Surnames N to Q

OOSTHUIZEN Johannes

 JOHAN OOSTHUIJSZ 

Volgens die gegewens van die VOC (VOC Argief, Opvarendes, Nederland: Inventaris nr. 5331, Folio 215) het Johan Oosthuijsz op 13-05-1685 in diens van die VOC getree, Kamer Amsterdam. Sy uitvaart was met die skip “Land van Schouwen”, met die eindbestemming, Batavia. Sy rang was die van Adelbosrt. “Land van Schouwen” het op 17 September 1685 in die Kaap van Goeie Hoop anker gegooi en op 27 September 1685 het Johan aan wal gegaan. Sy naam en van kom in verskeie spellings en variasies in die geskrifte voor, daar word na hom verwys as Johannes/Johan/Jan en die van Oosthuijsz word in ‘n wye verskeidenheid van vorme gespel. Tog glo mens dit is een en dieselfde persoon.
Daar bestaan verwarring van waar Johan afkomstig is. Soveel bronne soveel plekke. Daar betaan ‘n verskeidenheid van bronne en geslagsgregisters wat wil dit hê dat hy van Weert in die Nederlande afkomstig is. Die VOC gegewens (VOC Argief, Opvarendes, Nederland: Inventaris nr. 5331, Folio 215) meld dat hy van Woerden afkomstig is maar die afskrif van sy soldyboek by die VOC dui aan dat hy van Werden afkomstig is. (Woerden blyk ‘n vingerfout met die invoer van die data te wees en moes dit Werden gewees het?) Werden vandag is ‘n deel van die Duitse stad Essen, wat naby die grens van Nederland gelee is. Die Duitse oorsprong word bevestig in sy testament van 1722 (CJ 2601) dat hy van Weerl afkomstig is, wat moontlik na die stad Werl in die Kreis Soest in Nordrhein-Westfalen Duitsland verwys. Vermoedelik is Weert en Weerl in sommige bronne met mekaar verwar wat tot verdere verwarring aanleiding gegee het. Sy Duitse oorsprong word ook verder bevestig in die dokument van Linda Zöllner getiteld “Germans who came to the Cape during the period 1652-1806” want sy skryf “The Thirty Years’ War (1618- 1648) left many of the German states in a poor economic condition. Consequently many Germans, including ex-soldiers, were drawn to the west by the wealth of the Netherlands. Progenitors of well-known families who came to the Cape during the 17th century were:... Jan Oosthuysen from Werden, .... (http://www.ggsa.info/articles/Linda Zöllner). Ook in sy boek, Personlia of Germans at the Cape, Dr. Hoge J, meld Hoge ook dat Jan Oosthuizen van Werden afkomstig is. In korrespondensie met Corney Keller van Zaandam, NL en ook gereelde bydraer tot die webwerf http://www.eggsa.org/ was hy ook van mening dat in geheel gesien Johan van Weerl in Duitsland afkomstig is en het my na Dr. J Hoge se boek verwys.
Johan het egter eers die VOC se diens 15-08-1690 verlaat om ‘n vryburger te word. Waar hy homself in die vyf jaar indiens van die VOC bevind het en wat hy gedoen het is nie duidelik nie. Op 20 Januarie 1693 doen hy aansoek om hom in Drakenstein te vestig (dokument nr. 1/STB 15/2 1688-1719 Goedgunstiglik aan my voorsien deur Mr. Richard Ball www.ballfamilyrecords.co.uk/sources.htm)

Jan word weer in 1716 ook opgespoor in ‘n kontrak wat hy met die Goewerneur/Kaap se regering aangaan waar hy die lening (leningsplaas?) van die soldaat, Lodewyk Wilters, oorneem. Daarin word na hom verwys as ‘n landbouer en die kontrak word in die jare 1717 tot 1721 verleng. (Leer CJ 2878) van die Kaapse argiewe. Die argiewe in die Kaap het ook dokumente wat daarop dui dat hy leningsplase van 1716 tot 1721 gehuur het. In die rekords van (RLR – Receiver of Land Revenue) het Johannes die volgende twee plase/plekke as lenings plase gehad: aan de Cruys Valley in't land van Waveren over 't roode sands clooff – 24.1.1725 tot 3.1728 en weer aan de Cruys Valley gelegen in't lant van Waveren – 19.2.1729 tot 2.1731. Die land van Waveren is vandag bekend as Tulbach en omgewing. ( Inligting verskaf deur Johann H Claassen op 30.6.2016- Drakensteinheemkring)
Johannes is met Johanna/Jannetjie Maartens getroud maar die troudatum is sover onbekend. Die sterfdatum van die stamvader is ook nerens opgeteken nie. Omstandigheids getuie dui daarop dat hy tussen 1729 en 1734 oorlede is, vermoedelik voor 1731, want die huur op die eiendom wat gehuur, soos hierbo aangedui, is in 1729 hernu maar nie na 1731 nie vermoedelik omdat hy toe reeds oorlede was. Volgens die boedel (Mooc 8/5.27)) van haar skoonseun Pieter Gouws, die man van haar dogter Anna, was sy ook betrokke by die taksering en finalisering van Pieter se boedel op 9 Mei 1730 nadat hy vermoor is. Dit laat mens verder wonder oor die stamvader se sterfdatum, waarom was die die stammoeder by met die taksering van hulle dogter se boedel betrokke en nie die stamvader self nie, was hy toe reeds, (Mei 1730) oorlede? Teen 23 Mei 1734 was die stamvader beslis reeds oorlede want sy vrou Jannetjie Maartens is op die dag met Andreas Duyf getroud in die NG kerk Drakenstein getroud. Ons kom so ietsie meer van hom te wete as ons sy vrou Johanna/ Jannetjie Maartens se lewe bekyk.

Die Stammoeder Johanna/Jannetjie Maartens.

Haar naam word ook soms as Jannetie Martesse (myheritage.com) aangedui. Volgens alle aanduidings van die webwerf www.martensfamily is sy in Gryskerk, Nederland in 1675 gebore as kind van Maarten Martens maar haar moeder se naam is onbekend. Die webwerf www.wikitree.com gee haar ouers aan as Joannes Anthonius Maartens en Elisabetha Uxoris wie te Grijpsklerk/ Zuidhorn, Groningen, Nederland. Sy is in 1685 in Hanover Duitsland gedoop. Die webwerwe gee haar troudatum met Johannes aan vanaf 1698 tot 1702.

Na Johannes se dood, het Johanna op die ouderdom van ongeveer 62 op 23 Mei 1734, weer getrou met Andreas Duyf in die Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Drakenstein, de Caep de Goede Hoop. Andreas was nagenoeg in 1670, in Brandenburg, Duitsland gebore. Hulle was egter slegs een maand getroud toe Andries dood is want die opgaaf van die boedel is gedateer 23 Junie 1734. Daar word ook na hom verwys as Andries Duyff. Hy was ‘n meulenaar, nie die eienaar nie, in die Drakenstein. en daar word ook in sy boedel, nadat hy oorlede is, verwys na “de molen op Drakenstein.” Indien na Johanna se boedel gekyk word na Andeas se dood, was haar bates tussen die drie plekke versprei naamlik “de molen op Drakenstein” waar Andreas gewerk en blykbaar gewoon het en ook op twee ander plekke, de plaats aan t Kruijspad, en de plaats over t Rodesant. DUYFF het geen eiendom besit het nie. Sy een (vermoedelike) seun het wel 'n plaas met die naam Kruispad besit. Mens kan daarom die afleiding maak dat “de plaats aan t Kruijspad” nie aan haar behoort het nie en “de plaats over t Rodesant” nog die plaas was wat Jan gehuur het. Jannetjie het 8 slawe gehad, 55 beeste, 506 skape en 2 perde maar ook heelwat skuld soos die boedel aandui. Dit is egter glad nie duidelik soos reeds gemeld wat Johannes gedoen het nie en ook nie hoe sterk sy boedel was by sy afsterwe nie.

Jannetjie/Johanna en Johannes het ook die volgende geleenthede bygewoon terwyl hulle nog geleef het, volgens Robertson Delia:- The First Fifty Years Project. http://e-family.co.za/ffy/ was Jan Oosthuyse en Johanna Maartens getuies by die doop van Isaak Mouton op 29 March 1711 in Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Stellenbosch, de Caep de Goede Hoop.
Hy en Johanna Maartens was ook getuies by die doop van Johannis Bronkhorst op 28 Julie 1720 in Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Stellenbosch, de Caep de Goede Hoop.
Hulle was ook teenwoordig en getuies van hulle kleindogter Johanna Gaùs se doop op 25 April 1723 in Nederduitsch Gereformeerde Kerk, Drakenstein, de Caep de Goede Hoop.

Johanna se sterfdatum is ook nie bekend nie en haar finale boedel (Mooc 13/1/2.99) is dedateer 31 Augustus 1737. Geen sterfdatum word op die finale boedel gemeld nie maar sy moes daarom voor Augustus 1737 gesterf het en toe nagenoeg 65 jaar oud gewees het.
Verwarring oor aantal kinders.
Indien verder na bestaande geslagsregister Genealogiese Instituut van Suid Afrika (van GISA en Heese) gekyk word ontstaan daar reeds baie teenstrydighede. Volgens Turton (Dr. Anthony Turton:- A South African Diary: Contested Identity, My Family - Our Story Part B: 1700-1799) en Genealogiese Instituut van Suid Afrika GISA/Heese se stamregister is die stammoeder en stamvader 1691 getroud. Maar hulle eerste kind word eers in 1703 gebore/gedoop en dit is 12 jaar nadat hulle getrou het, dws. indien hulle 1691 getrou het. Sover kon nog geen troudatum in die Kaapse- of Stellenboschse argiewe van hulle troudatum opgespoor word nie.
Daar is ook nie duidelikheid oor hoeveel kinders Johannes en Johanna gehad het nie. Die amptelike geslagsregister van Genealogiese Instituut van Suid Afrika (GISA) lys sewe kinders en so ook baie ander geslagsregisters wat aansluiting by die Oosthuizens vind. Die kinders is as volg gelys:- b1 Gerhardus gedoop Paarl 27-04-1703, b2 Johanna (Anna) gedoop Paarl 20-08-1705, b3 Barbara gedoop 02-12-1708, b4 Elsie gedoop 1710, b5 Jan Hendrik gedoop 04-11-1714, b6 Pieternel (Petronella) gedoop 18-04-1717, b7 Jacobus 22-11-1722. Dit blyk egter foutief te wees.
Op die webwerf van “http:/www.e-family.co.za” ‘n projek om al die dokumente en rekords van die eerste vyftig jaar aan die Kaap van Goeie Hoop beskikbaar te stel, word 8 kinders gelys. Die “nuwe kind”, ene Jannetje, is tussen Barbara 1708 en Elsie 1712 gebore en haar geboorte datum word nou aangegee as 1710 . Die nuwe inligting verander ook nou Elsie se geboortedatum van 1710 na ‘n onbekende datum vergeleke met die GISA register. Haar geboorte/doop datum kon ek nog nie opspoor nie en sy word tussen Pieternel (1717) en Jacobus (1722) geplaas bloot omdat in die stamvader se testament van 1722 (CJ 2601) na haar spesifiek verwys word asof sy die jongste dogter op daardie staduim was en die stammoeder baie bekommerd oor haar was. Dit was 17 April 1722 asof Elsie die jongste sou wees salig onbewus van die feit dat daar reeds weer ‘n brood in die oond was wat op 22-11-1722 gedoop sou word – Jacobus. !
In die inventaris van die boedel van Duyf/Jannetjie (Mooc 8/5.127), wat op TANAP beskikbaar is, word daar nagelaat “aan de agt kinderen van de wed: over t vaders bewijs tesamen 2 291”. Die kinders se name word egter nie gelys nie. Om sake verder nog te bemoeilik word daar ook nog ‘n seun, Martinus, op die webwerf van Richard Ball gelys. Soos hierbo genoem is slegs die aantal kinders genoem na Johannes se dood maar na Johanna se dood, in 1737, word die kinders se name gelys. Toe Johanna in 1737 sterf was Andreas Duyf toe ook alreeds oorlede en kon al die kinders erf. In die boedel van hul moeder (Mooc 13/1/2,99) word die name nou gelys maar weer word slegs agt kinders gelys, Martinus kom by en Barbara kom nie op die lys voor nie. Martinus se doopdatum kon opgespoor word en dit word as 1712 aangegee.
Die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word is dat Barbara weggelaat is omdat sy vermoedelik reeds oorlede is. So, die Stamouers het dus nege kinders gehad teenoor die sewe wat GISA se register aangee. Die volgende kinders se doop inskrywings kon opgespoor word, slegs Elsie se doop inskrywing kon nie opgespoor word nie, en kan die kinders nou as volg gelys word:-

b1. Gerrit/Gerhardus. Gedoop 27-04-1703 NG Kerk Drakenstein. Hy trou met Dorethea Maria Bekker wat in 1708 gedoop is. Gerrit en Dorethea het een kind en skei dan van haar. Hy trou weer op 21-01-1742 met Magdalela Neef wat op 9-03-1721 gebore is en het 10 kinders by haar. Hy sterf in 1770. Sy nageslag is aan die voorpunt saam met ander vryburgers om al verder die binneland in te trek en later aan die Groot Trek deel te neem.

b2. Johann/Anna. Gedoop 29-05-1705 NG Kerk Drakenstein. Sy trou op 04-05-1724 met Pieter Gouws wat in gebore 1693 is en word in 1730 (deur Pieter Bekker, die gewese skoonpa van Gerrit hierbo? ), vermoor. Hy laat sy verwagtende vrou en vier kinders agter. Anna is die tweede keer met Gerrit van Emmenis, gebore 04-01-1705, getroud. Anna en Gerrit het saam vyf kinders.

b3. Barbara gedoop 02-12-1708 NG Kerk Stellenbosch. Geen verdere inligting soos trou datum of eggenoot is oor haar bekend nie. Sy sterf vermoedelik voor haar ma en pa want sy word nie in haar ma se boedel van 1737 genoem nie. Sy kan moontlik oorlede wees met die groot griep epidemie wat die Kaap in 1713 getref het.

b4. Jannetjie gedoop op 14-12-1710 NG Kerk Kaapstad. Sy is op die geslagsregister van GISA nie genoem nie. Dit is nie bekend met wie sy getrou het nie maar word wel in haar ma se boedel genoem. Dus het sy nog in 1737 gelewe.
b5. Martinus gedoop 20-11-1714 NG Kerk Kaapstad. Behalwe vir die feit dat Martinus genoem word as ‘n erfgenaam in sy ma se boedel wat in 1737 afgehandel is, verskyn hy weer wanneer hy die Kaap verlaat. Hy het op ‘n skip, Die Ketel by Saldanabaai aanboord gaan - ook in 1737. Hy het na Ceylon vertrek en 14-08-1738 in Ceylon aangekom. Daar word ook in die Resolutions of the Council of Policy of Cape of Good Hope (Sien Tanap vir Resolutions) Reference code: C. 105, pp. 2-20. Dingsdag den 3 December 1737, voormiddags. Na hom en sy vriende verwys as “vagabonden en land-lopers (wat) over al rondswerven”. Op die vergadering word dan ook aanbeveel dat hulle aangemoedig moet word om matrose te word om sodoende van hulle ontslae te raak. Of dit wel die rede was waarom hy die Kaap verlaat het is nie duidelik nie.
b6. Jan-Hendrik is gedoop op 04-11-1714 NG Kerk Drakenstein en trou op 23-10-17-35 met Anna Botha wat op 23-10-1718 gebore is en die dogter van Willem Botha en Catharina Pyl is. Hy en Anna het 11 kinders gehad.

b7. Petronella is gedoop 18-04-1717 NG Kerk Drakenstein en trou op 23-10-1735 met Fredrik Botha wat op 13-01-1715 gedoop is en die seun van Willem Botha en Catharina Pyl is. Sy en Jan-Hendrik is dus met broer en suster getroud.

b8. Elsie/Elsje is tussen 1717 en 1722 gebore. Indien, soos reeds hierbo verduidelik, die testament van Jan en Jannetjie wat in April 1722 opgestel is, gelees word lyk dit asof Elsie op daardie staduim die jongste kind is want daar word spesiale voorsiening in die testament vir haar gemaak. Daarom is sy na my mening na Petronella gebore en Jacobus was nog nie gebore nie. Sy trou op 08-10-1745 met Pieter du Plessis seun van Carel du Plessis en Ceclia Marseveen.

b9. Jacobus is gedoop op 22-11-1722 NG Kerk Drakenstein en trou op 10-04-1749 met Dina Carolina Brits wat op 07-12-1732 as dogter van Ockert Brits en Catharina Pijl gebore is. Jacobus en Dina het ook 11 kinders gehad. Hy is in 1802 in die ouderdom van 80 jaar oorlede.

Saamgestel deur Dirk Johannes Jacobus Oosthuizen, b9c8d3e2f4g2h9i2.
kridjj @ gmail.com.

Bronne:-

1. “http://www.e-family.co.za/”
2. Dr. Anthony Turton:- A South African Diary: Contested Identity, My Family - Our Story Part B: 1700-1799.
3. GISA&Heese- Oosthuizen Familie
4. Bewaarders van ons erfenis:- Deel 4: Tulbagh
5. Drakensteinheemkring – Verslag van Johann H Claassen op 30.6.2016
6. http://e-family.co.za/ffy
7. www.ballfamilyrecords.co.uk/sources.htm)
8. n (http://vocopvarenden.nationaalarchief.nl/default.aspx
9. http://www.tanap.net/index.htm

 

 

Print Email