Surnames A to C

CELLIER Josué

Josué CELLIER
*Frankryk, Orléans c1667
+Paarl //.10.1721
xElisabeth Couvret
*Frankryk, Orléans c1676
+c1743
xxc1722 wew-Paul Roux
*Frankryk, Orange c1665
+Paarl 07.02.1723
xc1688 Claudine Seugneté
*Frankryk, Saintogne, c1671
+
(xxElisabeth Couvret)

Kinders van Josué Cellier en Elisabeth Couvret
b1 Josué =Paarl 02.01.1701 X Ongetroud, + 19.04.1770
b2 Jan *c1702, X Paarl 5.12.1728 Anna Marais weduwee van Gabriel Rossouw
b3 Pierre =Paarl 10.11.1703, +Voor 1712
b4 Elisabeth =Paarl 26.07.1705, X c1724 Pierre Malherbe
b5 Francina =Paarl 30.10.1706, X Paarl 12.04.1727 Pierre le Roux
b6 Maria =Kaapstad 07.09.1708, X Paarl 7.09.1732 Johannes Hubertus van Amsterdam XX Paarl 8.05.1735 Urbanus Sauermann van Mühlbeck
b7 Abraham =Paarl 21.09.1709, X Paarl 6.12.1744 Anna Rossouw
b8 Pieter =Stellenbosch 16.08.1711, Ongetroud, +04.12.1792
b9 Susanna =Paarl 24.09.1713, Ongetroud, +Paarl 14.07.1733
b10 Judith =Paarl 01.03.1716, Ongetroud, +Paarl 24.07.1733
b11 Magdalena =Paarl 26.12.1717, X Stellenbosch 29.04.1736 Pierre le Roux

Kinders van Paul Roux en Claudine Seugneté
1. Paul *c1689
2. Pieter *c1692
3. Hester *c1693
4. Anne =Paarl 25.12.1694
5. Joseph =Paarl 14.10.1696
6. Jeremie =Paarl 01.09.1697
7. Jean =Paarl 22.04.1699

Josué Cellier was afkomstig van Orléans, Frankryk waar hy in ongeveer 1667 gebore is. Hy was moontlik die seun van Josué Cellier en Judith Rouilly wat `n seun Nicolaas in die naburige dorpie Bazoches-en-Dunois laat doop het. Elisabeth Couvret is nege jaar later in ongeveer 1676 ook in Orléans gebore.

Bronne verskil oor wanneer Josué en Elisabeth Frankryk verlaat het. Volgens een bron in 1685, na die herroeping van die Edik van Nantes, toe Josué 18 jaar oud was en Elisabeth 9. Hierdie edik het vir bykans `n honderd jaar `n mate van godsdiensvryheid aan die Protestante verleen en die herroeping daarvan het `n oormatige vervolging van die Protestante tot gevolg gehad. Volgens `n ander bron het hulle Frankryk in 1697 verlaat na die beëindiging van die negejarige oorlog tussen Nederland en Frankryk toe hulle onderskeidelik 30 en 21 jaar oud was.

Of hulle wel in Frankryk getroud is, is onseker.

Simon van der Stel het in 1679, pas na sy aanstelling as goewerneur aan die Kaap, `n versoek gerig dat boere toegelaat moet word om na die Kaap toe te kom, maar aangesien die Kaap slegs as `n verversingspos beskou is, is sy versoek geweier. Die toenemende getal Franse vlugtelinge wat na Nederland gestroom het na die herroeping van die Edik van Nantes het egter tot `n beleidsverandering gelei wat dit vir Josué en Elisabeth moontlik gemaak het om na die Kaap te verhuis.

Persone wat oorweeg sou word om na die Kaap te gaan, moes selfonderhoudend wees en Josué met sy kennis van landbou, wynbou en sy vaardigheid as timmerman het hieraan voldoen. Verskeie voorwaardes is ook gestel, onder andere:
- Hulle sou kosteloos op die skepe van die handelsmaatskappy die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) vervoer word, mits `n eed van getrouheid aan die Kompanjie afgelê word.

