Skip to main content

logo new

Surnames N to Q

OLIVIER Ockert Corneliszoon

Cornelisz OLIVIER is gebore Ouwerkerk, distrik Duiveland, in die provinsie Zeeland. Hy land aan die Kaap in 1671 en werk as 'n kneg vir Willem Willemsz: van Deventer.

Willem Willemsz het in 1672 'n Hottentot doodgemaak. Na die voorval vlug hy op 'n Deense skip na Nederland, maar keer later weer na die Kaap terug. As straf word hy na Robbeneiland gestuur. Terwyl Willem Willemsz: van Deventer weg was, het Olivier twee kinders by Willem Willemsz se vrou, Maria Jansz Visser, gehad.

Maria Jansz VISSER, dogter van Jan Coenraad Visser, is ongeveer in 1650 gebore. Toe Willem Willemsz in September 1675 weer in Kaapstad land en vind dat sy vrou twee kinders by Olivier gehad het, het hy haar van "lichtvaardige gedrag" aangekla. Hierdie hofsaak het die gevoelens en gemoedere van die egpaar so opgejaag, dat hulle in 1676 op twee aparte skepe na Batavia verban is. Voor die skepe vertrek het, het Maria en Willem weer versoen geraak, en kon hulle hulle seereis na Batavia op dieselfde skip meemaak.

Olivier trou op 5 Feb 1679 met Aletta VERWEY, gebore in Woerden, Nederland. Aletta Verwey se ouers was Gysbert Verwey en Catharina Ganzevanger.

Heelwat later, op 14 Feb 1692, word Olivier vir die onwettige verkoop van drank aangekla. Die Kaapse owerheid het streng teen hierdie tipe oortredings opgetree en vir Olivier met 'n 1000 Gulden beboet.

Ockert Olivier en Maria Visser se twee buite-egtelike kinders, Dina en Cornelis, is tussen 1672 en 1675 gebore. Die kinders is deur Maria se vader, Jan Coenraad Visser, versorg en opgevoed. Hierdie twee kinders se name word nie in Aletta Verwey se testament, of diƩ van haar moeder, Tryntje (Catharina) Gansevanger, se testament genoem nie, hoewel Gansevanger in haar testament vir "haar kleinkinders" voorsiening gemaak het.

BUITE-EGTELIKE KINDERS TUSSEN OCKERT OLIVIER EN MARIA VISSER:(Jy kan dit maar by die naam noem!!!)
1. Dina * 1672/73, X Hans Jacobus Brits
2. Cornelis * 1674/75, X 22 Nov 1699 Anna van Weij

Ockert Olivier en Aletta Verwey het 13 kinders gehad:
1 Gysbert =03.12.1679
2 Marthie (Maria) =12.10.1681, x Dirk van Schalkwyk
3 Catharina =11.07.1683, x 7 Nov 1706 Nicolaas van der Westhuyzen
4 Neeltje (Cornelia) =15.04.1685, oorlede voor 1721
5 Hilletje *c1687, x 19 Sep 1707 Eduard Loubser, xx 12 Feb 1719 Johannes Mostert
6 Cornelis =27.02.1689
7 Anna (Johanna)=18.02.1691, x Paulus Artois
8 Jan (Johannes) =08.11.1692, oorlede voor 1721
9 Dirk = 05.09.1694, +1734
10 Aeltie (Aletta) =26 Aug 1695, x 22 Sep 1720 Michiel Africanus Heyns, xx 29 Jul 1736 Matthys Sondag
11 Geertruy = 9 Nov 1698, x 2 Apr 1724 Thobias Mostert
12 Hendrik =21 Nov 1700, x 21 Mei 1724 Maria Vivie, xx Willem van der Viijver

Die dogter Neeltjie moes haar in Oktober 1712 kwaai tydens 'n onsuksevolle aanranding deur Robert van Batavia verdedig. Sy het so woes baklei, dat dit op die ou einde Robert van Batavia was, wat met groot moeite en inspanning uit haar verwoede kloue ontsnap het. Hoewel die aanranding misluk het, word Robert van Batavia tot die dood veroordeel.

Robert was 'n broer van die ander Olivier stamvader, Hendrik Cornelis Olivier, wat ook met 'n Verwey getroud was. Lees ook aangaande hom in Stamouers.com).
Hierdie Oliviers was van Ouwerkerk, distrik Duiveland, in die provinsie Zeeland. (Let Wel: NIE Ouderkerk, nader aan Amsterdam, soos dit in sekere bronne aangedui word nie).

Dit blyk dat die Olivier-familienaam eers in die 1600's 'n selfstandige tweede/laaste naam (of van) geword het.

DIE OLIVIERS VAN OUWERKERK, PROVINSIE ZEELAND, IS VERMOEDELIK SOOS VOLG:-

Olivier Corneliszoon (die stamvader, en in lewe middel tot laat 1500's, met 4 kinders)
1.1 Cornelis Olivier (in lewe gedurende 1644, met 3 kinders)
1.1.1 Marietje Cornelis dr. Olivier
1.1.2 Cornelis Corneliszoon Olivier (sterf voor 29.8.1676, met 2 kinders)
1.1.2.1 Hendrik Corneliszoon Olivier (SA stamvader)
1.1.2.2 Ockert Corneliszoon Olivier (jonger SA stamvader)
1.1.3 Olivier Corneliszoon (sterf, met 3 kinders)
1.1.3.1 Gerrit Olivier
1.1.3.2 Jan Olivier
1.1.3.3 Pieter Olivier
1.2 Jan Olivier (sterf voor 1629)
1.3 Adriaentje Olivier
1.4 Trijntje Olivier

Indien bogenoemde inligting as korrek aanvaar word, kan die volgende (hoewel weerlegbare) afleidings of vermoedens gemaak word: dat die Olivier-voorgeslagte reeds lank voor die Franse Hugenote (1688) na die suidweste van Holland verhuis het, en dat hulle dus nie noodwendig deel van die Franse Hugenote is nie.

Ockert Olivier sterf in 1705.

Aletta se inventaris van 1720 sluit die plaas Hoogebergsvalleij aan die Kleine Stinkrivier, en die opstal Vrolijkheid in Roodesand, in.

Bronne:
Esme BULL "An Anomaly in the OLIVIER Family" Familia, Vol 23, No.3, 1986.
De Villiers - Pama
Heese en Lombard
GC de Wet, Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting
JL Hattingh "Beleid en Praktyk: Die Doop van Slawekinders en die sluit van Gemengde Verhoudings aan die Kaap voor 1720" Kronos, vol 5, 1982
Mariana Olivier: Dank vir haar inligting verskaf.

Saamgestel deur:
AM van Rensburg
Tjaart Olivier tolivier@global.co.za


 Korreksie van data:-
(14 Jan 2014)

"Robert was 'n broer van die ander Olivier stamvader, Hendrik Cornelis Olivier, wat ook met 'n Verwey getroud was. Lees ook aangaande hom in Stamouers.com. "

Hier het 'n tikfout ingesluip. Dit moet lees Cornelis ....

Ronel Olivier.


 Korreksie van data:-
(25 Jan 2014)

"Ockert Olivier en Aletta Verwey het 13 kinders gehad":
Tjaart lys 12.
Dit moet net 12 wees - sover ek weet - Oude Kaapsche Families het 13 gelys, maar daar is Dina x Hans Jacob Brits as die 11de kind gelys, i.p.v. een van die Visser 'voorkinders'.

Saamgestel deur:
Willeen Olivier

  • Hits: 18660

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy