Surnames D to G

Written by Martina Louw en Piet du Toit on . Posted in D - G.

DU TOIT Francois

Twee broers, met name Francois en Guillaume du TOIT, het na Suid-Afrika gekom op die skip Vrijheit. Beide was afkomstig van Ryssel (Lille). Melding word ook gemaak van 'n broer, Bruno, en 'n suster, dog dié het Suid-Afrika nooit bereik nie. Hulle ouers was Pierre du Toit en Marie Rousel(le).

Waar Francois hom aanvanklik bevind het, weet ons nie. Moontlik het hy sy broer met die boerdery gehelp. In 1692 is De Kleine Bos (Kleinbosch) in Daljosafat aan hom toegesê en in 1695 het hy dit as vaste eiendom verkry. oP 12 Februarie 1690 is hy getroud met 'n Hugenotemeisie van Saint Onge, Susanne SEUGNET, wat met haar twee susters, Claudine en Jeanne, in 1689 in die Kaap aangekom het. Hy het dus De Kleine Bos kort na sy troue verkry. (Die Hugenote Gedenkskool is in 1883 op Kleinbosch in gebruik geneem). Hy het baie eikebome daarop geplant. Honderd jaar later was daar nog van die bome te sien. Hulle was so dik dat vier mans dit nouliks kon omvat.

Hulle het 9 kinders nagelaat:
b1 Andries gebore c 1691 x 7 Maart 1717 Martha Rousseau (dogter van Pierre Rousseau en Anne Retif).
b2 Susanna gebore c 1692, X Willem Elberts
b3 Geertruyda x Pierre Rousseau, xx Carel van der Merwe, xxx Johannes Bastiaans (seun van Johannes Bastiaans en Anna Maria van Dyk).
b4. Helena ~ 8 Mei 1695, x Burgert Pieters van Dyk, xx Ernst Frederik de Swart xxx 16 April 1730 Arend Olivier (seun van Hendrik Corneliszoon Olivier en Beatrix Gysberta Verwey) xxxx 15 Maart 1739 Johannes Botha (seun van Friedrich Both en Maria Kickers).
b5 Pierre gedoop 24 Maart 1697 x Elisabeth Rousseau (dogter van Pierre Rousseau en Anne Retif).
b6 Francois ~ 28 Junie 1699, + Tulbagh 6-12-1751, x 12 April 1722, Marie Theron (dogter van Jacques Therond en Marie-Jeanne des Pres) weduwee van Pieter Janse van Marsevene
b7. Martha ~ 4-11-1701 x Johannes Möller (seun van Hendrik Christoffel Möller en Margaretha Marquard).
b8 Stephanus ~1693 x Debora Marais (dogter van Charles Marais en Anna des Ruelles) xx 13 Februarie 1757, Maria Jacobs (dogter van Daniel Jacobs en Louisa Cordier) sy was weduwee van Pieter Barend Blom
b9 Elizabeth ~ 9 Augustus 1705, + Tulbagh 5 Januarie 1789, x Jacques Theron (seun van Jacques Therond en Marie-Jeanne des Pres) .
b10 Maria ~ 21 September 1709 x 22 Julie 1725, Johann Friedrich Bierman van Hamburg.

Let wel volgens Juna Malherbe is die volgorde van die kinders in De Villiers en Pama foutief, Juna het hieroor geskrywe in, "Die Du Toit-familie in SA - nuwe feite oor die b-geslag" Die Bulletin 36 (1999), Hugenote Vereniging van SA.

Van hom word vertel dat hy die Goewerneur gevra het om die Dal (wat tans bekend is as Dal Josaphat) aan hom te verkoop, maar omdat oorkant die Bergrivier baie San en Koikoikrale was, het die Goewerneur geweier en gesê dat Du Toit vermoor sou word. Hy het egter volgehou en die Goewerneur het dit eindelik afgestaan, met die woorde "Jy moet jouself verdedig, ek staan nie borg vir jou veiligheid nie."

Die Sanmense het Du Toit vreeslik gepla en bitterheid veroorsaak deur voortdurend sy vee te steel. Dikwels het hy en sy bure die rowers agternagesit. Die manne was gewoonlik in twee klompe verdeel en het dan die klowe ingesteek. Wie eerste by die groot bos kom, moes gewoonlik 'n trompetter blaas. Die plek het later bekend geword as Trompettersbos. Omdat die Du Toits die eerste was wat Du Toitskloof deurgegaan het, het dit later dié naam gekry.

Soos sy broer Guillaume het hy 'n belangrike rol in die gemeenskap gespeel. Francois was 'n heemraad vir Stellenbosch en Drakenstein asook ouderling in die gemeente. Met sy boerdery het dit blykbaar heel voorspoedig gegaan, want hy was uiteindelik die eienaar van drie plase, De Kleine Bos in Daljosafat sedert 1692, Zoetendal (1712) in Wagenmakersvallei (Wellington) en Limiet Rivier (1715) aangrensend aan Zoetendal. Hy was een van die suksesvolste graan- en wingerdboere aan die Kaap. Hy is in Oktober 1731 oorlede.

Was Guillaume en Francois du Toit werklik Hugenote? Of was hulle afstammelinge van Hugenote? Ons weet reeds dat daar vanaf 1605 Du Toits in Leiden was. Is die broers nie maar net die nageslag van hierdie familie nie? As ons die lys van toekennings aan Hugenote hierbo genoem vergelyk, is dit duidelik dat sowel Guillaume as Francois wel finansiële ondersteuning as Hugenote ontvang het. In 1690 het die broers 'n toelaag ontvang uit die Bataafse Fonds.

Hy was 'n sterk opponent van goewerneur W. A. van der Stel. Hy en Guillaume het 'n lewendige rol gespeel in die opstootjie wat daar geskied het tussen die Goewerneur en die Koloniste oor die klagbrief van Adam Tas. Onder datum van die 20 Desember 1706 vertel Tas dat hy daardie dag by Francois du Toit die ete geniet het. Dieselfde nag is hy gewek deur die geklop van Abraham Bleusei, wat van Drakenstein gery het, om Tas mee te deel dat vyftien Franse daardie dag aan die huis van Du Toit was en dat die Landdros besig was om die boere te beweeg om 'n geskrif te laat teken ten gunste van die Goewerneur. Eers is hulle met beloftes toegespreek, meld Bleusei, naderhand met dreigemente, maar hulle kon Du Toit nie beweeg nie. Eindelik het die Landdros die deur laat sluit en iemand daar gestel om dit op te pas. Niemand wou egter teken nie.

Sowel Guillaume as Francois is gevolglik gelas om voor die geregshof te verskyn in verband met die ondertekening van die klagbrief, maar hulle het geweier om aan die versoek te voldoen en het saam met sewe ander burgers na die Vier-en-twintig Riviere gevlug. In hul afwesigheid is die vonnis uitgespreek, nl. dat hulle vir 5 jaar na Mauritius verban word. Elkeen is ook 'n boete opgelê en verbied om ooit weer 'n militêre of politieke pos te beklee. Die Goewerneur het alles in sy vermoë gedoen om die manne terug te kry, maar tevergeefs. Guillaume en Francois het, na dit blyk, vriende gehad onder die dienaars van die Goewerneur en dié het die Du Toits in 'n brief wat hulle aan die manne geskryf het, aangeraai om nie terug te keer nie.

Francois sterwe in 1734.

 

Die broer en ander stamvader Guillaume du Toit en Sara Cochet het net een dogter gehad:

b1 Helena gebore 23 Julie 1690 en gedoop 6 Aug 1690, sterwe 14 Jan 1714, X Jan Oberholster

Bronne:
Kannemeyer, AJJ: Hugenote-familieboek, 1940
Coertzen, P: Die Hugenote van Suid-Afrika 1688-1988,1988
De Villiers/Pama
Heese/Lombard
Verwysingsmateriaal, Boksburg biblioteek
Verwysingsmateriaal, Springs LDS FHC biblioteek
Juna Malherbe, Genforum

Saamgestel deur:
Martina Louw (nee van Breda) Kennethl@xtra.co.nz
Piet du Toit dutoitel@iafrica.com