Surnames V to Z

VAN BENGALE Louis

Louis (Louijs, Lowijs) van Bengale land as jongslaaf op 2 April 1662 met die skip Angelier saam met Commandeur Zacharias Wagenaer van Batavia aan die Kaap. Wagenaer het vyf slawe na die Kaap gebring. Maria de Buquoij, stiefdogter van Wagenaer verkoop Louis (hy was toe omtrent 14 jaar oud) aan secunde Hendrik Lacus vir Rds 80. Lacus het 'n drankprobleem gehad en het ook sy vrou aangerand. Louis het verklaar dat hy gesien het "dat hij, Lacus, zijn vrou, hij dronken zijnde, veeltijs sloeg en smeet als zeer qualijk bejegende". Toe Lacus van bedrog beskuldig is, het Isbrandt Goske wat die Kaap as Kommissaris besoek het, in 1671 vir Louis die kans gegun om sy vryheid te koop. In April 1672 kon Louis dit nog nie bekostig het nie, maar op 13 April 1672 word Louis se versoek by die Politieke Raad ingedien. As Louis 50 reale van 8 betaal het, stem hulle dat hy dan sy reg tot vryheid mag kry.

Louis word op 5 Mei 1675 as 'n volwassene ('out omtrent drij en twintig jaar') in Kaapstad gedoop, maar word eers in 1697 'n lidmaat van die kerk. Hy ontvang ook 'n stuk grond in die Tafelvallei in 1675. Hierdie stuk grond het in die noorde aan Jan van Oldenrijck, en in die suide aan die van Anthony van Bengale gegrens. Louis bekom op 1 September 1676 'n erf in Bergstraat (nou Georgestraat), waarop hy drie jaar later reeds 'n huis gebou het. Later boer hy in Jan de Jonkershoek op sy plaas Leef-op-Hoop, 'n plaas waarvan die erfbrief op 15 Oktober 1692 opgeteken is.

Louis word September 1680 met Rds 4 beboet in omdat hy sonder 'n permit hout gekap het.

Sy eerste vrou was 'n khoi-khoi met die naam Zara. 'n Argivale verwysing, gedateer 31 Oktober 1667, dui daarop dat Lacus die volgende persone in diens gehad het: "zijn slaaf genaemt Louijs, ende zijn huijsvrouw d' Hottentotinne Zara"

Die volgende verskyn in die Resolusies van die Politieke Raad. C. 13, pp. 61-66: "Woensdagh 14 Julij ao. 1678.
Den vrijje swart, louwis van Bengale, te kennen gevende dat den baes timmerman Adriaen van Brakel, in conformite van het besluijt van den Gouverneur en Raadt de dato wegens ’t geene desselffs slavin hem hadde ontvreemt, niets wilde toevoegen en gevolghlijck geen accordt met hem conde aangaen, Soo is daarop geresolveert, soo hij kan doen blijcken sijn pretentie rechtmatigh te wesen, dat de gemelte slavin ten behoeve van de g’interesseerde sal werden verkogt, mits dat den eijgenaer daertoe consent draagt off andersints hem te vrede stelt".

In 1680 het Louis die slavin, Lijsbeth, die dogter van twee slawe gekoop.
(Volgens Karel Schoeman was haar ouers - Abraham en Pladoor van Guinea, maar volgens Mansell Upham was haar moeder heel moontlik Lijsbet van Angola).

In 1683 word Lijsbeth en haar twee kinders deur Louis vrygestel, en in die dokument staan daar onder andere die volgende geskryf: "mijn meijt genaemt Lijsbeth van de Kaap". Sover ons weet was minstens een van hierdie twee kinders 'n kind van Louis. Haar naam was Elizabeth, en met haar doop in 1680 was die slavin Groot Armosyn die getuie.

Louis het in 1685 ook 'n kind met die naam van Anna by Maria van de Kaap gehad.

Louis en die voormalige slavin, Lijsbeth van de Kaap, lê in 1687 voor die Landdros en Heemraad die troubelofte af. Kort hierna het Lijsbeth 'n verhouding met hulle 56 jarige Engelse kneg en veewagter, Willem Teerling, gehad. Later was Lijsbeth blykbaar swanger met die kind van Teerling en het sy vir Louis verlaat.

Louis het Teerling voor die hof gedaag, maar nie soos verwag kan word aangaande sy verhouding met Lijsbeth nie. Teerling is daarvan beskuldig dat hy nalatig was met sy toesig oor Louis se plaasdiere. Volgens die beskuldiging het 'n tier een nag 25 skape doodgebyt, 'n wolf het 'n koei en 'n kalf doodgemaak, en twee morg koring was ook deur die beskuldigde verwaarloos. Teerling het na bewering ook 8 hoenders, en daarna nog 'n verdere 8 hoenders, sonder die toestemming van Louis. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy twee komberse en vyf kussings geneem het, en dat daar 'n verlies aan vrugte en die verlies van ses weke se botter en melk was.

'n Paar maande later beskuldig Louis vir Teerling dat hy 'n verhouding met sy vrou, die slavin Elisabeth (Lijsbeth), gehad het. Elisabeth het erken en verklaar dat sy swanger met 'n kind van Teerling was. As vonnis ontvang Teerling 2 maande harde pad (tronkstraf), en word hy ook op 19 April 1687 beveel om skadevergoeding van 450 gulden te betaal, asook 'n boete vanr Rds 25 omdat hy Louis se vrygestelde slavin Lijsbeth verlei het.

Louis vra in 1687 dat hy van Lijsbeth kon skei weens 'afwesigheid' en dat sy weer 'n slaaf gemaak moet word. Een van die redes wat hy aanvoer het is dat sy met Evert van Guinee en sy vrou, wat haar groot gemaak het, baklei. Sy beskuldig toe vir Louis van mishandeling 'met smijten en slaan en dreijgementen van doden'. Die Raad van Justisie het toegelaat dat die huwelik ontbind word, maar hulle het nie toegestem om vir Lysbeth weer 'n slaaf te maak nie, want Evert en sy vrou en dogters was bekend vir hulle "quade en oneerlijcke huijshouding". Lijsbeth en Louis se kinders sou by Louis bly, maar die jongste kind moes nog vir 'n jaar deur Lysbeth opgevoed word, en Louis moes 25 gulden onderhoud vir haar betaal.

Lijsbeth word in 1696 beskuldig van diefstal van juwele wat aan Jacob Cornelissen van Bengale behoort het. Lijsbeth lewe hierna saam met die Duitser Jan Herbst (Herfst), en sy staan voortaan as Lijsbeth Sanders bekend.

Die derde keer trou hy op 21 Maart 1694 met die 'vrijmaegt' Rebekka van Macassar. Sy was 'n Christen en blykbaar 'n lid van die kerk in Batavia.

Louis van Bengale het 'n slaaf, Anthonie van die Kus van Koromandel gehad. Hierdie slaaf van hom het egter in 1681 weggehardloop. Nadat Lijsbeth hom verlaat het, koop Louis vir Matthijs van Java vir Rds 35t. Louis verkoop sy slaaf Matthijs van Mallabar (33 of 34 jaar oud) op 25 Okotober 1689 aan Abraham de Hertog Provoost, vir Rds 30 (heel moontlik is dit dieselfde slaaf) vir 'n verlies van Rds 5. Louis se handtekening verskyn in die dokument as L VB (met die V en B aanmekaar). Sien Boeseken p. 113.

Volgens Heese p. 12 het Louis drie dogters by Lijsbeth gehad. Sover vasgestel kon word, het Lijsbeth ook twee ander dogters by blanke mans gehad.

KINDERS
Elisabeth Louisz gedoop 6 Oktober 1680, (Lijsbet Sanders en Louis van Bengale was die ouers) later bekend as Lijsbeth Glim / Glam, X Jacobus Coetzee.
Anna gedoop 1 Apr 1685, ouers Louwys van Bengale en Maria van de Kaap
Maria gedoop 10 Feb 1686, ouers Louwys van Bengale en Lijsbeth


Maria gedoop 20 Jan 1704 (moeder Lijsbeth van de Kaap)
Anna Elizabeth gedoop 20 Des 1705 (Moeder Lijsbeth van de Kaap)

Van Louis se besittings word in 1705 verkoop omdat hy 451 gulden uitstaande skuld by Hendrik Ploege gehad het. Sy meubels het ingesluit 'n gewone bed en ook 'n hemelbed, en ses ebbehoutstoele. In 1708 word hy gedagvaar vir skuld van 300 gulden plus rente aan die kerk. In 1715 het "Swarte Louis van Bengalen" drie maande lank van die diakonie ondersteuning gekry. Hy is heel moontlik in daardie jaar oorlede -- hy sou toe 64 jaar oud gewees het. Sy vrou ontvang hulp van die kerk tot in 1724.

Lijsbeth van de Kaap het later 'n verhouding met die Duitser, Johan Herbst (Herfst), gehad. Hulle sou die vader en moeder van die twee dogters, Clara en Gerbrecht, word. Clara trou later met Johannes Harmensz Potgieter. Gerbrecht trou op 2 Januarie 1718 met Johannes Volsoo (junior).

Bronne:
SAG
DSAB Vol 2, p. 826
AJ Boeseken, Slaves and Free Blacks at the Cape 1658 - 1700, pp. 28, 41, 89 -91, 97, 113;
GC de Wet, Die Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting, 1657 - 1707, pp. 102, 175, 207, 208, 211, 212- 215;
HF Heese, Groep Sonder Grense, p. 52;
Karel Schoeman, Armosyn van die Kaap: Die wêreld van 'n slavin, 1652 - 1733, pp. 215, 646-649, 682;
Kaapstad se kerk doopboek

Bydrae:
AM van Rensburg

Navorsing:

 

 



 

Print Email