Surnames R to U

SCHOLTZ Joachim

Joachim SCHOLTZ is in circa 1690 in Altmark, Brandenburg, Pruise, gebore en sterf in 1738 op sy plaas "de Klijne Vogelvallei", naby Piquetberg. Hy trou op 3 August 1727 in die Paarl met Anna Marijna SWART. Sy is circa 1690 in Stockholm, Swede, gebore en sterf in 1732. Joachim trou vir "n tweede keer op 31 Mei 1733 in Stellenbosch met Anthoinetta CAMPHER, die dogter van Lorenz Campher en Ansela Hanselaar. Sy is in circa 1690 gebore en sterf in 1735 op die plaas Elandskloof.

Joachim was afkomstig van die Hertogdom Altmark, Brandenburg, Pruise (tans Duitsland) maar die naam van die dorp word nie aangegee nie. Die hoofstad van Altmark is die dorp Stendal, ongeveer 160km wes van Berlyn.

Joachim het in 1720 aan die Kaap geland, maar die naam van die skip en die datum waarop hy in die Kaap aangekom het, word nie vermeld nie. Die klerk wat die register ingevul het was Rijk Tulbagh, die latere goewerneur van die Kaap. Tulbagh, "verhollands" dan ook die naam en teken dit nie in die regte Duitse vorm aan nie, maar as "Jogem Schols".

Sy eerste betrekking na sy aankoms aan die Kaap was as stalkneg in diens van die VOC . Die garnisoen se ruitery moes uiteraard heelwat perde daarop aanhou, en die onderhoud van die stalle het dus baie aandag geverg. Gedurende die jaar 1721 is hy tot soldaat bevorder, "n posisie wat hy tot 1722 beklee het. Daarna, gedurende die goewerneurskap van Hendrik Swellengrebel, is hy op "n dienskontrak as landboukneg deur die Kompanjie aan die landbouer, Barend Buys, woonagtig te Paarl, uitverhuur. (Barend Buys het geboer op die plase Blomkool en Witteklip geboer.) Vanaf 1 Augustus 1722 tot 15 Februarie 1725 was Joachim as boukneg in die diens van Barend Buys. Vermoedelik was Joachim verantwoordelik vir die boerdery op Witteklip, terwyl Barend sy aandag aan die aktiwiteite op die plaas Blomkool geskenk het. (Familia XXIX/1992 Nr.2 bl 30.)

Die dienskontrak was vir een jaar vir "n maandelikse vergoeding van 13 Gulden, Indiese valuasie, en een pond tabak -- benewens spyse, drank en "n goeie huis. In die kontrak word na hom verwys as "soldaat Joghem Schols van Brandenburg". Hy onderteken die ooreenkoms slegs met sy voorletters J.S. onderaan. Rijk Tulbagh, die latere goewerneur van die Kaap en skoonseun van Hendrik Swellengrebel, teken as een van die getuies. (Argief Kaapstad C.J. 2880 : 31.)

In 1725 het hy aansoek gedoen om "n "Vrijburger" te word. Blykbaar het hy in hierdie stadium nie op sy eie gaan boer nie, want hy het sover vasgestel kon word, geen aansoek ingedien vir "n stuk grond nie. Gedurende hierdie tyd was hy ook nog nie getroud nie, en was hy in die omgewing van Paarl / Drakenstein bedrywig.

Op 3 April 1727 tree hy in die Paarl in die huwelik met Anna Maria Swart (toe die weduwee Strang met drie dogters). Hulle eerste kind, "n seuntjie, is in die Paarl gebore en gedoop. Daarna moes hulle vir "n tydperk na Kaapstad verhuis het, want op 8 April 1729 laat hulle in Kaapstad "n gesamentlike testament opstel. Hier word hy beskryf as "n burger van Drakenstein (toe nog deel van die gemeente Paarl) en op daardie oomblik "lichtelijk ten bedde leggend". In hierdie geval maak hy slegs "n kruisie vir sy handtekening. (Argief Kaapstad C.J. 2604 : 40). In 1730 is hulle terug in Drakenstein, want op 18 Mei 1730 laat hulle hul tweede seun in die Paarl doop.

In 1732 het sy vrou, Anna Maria Swart, hom ontval. Die boedelrekening, gedateer 8 Desember 1734 toon aan dat hy die bedrag van 109,14 riksdaalders uit die boedel ontvang het. Blykbaar was hulle buite gemeenskap van goedere getroud. Uit die boedelrekening blyk ook dat slegs een van die Strang-dogters uit haar vorige huwelik nog in die lewe was, maar in werklikheid in werklikheid is dit die Raesen-dogter.)