- Geen bagasie, behalwe dié wat vir eie gebruik nodig was, kon saamgeneem word nie. Op kontantgeld was daar egter geen beperking nie.
- Landbouers sou soveel grond kry as wat hulle kon bewerk, terwyl landbougereedskap, saadkoring en vee aan hulle verkoop sou word.
- Hulle sou verplig wees om vir vyf jaar aan die Kaap te bly, maar kon met die nodige motivering `n versoek tot die Here XVII, die hoogste gesag van die VOC, rig om die tydperk te verkort.
- Indien hulle na vyf jaar weer na Nederland wou terugkeer, moes hulle teen `n vasgestelde tarief die reisgeld betaal en kon hulle niks uit die Kaap saamneem nie, behalwe dit wat hulle aan hul persoon gehad het.

Die eerste Franse vlugtelinge vertrek einde 1687 uit Nederland en in 1699 is die VOC versoek om nie meer Franse Kaap toe te stuur nie. Dit is dus onseker of Josué en Elisabeth onder die voorgemelde voorwaardes na die Kaap gekom het en of hulle dit op eie inisiatief gedoen het. Hulle seil op 2 Mei 1700 aan boord van die Reygersdaal vanaf Goeree, `n Suid-Hollandse eiland. Ook aan boord was Elisabeth se broer Paul Couvret, sy vrou Anne Valleté en hul dogtertjie.

Vir beter beskerming het `n aantal skepe gewoonlik saam uitgevaar, maar daar kon nie vasgestel word of enige ander skepe saam met die Reygersdaal uitgevaar het nie. `n Reis na Kaap het in daardie jare enigiets van drie tot ses maande geduur en die Reygersdaal arriveer Saterdag 21 Augustus 1700 in die Kaap, maar moes tot die volgende middag voor die hawe lê. 'Op de naarmiddag' van Sondag 22 Augustus anker hulle in die hawe 'onder een slap zuyd west luchtje'.

Oor die algemeen was die skepe waarmee die vlugtelinge oorgekom het maar klein en het passasiers gewoonllik hutte op die agterdek gehad sonder enige wasgeriewe. Voedsel wat aan boord geneem is, is noukeurig deur die VOC gespesifiseer - brood, ingelegde vleis, stokvis en soutvis, ingelegde haring, bier, Franse en Spaanse wyn, brandewyn, botter, olie, asyn, lemmetjiesap, stroop vir ontbyt en vir die bier, pruimedante, rysgort, grou- en groenertjies, mosterdsaad, mierikwortel en sout. Kos, water en bier het betreklik gou bederf terwyl wyn langer goed gebly het.

Skeurbuik, wat hoofsaaklik deur die gebrek aan vars voedsel veroorsaak is, het algemeen voorgekom en het bygedra tot `n hoë persentasie sterfgevalle tydens `n seereis. Verder was daar nog gevare soos storms, brand en aanvalle deur seerowers. Die skipper van die Reygersdaal, Martin de Jeught, rapporteer met hul aankoms in die Kaap slegs een sterfgeval en agt siekes aan boord wat die indruk skep dat Josué en Elisabeth se vaart sonder enige buitengewone voorvalle afgelê is. Twee weke na hul aankoms sit die Reygersdaal sy vaart na Batavia (Djakarta op die Indonisiese eiland Java) voort.

Uit die huwelik tussen Josué en Elisabeth word elf kinders gebore, vyf seuns en ses dogters. Slegs Pierre sterf as kind terwyl Susanna en Judith binne tien dae van mekaar sterf; Susanna op 20-jarige ouderdom op 14 Julie 1733 en Judith op 19-jarige ouderdom op 24 Julie 1733. Die oudste en jongste seuns Josué en Pieter is nooit getroud nie en sterf respektiewelik op 69-jarige en 81-jarige ouderdom. Die twee seuns deur wie die vanne Cellier, Celliers, Cillié en Cilliers voortgedra sou word, is Jan wat in 1728 met die weduwee Anna Marais trou en Abraham wat in 1744 met sy broer Jan se stiefdogter Anna Rossouw trou. Elisabeth trou in ongeveer 1724 met Pierre Malherbe, Francina in 1727 met Pierre le Roux en Magdalena in 1736 ook met `n Pierre le Roux, `n neef van haar suster Francina se man. Maria trou in 1732 met Johannes Hubertus, `n Hollander, en na sy dood hertrou sy in 1735 met Urbanus Sauermann, `n Duitser - sy is die enigste kind wat nie met `n Hugenote-afstammeling getroud is nie.

Die Paarl se kerk waarin Josué en Elisabeth se oudste kinders gedoop is, was nie veel meer as `n saaltjie wat die Franse aanmekaar getimmer het nie en is na geweldige storms in Oktober 1716 so beskadig dat dit onbruikbaar was. Totdat die nuwe kerk in 1720 in gebruik geneem is, is dienste aan huis van die predikant ds Van Aken gehou en hul jongste kind Magdalena is moontlik hier gedoop. Pieter en Maria is moontlik in Stellenbosch en Kaapstad gedoop omdat daar vanaf 1707 tot 1714 geen predikant in die Paarl was nie. Die twee kinders wat wel gedurende hierdie tyd in die Paarl gedoop is, is moontlik deur `n besoekende predikant gedoop.

Beide Josué en Elisabeth, soos talle ander Hugenote, was ongeletterd. Alhoewel sommige geleer het om hulle naam te teken en ook om te skryf, was Josué en Elisabeth skynbaar nie onder diegene nie. In 1720 maak Josué sy merk wanneer hy hul gesamentlike testament teken en wanneer Elisabeth in 1724 `n nuwe testament opstel, teken sy ook deur haar merk te maak.

Die peil van onderwys aan die Kaap was laag en Paul Roux, met wie Elisabeth na Josué se dood sou trou, word as onderwyser van die Franse gemeenskap in die Paarl aangestel. Huismeesters is ook deur sommige gesinne in diens geneem en hul vergoeding het meestal bestaan uit 8 tot 14 gulden per maand, 1 tot 2 pond tabak, voedsel, drank, goeie huisvesting en soms klere aan die einde van die jaar. Jacob Naudé wat in 1718 as matroos in die Kaap aangekom het, was eers huismeester by Pierre Joubert teen 10 gulden en `n halwe pond tabak per maand en vanaf 1719 tot 1720 huismeester by Josué Cellier teen 10 gulden en een pond tabak per maand.

In haar testament van 1724 stel Elisabeth vir Jan as voog oor sy minderjarige broers en susters aan en bepaal dat hy 'verpligt zijn' om hulle eerlik op te voed en ook om hulle te laat leer, lees, skryf of `n handvaardigheid te laat aanleer. Dokumente wat deur vier van haar kinders geteken is, is teëgekom; Francina teken as beide Fransina Cellie en Fransina Celie, Maria as Marie cellier; Magdalena as Madalena Cellie en Pieter as Piter Seliee.

Of Josué en Elisabeth Hollands matig was, is onbekend, maar hul kinders sou weens regeringsbeleid Hollands moes aanleer. Hierdie beleid het veroorsaak dat die Franse taal aan die Kaap in onbruik geraak en uitgesterf het. Nadat die eerste predikant van die Paarl, Pierre Simond, die Kaap in 1702 verlaat het, verklaar Goewerneur Willem Adriaan van der Stel hom bereid om te sorg dat die Franse taal in onbruik raak deur die gebruik van Hollands op skool en in die kerk in te stel. Vertoë is gerig omdat min mense `n preek in Hollands kon volg en daarna is twee dienste op `n Sondag toegelaat, een in Hollands en een in Frans, maar na 1726 word daar nie weer melding gemaak van Franse dienste nie.

Josué en Elisabeth vestig hulle aanvanklik op die plaas Het Kruys Pad (Kruispad), naby die huidige voorstad Brackenfell, waar hulle tot ten minste 1709 gewoon het. In Januarie 1708 'ten huijse van Josua Sellier geleegen aant kruispad tusschen de bottelerije en tijgerbergen' het daar twaalf mense 'zaaten en dronken'. `n Vryswarte wat op sy eie grond geboer het, Pieter Harmensz, algemeen bekend as Brasman, kom toe daar aan en beskuldig vir Jacob Bourbonnais, een van Josué se gaste, daarvan dat hy sy sweep gesteel het. `n Onderonsie ontstaan en Brasman steek vir Bourbonnaise met `n mes en snou hom toe : 'Jou donders kind, daar heb je genoeg daar is bloed'. `n Eis vir skadevergoeding word ingestel, Bourbonnaise vir ongemak en pyn asook verlore tyd en Jacob Bisseux, in wie se huis Bourbonnais verpleeg is, vir sy verpleging en gepaardgaande uitgawes. Brasman se vonnis was om gegesel te word, skadevergoeding en kostes te betaal en hy word lewenslank uit die Kaap verban.

Nog `n insident waarby Josué betrokke was, was die ontevredenheid oor Goewerneur Willem Adriaan van der Stel se administrasie. Aanvanklik is VOC-amptenare nie toegelaat om te boer nie omdat hul mededinging die boere finansieel kon knak, maar teen die tyd dat Josué en Elisabeth in die Kaap aankom, boer Van der Stel en bykans al die hooggeplaaste VOC-amptenare op hul eie plase. Mettertyd tree hulle ook tot die mark, wat alreeds swak was, toe en bly die gewone boere met hul podukte sit. In 1706 word `n klagskrif van ondermeer omkopery en afpersing teen Van der Stel en verskeie amptenare opgestel en Elisabeth se broer Paul Couvret is een van die persone wat dit onderteken. Op sy beurt stel Van der Stel `n getuigskrif op wat tevredenheid met sy administrasie uitspreek en ook van sy goeie karakter en eerlikheid getuig. Persone wat weier om te teken word ondermeer gedreig dat hulle van hul grond ontneem sou word. Josué teken die getuigskrif - die inskrywing by sy se merk lui : 'het merke van Josue Siljee'. Die meeste van die Hugenote wat geteken het, het later verklaar dat alhoewel hulle ontevrede was met Van der Stel se wanbestuur hulle bang was dat hulle hul grond sou verloor. Moontlik was dit ook by Josué `n oorweging aangesien hy op hierdie stadium nog nie sy eie plaas besit het nie. Die uiteinde van die klagskrif was ondermeer dat Willem Adriaan van der Stel en van sy volgelinge van hul poste onthef en na Holland teruggeroep is.

In 1709 word Josué nog in die opgaafrolle van die Distrik Stellenbosch, waaronder Kruispad geresorteer het, opgeneem. Geen opgaafrolle het vir die jare 1710-1711 behoue gebly nie en in 1712 word hy in die opgaafrolle van die Distrik Drakenstein opgeneem. Het Kruys Pad word op 15 Maart 1712 aan Josué toegeken, maar daar kan nie veel van hierdie datum afgelei word nie aangesien plase wat aan boere toegesê is, d.w.s toestemming verleen is om die grond te bewoon en te benut, dikwels eers etlike jare later aan hulle toegeken is, d.w.s hul eiendom geword het. In die Paarl koop hy die plaas Orléans (57 morg 300 vk roede) wat op 11 Oktober 1713 op sy naam oorgedra word. Hier boer hy en Elisabeth tot en met hulle dood.

'n Dokter (chirurgyn) Gideon le Grande het joernaal gehou van sy mediese dienste en `n gedeelte van sy joernaal vir 1710 het behoue gebly. Op 9 Februarie 1710 skryf hy medikasie van scafran vir Josué Cellier voor, maar hierdie inskrywing is later weer doodgetrek. Wat scafran is, is onbekend en waarom die inskrywing later doodgetrek is, is ook onbekend. Van die siektes wat aangeteken is, is bloedvloeiing, geswelde voete, keelseer, kopseer, kortasem, krampe in die ingewande, longsiekte, maagpyn, niere, sooibrand, snydings, sweer en verkoue. Bloedlating as behandeling kom die meeste voor, ondermeer vir pyn aan die arm en skouer; daarna purgasies van sennablare en nieskruid.

In 1712 keer Elisabeth se broer Paul Couvret en sy gesin na `n verblyf van twaalf jaar aan die Kaap terug na Europa. Hy het op die plaas Goede Hoop, 60 morg, in die Paarl geboer.

Die Paarl se lidmaatregisters is waarskynlik sedert die stigting van die gemeente in 1691 bygehou, maar die eerste register wat behoue gebly het, is dié van 1715. Onder 'Der Ledematen die de Predikant Van Aken in die Kerke van Drakenstyn in den jare 1715 gevonden heeft', was 'Jossue Sellier en syne vrouw Elizabeth Couvret' en die totale aantal lidmate is as 104 aangeteken. Teen 1725 het die aantal lidmate tot 146 gegroei.

Oor Josué se boerderyaktiwiteite gedurende sy eerste paar jaar aan die Kaap is min bekend weens die onvolledigheid van die opgaafrolle. In 1704 besit hy slegs 4 koeie, maar teen 1709 verbou hy reeds 8 000 wingerdstokke, besit hy 5 perde en 18 beeste en het hy ook 60 mud koring geoes. In latere jare besit hy tot 300 skape en produseer jaarliks tot 3 lêers (1 731 liter) wyn.

Josué sterf op 54-jarige ouderdom in Oktober 1721 en laat die 45-jarige Elisabeth agter met tien kinders tussen die ouderdomme van 4 en 20 jaar. Van die items wat in sy boedelinventaris gelys word, met die waarde in guldens Indiese valuta aangedui, is:
Die plaas Orleient 2 900
15 beeste 450
1 wa 100
en 16 lêers wyn 480.

Elisabeth hertrou in ongeveer 1722 met die 57-jarige wewenaar Paul Roux. Hul presiese huweliksdatum is onbekend aangesien die Paarl se huweliksregisters vir hierdie tydperk verlore is. Paul en Elisabeth kon nie baie lank getroud gewees het nie aangesien hy op 7 Februarie 1723 oorlede is, sestien maande na haar eerste man. Na Paul se dood het Elisabeth nie weer hertrou nie.

Paul Roux was `n bekwame man wat kort na sy aankoms in die Kaap in 1688 aangestel is as onderwyser, voorleser en sieketrooster vir die Franse gemeenskap in die Paarl, poste wat hy tot sy dood toe beklee het. Saam met Pierre Simond was hy gereken as een van die grootste stryders vir die gebruik en behoud van die Franse taal aan die Kaap. Teen die tyd dat hy en Elisabeth getroud is, was die kinders uit sy eerste huwelik almal reeds mondig. Hy het 'n kleinerige plasie Oranje, 2 morg 250 vk roede, in die Paarl besit wat na sy dood na sy seun Jeremie Roux gegaan het. Vir meer inligting kyk ook onder stamvader Paul Roux.

Na haar tweede man se dood, sit Elisabeth en haar vier seuns die boerdery op die plaas voort. Verdere hulp met die boerdery word verkry met die aankoop van haar eerste slaaf in 1728 en teen 1743 besit sy vier slawe, een slavin en twee slawekinders. Vanaf 1732 tot 1734 werk haar skoonseun, Johannes Hubertus, as kneg op die plaas. In 'n kontrak wat op 27 September 1732 tussen hulle gesluit is, onderneem hy om haar 'voor den tyd van een geheel Jaar trouw en naarstig te dienen als knegt' teen `n maandelikse betaling van twaalf Caabse guldens asook huisvesting en voedsel. Hierdie kontrak word op 26 Oktober 1733 vir nog `n jaar verleng. Teen 1743, kort voor haar dood, word 10 lêers (5 773 liter) wyn geproduseer en met tye was daar tot 6 perde, 30 beeste en 200 skape op die plaas. Benewens koring, word rog ook gesaai.

In 1738 boer die 62-jarige Elisabeth en drie van haar seuns, Josué, Abraham en Pieter, nog op die plaas en bied hulle vir nagenoeg `n jaar skuiling aan die 39-jarige voortvlugtende Estienne Barbier, `n sersant in diens van die VOC. Estienne was ook van Orléans, Frankryk afkomstig en het in 1734 as gewone soldaat in diens van die VOC in die Kaap aangekom. In Mei 1737 lei Estienne se beskuldigings van ondermeer geldverduistering en korrupsie teen `n luitenant tot `n lastersaak en Estienne word skuldig bevind. Hy appèlleer, besef weldra dat sy appèl nie veel kans het om te slaag nie en ontsnap op 24 Maart 1738 uit die Kasteel waar hy onder arres was. Na sy ontsnapping bly hy ongestoord op Orléans, omdat die owerhede onder die indruk was dat hy hom op `n skip versteek en na Holland teruggekeer het. In Februarie 1739 verlaat hy Orléans en begin `n hoofsaaklik skriftelike veldtog teen die ongeregtighede van die owerhede. Met die ontevredenheid wat reeds in die Kaap geheers het, het hierdie veldtog die potensiaal gehad om `n burgelike opstand te begin en in Maart 1739 word hy deur die owerhede 'vogel-vry' verklaar - hulle soek hom, lewend of dood. Hy word eers ses maande later in hegtenis geneem, verhoor en ter dood veroordeel. Hierdie vonnis, wat in die openbaar voltrek is, het behels dat hy aan `n kruis vasgebind word, onthoof word, sy regterhand afgekap word, die res van sy liggaam gevierdeel word en sy ingewande onder die skavot, waar die vonnis voltrek is, begrawe word. Sy liggaamsdele is daarna op pale in die openbaar vertoon - sy kop en regterhand by die ingang van die Roodezandkloof, tussen Paarl en Tulbagh, en sy vier liggaamsdele langs die besigste paaie in die Kaap.

Elisabeth sterf op 67-jarige ouderdom in ongeveer 1743. In haar testament van 1724 het sy bepaal dat haar kinders gelykop moet erf en alhoewel dit `n algemene bepaling was dat `n plaas aan `n spesifieke persoon bemaak word teen `n vasgestelde bedrag, doen sy dit nie. Sy spreek slegs haar begeerte uit dat Orléans na haar afsterwe 'soude in volle bezit gegeeven werden aan haar oudste zoon Josua Cellier'. Skynbaar het Josué nie veel erg aan boerdery gehad nie aangesien hy na sy ma se afsterwe by sy suster Elisabeth in die Wellington omgewing gaan woon het. Jan boer in 1743 reeds op sy eie plaas Druiwevallei. Abraham neem van die vee oor, word die eerste Cellier wat oor die berge trek en vestig hom in die huidige Rawsonville omgewing waar hy homself hoofsaaklik op veevoerdery toespits. Pieter neem die oorblywende vee, slawe en die plaas oor en was, sover vasgestel kon word, die laaste Cellier-eienaar van Orléans.


Vansverandering van Cellier na Celliers, Cillié en Cilliers

Die verandering van Josué Cellier se nageslag se van van Cellier na Celliers, Cillié en Cilliers kon nie aan 'n spesifieke tyd of geslag gekoppel word nie. Selfs op die dokumente wat vir Josué nagegaan is, word sy van benewens Cellier ook as Celliers, Sellier, Selliers, Siljee, Silliers, Sollier en Zilie gespel.

Vir die volgende drie geslagte (b, c en d-geslagte) is die spelling van Josué se nasate se van legio, onder andere Celie, Celje, Cellie, Cellier, Celliers, Cielje, Cilie, Cilje, Cilli, Cillie, Cillier, Cilliers, Cillje, De Cilliers, De Silliers, Seliee, Seliers, Selje, Sellie, Sellier, Sielje, Silie, Silje, Siljee en Silliers.

Dit is eers vanaf die vierde geslag (e-geslag) dat die spellings Celliers, Cillié en Cilliers meerendeels gebruik is, maar van die voorgemelde variasies het steeds voorgekom. Daar kon ook nie altyd bepaal word watter spelling 'n spesifieke persoon gebruik het nie omdat spelling van dokument tot dokument kon verskil en dit het tot in die 1900's nog voorgekom. Verder was 'n bepaalde spelling ook nie altyd deur al die lede van 'n gesin en hul nageslag gebruik nie.

Cilliers is die spelling wat die meeste teëgekom is.

Die eerste afstammeling van Jan (b2) wat die Celliers spelling algemeen gebruik het, was Jacob Daniel (b2c1d1e1f4) en daarna sy nageslag, maar Jacob Daniel se twee broers en hul nageslag het weer hul van as Cilliers gespel. Onder die nageslagte wat die Kaap Kolonie verlaat het, wil dit voorkom asof die Celliers spelling algemeen in die Lichtenburg- en Vryburg-omgewing gebruik is terwyl die Cilliers spelling weer in die Marico-omgewing asook in die Oranje Vrystaat en Natal gebruik is. By Abraham (b7) se afstammelinge wat in die Kaap Kolonie gebly het, is die Celliers spelling net by enkele lede van 'n gesin teëgekom, maar hierdie spelling is dikwels nie behou nie.

Alhoewel die Cillié spelling wel op dokumente van Abraham (b7) se afstammelinge voorkom is, is die spelling nie behou nie. Hierdie spelling is slegs deur sommige van Jan (b2) se afstammelinge behou. Die eerste afstammeling van Jan (b2) waar hierdie spelling algemeen deur 'n gesin gebruik is, is by sommige van die kinders van Petrus (b2c1d2), maar selfs hier wissel die spelling op dokumente vir dieselfde persoon nog tussen Celliers, Cillié, Cilliers asook sommige van die voorgemelde variasies. Sover vasgestel kon word, is sy seun Petrus Johannes (b2c1d2e2) se nageslag die enigste wat die Cillié spelling behou het terwyl sy seun Johannes Arnoldus (b2c1d2e6) se nageslag hul van as Celliers, Cillié en Cilliers spel.

Bronne:
Genealogiese Publikasies
De Villiers, C C en Pama, C Geslagsregisters van Ou Kaapse Families, A A Balkema, Kaapstad en Rotterdam, 1981.
Heese, J A en Lombard, R T J/GISA, Suid-Afrikaanse Geslagsregisters - Deel 1-4, A-K.
Ander Publikasies
Böeseken, A J, et al, Drie Eeue Die Verhaal van ons Vaderland, Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1952.
Botha, Colin Graham The French Regugees at the Cape, Struik, Cape Town, 1970.
Burman, Jose So High the Road, Human & Rousseau, Cape Town, 1963.
Coertzen, Pieter Die Hugenote in Suid-Afrika 1688-1988, Tafelberg, Kaapstad, 1988.
De Jongh, P S Sarel Cilliers, Perskor, Johannesburg, 1987.
De Klerk, W A Klein Reis deur Drakenstein, Perskor, Johannesburg, 1974.
Franken, J L M Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis - Die Hugenote aan die Kaap, Pretoria, 1978.
Hugenote Vereniging van Suid-Afrika, Franschhoek - Verskeie Bulletins.
Le Roux, J G Bewaarders van ons Erfenis, GISA, Stellenbosch.
Le Roux, J G Hugenotebloed in ons Are, RGN, Pretoria, 1988.
Le Roux, J G Ons Drakensteinse Erfgrond, Drakenstein Heemkring, Paarl.
Muller, C J F (Ed), Five Hundred Years, A History of South Africa, Academica, Cape Town and Pretoria, 1973.
Penn, Nigel Rogues, Rebels and Runaways, David Philip Publishers, Cape Town, 1999.
Schoeman, Karel Armosyn van die Kaap, Human en Rousseau, Kaapstad, 1999.
Trewhella, Cameron (Red), Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, Human & Rousseau, Kaapstad, 1986.
Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad
Boedelinventaris MOOC 8/4 no 33
Handtekeninge by W A van der Stel se getuigskrif C2416-p20
Huwelikshofnotules
Joernaal van Gideon le Grande MOOC 14/1 Vol 1, no 19
Kontrak CJ 2883-no81
Likwidasie- en Distribusierekenings
Opgaafrolle
Resolusies van die Politieke Raad - Dele 1 tot 10
Sterftekennisse
Testamente CJ 2600 no 28 en CJ 2602 no 33
Vendusierolle
VOC Dagregisters 1699
Weilisensies
N G Kerk Argief, Kaapstad
Doderegisters
Doopregisters
Huweliksregisters
Lidmaatregisters

Navorsing deur:
Mariana Olivier This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Print Email