Surnames N to Q

POTGIETER Harmen Jansz

Die POTGIETER voorouers is deur Patrick van Griethuisen en Dr Ludwich Edel nagevors en terug gevolg tot by Bernd POTGEITER wat trou met 'n dogter van Heinrich KETELER. Hy kom van Essen, op die Ruhr, na Nordhorn wat in die Graafskap van Bentheim, Duitsland geleë is. In 1546 is sy naam in die Burgerboek daar ingeskryf en in 1577 word hy nog daar in 'n akte genoem. Sy skoonpa, Hynrich Keteler, of ook Kettel Hinrik genoem, woon omstreeks 1500 tot 1537 in Ossenhoek.

Dr Jordaan Potgieter volg die Potgieter naam selfs verder terug in sy navorsing tot by Hermann (1463), sy seun Gerhard (1493) en kleinseun Diederik (1541). Diederik sou dan ook die vader van Berndt hierbo wees.

 

Essen (in Duitsland) is tot vandag toe nog beroemd vir die Ysterwerke en was daardie tyd ook reeds baie bekend vir die pot- en ketelgieters wat daarvandaan kom. Dit gee waarskynlik vir ons 'n goeie leidraad na die oorsprong van die van POTGIETER.

 

Barend het sover bekend 3 kinders gehad. Kettel Hinrich POTGETER, of ook Kettelhinrich genoem, wat trou met Fenne HILLERINCK wat van Hesepe kom. Na wat bekend is het hulle het geen nageslag nagelaat nie. Sy tweede seun was Kettel Hermann POTGETER. Hulle enigste bekende dogter was Kettel Grete POTGETER wat getrou het met Albert ROLOWES.

 

Kettel Hermann POTGETER, of ook Kettelhermann genoem, was getroud met Agnese SCHOLTEN, 'n dogter van Scholten VON BIMOLTEN, wat van Bimolten afkomstig is. Hulle woon op Ossenhoek, maar in die oorlogtyd woon hulle by sy stiefouers op die Scholten boerdery. Agnese was ook Nese of Gese genoem. Slegs een kind van hierdie huwelik Nesen Hermann POTTGETER wat ongeveer in 1590 gebore is, is bekend.

 

Hermann POTTGETER, hy word ook genoem Nesen Hermann, waarskynlik so vernoem na sy moeder, Nese (Agnese). Hermann is ongeveer 1590 gebore en in 1667 word sy naam in Nordhorn aangetref as Hermann Pottgeter, burgermeester van Nordhorn. Hy het reeds voor die dertigjarige oorlog getrou met Tryne, die stiefdogter van Gerdt Arents. Hermann was ook lid van die Nordhorn skoenmakersgulde. Hulle het vier kinders gehad; Nesen Lambert POTGIETER wat die eienaar van 'n stuk grond in Pottkamp, Adeldorf was, Gert POTGETER wat die eienaar van die "Faberhaus" in Schuttorf was, Hermann POTTGEITER wat in 1648 trou met 'n dogter van Swenne VON LODDEN, en Jan POTGIETER.

 

Jan (of Johannes) POTGIETER was gebore in Nordhorn, Wesfalen, Duitsland en trou in 1634 met Schwerne LODDEN, die dogter van Swenne VON LODDEN van Frensdorf . Sy was ook in Nordhorn gebore, in die jaar 1610. Jan was ook genoem Ossenjan of Kettel Johan.

 

Ons stamvader Harmen Jansz POTGIETER wat in 1635 in Nordhorn gebore is was die enigste seun uit hierdie huwelik.

 

Harmen Janz was die seun van Jan Potgieter (gebore 1605) van Nordhorn, Duitsland, en Schwerne LODDEN (gebore 1610), van Frensdorf, Duitsland. In 1670 verhuis Harmen na Amsterdam, en tree daar in diens van die VOC as soldaat en kom na die Kaap van Goeie Hoop, waar hy met Isabella Fredericks (of Beeltjie), weduwee van Claas Vechtman trou. Hulle het 8 kinders gehad, wat een seun van Isabella se vorige huwelik insluit. Later verlaat hy die diens van die VOC en word vry-smit.

 

Noordhoorn is geleë in die Groningen provinsie, sui-wes van die stad Griningen. Die Potgieterfamilie het daar op 'n plaas gewoon met die families Steyn en Prinsloo as bure. Harmen was dan ook 'n lewenslange vriend van Douw Gerbrand Steyn. Sy dogter, Maria, het later met Jacobus Steyn, die aangenome seun van Douw getrou en so die stammoeder van die Steyns in Suid-Afrika geword.

 

Hy was een van die eerste bewoners van die nuwe nedersetting by die Eersterivier (Stellebosch), waar hy sy ambag as smit beoefen. Hy word deur de Wet gelys as smit 1674-1705. (de Wet GC, Die vryliede en vryswartes in die Kaapse nedersetting, p68). In 1688 het hy sy smitswinkel aan Lourens Verbrugge oorgedra vir die helfte van die wins (p107, verw 1STB 18/152 kontrak 1.12.1687).

 

De Wet meld dat Harmen in 1663 'n vryburger geword het, in 1670 weer tot die Kompanjie in diens getree en in 1674 weer uitgetree en 'n vryburger gebly tot sy dood in 1706. (p 197, verw Boesken AJ, Resolusies vd politieke raad, II 4.2.1671, p56; VC 49 Monsterrolle van vryliede 31.12.1706, p107)

 

Hy het in 1679 na die Eersterivier verhuis, waar hy gevestig het op die laer terrasse langs die Eersterivier, wat aan hom belowe is 1680, maar dit was eers baie later (1712) aan sy weduwee se boedel amptelik toegeken. Die plaas is uit die boedel aan Aletta Beck verkoop, wie dit "Voorgelegen" gedoop het. Die grond het bestaan uit twee dele - die oostelike deel strek van die huidige kerk van Stellenbosch tot by Mostertsdrift. Die veel groter westelike deel strek van erens tussen die huidige Andringa en Herte strate en sluit in die gebied waar die huidige stadsaal gebou is. Sy opstal was op hierdie groter deel, ongeveer waar Bird straat vir Dorp straat kruis. Die huis het 'n netjiese front, wat die indruk skep dat Harmen 'n ryk man moes gewees het. Later is hierdie deel van die plaas Voorgelegen gedoop. In 1693 verkoop hy deel van die grond aan Linnes.

 

Op 8 November 1679 is die stad Stellenbosch gestig. Minder as drie weke nadat Simon van der Stel in 1679 by Kaap aangekom het as kommandeur van die nedersetting, het hy en 'n paar amptenare te perd 'n inspeksietog na Hottentots-Holland onderneem waar 'n paar vryburgers reeds gevestig het (vandag Somerset-Wes en omgewing). Nadat van der Stel se werk daar afgehandel was het hulle met 'n ompad teruggegaan. Op 8 November het hulle by 'n asemrowende landstreek uitgekom waar Harmen en 'n paar ander vryburgers gevestig was. Hulle het daardie aand op 'n eiland in die Eersterivier oornag. Op die eiland was daar baie pragtige hoë bome. Omdat geen kommandeur of goewerneur daar was nie, het Simon van der Stel die eilandjie Stellenbosch genoem.

 

Die plek het hom onmidelik, uit die oogpunt van sy opdragte as kommandeur, geinteresseer omdat dit as voortreflik vir landbou beskou is. Onmiddellik nadat hy terug was by die Kasteel aan die Kaap, het hy aangekondig dat daar vir mense wat hulle langs die oewers van die Eersterivier wil vestig, grond beskikbaar is in die vorm van eiendomsplase. Baie gunstige voorwaardes is vir voornemende boere aangebied en die reaksie was goed.

 

Potgieter het ook aktief deelgeneem aan die openbare lewe van die klein gemeenskap as "wagmeester" van die artillerie. Kommissaris H.W van Reede het hom aangestel as 'n lid van die heemraad in 1685 (saam met Gert van der Bijl, Henning Husing en Jan Cornelis Mostert). Van Reede verwys na hom nie by sy van nie, maar verwys eerder na hom by wyse van sy aambag, Harmen Jansz Smit, soos wat wel dikwels die geval was in daardie tye. Hy het sy ambag by Stellenbosch voortgesit, en later sy stief-seun, Nicolaas Vechtman in die ambag opgelei. Hierdie stief-seun was 'n groot vriend van Adam Tas, wat na hom verwys het as die "kreupel vulkaan" - 'n verwysing na die kreupel Romaanse smit-god, Volcanus.

 

JA Hofmeyer verwys na die boek "Slagtersnek en sy mense" deur Dr J.A. Heese, waar daar vermeld word dat Harmen Jansz vermoor was in 1702. Heese het later dit reg gestel. Hofmeyer noem ook dat Harmen Jansz 'n permit toegestaan was in 1705 om 6 waems hout te versamel by die Vier-en-twintig-riviere en maak daarvan die aanname dat Harmen Jansz tussen 1 Sep 1705 and 1708 moes gesterf het. Sy weduwee hertrou met Lourens Verbrugge in 1708.

 

In die indeks van hofsake in Uit die Raad van Justisie, 1652-1672 (Staatsdrukker, Pretoria 1986) verskyn daar verskeie sake waarin "Harmen Jansz" betrokke sou wees: 338, 30.7.1670, Harmen Jansz vs. Willem Willemsz van Deventer; skuld; saak geskik (CJ1, p583) 341, 30.7.1670, Harmen Jansz; hout sonder toestemming gekap (CJ1, p592) 396, 1.6.1671 & 6.1.1672, Fiskal cs. Harmen Jansz van Noordhoorn; Kompanjie se tyd en werktuie vir eie gewin gebruik; ses maande ad opus publicum en ses maande gasie pro fisco. (CJ 2952, p406-408, CJ 1, p672-672,739)

 

Bronne:

 

Patrick van Griethuisen Stellenbosch - Drie eeue, geredigeer en saamgestel deur F Smith, Stadsraad van Stellenbosch (1979), ISBN 0 620 03910-8. Artikel deur AM Hofmeyer.

 

Hugo AM, Die Kerk van Stellenbosch 1686-1963 (Tafelberg 1963)

 

Dr Carl Potgieter, Kommandant-general AH Potgieter

 

Die Swardt Joernaal No 2, 30 Junie 1999 (Eric Swardt familiebond)

 

Navorsing te danke aan:

 

Eric Swardt This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

 

Bydrae te danke aan:

 

Print Email