Op 26 Junie 1732, terwyl hy nog onder Drakenstein resorteer het, was hy werksaam op die plaas Hooggelegen van Andreas Bester, naby Kaapstad. Vanaf Hooggelegen stuur Joachim "n "memorie" aan die Goewerneur en lede van die Politieke Raad waarin hy hulle hulp vra, aangesien hy arm en gebreklik is en dat hy weens sy gesondheidsprobleme dit moeilik vind om vir homself en vir sy seuntjie te sorg. Hy noem nie die Strang-dogter se naam nie. (Argief Kaapstad. Mss. Requesten, S-T.; Leibrandt.) Waar die Strang-dogter op daardie oomblik was, is onbekend. Haar naam verskyn nie onder die lyste van weeskinders na wie die verskeie gemeentes omgesien het nie. Sy is later met Jacob Kruger getroud en het toe na haar halfbroertjie, Jan Joachim moes omsien.

Blykbaar het Joachim se gesondheid sodanig verbeter, dat hy besluit het om vir homself te gaan boer en hom op veeboerdery toe te spits. Plase in die gevestigde gebiede was nie meer maklik beskikbaar nie en nuwelinge moes hulle na die grensgebiede wend. Weilisensies wat gebruiksreg oor "n stuk grond gegee het, maar nie besitreg nie, was beskikbaar. Aangesien die weiregte slegs tydelik was, het die amptenare van die Kompanjie in die meeste gevalle ook nie veel moeite gedoen om spesifieke beskrywings van die plekke te gee nie; hulle was in elk geval onbekend met die omgewing van die plase. Die beskrywings was soms heeltemal ontoereikend en die amptenare het nie omgegee of die eienaar van die weiregte ander persone in hulle regte te na sou kom, of lastig sou val nie.

In 1725 was die getal veeboere aan die noordelike grens alreeds 50 in getal en in 1735 word die getal as 135 huisgesinne aangegee. Gedurende 1725 en die daaropvolgende jare, het die Swartland vinnig ontwikkel. Die eerste veeboere het hulle reeds in die vallei van die Olifantsrivier gevestig en permanente en duursame opstalle is tot stand gebring. Die omvang van die plase was bereken dat dit "n deursnee van een uur se stap moes hê, d.w.s. ongeveer drie myl by drie myl, of naastenby 3 000 morg.

Op 10 Desember 1732 word aan Joachim toestemming verleen om vir een jaar met sy vee (wat hy blykbaar reeds moes besit het) op die veepos "Kanse Fonteijn" in die vlakte van die Piquetberg op die verlate plaas van Gerrit van Aardt te staan. (Argief Kaapstad R.L.R. Nr.9. -395.) Terwyl hy met sy vee hier gestaan het, is hy op 31 Mei 1733 in Stellenbosch weer getroud met die weduwee van Arij van Wijk t.w. Antoinetta Campher. In die huweliksregister word nog na hom as "n burger van Drakenstein verwys. Uit hierdie huwelik is geen kinders gebore nie, maar gesamentlik was hulle verantwoordelik vir die Strang (Raesen) dogter, wat haar weer by Joachim gevestig het, Joachim se seun, en die tien Van Wyk kinders van Antoinetta.

Op 13 September 1733 het hy toestemming ontvang om hom op die plaas "Elandskloof over de Olifants Rivier" te vestig. (Argief Kaapstad -R.L.R. Nr. 9. -839.) Blykbaar het hy nie onmiddellik verhuis nie, want op 9 Oktober 1733 rapporteer Jacob Kruger, die Veldkornet, dat Joachim nog op "Kanse Fonteijn" staan.

Op "Elandskloof" het dit ook maar moeilik met Joachim gegaan en sy tweede vrou het hom hier in 1735 ontval. In die gemeentelike uitgawe "Ons Kerk in die Bo-Olifantsrivier, Citrusdal, 1716 - 1966" skryf dominee A. P. Smit dat hy nie die begraafplaas kon opspoor nie. Ds. Smit wys ook daarop dat in die jare 1738-39 die gevaar van rooftogte deur die Boesmans so groot was, dat die Boere van Agter-Piketberg moes ontruim aangesien die Boesmans "n skrikbewind in hierdie streke gevoer het. Joachim moes ook planne beraam om van die heel voorste poste terug te val en hom te vestig waar die aanslae en diefstalle van die Boesmans nie so erg was nie.

Ds. Smit gee die naam van die aanlegger en eerste eienaar van "Elandskloof" as "Joachim Schultz" . Die oorspronklike inskrywing waarna verwys word is nagegaan en alhoewel die dokument ietwat onduidelik is, blyk dit dat dit tog "Joachim Scholtz" kan wees. Wat wel verbasend is, is dat die naam in hierdie geval korrek deur die Nederlandse amptenaar gespel is.

In sy boek "So the High Road" vermeld Jose Burman dat twee bergpasse wat gebruik was om die Bo-Olifantsrivier en omgewing te bereik t.w. "Piekenierskloof en "Karbouskloof" wat naby die huidige Porterville geleë was, die afgelope honderd jaar nie meer in gebruik is nie. Blykbaar is die oorspronklike "Piekenierskloof" die oudste van die twee passe, en is dit reeds in 1660 as roete gebruik.

In 1685 het Simon van der Stel ook hierdie pas met sy tog na Namakwaland gebruik. Die plaas "Elandskloof" het op die pad na die Bokkeveld gel

PrintEmail