Skip to main content

logo new

Surnames K to M

LACUS Hendrik

Hendrik LACUS was van Wesel in Duitsland afkomstig en het in 1659 as adelbors (seekadet) aan die Kaap geland. Hy trou in 1662 met Lydia DE PAPE, die dogter van Ds Nathaniel de Pape. Nathaniel het op 3 Oktober 1659 met die skip Oranje, wat op weg na die Ooste was, aan die Kaap geland. Die skip het op 19 Oktober uit Tafelbaai gevaar en kort daarna, op 29 Oktbobe, is Hendrik en Lydia in die huwelik bevestig. Lacus het drie slawe gehad, terwyl Lydia vir Zara (d"Hottentotinne) in diens gehad het. Een van die drie slawe, Sabba, het "n seuntjie met die naam Dirk gehad en hy is later deur Ds Van Arckel gedoop.

Lacus het verskillende poste aan die Kaap beklee en het onder andere as boekhouer, fiskaal, landmeter en sekretaris van die Politieke Raad gedien. In 1667 word hy tot Secunde bevorder. Ongelukkig het Lacus dikwels van gebedsdienste en die kerk weggebly en was hy "n aanvaarde dronklap.

Hy het die slaaf Louis (Lovijs) van Bengale, wat gedurende hierdie tyd omtrent 14 jaar oud was, vir 80 Rds van Zacharias Wagenaer gekoop toe Wagenaer die Kaap in 1666 verlaat het.

In 1661 het hy die plaas De Rood Blom (Roodebloem) ontvang.

In 1667 word Lacus weens geldverduistering van 6,865 gulden aangekla. Hy was ook aangekla dat hy onwettiglik 89 paar skoene aan slawe en bandiete beskikbaar gestel het (slawe en bandiete moes kaalvoet rondloop). Blykbaar het hy en sy vrou ook baie gesteelde goedere met die hulp van hulle tussengangers, die slawe Louis van Bengale en Dorothea, landuit gestuur. Aanvanklik word Lacus in die fort aangehou, terwyl sy vrou en kinders onder die toesig van die weduwee Wiederholts in "n aparte kamer moes woon. Later, in Maart 1668, word Lacus en sy vrou gevonnis om na Robbeneiland gestuur te word. In 1669 word Lydia, nadat sy dienooreenkomstig "n versoek gerig het, toegelaat om met haar kinders na Kaapstad terug te keer.

KINDERS
b1 Henrietta gedoop 28 Aug 1665
b2 Elisabeth gedoop 15 Des 1669

Nadat Lacus sy vonnis op Robbeneiland uitgedien het, ontvang hy in 1670 die laer amp van "n soldaat. Hierna word hy saam met sy vrou en drie kinders (die naam en geboortedatum van sy derde kind is nie bekend nie) na Batavia gestuur.

Bronne:
Hoge, Personalia of Germans at the Cape
K Schoeman, Armosyn van die Kaap: Die Wêreld van "n Slavin 1652 - 1733
SA Geslagregister, Volume V

Saamgestel deur:
AM van Rensburg

  • Hits: 9813

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy