Surnames N to Q

PRETORIUS Johannes

Johannes PRETORIUS (eers Joannes Preatorius) is die Stamvader van die Pretoriusse in Suid Afrika:

Oudste seun van twee seuns en vyf dogters van Wesselius, gedoop 16 Okt 1642 te Ouddorp deur sy vader. Johannes was reeds student van teologie aan die Universiteit van Leiden maar het sy studies laat vaar en een jaar na die dood van sy vader verlaat Johannes sy tuisland en arriveer 1 Apr 1666 as seekadet (adelbors)in diens van die H O I K aan die Kaap maar vertrek op 27 Jun dieselfde jaar na Mauritius as sieketrooster en later sekunde. Keer op 9 Des 1669 terug na Kaapstad waar hy in 1670 as assistent en later (1674) as Sekretaris van die weeskamer diens doen. Johannes trou op 18 Nov 1673 met Geertuijda Menthing MEYNTJIES van Hasselt, Holland, (vandag Belgie) die weduwee van ene Dirk Bosch en slegs een seun, Wessel word uit die huwelik gebore voor haar afsterwe. Geen manlike nasate volg uit hierdie lyn nie.

Johannes was 'n diaken by die Kaapse gemeente 1677-1678. Hy was ook 'n lid van die Burgerraad 1680-1681, 1692-1693. Hy was 'n lid van die Huwelikshof 1677-1678, 1680-1682. Asook 'n weesmeester in 1676.

Gedurende 1676 - 1678 het Johannes namens sy stiefkinders Sophia en Anna Sophia (van Dirk Bosch) 'n permit gekry om as 'n suikerbierbrouer te handel. Geertruijda het geld en goedere by 'n vriendin in bewaring gehou omdat haar kinders se stiefvader, Johannes Pretorius, hulle erflating in die herberge deurgebring het.

Johannes het in 1682 vergunning gekry om wyn en bier in sy taphuis te verkoop. Johannes was ook 'n wynboer, in 1692 het Johannes 30,000 wingerstokke gehad.

Johannes trou weer met Johanna VICTOR, van Amsterdam op 28 Feb 1677. Vyf kinders volg uit hierdie huwelik. Op 23 Des 1681 word sy aanstelling as Kommissaris van Huweliksake en van Brandweer bekragtig. Op 18 Des 1692 word hy verkies as Ouderling. Oorlede op 30 Apr 1694, aangeteken in die Dagregister van die Kommandeur van die Kaap, 'n buitengewone eer in daardie tyd.

Johannes het 'n stiefdogter gehad met die naam Anna Elisabeth Rooleemo, volgens Upham p 37 in "Mooij Ansella Part V" Capensis Nov 1998, het Cupido van Bengal 'n slaaf van Jacob Jansz van der Voorden, met Anna Elisabeth Rooleemo talle maale met haar omgang gehad beide voordat sy getrou het en ook nadat sy getrou het.

Johannes se tweede seun uit sy tweede huwelik, Johannes (b3) was die grootvader van Kmd-Gnl Andries W J Pretorius en sy seun M W Pretorius, President van Transvaal.

KINDERS (Net die eerste kind was van die eerste vrou):
b1 Wessel ged 3 Junie 1674 X Gertruy Elbers
b2 Josina ged 27 Okt 1678 X Jacobus de Wet
b3 Johannes gedoop 22 Sep 1680 X Helena Vosloo
b4 Jeanetta ged 11 Okt 1682 X Hendrik Frappe
b5 Lodewyk gedoop 5 Sep 1688 X Maria Rossouw
b6 Elizabeth ged 17 Sep 1690 X Jan Frederik Detisch

Johannes se tweede vrou, Johanna Victor, trou na Johannes Pretorius se afsterwe, met Johannes Starrenberg. Pretorius se boedel laat ons weet dat hy agt skilderye toe besit het.

BRONNE
PJS Coetzee "Pretorius-Stamouers" Familia XVII 1980 no 1
"Pretorius oor Drie Eeue"
GC de Wet Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting
De Villiers en Pama
Heese, Groep sonder Grense
Inligting van Dennis Pretorius

Saamgestel deur:
AM van Rensburg

 

JOHANNES PRETORIUS, DIE STAMVADER VAN DIE PRETORIUSSE
VAN SUID-AFRIKA, SE JARE OP MAURITIUS 1666-1669


Inleiding
Hierdie artikel is aanvanklik deur Prof Frans Johan Pretorius geskryf. Prof. Pretorius was aan Medunsa verbonde as professor van Interne Geneeskunde.

Met die publikasie van die boek Pretorius deur drie Eeue, het Prof. Pretorius aangebied dat die artikel daarin opgeneem word, maar vanweë spertye t.o.v die druk van die boek, is dit nooit opgeneem nie. Die artikel is intertyd in twee dele in Historia publiseer, en dit is met erkenning en dankbaarheid aan Historia dat die artikel hier in gewysigde en opdateerde vorm die lig kan sien. Colin Pretorius This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Die skilderagtige, gedeeltelik tropiese en vrugbare eiland van Mauritius in die Indiese Oseaan is in 1513 deur die Portugese ontdek. Hulle het dit die Swan-eiland (Ilha da Cirnos) genoem, vermoedelik vanweë die groot en nou uitgestorwe oervoëls, die dodo's, wat destyds op die strande gevind is. Die eiland is een van die Maskarene-eilande wat ook insluit Reunion (Bourbon) en Rodrigues. Hulle is vernoem na die Portugese seevaarder Don Pedro Mascarenhas wat die eilande in 1513 ontdek het.

Gelukkig was die ou Hollandse seevaarders van die sewentiende en agtiende eeu baie trots op hulle meer geloofwaardige dade. Tereg ook so want vir hierdie klein Europese volk was daar soms meer Nederlandse skepe ter see as die hele res van Europa. Gevolglik is elke seereis na die Ooste opgeteken en kan daar vandag in Den Haag uit hierdie rykste versameling van maritieme geskiedenis ter wêreld ook die vroeë geskiedenis van Mauritius gevind word. Hieruit is bekend dat die Hollanders in 1598 op die eiland geland en dit na hulle stadhouer Maurits van Oranje (Nassau), ook die seun van Willem van Oranje (Nassau), vernoem het. Teen 1638 het die Verenigde Oos-Indiese Companje (V.O.C.) besluit om die eiland vir die eerste keer te beset. Dit is strategies en gunstig ongeveer halfweg tussen die Kaap en Batavia (Jakarta) op pad na Oos-Indië geleë. Die vernaamste redes vir die besetting was om die Portugese besetting van die Oos-Afrikaanse kus te vermy en die groot voorrade gesogte ebbehout op die eiland. Alhoewel hierdie eerste besetting in 1658 beëindig is, het die V.O.C. in 1657 reeds vir Jan van Riebeeck in kennis gestel dat beplan word om Mauritius onder die Kaapse bestuur te plaas. 'n Minder bekende maar nietemin wetenswaardige geskiedkundige tydperk het hierdeur tussen die Kaapse nedersetting en die afgeleë Mauritius tydens die daaropvolgende tweede Nederlandse besetting van Mauritius tussen 1664 en 1710, ontstaan.

Ten spyte van heelwat inligting oor die Europese herkoms en familiegeskiedenis van Johannes Pretorius, stamvader van die Pretoriusse van Suid-Afrika, bestaan daar tot dusver geen volledige verhaal oor sy vertrek uit Holland tot en met sy terugkeer na die Kaap na 'n verblyf van ongeveer drie jaar op Mauritius nie. Daar bestaan selfs onsekerheid of by eers die Kaap aangedoen het voor sy aankoms op Mauritius. Wat wel bekend is, en waarvan kortliks melding gemaak word, is dat hy op Mauritius as sieketrooster en sekunde in die diens van die V.O.C. was. Dr. C. Graham Botha, 'n voormalige hoofargivaris, het vermoedelik eerste in 'n tot dusver ongepubliseerde artikel, "Een Genealogiese Studie: Die familie Pretorius", kortliks na Johannes Pretorius se verblyf op Mauritius verwys. (1)

Wat volg is 'n rekonstruksie van die ervaring van Johannes Pretorius sedert sy vertrek in Desember 1665 uit Holland tot en met sy terugkeer in 1669 na die Kaap. Uit die aard van die verhaal en die heersende omstandighede van sy tyd bevat dit minder bekende inligting oor die eerste jare van die tweede Nederlandse besetting in 1664 van Mauritius. Ook word dele van Johannes Pretorius se volledige verslag oor sy verblyf op Mauritius vir die eerste keer bekendgestel. Weens beperkte gegewens was dit nie altyd moontlik om Pretorius in die middelpunt van die vertelling te hou nie. Sy leefwêreld en tydgenote kry egter aandag, waardeur ons hom beter verstaan.

