Skip to main content

logo new

Surnames H to J

JANSEN Zirke

Zirke JANSEN is in 1731 in Neustadtgödens, Oos-Friesland gebore. Hy was die seun van Cornelius en Trintke Marie Jansen. Cornelius was ‘n kleremaker van beroep. Neustadtgödens was ten tyde van Zirke se vertrek bekend vir weefwerk en die goeie gehalte materiaal wat daar geproduseer is. Aangesien Zirke ‘n kleremaker van beroep was nadat hy hom aan die Kaap gevestig het, kan vry algemeen aanvaar word dat hy sy kennis van die beroep in sy vaderland en desnoods in sy ouerhuis opgedoen het. Hierdie tipe ambagte is gedurende die besondere tydvak gewoonlik van een geslag na die volgende, van vader na seun, oorgedra.

Zirke het as een-en-twintigjarige seun by die VOC aangesluit en het op 28 Desember 1752 as soldaat saam met 66 manskappe aan boord van die 850 ton ‘spiegelretoerskip’, “Huis te Manpad”, vanaf Texel in Nederland vertrek. Die vaart na die Kaap van Goeie Hoop het ongeveer drie maande geduur. Zirke se naam verskyn op die passasierslys van die skip vir die betrokke vaart. Die datum van aankoms aan die Kaap is opgeteken as 23 Maart 1753.

Zirke tree op 22 November 1757, waarskynlik na verstryking van die gebruiklike vyf jaar dienskontrak, uit die diens van die VOC om hom as kleremaker aan die Kaap te vestig. Hy het hierdie beroep tot met sy dood op 21 Desember 1772 beoefen. Hy het later in sy lewe egter ook druiwe verbou op sy plasie “Thuynland” in Drakenstein. Zirke het ‘n kelder by sy huis gehad en het aracq gestook wat hy aan die skepe in Tafelbaai verkoop het.

Zirke is op 2 Oktober 1755 in die Kaap met Catharina Buys getroud. Catharina was die dogter van Barend Buys, ‘n Duitse soldaat wat reeds in 1715 na die Kaap gekom het, en Alida van den Berg, ‘n Kaaps gebore meisie. Catharina was Barend en Alida se agste kind. Sy is op 6 Januarie 1737 in die Kaap gedoop.

Zirke Jansen en Catharina Buys het sewe kinders gehad:

1. Lasya Rudolphina, ˜ 11 Jul 1756
2. Alida Elizabeth, ˜ 24 Jul 1757, x 4 Jun 1775 Frans Jordaan
3. Cornelis Rudolphus, ˜ 9 Des 1759, x Johanna Catharina Smit, ˜ 16 Jun 1758
4. Roelof Andries, ˜ 7 Des 1760, x Elsie Elisabeth Vlotman, xx Geertruy Maria Swanepoel
5. Catharina Maria, ˜ 20 Nov 1763, 1 Feb 1795 Christiaan Lodewyk Koning
6. Anna Louisa, ˜ 25 Okt 1767
7. Anna Lasya Johanna, ˜ 11 Mar 1770, x 11 Jan 1789 Christiaan Gerhardus Rasp

Samestellers
Primêre navorsing deur Frederik Antonie Jansen en Elise Breytenbach

Verwysings
Bronnemateriaal, Nasionale Argief, Kaapstad
Bronnemateriaal, NG Kerk Argief, Kaapstad
Bronnemateriaal, Nasionale Argief, Den Haag
Bronnemateriaal, Nederlandse Skeepsvaart Museum, Amsterdam
Bronnemateriaal, VOC Kennissentrum, Leiden
“Ortssippenbucher Ostfrieslands” Die Familien der Kirchengemeinde Neustadtgödens, 1695–1900 / Luther., 2002. Die Familien der Kirchengemeinde Dykhausen- Neustadtgödens, 1611–1900 / Reform., 2002.
De Villiers/Pama, Geslagsregisters van Ou Kaapse Families
Heese/Lombard, Suid Afrikaanse Geslagsregisters

Ferdie Jansen  ferdiejansen@yahoo.co.uk

 

 

 

 

 

 


 

  • Hits: 13394

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy