Surnames H to J

JANSZ Ariaantje

ARIAANTJE JANSZ van Rotterdam het voor 1697 na die Kaap gekom. Dit is belangrik om daarop te let dat sy en Adriaanje Janz (ook geskryf Adriana Jans(e) of Adriana Gerritsdochter), die tweede vrou van Pieter Christiaan de Jager *ca 1761, nie dieselfde persoon is nie. Hierdie Adriana Jans(e) sou na De Jager se dood met Joachim Greef, die wewenaar van Johanna de Vries, trou.

In 1697 ontval ARIAANTJE JANSZ se man, Albert Holder, haar. Dit beteken vir haar en haar vyf kinders die begin van ‘n lang en opdraande stryd teen armoede. Gelukkig ontferm haar oorlede man se broer, Claas Holder, hom vir etlike jare oor haar en haar gesin. Aangesien die vroeë Kaap min hubare vroue gehad het, sou ‘n mens verwag het dat sy soos so baie ander gou weer in die huwelik sou tree, maar moontlik het die vyf kinders en haar klaarblyklike armoede die mans afgeskrik. Hoe dit ook al mag wees, in 1701 trou sy met Pieter Malmer en bring sy ‘n verdere twee kinders in die lewe. Tussen Augustus 1707 en Mei 1708 verdwyn Malmer op raaiselagtige wyse en tot op hede weet niemand wat van hom geword het nie. Die vermoede bestaan dat hy moontlik deur ‘n leeu verslind kon gewees het, maar dit is ook nie uitgesluit dat hy sy vrou kwaadwillig verlaat het nie.

Die verdwyning van Malmer het Ariaantje met die probleem gelaat dat sy nie toegelaat is om weer te trou nie. Intussen het sy saam met haar verdwene man se vennoot, Jacob Pleunes, op die plaas geswoeg. Ongelukkig het Pleunes die familie Jansz uiters sleg behandel en lees ons in dokumente van die Weeskamer dat hy die vrou en kinders “op een seer ongehoorde, en bijna onmenselijke wijse” behandel het. Hy het hulle ook nie klere gegee om hulle “naakte lijf te decken” nie. In Mei 1708 besluit die Weesheer op daadwerklike optrede en word daar op die plaas inventaris geneem. Pleunes gee nie sy samewerking nie, en die saak word na die Raad van Justitie verwys. Voor die Raad gee Pleunis te kenne dat hy “niet langer met die vrouw in maatschappij te kunnen leven” en versoek hy dat die Weesheer die boedel verkoop. Sy versoek word toegestaan, maar by afrekening word daar bevind dat die restant van die boedel nie veel geld sou oplewer nie.

Die idee was dat sy uit die opbrengs van die boedel moes leef, maar dit wil voorkom asof Ariaantje nooit die oorspronklike bedrag wat tot haar beskikking was kon aanvul nie. Die ware rede hiervoor kan nie uit argiefmateriaal verkry word nie, maar ‘n moontlikheid is dat sy na ‘n ontstellende gebeurtenis met die dertigjarige slaaf, Coridon van Madras, ‘n fisiese gebrek opgedoen het. Op die aand van Sondag, 27 Mei 1708, het ‘n besope Coridon die negentienjarige Heijltje Holder gegryp en haar ‘n paar vuishoue toegedien. Daarna het die slaaf die suigeling van hulle buurman Claas van de Westhuijsen, wat hy in sy beskonke toestand op sy arm gedra het, met die vuis op haar ruggie geslaan. Ariaantje het die weerlose kindjie te hulp gesnel en “uit sy wrede handen” bevry.

Coridon was hoogs ontstoke en later die aand kom ruk hy vir Ariaantje uit die bed uit, gryp haar aan die kop en skeur haar slaapmus aan flarde. Daarna kry hy haar aan haar hare beet en sleep haar met soveel geweld uit die bed uit, dat “haar’t hair uijt’t hooft geruckt” is. Hierna slaan die slaaf haar so erg met ‘n ysterkoevoet dat sy tien dae in die bed moes deurbring. Coridon kon geen genade van die vryburgers of van die Raad van Justitie verwag nie, en word op ‘n gruwelike manier doodgemaak. Dit is ‘n ope vraag of Ariaantje na hierdie wrede aanval heeltemal van haar beserings herstel het. Die feit bly staan dat sy hierna finansiële hulp op ‘n deurlopende grondslag nodig gehad het.

Vervolgens het die Weesheer ‘n brief aan die kerkraad van Stellenbosch gerig waarin hy vra dat 100 Rijksdaalders as onderhoud vir die gesin Jansz in ontvangs geneem moet word, en dat hulle daarna self na die gesin moet omsien. Die kerkraad kon nie aan die versoek voldoen nie, aangesien die diakonie nie oor die nodige geld beskik het nie. Om Ariaantje in staat te stel om uit haar rente alimentasie te ontvang, vra hulle dat al haar kapitaal onder hulle beheer geplaas moet word. Hulle wag egter nie op die Weeskamer se antwoord nie, maar begin onmiddellik brood by ‘n bakker koop om die gesin tydelik van die nodigste kos te voorsien.

Na heelwat korrespondensie tussen die Weeskamer en die kerkraad, kom hulle in 1709 ooreen dat die diakonie tot aan die einde van haar lewe na haar “als een vrouw zijnde onbequaem tot redderingh harer saken” sal omsien. Voorts is daar besluit dat die nalatenskap van Pieter Malmer aan die kerkraad oorhandig sou word, maar om een of ander rede word daar nie by die ooreenkoms gehou nie. Teen die einde van 1709 lig die Weeskamer die diakonie van Stellenbosch in dat Ariaantje geen meel het nie. Twee jaar later, in 1711, skryf die Weeskamer aan die kerkraad dat Ariaantje se geld tot hulle verbasing nog nie afgehaal is nie. Die aangeleentheid kry onmiddellike aandag en die saak word binne dae reggestel.

Teen die einde van 1711 vra Ariaantje dat die Weeskamer Albert Holder se nalatenskap aan haar dogter, Alberdina Holder, by haar geld wat by die diakonie belê is, moet voeg. Alberdina is reeds in 1701 oorlede. In 1713 staan Ariaantje nog ‘n verdere drie kinders aan die kinderpokke-epidemie af, en word hulle erfdeel aan haar toegewys. Die diakonie probeer hierdie geld ook onder hulle beheer kry.

In 1710 besluit die kerkraad dat hulle in die lewensonderhoud van die gesin Jansz sal voorsien. Ouderling Dirk Coetse verklaar homself bereid om die gesin teen vergoeding aan huis te neem. Teen hierdie tyd was die oudste kind, Heijltje Holder, reeds met die vryburger Allardus Barthalomeüs Coopman getroud, maar ook sy sterf in 1713. Dirk Coetse ontvang vir Ariaantje en die oudste dogter, wat toe nog aan huis was, elkeen ‘n maandelikse bedrag van vier Rijksdaalders en vir die vier jongste kinders elkeen twee Rijksdaalders: in totaal dus sestien Rijksdaalders.

In 1713 is al Ariaantje se dogters oorlede en bly slegs die twee seuntjies oor wat versorg moet word. Die diakonie onderhandel met ouderling Coetse en hy willig in dat die jonge Pieter Malmer gratis by hom aan huis kan inwoon. Dit wil voorkom asof dieselfde in 1714 vir Johannes Malmer gegeld het, maar as vergoeding gee die diakonie hulle toestemming dat die twee seuns vir Coetse met die boerdery kan help. Oënskynlik het Coetse veeposte in die binneland gehad en het die seuns daar gehelp om die vee op te pas, want in 1716 kla Ariaantje by die diakonie dat ene Maarten Mekelenburgh een van haar seuntjies van Coetse se veepos verwyder en by hom aan huis geneem het. Volgens haar het die kind daar ingewoon, voedsel ontvang en Mekelenburgh se skape opgepas.

Die diakonie het die saak met Mekelenburgh opgeneem en tydens die samesprekings kom skadevergoeding aan die diakonie ook ter sprake. Ongelukkig is die notuleboek van Stellenbosch se kerkraad sodanig beskadig dat algehele duidelikheid nie verkry kan word nie. Dit is nogtans opmerklik dat ouderling Coetse hom nie met die saak bemoei het nie en weens die swak toestand van die notuleboek kan ook nie vasgestel word waar die twee seuntjies hulle na hierdie gebeurtenis bevind het nie.

In 1723 woon Hannes (Johannes) by Gerrit Coetse, ‘n seun van Dirk Coetse. Hy word deur die diakonie daar weggehaal en onder die sorg van ‘n gewese diaken en sittende heemraadslid, Jan Nel, geplaas. Hier beleef die seun nie gelukkige dae nie. In 1728 vra die diakonie Jan Nel of hy nie enige “gage” (loongeld) aan Hannes wou gee nie, maar Jan weier. Die rede wat hy aanvoer is dat die seun “niet in staat was iets te verrigten” en dat hy “bij na van de luijsen vergingh”. Hierop moes die seun voor ‘n kerkraadsvergadering verskyn. Wat presies daar gebeur het kan nie uit die kerkraadsnotule afgelei word nie, maar etlike maande later word die Malmer-seuns aan nuwe huisouers toegewys. Die min of meer twintigjarige seuns word deur die diakonie vermaan om hulle daar ordentlik te gedra. Dit sou nie lank wees voor hulle as volwassenes gereken word en nie meer onder die sorg van die diakonie sou wees nie.

Dit is ook nie duidelik by wie Ariaantje op watter tydstip ingewoon het nie. Die bejaarde Dirk Coetse het in 1722 na Kaapstad verhuis, en dit wil voorkom asof Ariaantje in Stellenbosch agtergebly en waarskynlik later na Jan Nel verhuis het. Die rede vir hierdie aanname is dat Jan Nel sedert 1727 kosgeld vir Ariaantje van die diakonie ontvang het.

Die diakonie sorg ook op ander maniere vir Ariaantje en betaal onder andere in 1727 aan Adam Keijser ‘n bedrag vir twee paar “muilen” (oop pantoffels) wat hulle vir haar laat maak het. Die daaropvolgende jaar betaal hulle ook vir ‘n paar skoene by dieselfde skoenmaker. In 1728 ontvang Jan Nel namens Ariaantje “tot nodigh onderhoud van kleederen” ‘n bedrag van ƒ 30 van die diakonie. In dieselfde jaar word weer eens pantoffels, asook ‘n “kombaars” (deken) aangekoop, en die skoenmaker Keijser word gevra om haar skoene te lap (versool). In 1729 ontvang Ariaantje ‘n bedrag van ƒ 60 vir klere. Alle noodsaaklike lewensmiddele word tot haar dood in 1731 deur die diakonie verskaf.

Dit is interessant dat dit nie vir die armes nodig was om ‘n lidmaat van Stellenbosch se kerk te wees om in aanmerking vir diakonale sorg te kom nie. Sover daar vasgestel kan word was Ariaantje Jansz en Grietje Claasz Coen, die weduwee van die sieketrooster Swart, die enigste twee alimentasie-gevalle wat tussen 1686 en 1730 lidmate van die kerk was.

Bron:
Ad Biewenga, De Kaap de Goede Hoop – Een Nederlandse vestigingskolonie 1680 – 1730, pp. 147 –151.

SAAMGESTEL DEUR: Alwyn P Smit.






 

PrintEmail