In Maart 1665 het Engeland formeel oorlog teen Nederland verklaar. (2) Dit was die begin van die tweede see-oorlog tussen hierdie twee vlootmagte. Die eerste see-oorlog tussen Engeland en Nederland in 1652 was een van die redes vir die stigting van die Kaap as 'n verversingspos en om die veiligheid van die swaargelaaide terugkerende skepe na Holland teen die Engelse en Portugese vlote te beskerm. (3)

Die direkte gevolg van hierdie tweede see-oorlog was die skielike toename aan die Kaap in 1666 van amptenare, insluitende soldate. As voorsorgmaatreël is bykomende soldate van verbygaande vlote aan wal gebring en is besluit om die ou fort uit Jan van Riebeeck se tyd met 'n nuwe Kasteel te vervang. (4)

As 'n voorbeeld van die berigte wat die Kaap in die tyd uit Nederland bereik het, was die nuus van 18 November 1665 wat deur die skip 'Rhijnland' gebring is. Uit die briewe is berig ontvang dat die Hollandse en Engelse vlote op 13 Junie 1665 in 'n groot seestryd gewikkel was, waartydens die groot Nederlandse admiraal Wassenaer-Opdam met 16 of 17 oorlogskepe vermis geraak het. Drie skepe wat vir die vaart na die Ooste bedoel was, was ook vermis. Een hiervan sou die nuwe kommandeur, die opvolger van Wagenaer, na die Kaap gebring het. Nuwe skepe was intussen vir hierdie doel gehuur of gekoop. Verder het 60 van die 208 bemanningslede van die 'Rhijnland' skeurbuik opgedoen. Dit bevestig watter waagmoed die seereise van die tyd geverg het, en hoe belangrik dit was dat vars groente en proviand beskikbaar moes wees vir die gevaarlike tog na die Ooste. (5)

Dit is gedurende hierdie oorlogsklimaat en die magstryd ter see dat Johannes Pretorius van Goeree besluit het om die Nederlande te verlaat. Op Donderdag 17 Desember 1665 vertrek hy as soldaat teen 'n besoldiging van 10 gulde per maand aan boord van die fluit 'Nuijtssenburgh' na die Kaap de Goede Hoop. (6) Hierdie skip van 486 metrieke ton wat tussen 1664 en 1665 gebou is, was die eiendom van die Amsterdamse Kamer van die V.O.C. Dit was in hulle skeepswerf gebou en uitgerus vir sy eerste tog. Ook was dit die reël dat skepe van die Kamer van Amsterdam via die Texelse rede hierdie hawe op pad na die oop see verlaat. Aan boord die 'Nuijtssenburgh' was 115 seelui, 36 soldate en 2 passasiers, insluitende Johannes Pretorius. (7)

Na 'n seereis van ongeveer drie en 'n half maande is die aankomstyd van die 'Nuijtssenburgh' in die Kaapse hawe aangeteken as 14h00 op 1 April 1666. Twee ander skepe was ook dié dag in die Kaapse hawe. Die fluit 'Opperdoes' wat reeds die 19de Maart in die Kaap vanaf Amsterdam aangekom het, het na Batavië vertrek terwyl die 'Swarte Leeuw' nog besig was om voorraad in te neem vir die reis na Batavië. Volgens die Joernaal of dagregister-aantekeninge het die 'Nuijtssenburgh' Holland op 17 Desember 1665 met 151 manskappe insluitende 38 soldate, verlaat. Behalwe twee sterftes aan boord gedurende die reis was dit andersins voorspoedig en het die bemanning goeie gesondheid geniet. Dit is verbasend aangesien skeurbuik veral in dié tyd nog dikwels vir die dood van baie seelui op die lang en vermoeiende seereise verantwoordelik was. Die 'Nuijtssenburgh' se vaart van ongeveer drie en 'n half maande na die Kaap was ononderbroke. Die offisiere aan boord het geen bykomstige nuus gehad nie behalwe dat Frankryk moontlik oorlog teen Engeland sou verklaar, en dat 7 Britse skepe uit die Engelse kanaal verdwyn het. (8)

Ongeveer 15 dae later, op Donderdag 15 April, het die 'Nuijtssenburgh' weer die Kaapse hawe op pad na Batavië verlaat. Dié keer het die voormalige Kaapse Sekunde, die onderkoopman Abraham Gabbema en sy familie in Tafelbaai aan boord gegaan. Twee soldate van die 'Nuijtssenburgh' is later weens siekte in die Kaapse hospitaal oorlede. (9) Een van die soldate wat aan boord die 'Nuijtssenburgh' was, en in die Kaap agtergebly het, was Johannes Pretorius, die stamvader van die Suid-Afrikaanse Pretoriusfamilie. (10)

Met die aankoms van Johannes Pretorius in April 1666 was Zacharias Wagenaer die Kommandeur aan die Kaap. Die bouery aan die nuwe Kasteel was toe reeds in volle swang. 'n Paar maande voor sy aankoms is die eerste vier stene van die nuwe Kasteel op 2 Januarie 1666 deur kommandeur Wagenaer, ds Johan van Arkel, sieur Gabbema, die Sekunde, en Hendrik Lacus, die Fiskaal, afsonderlik gelê. (11) Voor sy vertrek na Mauritius het Johannes Pretorius as soldaat in die ou fort tuisgegaan en het hy hom vir enkele maande terdeë van die klimaat en omstandighede van die nedersetting vergewis. Pas na sy aankoms is berig dat, hoewel die welkome reënseisoen begin het, dit skadelik was vir die lekkende dakke van die nedersetting se huise en skure. In die monsterrolle van die offisiere, soldate en matrose wat in die fort de Goede Hoop op 15 Mei 1666 gestasioneer was, word "Johannes Pretorius van Goeree" aangegee as 'n adelbors, dit wil sê 'n seekadet. (12) Waarskynlik het Johannes sy eerste Paasfees-nagmaal aan die Kaap op 23 April 1666 saam met die ander inwoners van die nedersetting gevier. (13) Op Paasvrydag, 23 April 1666, het 'n retoervloot onder die aanvoering van admiraal Jacobus Cau arriveer. Die vloot was gelaai met onder andere fyn-linne en sy uit Bengale en Ceylon. (14) Teen 24 Mei 1666 was die retoervloot van sewe skepe gereed vir die tweede skof op pad terug na Nederland, en het op dié dag uit die Kaapse hawe vertrek. (15)

Op Donderdag, 20 Mei 1666, het die Politieke Raad 'n besluit geneem oor die jaarlikse vervoer van voorrade na die eiland Mauritius. Dit was ook belangrik vir Johannes Pretorius wat so pas in die Kaap aangekom het. Ses weke na sy aankoms op 1 April 1666, het die Politieke Raad besluit dat vir die reis "gebruikct worden 'n fluit-scheepie Hooch Caspel" (Carspel). Die skip het in Maart van die vorige jaar reeds 'n verskeidenheid goedere na die groot garnisoen op Batavië vervoer. Die goedere wat na Mauritius geneem moes word, het voorrade, gereedskap ens. vir die garnisoen daar ingesluit. Verder moes ook twee of meer perde, 8 of 9 skape en 'n paar honde ingeskeep word. Tweedens moes die 'Hoog Caspel' van Mauritius na die Baai van St Augustine in Madagaskar vaar om rys in to skeep en slawe daar te probeer oplaai. Derdens is besluit om die besettingsmag op Mauritius to versterk. Vir die doel moes 7 of 8 soldate "die ambachten kunnen", gestuur word. Saam met hulle sou gaan 'n tweede opperhoof, Dirck Jansz Smient, en die Kaapse garnisoenboekhouer Jacob Granaet. Die rede waarom Smient na Mauritius moes vertrek, was 'n voorsorgmaatreël ingeval die bestaande opperhoof, Juriaen (Georgius) Frederickus Wreede, moontlik oorlede, ontvoer of gedood sou wees. Die Kaapse boekhouer, Jacob Granaet, moes egter op die 'Hoog Caspel' aanbly en na Madagaskar reis. Hierdie reis sou aan die begin of op die uiterste teen middel Junie 1666 'n aanvang neem. Kommandeur Wagenaer het ook opdrag gegee dat die "opperhoofden" van die reis aan hom oor hul waarnemings en wedervaringe verslag moet doen. (16)

Soos reeds gemeld, is die eiland Mauritius waarskynlik reeds in 1513 deur die Portugese ontdek, maar eers heelwat later deur die Hollanders beset. In 1598 het Wybrand van Warwijck en sy seelui op die eiland geland en dit vernoem na Maurits van Nassau, die bekende stadhouer van die Nederlande. Die eiland is ook gereeld deur Hollandse, Engelse en Franse skepe besoek, veral omrede die duursame ebbehout wat na Europa as ballas verskeep is om daar ekonomies van die hand gesit te word. Om die Nederlandse belange in die Indiese Oseaan to beskerm, het die V.O.C. in Amsterdam op 15 Desember 1637 besluit om 'n eerste besettingsmag van 25 man insluitende 'n "opperhoofd" na Mauritius to stuur. Die eerste opperhoof, Cornelius Simonsz Gooyer van Amsterdam het op 7 Mei 1638 in die huidige Grand Port hawe van Mauritius geland. Een van sy opdragte wat hy uitgevoer het was om die eerste fort, Fort Hendrik, by die moderne Vieux Grand Port asook 'n klein hawehoof by die Ile de la Passa, op to rig. In 1639 is Gooyer deur Adriaan van der Stel opgevolg wie se seun Simon en een kleinseun Willem Adriaan later goewerneurs aan die Kaap geword het. Na die stigting van die Kaapse nedersetting in 1652, is die eiland Mauritius nie meer as van belang geag nie, en is na 20 jaar in 1658 besluit om die besetting to beëindig. Die Nederlanders het by hul vertrek alles vernietig om sodoende niks vir die vyandelike Engelse en Franse agter te laat nie. As gevolg van die redelike sukses met boerdery aan die Kaap het die V.O.C. met dieselfde vooruitsigte vir Mauritius in gedagte, in 1664 besluit om die eiland vir 'n tweede keer met 'n klein garnisoen to beset. (17)

Reeds in 1657 het die V.O.C. vir Jan van Riebeeck laat weet dat hulle van plan was om Mauritius "onder die Caep to betrekken", wat beteken dat die eiland onder die bestuur van die Kaap geplaas is. (18)

Die eiland Mauritius is gevolglik onder die beheer en toesig van die kommandeurs of goewerneurs van die Kaap geplaas. Beide die Kaapse en Mauritius-nedersettings was onder die toesig van die V.O.C. se bestuur in die Ooste te Batavia. Tussen 1673 en 1677, tydens die opperhoofskap van Hubert Hugo op Mauritius, het hierdie eiland-nedersetting 'n status en aansien gelykstaande aan die Kaap geniet en dit het gevolglik direk aan Batavië verantwoording gedoen. Hubert Hugo was 'n merkwaardige en veelsydige man. Hoewel hy reeds in 1654 in diens van die V.O.C. was het hy in 1661 as 'n seerower in opdrag van die Franse hertog van Vendome die pelgrimsbote na Mekka geplunder! In 1663 op pad terug na Europa, het hy Mauritius aangedoen en die veertig gestrande manskappe van die skip 'Arnhem' opgelaai. Dit was die gunstige verslag van hierdie skipbreukelinge wat die V.O.C. laat besluit het om weer die eiland as steunpunt to benut. (19)

Hierdie tweede en laaste Hollandse besetting van 1664 tot 1710, het merkwaardige persoonlikhede na vore gebring. Die lys van opperhoofde gedurende die tweede besettingstydperk was soos volg (waarnemende opperhoofde kursief): Nieuwland, Wreede, van Laer, Smient, Wreede, Wabrandt, Telleson, Col, Hugo, Lamotius, deodati en Momber. (20)

Aangesien Johannes Pretorius kort na die tweede Nederlandse besetting van Mauritius as amptenaar daarheen gestuur is, is dit nodig om kortliks oor die vroeë geskiedenis daarvan to berig. Johannes Pretorius het in sy latere verslag oor Mauritius na Nieuwland, die eerste opperhoof van die tweede tydperk, verwys.

Die tweede Nederlandse besetting van Mauritius het begin met 'n opdrag van die Here XVII aan die Kaapse Politieke Raad. Op 14 Mei 1664 het die raad besluit om 'n vaartuig met 'n klein besettingsmag van 12 man daarheen te stuur. Die manskappe was, soos gesê, onder die aanvoering van opperhoof Jacobus van Nieuwland. (21)

Ongeveer 'n jaar later, op 20 Oktober 1665, het die manskappe van die terugkerende fluit 'Pimpel', die volgende oor die omstandighede op Mauritius vertel: Die kommandeur van die eiland, sieur Jacobus van Nieuwland, is op 27 Mei 1665 na drie dae van ongesteldheid weens 'n beroerte-aanval oorlede. Die skipper van die 'Pimpel' het toe die assistent op die eiland, Georgius Frederickus Wreede, in die plek van die oorledene as opperhoof aangestel. Daar is verder berig dat afgesien van 'n swak administrasie daar, die garnisoen se voorraad rys en brandewyn reeds 3 maande tevore al uitgeput was. As gevolg daarvan het the manskappe geweier om te werk en drie van die rebelle en hul leier is geboeid na die Kaap gestuur om gestraf te word. Andersins skyn dit asof dit goed op die eiland met die kappery van ebbehout verloop het. 'n Tekort aan houtkappers is egter ondervind. Daar was 'n oorvloed vis en 'n verskeidenheid voëls sowel as wilde en mak beessoorte. Wreede het ook in 'n houer 'n monster van "Amber Noir" soos by dit genoem het, na die Kaap saamgestuur. In die Kaap is egter geoordeel dat die voorkoms daarvan nie die van egte amberhout was nie, maar monsters daarvan sou vir verdere ondersoek na Nederland gestuur word. (22)

Dit is met hierdie agtergrond van en omstandighede op Mauritius tydens die tweede nedersetting daar, dat die fluit 'Hoog Caspel' op 27 Junie 1666 met drie opdragte na Mauritius vertrek het. Aan boord was "vaendrich" Dirck Jansz Smient, die Kaapse boekhouer Jacob Granaet en Johannes Pretorius. Dat Johannes Pretorius die reis van die 'Hoog Caspel' meegemaak het en wat sy funksie op Mauritius sou wees, is nie aan die begin gemeld nie. Dit sou eers uit verslae blyk na sy aankoms op Mauritius. Op 24 Junie 1666 het sewe manskappe insluitende Johannes Pretorius, twee perde en 'n paar honde as versterking van die garnisoen op Mauritius in die Kaapse hawe aan boord gegaan. Daarna is 'n afskeidsfunksie en ete vir Smient en die boekhouer Granaet, aangebied. Dit het waarskynlik in die ou fort plaasgevind. Daar is gehoop dat hulle die volgende dag, 25 Junie 1666, met die Genade van God sou afreis, maar die 'Hoog Caspel' kon eers twee dae later na Mauritius vertrek. (23)

Die aankoms van die 'Hoog Caspel' op Mauritius op 30 Julie 1666 word in afsonderlike verslae van Wreede en Van Laer vermeld. In een van hierdie verslae vind ons die indruk wat Johannes Pretorius met sy aankoms op opperhoof Wreede gemaak het. (24) Wat Johannes Pretorius se eie eerste indruk van die eiland was, sal waarskynlik altyd onbekend bly. Hy het wel 'n breedvoerige verslag oor sy indrukke na 'n verblyf van ongeveer drie jaar en drie maande op Mauritius nagelaat. Die 'Hoog Caspel' het na 'n maandlange reis op Donderdagmiddag, 11 November 1666, weer anker in die Kaapse hawe gegooi. In opdrag van kommandeur Wagenaer het Jacob Granaet toe breedvoerig oor hulle reis na en wedervaringe op Mauritius en Madagaskar berig.

Jacob Granaet se verslag wat in die Kaap op 30 November 1666 onderteken is, vertel onder andere daarvan. Op 30 Julie 1666, dit wil sê na ongeveer vyf weke, het hulle Mauritius se suidoostelike hawe bereik. 'n Uitgebreide beskrywing volg dan oor die landbou, plantegroei en dierelewe. Verder word berig oor administratiewe reëlings in verband met die manskappe. Granaet was nie seker of die skipper van die 'Hoog Caspel' wel magtiging gehad het om sodanige reëlings te tref nie. Dit blyk uit die instruksies dat hy nie sodanige magtiging gehad het nie.

Uit die verslag word dit duidelik wat Johannes Pretorius se taak op Mauritius was. Volgens die bestuursliggame van die tyd is by gestuur as sekunde of tweede in bevel. Die bestuursliggaam aan die Kaap is saamgestel uit 'n kommandeur, 'n sekunde, 'n fiskaal en 'n sekretaris (secretarij). (25) Dit was nie al nie. Johannes Pretorius is met 'n tweeledige doel gestuur, naamlik nie net as sekunde nie, maar om ook die funksie van sieketrooster te verrig. Aangesien Jan van Laer reeds 'n geruime tyd op die eiland was en as sekunde goeie dienste vir die bestaande opperhoof Wreede verrig het, is Pretorius as sieketrooster van Mauritius aangestel. Vanaf sy aankoms was by verantwoordelik vir die geestelike versorging van die bewoners. Dit is duidelik dat die 24 jarige Johannes Pretorius nie meer as adelbors beskou is nie. Daar is waarskynlik spoedig besef dat hy as gevolg van sy skoolopleiding en familie-agtergrond as student en predikantseun 'n meer verantwoordelike maatskaplike funksie in diens van die V.O.C. kon vervul. Die feit dat hy pas nadat hy ongeveer drie maande vantevore as adelbors in die Kaap aangekom het, as sekunde vir Mauritius oorweeg is, spreek van 'n herwaardering en besef van die groter moontlikhede wat hy vir die V.O.C. se Kaapse bestuur en nedersetting ingehou het.

Jacobus Granaet het ook berig dat, nadat die 'Hoog Caspel' die garnisoen op Mauritius tot sewentien man versterk het, hulle Mauritius op 11 September 1666 verlaat en op die 26ste van dieselfde maand Madagaskar bereik en anker gegooi het in die baai van St Augustinus. Hierna het hy volledig berig oor die mense en die natuuromstandighede van Madagaskar. Met die 'Hoog Caspel' se aankoms in die Kaap is ook van opperhoof Wreede van Mauritius die tweede en breedvoerige verslag oor die besoek van die 'Hoog Caspel', en die heersende omstandighede daar in ontvangs geneem. (26) In die verslag het Wreede die aankomsdatum van die 'Hoog Caspel' op 30 Julie 1666 op Mauritius bevestig. Vir die eerste keer is vermeld dat die skipper van die 'Hoog Caspel' wie se magte deur die boekhouer Granaet in twyfel getrek is, Jan Anthonisz Haemstede was. Oor die aankoms van die betrokke persone het hy soos volg berig: "Die here Smient, Granaet, die skipper en Pretorius is volgens u opdrag met hulle aankoms onder my dak geherberg en opreg getrakteer." Hy meld verder dat hy graag sou wou gesien het dat die skipper 'n vriendeliker houding teenoor hom kon ingeneem het sonder om sy, Wreede, se gedrag voor sy manskappe te ondermyn deur hom te verkleineer deur te sê dat hy, Wreede, as "een lompen adsistendt" in diens van die Kompanjie "geen dienst gedoen" het. Hy het egter vertrou op die "volcomen getuijgenis" ("so sij willen") van Messeurs Sr Granaet en Sr Smient oor sy doen en late op die eiland. (27)

Oor Johannes Pretorius het hy geskryf: Die voorlopige assistent Johannes Pretorius wat soos 'n "fraeij en stil borst (jonkman)" voorkom, sal volgens u opdrag, in diens geneem word. Ongelukkig vind ek dit raadsaam om hom vir eers nie as my ‘tweede persoon’ aan te stel nie aangesien hy nog te jonk en onervare is om ingeval van vele sake, opdragte te gee aan so baie persone ("ouwe gasten"). Daarenteen is Jan van Laer 'n besondere ("naerstich") getroue Kompanjiesdienaar, tot so 'n mate dat indien nodig ek veel daaroor kan berig. Die skipper, die here Smient en Granaet, sal egter van sy bekwaamheid kan getuig en met min moeite kan bevestig dat Van Laer 'n getroue en standvastige dienaar kan word. (28) Hieruit blyk die rede vir Johannes se aanstelling as sieketrooster op Mauritius. Hoewel hy deur die Kaapse bestuur geskik gevind is om die funksie van sekunde op Mauritius te vervul, was die destydse opperhoof Wreede tevrede met die goeie dienste van die bestaande sekunde, Jan van Laer, wat waarskynlik reeds sedert 1664 een van die opperhoof Nieuwland se manskappe op die eiland was. (29) Die bedoeling van die Politieke Raad was duidelik. Indien die bestaande opperhoof Wreede iets sou oogekom het, moes Smient en Pretorius wat na Mauritius gestuur is, die bestuur van die eiland as opperhoof en sekunde oorneem. Soos sake verloop het, was Wreede nog in bevel van die eiland en moes die jong Pretorius agterbly en tevrede wees met sy status en nuwe funksie as sieketrooster, terwyl die 'Hoog Caspel' met "vaendrich" Dirck Jansz Smient en die boekhouer Jacobus Granaet veilig na die Kaap teruggekeer het. Hoewel Wreede in die verslag van 1666 aan die Kaapse Kommandeur gekla het oor die gedrag van die skipper van die 'Hoog Caspel' en die wens uitgespreek het dat hy self graag van sy pos ten gunste van Smient onthef sou wou wees, het hy in 1666 egter as opperhoof van Mauritius aangebly. (30) As gevolg van hierdie omstandighede was Johannes Pretorius se eerste opdrag en funksie op Mauritius dus slegs dié van sieketrooster.

Intussen het kommandeur Cornelius van Qualenbergen op 27 September 1666 die bewind aan die Kaap van kommandeur Wagenaer wat op eie versoek weens gesondheidsredes van sy pos afstand gedoen het, oorgeneem. (31)

Ook is daar op 4 Julie 1666 in die Kaap die loods op die terrein van die nuwe Kasteel as nuwe kerkgebou vir 'n duisend toehoorders ingewy, (32) terwyl in Europa Nederland die oorhand in die see-oorlog teen Engeland begin kry het. (33) Die gevolg van laasgenoemde was 'n opdrag van die Here XVII dat die werk aan die nuwe Kasteel voorlopig gestaak moes word. (34)

Op 30 Junie 1667 (35) net voor die finale vredesonderhandelinge tussen Nederland en Engeland by Breda, (36) is Pieter van Meerhoff, die bekende ontdekkingsreisiger, chirurgyn (37) en voormalige opsiener van Robbeneiland (38) deur die Politieke Raad van die Kaap opgedra om met 'n fluit, die 'Westwout', na Mauritius en Madagaskar te vaar. Van Meerhoff se ander opdrag was, om na die besoek aan die twee eilande ook die naby geleë Afrika-kus met die oog op ruilhandel te verken.

Sover dit die reëlings vir die besoek aan Mauritius en Madagaskar betref, is die opdragte op 10 Julie 1667 breedvoerig deur die kommandeur Cornelius van Qualenbergen uiteengesit. (39) Die 'Westwout' moes eers na Robbeneiland vaar om die bagasie van Van Meerhoff op te laai, en dan wag vir die 'Poelsnip' sodat beide tegelyk op die tog kon vertrek. Dit blyk dat die Politieke Raad deeglik bewus was van die moontlike gevare wat hierdie opdrag vir Van Meerhoff en sy skipper ingehou het. Wie tydens die reis in bevel sou wees is duidelik vir Van Meerhoff en die skipper van die 'Westwout', Anthonie van Vollenhoven, uitgestippel. Vir die doel is die vorige jaar se vaarplan van die 'Hoog Caspel' aan die twee aanvoerders oorhandig. Hulle moes die volgende op Mauritius doen: Die voorrade van die Kaap moes afgelaai en die voorbereide ebbehout saam met ander houtsoorte ingelaai word. Indien die opperhoof, Wreede, hulle hulp nodig sou hê, moes hulle hulself tot sy beskikking stel om sake op die eiland in orde te bring. Opdrag is ook gegee dat niemand van die eiland ontslag mag kry nie, tensy sy tyd volledig uitgedien was. Indien opperhoof Wreede intussen dalk gesterf het, moes hulle alles sorgvuldig ondersoek. As hulle dan sou vind dat Jan van Laer, die sekunde, sy taak met voldoende geesdrif en toewyding verrig het, moes Van Laer as opperhoof aangestel word. Indien Van Laer om een of ander rede nie beskikbaar sou wees nie, moes Pretorius die opperhoofskap oorneem met korporaal Haegens as sy sekunde of 'derde'. Vir hierdie rede is die naam van die opperhoof uitgelaat sodat dit daar ingevul kon word. Hieruit word dit weer eens duidelik dat, ten spyte van Johannes Pretorius se jeug, die Politieke Raad aan die Kaap heelwat vertroue in hom gestel het om hom in die bestek van so 'n kort tyd, te oorweeg vir die oorname van die verantwoordelikheid vir die garnisoen op Mauritius. Sover dit hulle betref, en in ag genome die heersende omstandighede daar, het hulle hom beskou as iemand met die vermoëns om die opperhoofskap oor te neem. In die breedvoerige opdrag van Van Meerhoff was daar ook 'n versoek, naamlik om hulle vriendelik teenoor die inboorlinge te gedra. Hulle is gemaan om op hulle hoede te wees vir die Portugese aan die kus van Mosambiek.

Intussen is daar aan die Kaap per brief berig van die Here XVII ontvang dat vrede tussen Nederland en Engeland gesluit is. Dit sou eers op 24 April 1668 in werking tree. Om die rede moes hulle op hulle hoede bly en al die skepe van die vaderland wat na die Ooste onderweg was, in die hawe terughou om as beskerming te dien vir die verwagte retoervlote van Batavië en die Ooste. (40)

Na 'n reis van ongeveer agt maande het die 'Westwout' en die 'Poelsnip' op 27 Februarie 1668 weer na die Kaapse hawe teruggekeer. Die seereis het egter tragies vir Pieter van Meerhoff geëindig. Die 'Poelsnip' het op 25 Oktober 1668 van die eiland Mauritius vertrek en daar is berig dat hulle volgens opdrag die hawe van Antongil op Madagaskar vir ruilhandel aangedoen het. (41) Daar is Pieter van Meerhoff en agt van sy manskappe deur die inboorlinge vermoor. Verrassenderwyse het hulle met hulle saamgebring die opperhoof van Mauritius, Georgius Frederickus Wreede. Die garnisoen op Mauritius het intussen klagtes teen hom ingebring en daarom het Van Meerhoff en Van Vollenhoven dit goed gedink om hom liewer van die eiland te verwyder. (42) In die plek van Wreede het hulle toe vir Jan van Laer as waarnemende opperhoof aangestel. (43) Hy het dit gebly van 23 Oktober 1667 tot op die laaste dag van sy "joernael of daghregister" gedateer 13 September 1668. Hierdie interessante dagregister is 'n waardevolle, volledige weergawe van die weersomstandighede en die doen en late van die garnisoen op Mauritius. Dit strek oor 'n tydperk van bykans 'n volle jaar. Hieroor word later berig. (44) Kommandeur van Qualenbergen is uit die V.O.C. se diens ontslaan. Daar is besluit om Jacob Borghorst in sy plek in die Kaap aan te stel. Die rede vir hierdie besluit van die Here XVII op 20 November 1667, is dat kommandeur Van Qualenbergen blykbaar op 'n onverantwoordelike wyse die Franse admiraal en onderkoning De Montdeverque en sy vloot, in die Kaap ontvang en onthaal het. Die rede vir hulle kommer was dat die Frans-Oos-Indiese Kompanjie onder Colbert 'n belangrike konkurrent kon word, terwyl Van Qualenbergen die Franse skepe vermoedelik beter behandel het as die van die Kompanjie. Op 18 Junie 1668 het die nuwe kommandeur, Jacob Borghorst, die teuels van die Kaapse bewind van Cornelius van Qualenbergen oorgeneem. (45)

In die dagregister van Jan van Laer is daar dikwels na Johannes Pretorius verwys. (46) Van belang is dat die waarnemende opperhoof Van Laer by twee geleenthede na hom verwys het as "mijn tweede persoon Joannus Pretorius". (47) Hy het dus gedurende die tydperk opgetree as sekunde ooreenkomstig die opdrag van die Kaapse Politieke Raad.

Oor die viering van Kersfees 1667, waartoe Johannes Pretorius as sieketrooster waarskynlik ook 'n bydrae gelewer het, is soos volg deur Jan van Laer berig: "Vrydag 23 Desember 1667. Stuur die bootjie (chaloup) na Cronenburgh om die ebbehoutkappers te haal om die salige geboorte van onse Heer Jesus Christus te vier. Saterdag 24 ditto. Mooi weer met 'n suidweste wind. Teen die aand keer die bootjie van Cronenburgh met die ebbehoutkappers terug. Sondag 25 ditto en Maandag 26 ditto. Aangename weer. Vier hierdie dae die nuut gebore Koning ter ere."

'n Interessante voorbeeld van 'n daaglikse werksopdrag van Johannes Pretorius was dié van Maandag 13 Februarie 1668. Dit is in die dagregister soos volg opgeteken: Maandag 13 ditto. 'n Suide luggie met aangename weer. Signeur Pretorius reis met die bootjie na die rusplek op Cronenburgh waar hy teen die aand aankom. Daar word gevind dat die huis van die ebbehoutkappers op die 9de van die maand deur die wind van sy fondamente afgewaai is. Op dieselfde plek was die aarde dieper as 'n manslengte weggespoel sodat geen oorblyfsels van die huis te vinde was nie. Gevolglik was al die manskappe genoodsaak om na die hoërliggende omgewing te vlug. Omdat die water hulle skielik oorval het, het hulle die rys, kiste en slaapgoed agtergelaat. Toe die weer die volgende dag bedaar, het die werkers ("volck"), nadat hulle van hul goedere opgesoek het, op bevel van korporaal Haegens om hulle te help, vier tot vyf huggies met 'n kombuis opgerig.

‘n Mooi beskrywing deur Van Laer van die bedrywighede op die eiland gedurende 'n gewone werksdag is soos volg in Februarie 1668 opgeteken: "Dinsdagh 21 en ditto Heete sonnenschijn; liet enige timmerhoudt tot de coestal cappen en uijt 'et bos slepen; de metzelaer was besigh aen de smitswinckel, en de smit aen 't spijker maeken, alsmede den scheepstimmerman besigh om 't vaertuigh te repareren; 's achtermiddags ging neffens Monsieur Pretorius om een coebeest te schieten naer de vierde bhaeij, 't welck wij nae wens bequamen".

'n Interessante insident wat redelik breedvoerig in hierdie dagregister beskryf word, is 'n persoonlike botsing op Vrydag 4 Mei 1668. Dit het plaasgevind tussen Johannes Pretorius en een van die houtkappers, "eenen Jan Westphaelen van Straelsondt (die daer bladren sleepte en om sijn stoute woorden van Monsigneur Pretorius een wel verdiende rottingslagh hadde ontfangen) sigh met grote stoutigheijt met ontsien hadde tegens hem te opposeren, hem om de middelin vliegende dreijgende hem met een clipsteen de kop in te slaen en in't voetsandt ter neder te storten, zwerende dat hij het hem soude betaelen, em 't zelve wreecken". Jan Westphaelen het met sy aanklag teen Johannes Pretorius voortgegaan en beweer dat "signeur Domine Pretorius heeft mij onlanx tot mijn onschult (so hij meijnde) geslagen; ghij zult mij daerover recht doen, off zal mijn eijgen rechter wesen". Die gevolg hiervan was dat Jan Westphaelen na 'n nabygeleë eiland verban is. Hy moes daar bly totdat 'n skip hom terug Kaap toe kon neem om daar gestraf te word.

Die verhaal word voortgesit deur by te voeg hoe Carsten Jansz van Onsensiel by die voortvlugtende Jan Westphaelen aangesluit het. In die skemeraand van Dinsdag 5 Junie 1668 is die twee weglopers in 'n lokval gelok. "Daarop slaan ons toe met die doel om hulle gevange te neem. Die een skelm, Carsten Jansz van Onsensiel, word met pistole gewond en gevange geneem terwyl die regte een wat die oorsaak van die moeilikheid ("werck") is, ontsnap het. Die pasiënt word na die hut ("logie") gebring en deur die chirurgyn verbind". Die volgende dag is aan die baasebbehoutkapper en vier manskappe opdrag gegee om "naer 't Cronenburghse bosch om aldaer Jan Westphaelen die (volgens 't seggen van sijn macker) aldaer sigh ophoudt, op te soecken". Op Sondag 10 Junie 1668 het die manskappe teruggekeer sonder Jan Westphaelen, maar het die vermoede uitgespreek "dat hij naer de noordwester haven vertrocken is". Hier in die omgewing van die gebergtes van die noordwestebaai sou Jan van Westphaelen vermoedelik op 'n Engelse skip wag om van die eiland te ontsnap. Intussen het die chirurgyn Van Laer in kennis gestel dat die verwonde baie swak geword het en hy twyfel of hy van sy skietwonde sou herstel. Onmiddellik hierna het Pretorius en die baashoutkapper na die verwonde gegaan om by hom aan te dring om die waarheid te vertel waarom hulle op 31 Mei na die hut teruggekeer het en wat hulle daardeur in die mou gevoer het. Die pasiënt het met alle vrymoedigheid begin praat en vertel dat hulle gehoop het om nog meer manskappe in hulle plan te betrek. Volgens Van Onsensiel was die uiteindelike plan om, sodra 'n Engelse skip in die noordwestehawe aangekom het, die Engelse skipper behulpsaam te wees om die hele jaar se ebbehout in te skeep om sodoende die V.O.C. se garnisoen te ruineer. Die reaksie van die aanhoorders was "welche woorden en boos voornemen ons alle seer dede versckricken doch zal (so 't mogenlijck is) hem (Jan Westphaelen) sulx beletten en de pas naer d' noordwesterhaven affsnijden".

Op Maandag 11 Junie 1668 is berig dat die gewonde gevangene, Carsten Jansz van Onsensiel, gesterf het en teen die aand begrawe is. Ook word op Saterdag 16 Junie 1668 berig dat korporaal Hendrick Haegens se soektog na Jan Westphaelen waaroor op Sondag 3 Junie besluit is, niks opgelewer het nie. Hy en sy vier manskappe het gerapporteer dat in die Engelse Baai en noordwestelike hawe asook in die nabygeleë berge geen teken van Jan Westphaelen was nie, en dat hulle ook nie kon vasstel of daar gedurende die jaar enige Engelse skepe in die baai was nie. Op Maandag 16 Julie 1668 is die korporaal (Haegens) en twee manskappe toegerus om die eiland te gaan deursoek vir die voortvlugtende Jan Westphaelen sodat hy dan geboei "in handen van d' Justitie aen Cabo de Boa Esperaence mogte overgelevert werden".

Op Dinsdag 24 Julie "omtrent 4 uijren in den avondt", het hierdie soekgeselskap teruggekeer sonder enige teken van Jan Westphaelen. Kort hierna het kaptein Dirck Jansz Smient op die eiland aangekom om die waarnemende opperhoofskap van Van Laer oor te neem. Hierna is nie verder in die dagregister na Jan Westphaelen verwys nie. Eers later is daar in verslae van Smient en Wreede (kort voor die vertrek van Johannes Pretorius terug na die Kaap) weer na hom verwys.

Op 18 Junie 1668, twee dae na sy aankoms aan die Kaap, het Van Qualenbergen die bewind in opdrag van die Here XVII aan die nuwe, maar sieklike kommandeur Borghorst oorhandig. Dieselfde aand en waarskynlik tydens 'n byeenkoms van die Politieke Raad is "vaendrig" Dirck Jansz Smient eenparig tot nuwe Kommandeur op Mauritius verkies. Hy is aangesê om op 30 Junie met die 'Poelsnip' na Mauritius te vertrek. (48)

Op 27 Junie was "almal besig" om die 'Poelsnip' te laai met die jaarlikse voorraad vir Mauritius, terwyl die skipper ook opdragte vir die reis ontvang het. (49) Gedurende die nag van 29 Junie 1668 en met die beste wense van die nuwe Kommandeur het die' Poelsnip' na Mauritius vertrek. (50)

Die aankoms van die 'Poelsnip' op Mauritius is deur Van Laer met groot vreugde en blydskap begroet. Op Maandag 13 Augustus 1668 berig Van Laer "buijigh weer" en met die wind uit die suidooste dat 'n seil tot hulle groot blydskap gewaar word. Hierna word 'n vaartuig aan wal gehaal en die aankomende skip tegemoet gevaar. Aan boord die skip word verneem dat dit die hoeker, die 'Poelsnip' van die Kaap die Goeie Hoop is, wat deur die Kommandeur daar, Jacob Borghorst, gestuur is om die behoeftiges te voorsien. Die persone wat gestuur was om hulle te besoek, was Dirck Jansz Smient, die skipper Cornelis Philipsz, en die boekhouer Monsieur Belt. (51) Hy berig ook dat wynstokke en patats saamgebring is en in voorbereide grond geplant is. Op Donderdag 16 Augustus 1668 word al die Kompanjie se goedere wat onder Van Laer se toesig was, aan die "vaendrig" Signeur Dirck Jansz Smient oorhandig. (52) Dit is duidelik dat Van Laer hiermee die bewind op Mauritius aan kaptein Smient oorhandig het. Jan van Laer het sy laaste inskrywing oor Mauritius in sy dagregister op Donderdag 13 September gemaak. Hy eindig sy interessante en getekende dagregister soos volg: Die gekapte koesynhout word vandag aan boord gebring en ons eet die middag die afskeidsmaal saam. (53) Die jaarlikse besoek en besending uit die Kaap het waarskynlik nie net vreugde en dankbaarheid oor die voorraad en proviand gebring nie, maar het ook die hoop versterk dat na verstryking van bepaalde persoon se dienstydperk hy afgelos kon word van die afgesonderde, en waarskynlik by tye, vervelige lewe op die eiland. Moontlik was dit die geval met Jan van Laer wat reeds vier en 'n half jaar diens aan die V.O.C. op Mauritius gelewer het. (54)

Twee dae na Jan van Laer se laaste inskrywing in sy dagregister, op 15 September 1668, het die 'Poelsnip' met Van Laer aan boord, Mauritius verlaat en veilig op 15 Oktober 1668 by die Kaap aangekom. Die Kaapse Joernaal het ook berig oor die lotgevalle van die medepligtige, Carsten Jansz (van Onsensiel) wat na sy verwonding en gevangeneming, sy wondbedekking

 

VELH, NR. 150, AFDELING KAARTEN EN TEKENINGEN ALGEMENE RIJKSARGIEF DEN
HAAG

Hierdie kaart nr. 150 wat die Cabo Bona Esperanca (Kaap de Goede Hoop), die ligging van die Mascarenha (Reunion), Mauritius (Cierne) (met 'n pyl aangedui) en Rodriques eilande en Batavia in die verre Ooste aantoon is aan die agterkant "Oost Indijen 75y (?1675) gemerk. Dit is egter opvallend soortgelyk aan nr. 147 wat "1674 bij (deur) Joan Jansz. Bleau" agterop gemerk is. Dit kan volgens die ooreenkoms heel moontlik net 'n meer duidelike en 'n kleur-afgetekende kaart van 147 wees.

met 'n "donderent gemoed" voortdurend afgetrek het, waarna hy oorlede is. Ook was Jan van Westphaelen nog op vrye voet. Jan van Laer het in die Kaap op 4 Desember 1668 'n bykomstige verslag oor sy ervaringe op Mauritius onderteken. (55)

Soos gewoonlik het 'n jaar verloop voordat in 1669 besluit is oor die volgende reis na die garnisoen op Mauritius. Die naam van onderkoopman Georgius Frederickus Wreede het weer na vore gekom. Hy was van Duitse afkoms, was 'n geruime tyd reeds in die Kaap, en het ontdekkingsreise saam met Pieter van Meerhoff in die tyd van Jan van Riebeeck onderneem. Die eerste Latyns-Hollands-Hottentotswoordeboek het vroeër reeds (met min entoesiasme aan die kant van die V.O.C.) onder sy naam aan die Kaap verskyn. Hy het na twee jaar van afwesigheid op Mauritius en sy terugkeer na die Kaap in 1667, vermoedelik na Holland verhuis. Vandaar het by verdere ontdekkingsreise ter see vir die V.O.C. onderneem voordat by weer na die Kaap teruggekeer het. (56) Intussen het berigte die Kaap bereik dat die Franse Oos-Indiese Kompanjie Madagaskar wou verlaat om 'n vastrapplek aan die Kaap, en wel moontlik op Saldanhabaai, te probeer vind. Aangesien Wreede reeds met Saldanhabaai bekend was, is hy eers aangestel as leier van 'n groep manskappe wat in aller haas daarheen gestuur is om enige bedreiging die hoof te bied. Jeronimus Croese is per land met die manskappe vooruit gestuur. Aangesien Wreede intussen reeds as "opperhooft apparent" aangestel is, en weens die bedreiging van Saldanhabaai, moes die voorgenome reis na Mauritius uitgestel word. (57)

Die 'Lepelaar' is gekies vir die heen-en-weer reis, maar is verassenderwyse in die Kaapse hawe gekaap terwyl die bemanning besig was om voorrade vir die eiland in te skeep! (58) Gevolglik is daar besluit om die klein jag, die 'Voerman', te gebruik vir die reis na Mauritius. (59) Op 3 Augustus 1669 het die 'Voerman' met voorrade en met die nuwe, vorige opperhoof van Mauritius, uit die Kaap vertrek. Die Politieke Raad was terdeë daarvan bewus dat die keuse van die jag ietwat van 'n waagstuk was, maar hulle was daartoe genoodsaak weens dringende politieke omstandighede en die weer. Hulle was dus haastig om voorrade na Mauritius te stuur .(60)

Georgius Frederickus Wreede het drie weke na sy tweede aankoms op Mauritius soos volg oor hierdie seereis berig: "Ons het op 3 Augustus 1669 van die Kaap geseil en met groot lyding en marteling eindelik met groot blydskap en behouden ("Godt hebbe loff") in die suidoostehawe op die eiland Mauritius op 17 Oktober, aangekom. Daar is opperhoof Dirck Jansz Smient, sy familie en die onderdane in 'n goeie toestand aangetref. Hierna is die klein jag se goedere afgelaai en volgens die behoeftes en opdragte uitgedeel. (61)

Dit blyk dat na ongeveer drie jaar en drie maande se verblyf Johannes Pretorius van plan was om Mauritius te verlaat. Hy het die begeerte onomwonde, en om verskeie redes aan die bestuur waarvan hy lid was, bekend gemaak. Tydens 'n vergadering op 1 November 1669 is verskeie ambagsmanne en soldate weens die verstryking van hul dienstyd, maar ook op eie versoek, van hulle diens op Mauritius onthef. Johannes Pretorius het tydens hierdie vergadering gesê dat hy, na verskeie reise (bedoelende waarskynlik na die Kaap en. Mauritius) daarop aandring om ontslag te kry. Die notule meld dat hy nie bereid was om langer daar te bly nie, selfs nie vir 'n verhoging van salaris na 15 guide per maand nie, ook nie vir bevordering in status na "adsistendt" nie. Hy wou nie "naer eenig verbant luijsteren", ten spyte van die vergadering se vertroue in sy bekwaamheid en omrede hy wel "seer gemist can werden". Vermoedelik sou sy afwesigheid en die leemte wat dit sou laat, iets te doen hê met die versoek van die heraangestelde nuwe opperhoof Wreede, in sy brief aan die Kaapse Goewerneur om "dien volgens U Edelen gelieven ons toekomende met een goeden schrijver en boeckhouer te voorsien". (62) Die verhaal van Jan Westphaelen en Johannes Pretorius eindig in dieselfde vergadering met die volgende resolusie aan die Kaapse Goewerneur: "So is ook met goeie oorleg oor die sake van die voortvlugtende Jan Westphaelen gesprek gevoer, maar die saak nie van sodanige belang gevind soos wat deur Van Laer en Pretorius gemeld is nie. Toe hy verneem het dat 'n nuwe opperhoof (Smient) aangekom het, het hy uit sy eie by die hut ("logie") opgedaag om hom oor sy ongeluk en onskuld te bekla. Weens bogenoemde rede en deur 'n belofte te maak om voortaan die Kompanjie getrou te dien, sal dit dien om andere wat so iets wou aandurf, af te skrik. Daar word besluit om hom voorwaardelik en op verdere opdragte van die Kommandeur vry te stel. Hy sal soos ander getroue dienare van die Kompanjie sy besoldiging ontvang nadat hy teruggekeer het". (63)

Op Maandag, 9 Desember 1669, het die 'Voerman' na 'n reis van 'n volle maand in Kaapstad aangekom. (Wreede se verslag is .op 8 November 1669 geteken). Aan boord was die voormalige opperhoof, Dirck Jansz Smient en sy familie, asook Johannes Pretorius en ander amptenare. Die aankoms van die 'Voerman' is soos volg in die Resolusies van die Politieke Raad aangeteken: "Soo als gisteren tot ons aller blijtschap 't galjootje de 'Voerman", met et verloste opperhooft den vaendrigh Dirck Jansen Smient, en d' ordinarie Mauritiusse retouren van daar (Gode sij loft) seer geluckigh alhier paresseerde". (64) Volgens kaptein Smient se verslag by sy aankoms in die Kaap, het dit gedurende die vorige jaar heelwat voorspoediger op die eiland verloop. Daar was weer 'n oormaat ebbehout en drie uitstekende paaie is gebou om die hout van die plantasies met waens na die hawe te vervoer. Die tyd wat verspil is om die stompe te dra, is dus beter benut met die kap van meer ebbehout. Die klein jag, die 'Voerman', kon ongelukkig nie al die beskikbare ebbehout na die Kaap inskeep nie. (65) Hierdie inligting word breedvoerig in die brief van 8 November 1669 van kommandeur Wreede bevestig, wat hy aan die Kaapse Goewerneur en die Here XVII in Amsterdam gerig het oor die toestand op die eiland soos hy dit in 1669 met sy aankoms gevind het. (66)

Johannes Pretorius het sy verblyf en waarnemings op Mauritius afgerond deur 'n volledige en breedvoerige verslag te skryf. Dit handel oor die natuurlewe om en op die eiland en oor die stand van die Kompanjie se belange met die ebbehoutvoorraad en die tuinaanleg met die oog op die eiland se selfonderhouding. Hy eindig sy verslag met selfversekerdheid en stel die vraag of die eiland selfstandig kon bestaan of nie. "Dusdanigh, mijns bedunkens, daer ende naekt (nadat ek) de gelegentheijt ende constitutie van 't Eijland Mauritius, (volgens U Edts begeeren) voor oogen gesteldt zijnde, rijst nu de vraege off 'er uyt zijn selven bestaan can off niet?" Hy beantwoord die vraag dan self: "Voormy, ordeele [oordeele], dat, schoon daer bij gelegentheijt een jaar een schip achterbleve, men victualie 's (van voedsel voorsien) wegen voor 't Eijland Mauritius in geenen deele behoeffde bekommert te zijn, also d' rijst wel soude connen gemist werden, maer evenwel niet voor altijt. in 't jacht de Voerman desen 15 december anno 1669."

Nadat hy die geleenthede en omstandighede van die eiland Mauritius in oënskou geneem het, en ofskoon daar jaarliks voorraad na Mauritius van die Kaap gestuur word, is daar geen rede tot kommer oor die selfvoorsienendheid van die eiland nie, hoewel rys-aanvoer slegs tydelik maar nie vir altyd gemis kon word. Hierdie verslag het Johannes Pretorius op 15 Desember 1669 op die jag, die 'Voerman', in die Kaapse hawe onderteken. Hiermee het sy verblyf en taak op Mauritius op 'n end gekom. (67)

PLATE 104: "T EYLANDT, MAURITIUS"

MAURITIUS - UIT DIE GEHEIME ATLAS VAN DIE OOS-INDIESE KOMPANJIE (VOC) c. 1670

Monumenta Cartographica F.C. Wieder Algemene Rijksargief Den Haag

Hierdie reproduksie is Kaart 104 uit Monumenta Cartographica deur F.C. Wieder (Afdeling Kaarten en Tekeningen Algemene Rijksargief den Haag GF 87-55). Dit is 'n reproduksie uit die Atlas van Prince Eugene van Savoy, Vol. XXXVIII, no. 24, Weense Nationale Biblioteek. Volgens die beskrywing op pp. 163-164 van Kaart 104 in Monumenta Cartographica is die kaart in alle waarskynlikheid om en by die tyd van Opperhoof Dirk Jansz. Smient saamgestel. Vandaar die verwysing na Smientenrivier en ook die Cronenburg wat hiervolgens gedurende Smient se opperhoofskap gevestig is. (Daar word egter reeds voor Smient se opperhoofskap na die Cronenburg verwys.

Hierdie is 'n seekaart van die kuste van Mauritius terwyl die binneland aanskoulik ingevul is met berge, ebbehoutplantasies en die vangs van 'n wilde koei. Binne die 'Zuidooster Haven' is die vierhoekige Fort Hendrik wat reeds in 1630 gebou is en wat in 1642 en 1665 herbou is. Die kaart is ook waarskynlik geteken met gegewens wat deur 'n uitgebreide toer van die eiland deur Gooyer, die eerste Opperhoof van die eerste Hollandse besetting (1638-1656), verkry is. Sommige plekname waarna in die artikel verwys word, word op die Kaart aangedui: "Smienten Rivier", "Calappes (Klappus) Eijlanden", "Het gat van de Zuijdooster Haven, "Het Fort", "Vierde valaije", "de groote Rivier", "Cronenburger gat en Eijlanden daar voor opgeset is", "de noordt wester Haaven

Byskrifte:

KUSLYN (SEEKANT)

* De fenynigehoek
* Smienten Rivier
* Ebbenhouts Baij
* Suijder Rivier door de Fransman sijn schip bergde
* Calappes Eijlanden
* Het gat van de Zuijdooster Haven
* Cleijne Eilanden leggende voor de Zuijdooster Haven
* Ooster gat
* Cronenburger gat (eiland(e))
* Slaapers Haaven
* Haaven voor de Sloep
* Hier Lagh het gheschut, Bestaande in Tien ijsert stucken, daar den fransman de metale heeft ghehaalt
* Mieuwen Eijlanden
* De drooght Hoeck
* Een Zee gat
* Palmijt Eijlanden
* De Ree ofte Anckerplaats van het Jacht
* Een Zee gat
* Verkens Baij
* de Vuijle Hoeck
* Schilpadts Baij
* Pieter Bots Baij
* De noordt wester Haaven
* De waterplaats
* Sandt Baij
* Hier Leijt Een Ancker Swaar omtrent, 3.a.4000. pont
* Hier Leijt 't gheschut van den Generael Bot
* De Molucker Ree
* De Koebeeste Baij

KUSLYN (BINNELAND)

* Dootkist
* Heemskerke Eijlandt
* Twee versche Rivierkens
* Het Fort -
* Eerste valaije -
* Tweede valaije -
* Derde valaije
* Vierde valaije
* de groote Rivier
* Eijlanden daarvoor opgeset is
* Uithoek met baare klippen
* Roorivier
* Ambers Eijlandt -
* De Hout hackerije

PLATE 104: "T EYLANDT, MAURITIUS"

Behalwe die bekende en reeds deels gepubliseerde verslae oor die vroeë tydperk van die tweede Nederlandse besetting van Mauritius (1664-1710) deur die boekhouer Jacob Granaet (1666) en Jan van Laer (1668), is hierdie verslag van Johannes Pretorius 'n voorheen onbekende toevoeging tot ons kennis van die eiland. Sy status op Mauritius het moontlik by tye onsekerheid by hom laat ontstaan. Dit het verander namate nuwe opperhoofde in die tyd tussen 1666 en 1669 daar opgedaag het. Dit het gewissel van sieketrooster tot sekunde. Net voor sy vertrek van Mauritius is hy 'n assistentskap aangebied, indien hy sou wou aanbly. Op 'n keer is by selfs voorgestel as moontlike opperhoof van die eiland.

Na sy driejarige verblyf op Mauritius en by sy terugkeer het die Politieke Raad aan die begin van 1670 oor Johannes Pretorius besluit dat hy, wat omtrent vier jaar as tweede persoon (sekunde) en voorlopige assistent op die eiland Mauritius was, daar goeie diens gelewer het. Hy is toe, soos voorheen, ernstig versoek om in die hoedanigheid van assistent met 'n besoldiging van 20 guide per maand heraangestel te word, mits hy sal onderneem om 'n tydperk van nog drie jaar vir die Kompanjie diens te lewer. (68)

Hierdie inligting oor sy bevordering aan die Kaap spreek boekdele. Dit is 'n verdere aanduiding van die aansien wat Pretorius nou as lid van die "secretarije" geniet het. (69) Andersyds was die tydperk op Mauritius vir die byna 28 jarige Pretorius waarskynlik 'n harde, maar goeie skoling nie net vir sy volgende taak en opdrag as assistent in die Kaap se "secretarij" nie, maar die ondervinding het hom goed te pas gekom vir sy rol as vryburger en landsburger wat sitting in bestuursliggame gehad het. Dit het van horn 'n gesiene persoon en leierfiguur in die Kaapse samelewing gemaak. (70)

Wat die lewensloop van sommige van die ander persoonlikhede gedurende Johannes Pretorius se verblyf van 1666 tot 1669 op Mauritius betref, is die volgende inligting bekend.

"Vaendrig" Dirck Jansz Smient wat oorspronklik van Groningen afkomstig was, is in die Kaap met Annatje Jansz getroud. In 1666 was hy die jongste "vaendrig" aan die Kaap, en met sy terugkeer vanaf Mauritius in 1669 was hy reeds dertien jaar in diens van die V.O.C. Na sy opperhoofskap op Mauritius in 1670 het hy vryburger geword. (71) In September 1674 kruis sy pad weer met Johannes Pretorius toe hy sy eiendom in die Kaapse Vallei aan Pretorius (wat in daardie jaar vryburger geword het) verkoop. (72) Hierna het hy weer voltyds in diens van die Kompanjie getree en is hy in 1676 tot kaptein en bevelvoerder van die Kaapse troepe bevorder. Hy het ook terwyl hy in 1676 sekunde was, as kommandeur aan die Kaap waargeneem. Teen 1680 het by na Nederland teruggekeer, waarna
geen verdere inligting oor hom bekend is nie. (73)

Die veelsydige Georgius Frederickus Wreede het 'n tragiese einde op Mauritius gehad. Wreede, wat in 1665 by Grand Port die bouwerk van 'n nuwe fort op Mauritius gelei het, wou in 1672 'n besoek aan die naburige eiland Ile Plate, bring. Weens 'n oormaat drank het by 'n oordeelsfout begaan toe by besluit het om tydens 'n storm na die eiland te probeer vaar. Hy het verdrink. (74)

Oor die latere loopbaan van die boekhouer Jacob Granaet, en waarnemende opperhoof Jan van Laer, is niks bekend nie.

Sommige van die plekname wat in die verslae van Jacob Granaet (1666), Jan van Laer (1668), Wreede en Johannes Pretorius (1669) genoem word, kort moontlik verduideliking en opheldering. (75)

* Die Limoenbogaerd (lemoentuin) was op die plek van die huidige landgoed Ferney.

* Die Klappus of Kokoseilande is waarskynlik die eiland wat geleë is in die omgewing van die huidige Blou Baai (Blue Bay), of Hot Brocus wat verder langs die kus geleë is. Die kaarte is nie duidelik hieroor nie.

* Die Vuyle Bogt (Vile Bay) word nou die Poste de Flacq genoem.

* De Engelsche Reede (English Bay) blyk die huidige Tombeaubaai te wees, altans volgens die verslae van Granaet en Van Laer.

* De Pieter Both in Van Laer se verslag is vandag die Morne Brabant.

* Cronenburgh Eijland naby die mond van die "Grand River South East", is die huidige Ile aux Cerfs (Takbokeiland).

* Die Fort verskyn op die kaarte as Fort Frederick Hendrik en was naby die huidige Vieux Grand Port.

 

Verwysings

1. G.S. Preller: Andries Pretorius, (Johannesburg 1937), p. 14; C.C. de Villiers en Pama: Geslagregisters van die ou Kaapse Families II, (Kaapstad 1966), p. 732; J.A. Pretorius: Uitbreiding van die Geslagregister van die Pretorius-familie en ander mededelinge (ongepubliseerde artikel), RGN, Pretoria, 1970, pp. 3-13; Kaapse Argiefbewaarplek A2397

2. Algemene Geschiedenis der Nederlanden, VII, J. Kramer: De Europese Grote Mogendheid, 1648-1697, p. 141

3. C.F.J. Muller (red.): 500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis, (Kaapstad 1980), pp. 17 en 24

4. G.C. de Wet: Die Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting 1657-1707, (Kaapstad 1981), p. 15.

5. H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives of the Cape of Good Hope, Journal 1662-1670, 18.10.1665, p. 165.

6. A.J. Böeseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad II 1670-1680, 6.3.1670, p. 32.

7. Rijks Geschiedkundige Publicatien, Grote Serie 166, Dutch Asiatic Shipping in the 17th and 18th Centuries: 1979, Vol 2, Outward-bound voyages from the Netherlands to Asia and the Cape (1595-1794), Inleiding en pp. 150 en 151.

8. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 1.4.1666, p. 177.

9. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 15.4.1666, p. 178; 3.5 1666, p. 178; 3.5.1666, p. 180; 24.5.1666, p. 181.

10. A.J. Böeseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad II, 6.3.1670, p. 32.

11. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 2.1.1666, p. 169.

12. V.C. Reeks en Monsterrolle, Vol. 39, No. 2, 15.5.1666, p. 71; H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 11.4.1666, p. 177.

13. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 25.4.1666, p. 178.

14. Ibid., 29.4.1666, p. 179.

15. Ibid., 24.5.1666, p. 181.

16. A.J. Böeseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad 1, 1651-1669, 20.5.1666 pp. 348 en 349; George McCall Theal: Abstracts of the Debates and Resolutions of the Council of Policy at the Cape from 1651-1687, 20.5.1666

17. P.J. Barnwell and A.Toussaint: A short history of Mauritius, London 1949, pp. 3, 8, 9, 10, 17 en 19; P.J. Barnwell: Visits and Despatches, (Mauritius, 1598-1948), Port Louis 1948, p. 25.

18. C.F.J. Muller (red.): op. cit., p. 29.

19. P.J. Barnwell: Visits and Despatches, p. 35.

20. Ibid., p. 34

21. André de Chapuiset le Merle, F.R.G.S.: Precis d'histoire de Vile Maurice (xvii au xviii siecle), pp. 111 en 112.

22. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 20.10.1665, p. 162.

23. Ibid., 24 en 27.6.1666, p. 184.

24. Ibid., 10.11.1666, pp. 196-201; P.J. Barnwell: Visits and Despatches, p. 43; Algemeen Rijksargief, den Haag VOC 4001, pp. 775, 782-v, 783, Copie Missive door gemelte Opperhooft (Wreede) van Dato Dito (7 Sept. 1666) aen de Commandeur Zacharias Wagenaer geschreven.

25. C.F.J. Muller (red.): op. cit., p. 29.

26. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4001, pp. 775 en 786: Copie Missive door gemelte Opperhooft (Wreede) van Dato Dito (7 Sept. 1666), aen den Commandeur Zacharias Wagenaer geschreven.

27. Ibid., pp. 781-v, 782. Vertaling deur Prof FJ Pretorius.

28. Ibid., pp. 782-v, 783.

29. P.J. Barnwell: Visits and Despatches, p. 37.

30. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4001, p. 782: op. cit.

31. C.F.J. Muller (red.): op. cit., p. 38.

32. A.J. Boëseken (red.): Dagregister en Briewe van Zacharias Wagenaer, 1662-1666, 4.7.1666, p. 269.

33. Algemene Geschiedenis der Nederlanden, VII, J. Kramer: De Europese Grote Mogendheid 1648-1697, 31.7.1667, pp. 141 en 142.

34. A.J. Boëseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad 1, 23.5.1667, p. 353.

35. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 30.6.1667, p. 222.

36. Algemene Geschiedenis der Nederlanden, VII, J. Kramer: De Europese Grote Mogendheid 1648-1697, 31.7.1667, p. 143.

37. C.F.J. Muller (red.): op. cit., pp. 53 en 55

38. A.J. Boeseken (red.): Dagregister en Briewe van Zacharias Wagenaer, 19.5.1665, p. 199.

39. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 8.7.1667, pp. 223-225.

40. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 5.2.1668, p. 236.

41. A.J. Boëseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad I, 16.11.1668, p. 380.

42. H.C.V. Leibbrandt: op. cit., 27.2.1668, p. 238.

43. P.J. Barnwell: Visits and Despatches, p. 43.

44. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4003, p. 730 a 762: Journal of Daghregister gehouden by de Adsistendt Jan van Laer, provisioneel opperhooft van 't Comptoir Mauritius beginnende den 23 Oktober 1667 en eijndigend den 13 September 1668.

45. A.J. Böeseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad I, 18.6.1668, p. 372.

46. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4003, pp. 731, 734, 735, 736, 740, 741, 744, 748, 749, 752, 754, 761. Journaal of Daghregister gehouden by de Adsistendt Jan van Laer, provisioneel opperhooft van 't Comptoir Mauritius beginnende den 23 Oktober 1667 en eijndigend den 13 September 1668. Vertaling deur Prof FJ Pretorius.

47. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4003, pp. 735-v, 736. Journaal of Daghregister gehouden by de Adsistendt Jan van Laer, provisioneel opperhooft van 't Comptoir Mauritius beginnende den 23 Oktober 1667 en eijndigend den 13 September 1668.

48. H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives ..., Journal 1662-1670, 18.7.1668, p. 244.

49. H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives ..., Journal 1662-1670, 27.6.1668, p. 246.

50. H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives ..., Journal 1662-1670, 29.6.1668, p. 246.

51. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4003, 13.8.1668, pp. 759, 759-v. Journaal of Daghregister gehouden by de Adsistendt Jan van Laer, provisioneel opperhooft van 't Comptoir Mauritius beginnende den 23 Oktober 1667 en eijndigend den 13 September 1668. . Vertaling deur Prof FJ Pretorius.

52. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4003, 16.8.1668, p. 759-v. Journaal of Daghregister gehouden by de Adsistendt Jan van Laer, provisioneel opperhooft van 't Comptoir Mauritius beginnende den 23 Oktober 1667 en eijndigend den 13 September 1668. . Vertaling deur Prof FJ Pretorius.

53. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4003, 13.9.1668, p. 762. Journaal of Daghregister gehouden by de Adsistendt Jan van Laer, provisioneel opperhooft van 't Comptoir Mauritius beginnende den 23 Oktober 1667 en eijndigend den 13 September 1668. . Vertaling deur Prof FJ Pretorius.

54. H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives...,Journal 1662-1670, 25.10.1668, pp. 253 en 254.

55. H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives..., Journal 1662-1670, 15.10.1668, pp. 253 en 255.

56. P.J. Barnwell: Visits and Despatches (Mauritius, 1598-1948), Port Louis 1948, p. 34; C.F.J. Muller: 500 Jaar ..., pp. 38 en 53; H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives ..., Journal 1662-1670, 17.4.1669, p. 273; 25.4.1669, p. 274.

57. A.J. Boëseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad I 1561-1669, 1.5.1669, pp. 388 en 389.

58. H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives...,Journal 1662-1670, 18.6.1669, p. 282; 20.6.1669, p. 283; 23.6.1669, p. 283.

59. A.J. Boeseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad I 1561-1669, 15.7.1669, p. 393.

60. A.J. Boeseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad I 1561-1669, 5.8.1669, p. 393; H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives ..., journal 1662-1670, 15.7.1669, p. 292.

61. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4004, p. 519. Copie missive door 't Opperhooft en den Raet des Comptoirs Mauritius aen den Commandeur en Raet aen Cabo de boa Esperance gestelt, dato 8en November 1669 voor Amsterdam. . Vertaling deur Prof FJ Pretorius.

62. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4004, No 6, p. 516. Deliberaten en de Resolution in 't Comptoir Mauritius adij primo November 1669; Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4004, pp. 523 en 523-v. Copia missive door 't Opperhooft en den Raet des Comptoirs Mauritius aen den Commandeur en Raet aen Cabo de boa Esperance gestelt, dato 8en November 1669 voor Amsterdam. . Vertaling deur Prof FJ Pretorius.

63. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4004, No 6, pp. 517 en 517-v. Deliberaten en de Resolution in 't Comptoir Mauritius adij primo November 1669. . Vertaling deur Prof FJ Pretorius.

64. A.J. Böeseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad 1 1561-1669, 10.12.1669, p. 396

65. H.C.V. Leibbrandt: Precis of the Archives..., Journal 1662-1670, 9.12.1669, pp. 307 en 308.

66. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4004, pp. 519 a 526-v. Copia missive door 't Opperhooft en den Raet des Comptoirs Mauritius aen den Commandeur en Raet aen Cabo de boa Esperance gestelt dato 8en November 1669 voor Amsterdam. Copia de Boa Esperance.

67. Algemeen Rijksargief, den Haag, VOC 4005, No 8. Rapport van Joannes Pretorius. Geteken 15 Desember 1669 in 't jacht de Voerman, Cabo de Boa Esperance.

68. A.J. Böeseken (red.): Resolusies van die Politieke Raad I 1670-1680, 6.3.1670, pp. 31 en 32.

69. V.C. Reeks en Monsterrolle Vol: 39 No 2, 14.3.1670, p. 120.

70. G.C. de Wet: Die Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting 1657-1707, pp. 188 en 189.

71. A.J. Böeseken (red.): Memoriën en Instructiën I 1657-1699, p. 138 Verwysing 1.

72. C.T.D. (Transporten en Schepen Kennissen van April 1673 tot September 1674), Vol 6: T139, 1.9.1674, pp. 174-177.

73. P.J. Barnwell: Visits and Despatches (Mauritius 1598-1948), Port Louis 1948, pp. 34 en 35.

74. P.J. Barnwell and A. Toussaint: A short history of Mauritius, London 1949, pp. 17-19.

75. P.J. Barnwell: Visits and Despatches (Mauritius 1598-1948), Port Louis 1948, p. 37

Print Email