Surnames A to C

BRITS Hans Jacob

Hans Jacob BRITS van Steijn, gebore c. 1663 was getroud met Dina OLIVIER, gedoop 25.07.1675, die buite-egtelike dogter van Ockert Olivier en Maria Jans VISSER, terwyl laasgenoemde met Willem Willemse vanaf die stad Deventer getroud was. Daar is baie geskryf oor Dina, waarskynlik omdat daar ‘n deurmekaarspul ontstaan het rondom hierdie situasie, deels omdat Dina om die beurt as Dina Ockerts, Dina Willems en Dina Olivier aangegee word. As jy na Hans soek, word die storie van Dina vertel, want dit is ‘n lekker storie, en die storie van Hans Jacob Brits word vergeet. Hierdie is Hans se storie, nie Dina s’n nie.

Dit is November 1681. Le Bon Henri is lankal dood, en onder Lodewyk XIV is die vervolging van protestante veller as ooit. Met Lodewyk se aggressiewe uitbreiding van sy ryk verower hy Straatsburg in hierdie maand, en konflik met Nederland dreig. Die VOC laai hulle skepe so vol as wat hulle kan - seker om voorraad in Nederland te kry voor die vaartbelynde Franse oorlogskepe vet Nederlandse ganse soek om te pluk. Op 16 November vaar Hans Jacob Prits van Steijn op die Burg van Leiden na Asië. Waar hy beplan het om af te klim sal niemand seker ooit weet nie - die rekords vir hierdie besondere vaart sê nie eers hoeveel mense in die Kaap afgesit is nie, en rekord van die skip se terugvaart het in die newels van tyd verdwyn.

Die oorlaaide retoervloot - en Rijkloff van Goens, wat as afgetrede Goewerneur-Generaal van Indië op pad terug Nederland toe is, het tussen Februarie en April 1682 so stuk-stuk in die Kaap gearriveer, met ten minste twee skepe in ernstige moeilikheid na 'n hewige storm by Kaap Agulhas. Daar is geen rekord van die Vreiheijt op DAS nie, maar sy kaptein Jacob Valck rapporteer lekkasies - tot so mate dat hy van die vrag moes oorboord gooi voor hy in die Kaap aangekom het. Die Hollandse Tuin kom 4 April in Tafelbaai aan met skade wat hy opgetel het in die storm, en vertrek weer die 28ste, met die vise-kommandeur Leendert Maas aan boort. Dit lyk nie of hy sy bestemming in Nederland haal nie. Die Burg van Leiden kom op 4 Maart 1682 - midde in hierdie krises, in die Kaap aan. Dit moes 'n moeilike vaart gewees het - 26 mense is dood op die vaart. Met hulle aankoms word die vrag wat Batavia toe moes gaan, afgelaai (om stuk-stuk met opvolgende skepe aangestuur te word) saam met die impotenten. Van die retoervloot se vrag word opgelaai, en die skip beman met ekstra bemanning van veral die Vreiheijt, en sumier teruggestuur Nederland toe. Dinge moes redelik deurmekaar gewees het - alhoewel hierdie skip se vorige en opvolgende vaarte se detail noukeurig aangeteken is, is die enigste detail van hierdie vaart sy vertrekdatum uit Nederland, sy aankoms datum aan die Kaap, die 317 persone aan boord met uitvaart en die 26 dood gedurende die reis. Hans Jacob Prits se data op VOC opvarendes is net so skraal - geen datum uit diens nie, geen rede vir sy uitdienstreding nie, nie eers die pos wat hy beklee het nie - bloot net dat hy vertrek het en dat die skip in die Kaap aangekom het.Dr. Hoge, in Personalia, noem wel dat hy ‘n soldaat was, en op 6 Mei 1684, twee jaar na sy aankoms, vryburger word.

Hans Jacob Prits word op die 1685 monsterrol in Stellenbosch aangegee - sy aankoms mag chaoties en moontlik onbepland gewees het, maar hy het genoeg van die plek gehou om te bly. Hy word weer in die 1686 monsterrol gelys, maar nie in die 1688 een nie. In die 1690 monsterrol word Hans Rits gelys, en in 1691 Hans Jacob – beide vermoedelik Hans Jacob Brits. In hierdie twee monsterrolle word bitter min vroue gelys, en kan dit nie gebruik word om 'n datum vir sy troue aan te dui nie. In 1695 is Hans Jacobs Bruts en Dina Ockes met een kind gelys, weer in Stellenbosch - moontlik is die tweede dogter, gedoop in Oktober 1694, hier al oorlede. Ek kry nie 'n huwelik vir Hans en Dina in die Kaapse troues van 1687-1692 nie, al is daar 'n hele paar troues van Stellenbosch gelys, ook in nie in die Stellenbosch troues op eGGSA nie. Behalwe vir Cornelis en Anna Maria, het ek die doopdatums vir al die kinders bevestig, die eerstes in die Kaap en daarna in Stellenbosch.

Hans en Dina se huwelik kon nog nie opgespoor word in die Kaapstad en Stellenbosch rekords van 1687 – 1692 nie. In 1687 is Dina maar 12 jaar oud, en dit is onwaarskynlik dat hulle so vroeg getrou het, alhoewel nie onmoontlik nie. Hulle bly eers op Stellenbosch, en tot en met 1705 doop hulle kinders daar, behalwe vir die eerste dogter, Magdalena, wat in Kaapstad gedoop word, Anna Maria wat in 1699 in Drakenstein gedoop word, en Cornelis, wie se doopinskrywing nog nie gevind kon word nie. Iewers tussen September 1705 en Maart 1708 trek hulle Kaapstad toe, en doop hulle laaste vier kinders hier, waarskynlik toe hulle op Koorhoop begin boer het. Met Dina se dood bly hulle in ‘n huis aan die Liesbeeckrivier wat op haar Inventaris Koornhoff genoem word, en op haar Vendurol Koornhoop. Koornhoop was ‘n buitepos met ‘n klip ‘redout’ waar veral vroeër 1 of 2 kanonne geplaas is. In Jan van Riebeeck se tyd, is dit veral gebruik om die vee teen veediefstal te beskerm, aangesien die Liesbeeck die westelike grens van die eerste nedersetting gevorm het. Die Raad het op 5 Julie 1662 besluit om die ‘redout’ af te breek en te gebruik om van die kompanjie se geboue te herstel wat vervalle geraak het, en nadat die nut as verdedigingspos verdwyn het, is dit uitegee aan vryburgers om op te boer.

Hans Jacob Brits is waarskynlik kort na sy vrou oorlede, tussen 23 November 1722, toe hy beskryf word as Dina se oorlewende man, en 19 Desember, toe hy as ‘wylen den burger Hans Jacob Brits’ beskryf word op Dina se Vendurol. In 1725 skuld sy boedel nog geld aan Frederik Corbach, soos op laasgenoemde se inventaris reflekteer na sy dood. Hans se geskatte geboortedatum berus op die aanname dat soldate op omtrent 18-jarige ouderdom gewerf is deur die VOC. As Hans op 18 jarige ouderdom by die VOC aangesluit het, is hy met hulle dood 59 jaar oud, en Dina 47.

Nie een keer verskyn ‘n Olivier as getuie in een van die dope wat ek gekry het nie, alhoewel Dina se broer Cornelis moontlik getuie was by sy naamgenoot se doop. Net een Willemse tree op as getuie by die kinders se dope – met Alida (b9) se doop. Al was hulle halfsusters, en Alida Willemse net twee jaar jonger as Dina, kon hulle mekaar eers leer ken het as volwassenes, want Alida is saam met haar ouers na Mauritius kort na haar geboorte, en hulle het eers teruggekom omtrent dieselfde tyd as Dina en Hans se troue.

Alida Brits se tante, en haar doopgetuie, Alida Willemse, het vroeg al die Kaap verlaat, voor haar ma se dood. Op Dinsdag, 9 Desember 1738 doen Geertje Ackerman (* 1695), die dogter van Maria Willems [22] en Lambert Simonsz Stam, en op 7.12.1713 met Marthinus Ackerman (1668-1721) van Dorla getroud, aansoek dat Alida se porsie van haar ma se boedel, wat deur die weesmeester teruggehou is, aan haar uitbetaal word. Uit hierdie versoekskrif blyk dit dat Alida, wat sy hier Daatjie noem, in 1708 met Carel Brak getroud is, en voor haar moeder se dood na Nederland vertrek het. Aangesien nog hulle, nog die weesheer sedertdien enigiets van haar gehoor het, moet hulle aanneem dat sy dood is, en dus versoek Geertje dat die som van ‘vier hondert vijftig gulde en negentien stuijvers (Indische valuatie)’ aan haar, as die enigste oorlewende kind, uitbetaal word. Sy belowe, dat indien enige erfgenaam wel opdaag, sy die geld sal terugbetaal. Adolph Brits (b6) en Claas Jonasz d' jonge, Anna Maria Brits (b5) se man verklaar hulle bereid om as borg hiervoor op te tree, en die Raad staan die versoek toe dat ƒ450:19:- aan Geertje uitbetaal word, op voorwaarde dat sy deur ‘n verklaring dit baie duidelik stel dat sy die engiste oorlewende erfgenaam van haar moeder Maria Jansz Visser is. Met Claas se dood bly hy en Anna Maria op Raepenberg, langs die Liesbeeck, naby Koornhoop. Dit wil blyk dat die nou verhouding tussen Maria se kinders by die verskillende mans bly voortleef in die kleinkinders, selfs nadat feitlik al die kinders self dood is.

Hans Jacob se seun Cornelis word in SAG gegee as b5, wat beteken dat hy met sy ma se dood omtrent 21 sou wees. Hy word egter gegee as mondig op 23 November 1722, maar jonger as Magdalena. Hy onderteken ook die inventaris saam met sy oudste suster. In Desember 1723 help hy ook om die inventaris van Jacob Mostert op te stel. As hy na Anna Maria gebore is sou hy nie op hierdie twee datums mondig wees nie. As daar aangeneem word dat hy jonger is as Magdalena aangesien hy na haar op die Inventaris gelys word, en hy op 25 mondig geword het, beteken dit dat hy tussen 1692 en 1697 gebore moes wees. Daar is ‘n 4-jaar gaping tussen Geertrui se 1694 doop en Rudolph se 1698 doop, teenoor die 3-jaar gaping gaping tussen Anna Maria en Rudolph se dope. Ek kry nie sy doop in die Palmkronieke van Stellenbosch, Corney se transkripsies van die Kaapstad Dope vir 1695–1697 en 1699-1702 of die Drakenstein dope 1695-1701 nie. Dit lyk egter asof daar bladsye weg is vir die 1696-7 Kaapstad dope. Met die volgorde van name op Dina se inventaris, sy status as mondig, en die dood van beide Geertruy en Dolph is dit baie meer waarskynlik dat hy in hierdie periode gebore is – wat hom b3 sou maak i.p.v. b5, maar dit is glad nie ‘n uitgemaakte saak nie, en wag op bevestiging, indien moontlik.

In party van die ouer inligting is daar verwarring tussen b3 en b6, soms met dieselfde name en dieselfde troue. Die eerste word gedoop as Dolph, die tweede as Rudolphus, en SAG gee die troue aan as die van b6. Dina se inventaris, gedateer 23-11-1722, help nie veel nie, meeste van die kinders se ouderdomme is met ‘n jaar of twee uit – al het Hans en sy twee mondige kinders geteken. ‘n Adolph Brits word gelys as synde 22 jaar oud. Vermoedelik is dit Rudolph, maar Dolf (b4) sou op hierdie datum klaar 24 wees, en Rudolphus (b6) het pas 20 geword. So die aanname dat Dolf dood is en Rudolph oorleef het berus bloot op die feit dat die twee byna dieselfde naam het, en net een van hulle is op Dina se inventaris gelys.

Een van die vrae rondom hierdie families wat nog nie regtig beantwoord is nie, is waar Dina en Cornelis groot geword het. Die monsterolle vir daardie tyd wys dat hulle nie by die Visser ouma en oupa was nie, en behalwe vir die jaar met hulle pa se troue, ook nie by pa en stiefma was nie.

KINDERS:

b1 Magdalena ~ Kaapstad 13-04-1692 X JG VAN DEVENTER, XX B LINDEQUE.

Den 13 dito (April) een kint gedoopt waer van vader is Hans Jacob Brits, de moeder Dina Cornelisze, is genaemt Lena.
Cape Archives Verbatim Copies VC 603, Nederduits Gereformeerde Kerk, baptisms 1665-1696, http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-ngk-1665-to-1695/62-cape-town-baptisms-1692,

b2 Geertruy ~ Stellenbosch 10-10-1694 (Palmkronieke), moontlik dood voor die opname van die 1695 monsterrol waar die ouers met net een dogter aangegee word.

b3 Cornelis X 12-03-1724 Maria Magdalena DE PERONNE weduwee van Jacob Mostert. Voor sy huwelik met Maria het hy 'n buite-egtelike verhouding met Hilletje Gerrits v.d.K. gehad. Daaruit is c1 gebore.

b4 Rudolph ~ Stellenbosch 28-09-1698 (Palmkronieke – Dolf). Hy word nie genoem in Dina se inventaris nie.

b5 Anna Maria ~ Drakenstein 04-10-1699, X Stellenbosch 05-12-1723 Hermanus GERRITS, + voor 18-12-1730 (op sy inventaris word hulle huis aan die Liesbeeck rivier beskryf as ‘Een hofstede genaamt, Räpenberg’) XX Claas JONAS seun van Claas JONAS en Dina VAN DIE KAAP. (Op 23-11-1722 gee Dina se inventaris haar op as onmondig, 24 jaar oud, terwyl sy volgens haar doopdatum pas 23 geword het. (Mansel Upham het gesê dogters is as mondig beskou op 22, seuns op 25. Dr GC de Wet (skrywer van Die Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting 1657-1707) sê: “The age of twenty-five for males and twenty for females was accepted in South Africa as the age of majority, and remained such until 1829, when an ordinance was passed by which the law of the Cape Colony was assimilated to that of England.” (p420). Anna Maria se status strook nie met een van hierdie twee stellings nie?)
Le 4' octobre 1699. Anne marie fille hance jacob a Ete presantée au Saint Bapteme Le temoins Et han hance Et Anne marie pour Marraine [The 4th October 1699. Anne Marie, daughter Hance Jacob was presented for holy baptism. The witnesses were Han Hance and Anne Marie as godmother]
http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers-paarl/drakenstein-french-baptisms-1694-1713
FFY identifiseer hierdie getuies as moontlik Hans Hensz en Anna Maria Holshax.

b6 Rudolph ~ Stellenbosch 24-12-1702 (Palmkronieke – Rudolphus, getuies Hans Jacob CONTERMAN, Anna Catherina KLEEFT), X Stellenbosch 05-10-1723 Maria GERRITS ~ 30-08-1705, + 30-03-1738, dv Gerrit GERRITS en Susanna XX 17-01-1740 Huibrecht BRAND, ~ 13-06-1717, dv Robert Robertsz BRAND en Cornelia (Neeltjie) SLABBERT, wed van Christoffel SMIT.

b7 Ockert ~ Stellenbosch 13-09-1705 (Palmkronieke – Ocker), X 11-11-1731 Catharina PYL ~16-11-1692, dv Adriaan Bastiaansz PYL en Cornelia CORNELISSE, weduwee van Willem BOTHA (b2). Dina se inventaris gee hom aan as 16 jaar oud, maar volgens sy doopdatum is hy 17, ongetroud met sy ouers se dood. Magdalena, wat met sy doop omtrent 13 jaar oud is, is die getuie.

b8 Maria ~ Kaapstad 04-03-1708.

D:o (4 Mar 1708)
van Hans Jacob Brits en Dina Okkerse; de getuigen Jan Jansz Loos.
- Marij
http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1695-1712/151-cape-town-baptisms-1708

b9 Alida Aletta, ~ Kaapstad 13-12-1711 X 01-11-1733 Sybrand VAN DYK.

13 Xb:r (Dec)
van Hans Jacob Brits, en Dina Olivier; de getuige Alida Willemsz.
- Alida
http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1695-1712/154-cape-town-baptisms-1711

b10 Sophia ~ Kaapstad 04-11-1714 + voor 23-11-1722.
4 9b:r
Sophia
Hans Jacob Brits, en Dina Olivier
Martinus Akkerman, en Geertruij Lammert [Sim...]
http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1713-1742/225-cape-town-baptisms-1714

b11 Johannes ~ Kaapstad 02-05-1717 + voor 23-11-1722.
2 Maij
Johannes
Hans Jacob Brits, en Dina Olivier
Christiaan Rasp, en Femmetje Visschers
http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1713-1742/255-cape-town-baptisms-1717

 


Verwysings:

PALMKRONIEKE Annale van Nederduits Gereformeerde Moedergemeente Stellenbosch No 1
Die Genealogiese Genootskap van Suid Afrika: eGSSA tak. South African Records Transcribed. A selection of historical records transcriptions. http://www.eggsa.org/sarecords/
TANAP Resolutions of the Council of Policy of Cape of Good Hope
TANAP Inventories of the Orphan Chamber
Suid Afrikaanse Genealogie (SAG) Vol 1 (A-C), J.A. Heese, p445 - 452
Nationaal Archief VOC Opvarenden
http://vocopvarenden.nationaalarchief.nl/default.aspx
DAS (Dutch-Asiatic Shipping in the 17th & 18th centuries)
http://resources.huygens.knaw.nl/das

Nagevors en saamgestel deur:

Willeen Olivier


Nota:-
Volgens Jean le Roux (sien onder) was Rachel Joubert met b8 en nie met b1c4 getroud nie.

Groete
Louw van Deventer
Klerksdorp

------Vyftig jaar gelede het ek met jeugdige voortvarendheid besluit dat Rachel Joubert wed DW Crafford getroud was met Gerrit van Deventer b8 ~1713 en nie met sy nefie Gerrit b1c5 ~ 1719 soos aangedui in DeVP nie. Later het wyle dr JA Heese met my saamgestem en dit reggestel in SAG 2

Groete,
Jean le Roux Paarl
----------------------------------

Hier volg Johan se verhaal.

In Desember 1995 tydens my jaarlikse verlof het ek hoofsaaklik my tyd gewy aan die genealogie van ons familie aangesien dié aspek gedurende die jaar weens `n druk werksprogram nie veel aandag gekry het nie. Weereens het ek vasgesteek by Gerrit Jansz (a1), ons stamvader se oudste kind en seun Jan Gerritsz (a1b1, - Gerritsz staan natuurlik vir Gerrit se zoon soos een van die gebruike toendertyd was). Hy was getroud met Magdalena Brits (of Britz) die dogter van die stamvader Hans Jacob Brits en Dina Willemse soos dit in sommige geskrifte opgeteken staan. Verder word aangegee dat Dina die oudste kind en dogter van Willem Willemse en Maria Jansz Visser was wat op Mauritius gewoon het. Willem Willemse was volgens geskrifte oorspronklik vanaf die stad Deventer. Op 20 Junie 1667 word hulle tweede kind en dogter Aeltje Willemse gedoop en op 26 Oktober 1670 word sy seun Hendrik Willemse gedoop. Die vierde kind word op 27 Junie 1677 gedoop en daama was daar nog Pieterje en Comelis met geen datums aangegee.

In die Kaapse argief vind ons ook `n Willem Willemse vanaf die stad Deventer wat in die Kaap aankom. In 1672 word hy gevonnis omdat hy `n Hottentot met `n snaphaan dodelik verwond het. Hy daag nooit by die hof op 15 Maij op nie. `n Bevel vir sy inhegtenisname blyk onsuksesvol te wees en hy word uit die Kaap verban vir ewig en "allendaagen". `n Derde van sy besittings word verbeurt verklaar ten behoewe van die fiskaal. Die hofdokument word geteken op Julij 1672 deur `n raad van 9 lede. Hierdie dokument is in die Kaapse argief in oud-Nederlands geskryf wat slegs nog deur enkele opgeleide persone ontsyfer kan word. Willem Willemse(n) het uit die Kaap verdwyn en vermoedelik sy familie en goedere hier agtergelaat. Nou lyk dit of hier `n stuk geskiedenis ontbreek wat `n mens laat wonder wat alles gebeur het. Dit wil tog lyk of dit een en dieselfde Willem Willemse was wat ons hiermee te doen het. Was hulle eerste drie kinders in die Kaap gebore? Is dit waarom hierdie familie ook opgeteken is in ons argiewe? Daar was talryke vrae en veel meer navorsing sou gedoen moes word om al die brokkies inligting soos `n legkaart in te pas in die geheel. Die soektog het dus verder gegaan om `n antwoord te probeer vind.

Met die doop van die Brits-kinders soos opgeteken in die Stellenboschse Doopregister, was daar `n probleem. Hulle ouers word aangegee as Hans Jacob Brits (of ook Prits) en Dina Ockers en later ook Dina Olivier. Verdere navorsing bring toe aan die lig dat die broers Hendrik en Ockert Corneliszoon Olivier vanaf Ouwerkerk saam na die Kaap gekom het om stamvaders van die Oliviers te word. Hulle was met twee susters Verwey vanaf Woerden getroud, Hendrik met Beatrix Verwey en Ockert met Aletta (Alitie) Verwey. Die elfde kind van Ockert Corneliszoon Olivier en Aletta Verwey word aangegee as Dina wat trou met Hans Jacob Brits. Dit word ook duidelik uit die ou Hollandse gebruik waarom Dina soms as Dina Ockers aangeteken is om aan te dui van watter Olivier broer sy die kind was. Soos haar vader Ockert Comeliszoon Olivier geheet het, kan ons sê dat sy Dina Ockers Olivier was. (Ockers verwys na Ockert se kind).

Hieruit blyk dit dat Dina Willemse of nie bestaan het nie of, indien sy bestaan het, baie beslis nie getroud was met Hans Jacob Brits nie. Verdere navorsing het die volgende aan die lig gebring:

Hans Jacob Brits (of Britz en ook Prits) en Dina Ockers Olivier het 10 kinders gehad. Vir die Van Deventers was twee van die kinders van belang. Eerstens is die oudste kind en dogter Magdalena met Jan Gerritsz van Deventer getroud.
Probleem was egter dat volgens inligting beskikbaar Dina sowat elf jaar oud moes wees toe hulle eerste kind gebore is. Hoewel nie onmoontlik was dit taamlik onwaarskynlik aangesien die streng wette van die Kaap so `n huwelik nie sou toelaat nie. Dus, die soektog het maar verder gegaan. Verwysings en inligting het ook van ander genealoë gekom en so het meer inligting aan die lig gekom om een van die interessantste verhale aan die Kaap te ontvou.

Hier volg slegs `n verkorte gedeelte daarvan:

Willem Willemse het in 1656 as matroos in diens van die H.O.I.C. aan die Kaap aangekom. Op 6 Maart 1657 bevind hy hom nog in hulle diens maar kort daarna is hy onder die veertiental aan wie op 14 en 15 April 1657 die eerste vrybriewe deur Jan van Riebeeck uitgereik is. Op 31 Mei 1657 word vermeld dat hy die Kompanjie verlaat het om te gaan dien by die "vrylui". Op 15 Februarie 1658 is hy werksaam as kneg op `n plasie aan die Liesbeeckrivier. Op 1 Mei 1661 kry hy volgens `n erfbrief sy eie plasie van 536`/2 roede (25 morg) groot agter Tafelberg tussen Tafel- en Valsbaai. In 1662 word Jan Coenraad Visser die stamvader, sy buurman. Willem Willemse trou dan ook met Maria Jansz Visser, Jan se dogter. In 1671 kom Ockert Corneliszoon Olivier in die Kaap aan en werk as kneg vir Willem Willemse. In 1672 volg die episode met die Hottentot soos reeds genoem. Willem was `n ywerige landbouer en hy en sy buurman Jan was ervare jagters en het dikwels op jagtogte gegaan met die gevolg dat hy sy vrou erg verwaarloos het. Toe hy op 27 April 1672 van die land by die huis kom vind hy "een blauw en witte aerde canne", sy bierkan, gebreek. Toe hy verneem dat die hottentot dit gebreek het, het hy "moeijelick" geword en sy roer gaan haal wat hy gemeen het (volgens hom) net met los kruit gelaai was om die slaaf net bietjie skrik te maak. Vanuit sy skuur op drie-en-sestig tree het hy met die tweede skoot die hottentot gedood ten aanskoue van Ockert Olivier. Op aanrade van sy familie en vriende verlaat hy die Kaap op `n Deense skip ""Malagos" op 4 Mei 1672. Hy keer in 1673 terug na die Kaap maar word nie hier toegelaat nie en word na Robbeneiland gestuur hangende `n besluit van die Heere XVII aangesien sy "manslagh" geensins "onnosel" was maar "voorbedachtelijck en met boos opset gedaan". In September 1675 word `n ylende Willem toegelaat vir behandeling op die vasteland. Hy vind Maria met twee kinders, Dina en Cornelis, gevader deur Ockert. Willem dagvaar haar voor die hof vir "seer lichtvaardigh" afvallige gedrag, sodat `n geweldige stryery tussen die twee ontstaan. Die Kaapse Politieke Raad besluit op 18 Augustus 1676 om beide in aparte skepe na Batavia te "largeer". Tot tyd en wyl hulle vertrek sal haar "pol", Ockert Corneliszoon, op Robbeneiland geplaas word. Geen maand later is hulle in der mate versoen "malcanderen onder handtasting beloften gedaan van voortaan vreedsamelijc met den anderen te sullen leven" dat die Raad op 3 September 1676 besluit om hulle bymekaar op dieselfde skip ""de Vrije Zee" na Batavia te laat vertrek. Die twee buite-egtike kinders word as "echte" kinders genoem omdat "de man sijn vrouw alles vergeven heeft" en word gelaat in die sorg van hulle grootvader Jan Coenraad Visser met Ocker(t) Corneliszoon Olivier hulle pa verantwoordelik vir hulle onderhoud. Dina Ockers Olivier, dogter en buite-egtelike kind van Ockert Corneliszoon Olivier en Maria Jansz Visser, se geboortedatum word aangegee as ±1673. In Mei 1677 keer hulle terug van Batavia na die Kaap maar moes die geskimp en gespot van die Hottentotte aanhoor. Op 14 Julie 1677 besluit die Raad om Willem en sy gesin na Mauritius te stuur "om uijt het oogh van dese schimpige hottentots te sijn als om verdere onlusten te vermijden". Hulle verblyf in Mauritius was blykbaar alles behalwe aangenaam en vreedsaam. Willem is voor Oktober 1686 oorlede. Ongeveer 1690 trou Maria Jansz Visser, weduwee van Willem Willemse afkomstig van Deventer, op Mauritius met Leendert Simonsz Stam, burger van Drakenstein en oorspronklik afkomstig Amsterdam. Maria en haar kinders keer saam met Leendert Stam terug na die Kaap.

Die vierde Brits kind was Anna Maria Brits wat met haar tweede huwelik getroud was met Claas (of ook Klaas) Jonas, die seun van die stamvader Claas Jonas en Dina van Bima, `n vrygestelde slavin. Claas Jonas en Anna Maria Brits (a1b4) het slegs twee seuns nl. Nicolaas en Willem Cornelis gehad. Beide van hulle is met twee susters Van Deventer getroud nl. Zacharija en Magdalena wat kleinkinders van Jan Gerritsz van Deventer (a1b1) en Magdalena Brits (a1b1), suster van Anna Maria Brits (a1b4), was. Willem Cornelis Jonas het geen nageslag gehad nie. Nicolaas Jonas en Zacharija van Deventer (a1b1c4d1) se oudste seun Gerrit Jonas se oudste seun Nicolaas Jonas trou met sy pa se niggie Magdalena van Deventer (a1b1c4d3e9), broerskind van sy ouma Zacharija, terwyl eersgenoemde (Nicolaas en Zacharija) se jongste seun Nicolaas Jonas met sy niggie Judith van Deventer (a1b1c4d3e1), suster van Magdalena (a1b1c4d3e9), trou. Daarmee het die Jonas familie onlosmaaklik verbonde geraak met die Van Deventer-familie.

 

 

PrintEmail