Surnames A to C

BOSCH, Jan Henrik

Jan Henrik Bosch is op 17 Julie 1747 in die Nederduits Gereformeerde Gemeentekerk aan die Kaap gedoop. Sy doopinskrywing lui: "Jan Henrik, Vader (zogezegde) Hermanus Bos, d'Moeder Anna Maria Bruijnings" - Jan Henrik is dus buite-egtelik gebore. In latere dokumente word hy ook Johannes Hendrik of Henricus genoem. Die Suid-Afrikaanse Geslagsregisters van Heese en Lombard gee Jan Hendrik se vader as Hermanus Bosch gedoop in 1728 aan. Daar bestaan wel 'n doopinskrywing aan die Kaap (7 November 1728) vir 'n "Harmannus (onegt) d'Moeder Catharina Pieterβ en ook get'e"; dog 'n stawende bron wat Jan Hendrik met laasgenoemde Hermanus kan verbind, is nie deur hierdie skrywer gevind nie.

Totdat Jan Hendrik se moeder Anna Maria (sy was die dogter van Heinrich Brüning van Lingen, Nieder-Sachsen en Cecilia de Groot) op 18 Oktober 1750 met Heinrich Grootelusche, van Zaal in die huwelik tree, was die drie-jarige Jan Hendrik en sy moeder (toe reeds dertig jaar oud) onder die sorg van die diaconie van die Kerk aan die Kaap.

Johannes Hendrik BOSCH word in die 1796-1798 Opgaafrol van Graaff-Reinet genoem; hy is dus ná hierdie datum oorlede. Daar is min bekend oor die lewe van Johannes Hendrik, dog vorm sy nageslag in Suid-Afrika die grootste deel van families wat die naam Bosch dra.

Die stamvader se seuns was trekboere wat reeds vóór 1800 aan die Oosgrens geboer het, in die omgewing van Cradock, Albany en Somerset-Oos.

Hierdie stoere Afrikaners met hul gades - wat saam met die Britse setlaars swaargekry het en dikwels ook Engels geleer het - was volgens familie-oorlewering hardwerkend, spaarsaam maar vrygewig, en dikwels effens koppig. Hulle het groot gesinne gehad - 'n nageslag wat in latere dekades genoop was om 'n heenkome op die Witwatersrand en elders te soek. Wanneer hulle die geleentheid gebied is, het Bosche op akademiese gebied presteer; mediese dokters, professore, onderwysers, ingenieurs en regsgeleerdes asook kunstenaars met dié van is vandag bekend.

Jan Hendrik is op 28 Augustus 1774 te Tulbagh getroud met Aletta du Plooy (gedoop 26 Maart 1758 te Tulbagh); sy was die dogter van stamvader Michiel du Plooij gedoop op 31 Maart 1717 en Aletta van Wijk gebore 1733. Jan Hendrik en Aletta het ses kinders gehad, te wete:

b1. Johannes Carolus is op 7 April 1776 in die Paarl gedoop. Hy is op 5 April 1795 aan die Kaap met Margaretha Isabella Roelofse (gedoop 14 Julie 1776) in die huwelik bevestig. Hulle spog met vier seuns en vier dogters. Hy is op 26 Julie 1758 te 'Smitskraal', Vogel Rivier, Somerset-Oos oorlede.

b2. Michiel Coenraad is op 5 Januarie 1782 te Paarl gedoop en is op 15 April 1843 op die ouderdom van 62 jaar te Commandodrift, veldkornetskap Tarkastad oorlede. Hy het die plase 'de Plaat', en 'Doornhoek', wyk Vogelrivier besit.

Michiel Coenraad was driemaal getroud:

Eerstens op 6 Januarie 1799 in die Kaap, met Maria Magdalena van der Merwe (gedoop 2 September 1781). Sy bring vier dogters in die lewe. Sy is vóór 1815 oorlede.

Tweedens trou hy 30 Oktober 1815 te Graaff-Reinet met Johanna Magdalena Jordaan (gedoop 7 Februarie 1788, oorlede vóór 1822). Weereens is hy met vier dogters geseën.

Laastens tree hy op 7 September 1823 te Graaff-Reinet met Maria Susanna Catarina Wagenaar (gedoop 12 Mei 1805) in die huwelik. Uit hierdie huwelik spruit ses seuns en vyf dogters. Ná Michiel Coenraad se dood in 1843 trou sy met Abraham Jacobus Espach, die eksekuteur van eersgenoemde se boedel.

b3. Maria Aletta is te Tulbagh gedoop, op 22 Augustus 1784. Sy tree op 29 April 1798 met Anthonie Botha (gedoop op 2 Mei 1779) in die huwelik. Anthonie was die agterkleinseun van Ferdinandus Appel, nié van Friedrich Both nie. Hul huwelik is met vyf seuns en 'n dogter geseën. Beide Anthonie sowel as Maria Aletta sterf te 'Doornkraal', Bruintjeshoogte, hy op 19 Julie 1851 en sy op 29 November 1855.

