Surnames K to M

Written by Stamouers on . Posted in K - M.

LOTTER Matthias

Matthias Lötter is ongeveer in 1700 in die stad Augsburg, Swabe gebore, maar ander bronne gee sy geboortedatum as 1709 aan. Net soos sy voorvaders het Matthias ’n goud- en silwersmid geword. Hy en sy gesin het vir ‘n tydlank in Amsterdam, Nederland gewoon, voor hy in 1733 met die rang van adelbors deur die VOC inxx diens geneem is. In sy testament word sy vrou Susanna Roge en hulle drie kinders genoem:
Anna Sabina,
George Andreas
Susanna

Op 6 Julie 1733 vaar Matthias, sonder sy gesin, vanuit Amsterdam aanboord van die 650 ton spieëlskip, die Van Alsem. Op 29 Desember 1733 vaar die Van Alsem Tafelbaai binne met 40 siek passasiers aan boord binne, terwyl dertig skepelinge tydens die vaart omgekom het. Matthias het vir ‘n maand in die hospitaal in die Kaap aangesterk en is op 29 Januarie 1734 ontslaan.

Op 4 Oktober 1735 verkry Matthias vryburgerstatus en begin hy sy eie besigheid. Hy was die eerste silwersmid aan die Kaap en alhoewel hy baie stukke uit silwer moes gemaak het, is slegs nege daarvan vandag bekend, waarvan sewe in die Grootte Kerk in Kaapstad bewaar word. Die sewe stukke bestaan uit ‘n nagmaalsbord, twee bypassende aalmoes- of kollektebordjies, twee bordjies vir nagmaalsbekers en twee inkstelle, wat almal in 1737 vervaardig is. Die ander twee stukke is ‘n teehouer in ‘n private versameling, en ‘n suikerbak in die Nasionale Kultuurhistories- en Opelugmuseum in Pretoria. Sy kunsstyl en patroon was dieselfde as die wat in Wes-Europa in die laat 17de en vroeë 18de eeu gewild was. Hy het sy werk met die letters ML aan die onderkant van elke stuk gegraveer. Sy werkswinkel moes relatief groot gewees het, want hy het nog silwersmede in diens geneem. David Ficker het van Maart 1736 tot Januarie 1743 vir hom gewerk.

Matthias se seun, Georg Andreas, wat in 1745 'n kontrak met die VOC as hooploper gehad het, is vanaf 11 Augustus 1745 tot 9 September 1748 aan sy vader as assistent geleen. Volgens sy kontrak met die VOC, was Georg van Amsterdam in Nederland afkomstig. Ene Tobias Rogiers het in 1750 vir hom (Georg) gewerk.

Volgens getuienis wat in ‘n hofsaak in 1750 gelewer is, blyk dit dat Matthias voordat hy na die Kaap gekom het, 'n tydlank in Nederland gewerk het. Tydens die hofsaak het die silwersmid, Christiaan Ackerman geb.1724, Matthias daarvan beskuldig dat hy lasterlike en vals bewerings gemaak het oor goue knope wat Ackerman verkoop het. Uit die hofverrigtinge blyk dit dat Matthias ‘n man van integriteit was wat gewaak het oor die etiese standaarde van sy ambag. Die saak is in Matthias se guns uitgewys.

Op 16 November 1736 tree hy met Anna Dorothea Meijntjes van den Berg in die huwelik. Sy was die dogter van Johann Heinrich Meintjes van den Berg, gebore in 1675, Munsterland en Christina Bastiaansz.

Dit is nie bekend waar Matthias gewoon het nie, maar ons kan wel aanneem dat hy en sy gesin naby die Kasteel woonagtig was, want al die kinders is in die Kerk in Kaapstad gedoop:

b1 Johannes Casparus ˜25-8-1737
b2 Anna Maria ˜16-8-1739
b3 Matthias ˜26-11-1741
b4 Christoffel ˜26-4-1744
b5 Anna Dorothea ˜17-7-1746
b6 Willem Godfried ˜29-9-1748
Met die doop van Christoffel was een van die doop getuies Christoffel LÖTTER. Dit is interessant dat daar ook ‘n Lötter aan die Kaap was, naamlik Johann Christiaan Lotter wat in 1767 by die Kaap geland het van Falkenhagen.

Matthias het tot die Lutherse Kerk behoort en het ‘n aktiewe rol gespeel in hulle stryd om erkenning gespeel -- en ook om verlof te verkry om ‘n eie gemeente in Kaapstad te stig. Hy was in 1742 een van die ondertekenaars van die eerste petisie in dié verband.

Op 25 Desember 1751 sterf Matthias. Na Matthias se dood word die silwersmid, Johann Hasse, van Braunschweig afkomstig, aan Anna geleen. Op 26 November 1752 trou Anna met hom. Johann het in 1753 vryburgerstatus verwerf en Matthias se onderneming oorgeneem.

Die seuns Johannes Casparus en Willem Godfried, word ook silwersmede. Christoffel word ‘n veeboer en trek so ver as Graaff-Reinet.

Saamgestel deur Ivan S. Lötter info@lotter.co.za

Bronne:
Geslagsregisters van die Ou Kaapse Families', C.C. de Villiers, en C. Pama, 1966.
Doopregister, Nederduitse Gereformeerde Kerk
Boedel van Matthias Lötter, MOOC 7/1/8
Soldystaat van Matthias Lötter, Nationaal Archief, Nederland
Biografiese Woordeboek, p, 493
www.voorstoep.co.za, Aankomste aan die Kaap in 1733
www.aair17.ukgateway.net/GezonkenVOCschepenkleur

Webwerf
www.lotter.co.za