hulle aangebly.

• Met inagneming van die vehoordatum in 1694 kan daar dus hieruit afgelei word dat Adriana teen ongeveer 1691 in die pleegsorg van die Mulder familie geplaas is. Hierdie aanname word ondersteun deur die feit dat die kinderlose Mulder egpaar in die 1691 rol vir vryburgers in Stellenbosch geregistreer is as synde “met 1 kind”.

• Die Raad van Justisie het twee weke na die hofsaak vir oud-landdros Mulder onderhande geneem. Hy is na die Kaap ontbied en uit die strekking van die stuk wat tot stand gekom het, is dit duidelik dat die owerheid oor die hele aangeleentheid nie baie gelukkig gevoel het nie.

• ’n Mens lei verder van die ondersoek af dat die Raad van Justisie klaarblyklik vir Mulder en sy vrou daarvan verdink het dat hulle die dogter grootliks verwaarloos het deur nie genoegsame aandag aan haar te skenk en belangstelling in haar te toon nie.

• Adriana moes vir hulle in die huis werk al het Mulder by herhaling probeer te kenne gee dat hulle teenoor haar soos eie ouers opgetree het en as sodanig opgevoed het. Hy het verskonend aangevoer dat selfs egte ouers “over het begane quaad van vuijl aardige kinderen” nie altyd toesig kan hou nie.

• Hy het voorts ontken dat sy die voetbank van sy vrou was, maar dat sy soos enige kind in die huis sekere opsig oor slawe gehad het.

• Dat sy egter ’n slaapkamer met van sy slawe moes deel, wil daarop dui dat sy in elk geval as ’n bediende gereken is en nie soseer as ’n pleegkind nie.

• Die Mulders se toesig was dus inderdaad by die Raad van Justisie onder verdenking.

• Die tragiek van die hele gebeure is: net soos in die geval van Jan, wat nie kon verhelp het dat hy vroeër ’n slaaf was nie, kon Adriana nie verhelp dat sy op ’n vroeë ouderdom ’n weeskind geword het nie. Albei was dus ontwrigte wesens.

• In die huis van Mulder moes sy die regte opvoeding, liefde en versorging ontvang het wat ’n kind op die jong ouderdom behoort te geniet. Jan se potensiaal as ’n persoon wat sy vryheid verdien het ten einde ’n selfstandige volwasse lewe te kon geniet sonder die bande van slaafse onderhorigheid, het in die slag gebly waarskynlik omdat hy as volwassene die behoefte aan ’n lewensmaat ervaar het, wat in hierdie afgeleë streek bykans nie vir hom bestaan het nie, en hom dus in die versoeking gelei het. Hulle was dus die slagoffers van die omstandighede.”

• Mansell Upham bespreek dieselfde gebeure in “Keeping the Gate of Hell....” . Hy vermeld op bladsy 28 van hierdie manuskrip dat Adriana van Jaarsveld ook bekend gestaan het as “Adriana Hoffers”16.

• In samehang hiermee verwys die Raad van Justisie in 1694 na Adriana as ‘n “Duytsche vrou of jongedochter”17.

• Alhoewel Adriana se herkoms ten tyde van haar troue in Stellenbosch in 1695 as “Rotterdam” aangetoon word dui die bogenoemde verwysing daarop dat minstens een van haar ouers waarskynlik van Duitse oorsprong was.

• Adriana van Jaarsveld se buite-egtlike kindjie word op 20 November 1694 gebore18 en sy trou net meer as 6 weke later op 9 Januarie 1695, op die ouderdom van ongeveer 14, met Mahiu de Rijke.19

• Sy doop haar dogtertjie ‘n week na haar troue op 16 Januarie 1695 as “Johanna”20 en haar eggenoot, Mahiu de Rijke, asook “Aeltje Claesje van Amoijde”21 tree op as getuies by die doop.

• Sover bekend verskyn Adriana en haar dogter se name vir die laaste maal in amptelike dokumentasie aan die Kaap wanneer hulle in die 1695 opgaafrolle vir vryburgers as afhanklikes van Mahiu de Rijke aangetoon word.

• Professor F.A. van Jaarsveld verwys na die moontlikheid dat Adriana en haar familie waarskynlik teen 1700 na Nederland terug gekeer het maar geen dokumentere bewys kon nog hiervoor gevind word nie. Hierdie vermoede word egter versterk deur ‘n verwysing op 2 September 1699 in die gesamentlike testament van Anna Louw en Johannes Pithius waarin hulle meld dat hulle ‘n woonhuis en eindom van Mahu de Rijke gekoop het.22

• Mahiu de Rijke koop wel nog ‘n maand later op 17 Oktober 1799 ‘n perd uit die boedel van Jacob de Wilt.23 Sy naam kon egter na hierdie datum nog nie weer in die dolumentasie van die Kaapse Argief opgespoor word nie.

Catharina Hoffer

Na aanleiding van Mansell Upham se opmerking dat Adriana van Jaarsveld ook onder die familienaam “Hoffer” bekend was het ek vervolgens begin soek na die verskyning van hierdie familienaam aan die Kaap. Hierdie soektog het my voorts gelei na die enigmatiese verhaal van Catharina Hoffer wat in 1689 as ‘n weduwee met “hare kinderen” en 3 slawe in die Kaap gearriveer het.

Die volgende brokkies inligting wat omtrent Catharina Hoffer bekend is, word hoofsaaklik uit aantekeninge in die Kaapse Argiefbewaarplek omtrent latere gebeure in haar lewe afgelei:

• Catharina Hoffer se herkoms word in die Kaapse kerkrekords24 as “Dort” (Dordrecht) in Nederland aangetoon.

• Haar geboorte datum word as circa 1660 geskat.25

• Soos reeds gemeld is hierdie familienaam egter meer waarskynlik van Duitse as Nederlandse oorsprong. (Catharina trou dan ook by haar aankoms in die Kaap in 1689 met die Duitssprekende silwersmid, Bernhard / Christiaan Mentsingh.)

• Volgens die "Uitgaande Stukke" vir 1679 van die Kasteel Batavia verlaat Catharina “Hoeffers” Batavia in daardie jaar, na die afsterwe van haar eggenoot, Nicolaes Reijnierse (van Der Sande)26 vergesel van “een dogter” op reis na Cijlon. Gegewe haar geskatte geboortejaar sou sy op daardie stadium maar pas 19 jaar oud wees.

• Catharina se naam verskyn hierna weer in die VOC se amptelike dokumentasie in 1689 wanneer die owerhede in “Gale” (Cijlon) hulle ewekniee aan die Kaap inlig dat daar toestemming aan haar verleen is om na Kaapstad te reis met die skip “Waterland”27 - hierdie keer vergesel van haar “kinders” en drie slawe. Hierdie toestemming was onderworpe aan haar onderneming om die koste van 100 gulden verbonde aan die reis vir haar en haar geselskap by haar aankoms in die Kaap te betaal .

• Die skip Waterland het Cijlon op 25 Januarie 1689 verlaat en omtrent twee en ‘n half maande later op 7 April 1689 in die Kaap anker gegooi.29

• Uit die verwysing na “haere kinderen” wat haar van Cijlon na Kaapstad vergesel het is dit duidelik dat Catharina haar, tydens die 10 jaar van haar verblyf op Cijlon, in ‘n verdere huwelik /huwelikke of minstens in ‘n verhouding met ‘n onbekende man(s) begeef het. Die naam van die vader(s) van haar verdere 5 kinders wat skynbaar op “Cijlon” gebore is, kon tot op hede nog nie met sekerheid vasgestel word nie.30

• Soos reeds aangetoon was Renier van der Sande die enigste (oorblywende) kind uit Catharina Hoeffers se eerste huwelik met Nicholaes “Rijnierse” van de Sande.31 Dit wil daarom dus lyk asof a) die Kaapse Weeskamer fouteer, of b) Hoge ‘n fout begaan om die Kaapse Weeskamer se skrywe aan hulle ewekniee in Middelburg tot dien effek te interpreteer dat daar ses kinders uit Catharina Hoeffers se eerste huwelik in Batavia gebore is.

• Catharina trou enkele maande na haar aankoms in die Kaap op 11 November 1689 met die Duitse silwersmid "Bernardus / Christiaan Mentsingh".32,33

• Volgens die inventaris van haar beskeie boedel sterf sy egter minder as 16 maande later teen die einde van Maart of vroeg in April 1691 aan die Kaap34.

• Die geldigheid van haar testament word op 3 April 1691 deur die Raad van Beleid in Kaapstad verwerp op grond daarvan dat die dit nie deur 'n gemagtigde persoon verlei is nie:

“Dingsdag 3 April 1691, voormiddags.

In tegenwoordigheid van alle de leden.

De capn. deser besetting Willem Padt, als praesident van weesmeesteren ter vergadering overgeleverd hebbende het testament of uijterste wille van wijlen Catharina hoffers, huijsvrouw van Christian Mentzing vrijborger te deser plaatse, gepasseerd voor Melchior Kemels, Secretaris van Raaden van Justitie alhier, en getuijgen: So is 't selve na genomene lecture en rijpe raadspleging eenpariger stemme invalide, nul en van geener waarde verklaard, als gepasseerd zijnde voor een persôn tot 't maken van testamenten niet gequalificeerd.”35

• Christian Mentzing se versoek aan die Raad van Beleid in Kaapstad om vrystelling van die verpligting om sy oorlede eggenote se “passaat” van Cijlon na die Kaap te betaal word ‘n week later op 11 April 1691 van die hand gewys. Hy word versoek om eers die verskuldigde 100 gulden te betaal en dan sy aansoek om kwytskelding aan die Raad van Beleid in Batvia te herhaal.

• Dieselfde weesheer, Kaptein Willem Padt, wat instrumenteel was in die nietig verklaring van haar testament, koop twee maande later op 16 Junie 1691 meer as die helfte van die items uit Christina Hoeffer se boedel.36

• Die formele lys van haar boedelverkoping laat dit blyk dat sy oenskynlik oor bitter min bates beskik het - hier van belang is die feit dat die lysie van haar "bates" wat verkoop is geen melding maak van die drie slawe wat haar na die Kaap vergesel het nie. Daar is insgelyks ook geen verwysing na enige begunstigdes of erfgename wat ‘n belang sou he by die opbrengs van haar boedel nie.37

• Die feit dat Catharina se kinders ten tye van haar afsterwe minderjarig was, dat haar testament “ongeldig” verklaar word, asook die betrokkenheid van die “weesheer”, Willem Padt, by haar boedelverkoping wat skaars 148 gulden opgelewer het, skep egter die vermoede dat die afhandeling van haar boedel waarskynlik nie absoluut volgens die “letter van die wet” geskied het nie. Sou dit blote toeval wees dat die opbrengs van haar boedel skaars genoeg was om die uitstaande skuld vir haar reis van Cijlon na die Kaap te dek?

• Hierna kon daar tot dusver nog geen verwysing vir enige van Catharina Hoffer se nakomelinge opspoor word nie todat die Kaapse Weeskamer hulle ewekniee in Middelburg (Nederland) op 30 Maart 171238 in kennis stel dat Rijnier van der Sande die enigste oorlewende kind uit haar huwelik in Batavia met Nicholaas van der Sande was.

• Dit is egter seker nie vergesog om te aanvaar dat minstens al / enkele van haar ander minderjarige kinders wat op Cijlon gebore is en haar na Kaapstad vergesel het, ook nog op hierdie stadium geleef het nie en die vraag is dus watter lotgevalle hulle getref het na hulle moeder se afsterwe in 1691.

• Met hierdie vraag in gedagte is dit dan weereens opvallend dat die datum van Catharina Hoffer se afsterwe baie nou ooreenstem met die datum waarop Adriana van Jaarsveld (Hoffer ?) as ‘n “weeskind” aan Johannes Mulder en Jacoba Kichelaar toegeken is.

• Die hipotese dat Adriana van Jaarsveld (Hoffer?) een van Catharina Hoffer se kinder was wat op Cijlon gebore is skep die moontlikheid dat haar ander kinders waarskynlik op dieselfde wyse deur die Kaapse Weeskamer in pleegsorg geplaas, en deur pleeg-families geassimileer sou wees. Dit sou dan ook verklaar waarom daar geen verwysing na hulle opgespoor kan word nie.

Rijnier van de Sande /van de Zande

• Rijnier van de Sande was die seun van Catharina Hoffer en Nicolaes Rijnierse van de Sande en is in circa 1678 in «Batavia » gebore.39

• Dit is weereens opmerklik dat Rijnier van der Sande se geboorte datum, asook sy verskyning aan die Kaap, baie nou ooreenkom met die van Adriaan en Adriana van Jaarsveld.

• Sy naam verskyn sover bekend vir die eerste maal in 1697 in die lys van “offisiere” aan die Kaap.40 Interessant genoeg stem die datum van sy militere aanstelling ook baie nou ooreen met sy swaer, Kaptein Olof Bergh, se terugkeer na die Kaap in 1695 na 11 jaar van ballingskap in Batavia.41 (Bergh was getroud met Anna de Koningh, ‘n halfsuster van Reijnier van de Sande se eggenote, Elsje Basson.) Gegewe sy berekende geboorte datum van 1679 sou Rijnier van de Sande in 1697 dus pas 18 jaar oud wees.

• Dit laat die vraag ontstaan of Bergh nie moontlik tydens sy ballingskap in Batavia kennis gemaak het met Rijnier van de Sande en sy moeder, Catharina Hoffer, voor die laasgenoemde se vertrek van Cijlon in 1689 nie.

• Op 4 Februarie 1698 onderteken Van de Sande die boedelinvetaris van sy (toekomstige) skoonvader, Arnout (o.b.a “Arnoldus”) Willemsz Bason, eggenoot van «Ansela van Bengale».42 Arnout Basson het van “Wesel” in Duitsland (Pruisse) gekom op ‘n tydstip dat die stad nog onder die beheer van “Louis II de Bourbon” van Frankryk was (1672 – 1678).

• Rijnier se eggenote, Elsje Basson, (gebore circa 1680) was die dogter van Angela (Maaij Ansela) van Bengale en Arnoldus “Willemsse” Basson, en is op 29 Junie 1681 gedoop.43

• Rijnier van de Sande het ‘n dogter, Catharina van de Sande, verwek by sy eerste vrou, Elsje Basson.

• Elsje se broer, “Wilem” Basson, was volgens die dagboek van Adam Tas, in 1705 een van die vier amptelike konsessiehouers om as “slagters” in die Kaap sake te doen.44

• Hierdie “konsessiehouers” was vertrouelinge van Goewerneur Willem Adriaan van der Stel en is deur hom aangestel om Henning Hüsing te ontneem van sy kontrak as die VOC se vernaamste vleis leweransier aan die Kaap. Die aanwysing van Basson as een van die konsessiehouers het na alle waarskynlikheid geskied met die medewerking en ondersteuning van sy swaer, Kaptein Olof Bergh. Bergh was nog ‘n Van der Stel vertroueling, en uit hoofde van sy amp as Kaptein van die Garnisoen, ook ‘n lid van die Politieke Raad.45

• Rijnier van de Sande se handtekening verskyn op beide die 1706 klagskrif teen Goewerneur Van der Stel, asook op die beswaarskrif teen die arrestasie van Adam Tas. As ‘n militere offisier sou hierdie feit ooglopend nie ongemerk by die owerhede in die Kaap of sy skoonfamilie verby gegaan het nie.

• Anders as wat te verwagte is wil dit egter lyk asof hierdie protes aksie sy militere loopbaan “bevorder” eerder as benadeel het. Reijnier word op 2 Augustus 1707 as “quartiermeester” van die Kaapse “burgercavallerij “ aangestel46 en vorder to die rang van “wachtmeester” teen die tyd van sy afsterwe in 1717.47 (Was Rijnier van de Sande dalk ‘n “agent provocateur” of “spioen” vir die Van der Stel administrasie?)

• Rijnier van de Sande en Elsje Basson se dogter, Catharina van de Sande, trou in 1712 in Kaapstad met “Gijsbregt Lafeber” (nog ‘n slagter) van Overschie in Nederland.48

• Catharina van de Sande word as een van die “begunstigdes” in haar ouma, Ansela van Bengale, se testament van 18 Julie 1720 genoem.49

• Indien Catharina van de Sande in 1712 reeds ‘n “hubare” ouderdom bereik het wil dit daarop dui dat sy waarskynlik reeds ‘n jaar of wat voor die draai van die 17de eeu gebore is – waarskynlik min of meer teen die tyd dat haar vader se naam in 1697 in die rol van vir militere offisiere aan die Kaap verskyn.

• Rijnier van de Sande tree op as getuie by die doop van sy kleinseun, “Hendrik le Féber” wanneer die op 30 April 1713 in Kaapstad gedoop word.

• Hy trou op 18 Februarie 1714 vir die tweede maal met Hendrina van Hoeting51 en volgens sy testament is daar een seun, Nicolaas van de Sande, uit hierdie huwelik gebore.52

• Nicolaas van de Sande word op 5 Julie 1716 gedoop - skaars 6 maande voor die afsterwe van sy vader.

• Rijnier van de Sande was ongeveer 39 jaar oud wanneer hy volgens sy testament op 16 Januarie 1717 sterf.53

• Twee weke na sy afsterwe word hy op 2 Februarie 1717 deur “Dirk Vion” opgevolg in die amp van “Wagmeester” van die burgerlike militia. Sy skoonseun, Gijsbrecht Lafebre, word by dieselfde geleentheid deur die Raad van Beleid bevorder tot die rang van “sergeant”54

Kantaantekeninge omtrent die moontlike familie verband tussen Catharina Hoffer en Rijnier van der Sande aan die een kant en Adriana en Adriaan van Jaarsveld aan die ander

- Die ooreenkomste tussen Adriaan en Adriana se voorname (Adriana = die vroulike vorm vir Adriaan?)

- Adriaan en Adriana van Jaarsveld se geskatte geboorte datums (volgens die meeste gesaghebbende bronne circa 1682) het waarskynlik hoogtens met 'n jaar of wat verskil.

- Volgens berekeninge gebaseer op inligting uit Professor Leon Hattingh se referaat “ Slawe en Vryswartes in Stellenbosch in die Sewentiende Eeu” sou Adriana van Jaarsveld na alle waarskynlikheid teen 1691 as 'n "weeskind" deur die Kaapse Weeskamer aan Landros Johannes Mulder en sy eggenote toevertrou wees. (In samehang hiermee sterf Catharina Hoffers in Maart /April 1691)

- Indien Theal en Pama se stelling omtrent die datum van Adriaan van Jaarsveld se verskyning tussen 1690 en 1694 in die amptelike dokumentasie aan die Kaap korrek is, sou dit dus baie nou ooreenstem met dié van Adriana van Jaarsveld, en so ook die datum van afsterwe van Catharina Hoffer in Maart/April 1691.

- Wat Dr. Pama se spesifieke verwysing na die jaar “1694” des te meer treffend maak is die feit dat dit ook saamval met die ontug verhoor van Adriana van Jaarsveld en Jantjie van Batavia. Dit laat die vraag ontstaan of daar nie weer gekyk, en na Adriaan se naam gesoek moet word in die hofstukke vir Adriana se verhoor, of samehangend hiermee, na die Kaapse Weeskamer se lotsbeskikkings oor die kinders van Catharina Hoffer in 1691 nie.

- Adriana van Jaarsveld doop haar buite-egtelike kindjie as "Johanna"; Adriaan van Jaarsveld daarenteen doop sy oudste dogter as "Johanna Catharina".

- Die voornaam van Adriaan van Jaarsveld se jongste seun "Rijnier" stem ooreen met Catharina Hoffer se eersgebore seun “Rijnier van de Sande”.

- Rijnier van de Sande se dogter, Catharina Le Febre, staan in circa 1750 ‘n lening van 2000 gulden aan Adriaan van Jaarsveld toe. Die vraag is of sy so ‘n aansienlike bedrag aan ‘n wild vreemdeling sou uitleen en of die moontlike bestaan van ‘n familie verband (haar oom?) tussen hulle nie moontlik die beweegrede was nie.

- Adriaan van Jaarsveld se oudste dogter, Johanna Catharina van Jaarsveld, trou op 2 Mei 1734 met Johannes Basson, ‘n “neef” van Rijnier van de Sande. (seun van sy vrou se broer, Michiel Basson). Ansela van Bengale benoem Johannes Basson op 18 Julie 1720 as een van haar erfgename (kleinseun) in haar testament55

Verwysings:

1Stamvader Adriaan van Jaarsveld se oudste seun, Adriaan, is gebore circa 1712 maar is waarskynlik vroeg oorlede. Daar bestaan geen verwysing na hom of moontlike nasate in sy vader se testament nie.
2Albertus van Jaarsveld, * 1714, + 1749 X 19 Mei 1743 (Drakenstein) met Maria Jourdan, *1721, +1761 was die stamvader se tweede seun.
Suid-Afrikaanse Geslagregisters GISA p.13: - Volgens die opgaafrol van 1702 is hy 'n ongetroude vryburger met 'n veestapel van 50 skape.
3Dr. Cor Pama - Die Groot Afrikaanse Familienaamboek p. 343 – “Van Jaarsveld”
4J.A. Heese & R.T.J. Lombard se “South African Genealogies 4 J-K. Pretoria: Human Sciences Research Council, 1992”
5George McCall Theal se “Chronicles of the Cape Commanders” (p. 307 -308) Theal verskaf heelaas geen spesifieke bron vir hierdie verwysing nie
6Doop Register, Drakenstein I Dope, 1723; Den 4de April;
7Reference no.: MOOC10/3.83
8Dr. Cor Pama - Die Groot Afrikaanse Familienaamboek p. 343 – “Van Jaarsveld”
9J.A. Heese & R.T.J. Lombard, S.A. Genealogies 4 J-K, p.13.
10TANAP Resolutions of the Council of Policy of Cape of Good Hope:- Reference code: C. 46, pp. 113
11Cadastre vir 1721 – Transaksie no 1390
12M.O.O.C. 8/7: Inventarissen, 1749-1752, no. 13.
13Reference no.: MOOC8/7.13
14Prof. Leon Hattingh in sy referaat “ Slawe en Vryswartes in Stellenbosch in die Sewentiende Eeu”
15The First Fifty Years Project. http://www.e-family.co.za/ffy/. Upham verskaf jammer genoeg geen bron vir sy stelling dat Adriana van Jaarsveld ook bekend was as Adriana Hoffers nie
16Die familienaam “Hoffers” dui op ‘n Duitse oorsprong - ‘n telefoongids soektog in 2013 lewer 250 persone in Duitsland op met die familienaam Hoffers en slegs 4 in Nederland.
17Prof. F.A. van Jaarsveld: Van stamvader Adriaan tot Ernst Jacobus van Jaarsveld, ‘n Stukkie geskiedenis van onder = bl.11.
18Prof. F.A. van Jaarsveld: Van stamvader Adriaan tot Ernst Jacobus van Jaarsveld, ‘n Stukkie geskiedenis van onder = bl.11.
19Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Kerken Boek – Huwelike (Stellenbosch), 1665-1695: ao 1695, 9 Januari sijn in de huwelijken staet bevestigt Mahiu de Rijke van Ligterveld Wedun' met Adriana Jarsveld, van Rotterdam.
20Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Kerken Boek –Dope (Stellenbosch), 1665-1695: anno 1695 16 Januar: een kind van Adriana Jarisveld, genamd Johanna, getuijgen Mahiu de Rij en Aeltje Claesse van Amoijde.
21Aeltje Claesse is in circa 1660 in Bodegraven (Nederland) gebore. Sy was die eggenote van Ariaan Gerritsz Prinsloo en het in 1681 aan die Kaap geland.
22Reference no.: MOOC8/1.44 – “Een huijs en erve staande en gelegen in de Tweede Berg dwers straat, gekogt van de vrijborger Mahu de Rijke”
23Reference no.: MOOC10/1.12
24Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Kerken Boek (Troues), 1665-1695: ao 1689
Den 13 november sijn in dne huijwelijke staedt vereenigt Bernardus Mensingh, van Herfordt, jonghman ende vrijborger alhier, met Caterina Hoffer, van Dordt, wedu ende vrijborgeresse alhier.
25Robertson, Delia. The First Fifty Years Project. http://www.e-family.co.za/ffy/
26Kol. Arch. 594: Generaele Resolutiën des Casteels Batavia van den jare 1679, p. 377. (Die verwysing hier na ‘n “dogter” vir Catharina Hoffer is waarskynlik foutief aangesien die Kaapse Weeskamer in 1712 bevestig dat Rijnier van der Sande die enigste oorblywende kind uit haar huwelik met Nicolaes van der Sande was)
27Built in 1683 at Amsterdam by the Verenigde Oostindische Compagnie. 569 bm; 160 x 39,5 x 18 ft.; Crew: 300;
The Dutch spiegelretour ship WATERLAND was owned by the Verenigde Oostindische Compagnie and in service for the Kamer van Amsterdam. On September 12th, 1692, WATERLAND (Capt. Kemp Willem), on a return voyage from Batavia to Patria, was attacked by the French and lost with all hands, near Bordeaux. http://www.wrecksite.eu/wreck.aspx?184400#147549
28C.417, deel II: Ink. Brieven, 1688-1689, p. 608.) Vir verdere besonderhede sien Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, negende jaargang, pp. 267-268. “Haer Ed:le Hoogh achtbaere tot Batavia hebben Catharina Hoffers gelicentieerd met een der retourschepen naer gemelde Kaap te vertrecken, dies zij nu met Waterland nevens haer kinderen, en drie lijfeijgenen over vaerd, waer voor haer door gemelde Ed:le heer gouverneur is g’ordonneert in des Comp:s Cassa honderd rijksd:rs te betalen, dogh sy volgens verklaringh daer toe geen vermogen hebbende, heeft zijn Ed:le haer echter vergunt te vertrecken, mits zij volgens haer belofte de 100 rijksd:rs aldaar voldoen, en in Cassa tellen sal, dierhalven gelieve ued: de selve van haer te laten vorderen”
29http://resources.huygens.knaw.nl/das/detailVoyage/96766
30J. Hoge – German Personalia:- (C6, pp . 368, 372 ; MOOC 10/22 nr. 2 ; letter of 30 .3 .1712 to, the
Orphan Masters of Middelburg in Uitgaande Briewen O.C. vol . 1, according to which the only surviving child of C . Hoffers 'six children by her first marriage was Reinier v . d . Sande ; see G.K. nr. 826. )
31Kol. Arch. 594: Generaele Resolutiën des Casteels Batavia van den jare 1679, p. 377.
32Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Kerken Boek (Troues), 1665-1695: ao 1689:-Den 13 9vember sijn in dne huijwelijke staedt vereenigt Bernardus Mensingh, van Herfordt, jonghman ende vrijborger alhier, met Caterina Hoffer, van Dordt, wedu ende vrijborgeresse alhier,
33Volgens dr. Hoge is Christian Mentzing en bernhardus Mensing een en dieselfde persoon. Hy was getroud met Catharina Hoffers. Sien die negende jaargang van Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, p. 267.
34Reference no.: MOOC8/1_no number 01
35Reference no.: C. 21, pp. 17-23
36Reference no.: MOOC10/1.2
37Reference no.: MOOC10/1.2
38J. Hoge – German Personalia:- (C6, pp . 368, 372 ; MOOC 10/22 nr. 2 ; letter of 30 .3 .1712 to the Orphan
Chamber of Middelburg.
39Na die afsterwe van sy vader, Nicolaes Rijnierse van de Sande, verlaat hy Batavia in 1679 saam met sy moeder Catharina Hoffer op reis na Cijlon
402 Muster Rolls of Officers, Cape Archives, VC 39, vol 2 page 206, 1697:- Reijnier van de Zande v Batavia soldaat (http://www.ballfamilyrecords.co.uk/basson/I091.html)
41Bergh wat vanwee sy beweerde betrokkenheid by die plundering van die skip "Nossa Senhora de los Milagros" in 1686 vir 11 jaar na Batavia verban is, is in 1695 in ere herstel as aanvoerder van die Garnisoen in die Kaap.
42Reference no.: MOOC8/1.33
43Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Kerken Boek 1665-1695 (Dope): den 29 dito (Junii) 1681 – Elsie - Arnoldus Willemsz en Angela van Bengale.
44Dagregister van Adam Tas bl.84
45Bergh was getroud met Anna de Koningh, een van Ansela van Bengale se drie kinders wat verwek is voor haar troue met Arnoldus Willems Basson.
46Resolutions of the Council of Policy - Reference code: C. 25, pp. 135.
47Resolutions of the Council of Policy - Reference code: C. 40, pp. 88-93
48http://databases.tanap.net/ Ref: Reference code: C. 39, pp. 109-124.
49Reference no.: MOOC8/4.15
5030 April 1713 : - Hendrik; Gijsbert le Féber, en Catharina van de Sande
Rijnier van de Sande, en Maria Basson. (Transcribed by Corné Keller from VC 605 - Cape Town baptisms 1713-1742) http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1713-1742/205-cape-town-baptisms-1713
51C.C. de Villiers & C. Pama, Geslagregisters van ou Kaapse Families 1966 III S-Z, p.831.
52Reference code: C. 39, pp. 109-124.
53Reference no.: MOOC8/3.43
54Reference code: C. 40, pp. 88-93.
55Reference no.: MOOC8/4.15

Bronne wat nog geraadpleeg moet word:

a) Hofsaak van Adriana van Jaarsveld en Jantjie van Batavia

CA:CJ 297 Criminele Processtukke: Verklaring van Adriana van Jaarsveld 27.8.1694, pp799-806;
Verklaring van Jan van Batavia 2.9.1694, pp 807-819. Klagstaat teen Jan van Batavia, 22.11.1694, pp775-783;
CJ 3 (Oorspronklie regsrolle en Notule, Fiskaal teen Jantje van Batavia, 22.11.1694), fol. 51 verso 52
CJ 780, Sententien, 28.5.1695, fol 246;

b) Besluite van die Kaapse Weeskamer vir die jaar 1691

Nagevors en saamgestel deur:

Jan Hendrik van Jaarsveld
Ottawa.

Print Email