b4. Aletta Cecilia word op 8 April 1787 te Paarl gedoop. Sy sterf op 1 October 1868. Sy trou op twintigjarige ouderdom op 15 November 1807 met Johannes Cornelis Engelbrecht (gedoop 23 Mei 1781), burger van Graaff-Reinet. Dit was sy tweede huwelik, die eerste was met Johanna Helena Meyer wat ongeveer 1806 oorlede is. Aletta Cecilia skenk die lewe aan agt seuns en twee dogters.

b5. Simon Christoffel, gedoop te Tulbagh in April 1791. Hy trou op 15 Oktober 1809 met Cornelia Margaretha Goosen (gebore 24 Februarie 1793) en boer op 'Buffelsdrif' en 'Modderlaagte' in die wyk Visrivier en 'Geelhoutboom', wyk Riebeek. Hy koop later Piet Retief se plaas 'Mooimeisiesfontein', wyk Riebeek, toe laasgenoemde in 1838 op trek gaan. Hierdie egpaar het vier seuns en twee dogters gehad. Simon Christoffel is op 7 Desember 1871 op 'Mooimeisiesfontein' oorlede, maar dis nie bekend wanneer sy oorlede is nie.

b6. Johannes Hermanus is op 4 Oktober 1794 te Tulbagh gedoop en op 11 April 1813 met Catharina Maria Goosen (gedoop 29 Julie 1798) getroud. Hulle het elf kinders in die lewe gebring, waaronder vier seuns en ses dogters.

Nadat Catharina Maria op 10 Julie 1834 te Bruintjeshoogte oorlede is (moontlik met die geboorte van haar elfde kind Augustina Gertruida) tree Johannes Hermanus weer op 14 Desember 1834 te Somerset-Oos met Catharina Maria se niggie Johanna Maria Goosen (gedoop 6 September 1812) in die huwelik. Laasgenoemde skenk die lewe aan vier seuns en twee dogters.

In die verhoor insake die Slagtersnek-rebellie, getuig Willem Godfried Lotter dat hy bevele aan Johannes Bosch gerig het; dit is egter nie bekend tot watter mate laasgenoemde betrokke was nie.

Johannes Hermanus het die plaas 'Brakfontein' in die wyk Bruintjeshoogte besit, 'Grootfontein', wyk Swagershoek en ook 'de Bril', wyk Vogelrivier. Op 10 Maart 1823 onderteken 171 setlaars en 'n handjievol trekboere, insluitende Johannes Hermanes (sic) Bosch, 'n versoekskrif gerig aan Lord Bathurst aangaande finansiële, wetlike, administratiewe en handelsprobleme aan die Oosgrens. Die versoekskrif lei tot 'n kommissie van ondersoek, onder leiding van John Thomas Bigge en Majoor WMG Colebrooke.

Johannes Hermanus sterf op 7 Mei 1865, en Johanna Maria op 3 Augustus 1886, albei te 'Grootfontein', Somerset-Oos.

Bronne
1. Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, Heese & Lombard, Vol 1, p 33.
2. Familia Vol. 6, No. 1, 1969, p 8.
3. Opgaafrol, Graaf-Reinet, 1796-1798, p 4.
4. Bewaarders van Ons Erfenis, JG le Roux, JJ Niemandt, M Olivier, R Olivier, 2007.
5. The 1820 Settlers, Guy Butler, Human & Rosseau, Kaapstad, 1974, pp 197 & 233.
6. Bosch-Welgemoed Familiebybel in besit van Neil Bosch, Australië.
7. Persoonlike korrespondensie met Jan-Karel Bosch.
8. Doopregister: TAB FK Reeks # 2148, p 46 inskrywing no. 11.
9. Doopregister: TAB FK Reeks # 2149, p 25 inskrywing no. 3.
10. Huweliksregister: Nederduits Gereformeerde Gemeente (NGK), Tulbagh, Weskaap, 1744-1839, p 27, no. 14.
11. Personalia of the Germans at the Cape, 1652-1806, Dr. J. Hoge, Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis.
12. The Cape of Good Hope and the Eastern Province of Algoa Bay, John Centlivres Chase, London 1843.
13. The Rebellion of 1815, generally known as Slachters Nek, HCV Leibbrandt, JC Juta & Co., 1902, p 322.
14. Elsevier Forensic Science International: Genetics; Short communication Appel Botha Cornelitz: The abc of a three hundred year old divorce case; Jaco M. Greeff, J. Christoff Erasmus, Department of Genetics, University of Pretoria, South Africa

Saamgstel deur:

Johannes Bosch, Virginia, VSA
Februarie, 2014
[Met dankbetuiging veral aan die bestuur en lede (té veel om te lys!) van die forum SAGenealogie]

PrintEmail