Surnames A to C

ACKERMAN Christiaan

Christian Ackermann is op 20 Februarie 1699 in Kötzschen, naby Merseburg, Sakse, gebore. Hy was die seun van ds. Christian Ackermann en Maria Christiana Stenger. Alhoewel sy van meestal as Ackerman of Akkerman in ou dokumente aangegee word, teken hy sy naam in 1740 as C Ackermann. Sy broer en seuns teken ook hul van as Ackermann.

Hy sluit in 1719 aan as soldaat by die VOC en vertrek aan boord van die skip Purmerlust na die Kaap. Hy kom op 9 Februarie 1720 by die Kaap aan. Hy was een van twee soldate wat die skip by die Kaap verlaat het. Hy verskyn as soldaat in 1720 vir die eerste keer in die monsterrol van die Kaap as Christiaan Akkerman, van Meersburgh.

Hy doen aansoek by die Politieke Raad vir burgerskap om sy ambag as silwersmid te kan beoefen. Hy ontvang op 8 Desember 1722 sy burgerskap. Sy silwersmidwinkel was deel van sy huis in die Kaap.

Christian trou ongeveer 1722 met Margaretha de Villiers, dogter van Abraham de Villiers en Susanna Gardiol. Die presiese datum kon nog nie opgespoor word nie. In die monsterrolle van 1722 word hulle albei as ongetroud aangedui, maar verskyn in 1723 saam as Christiaan Akkerman & Margaretha Villier. Margaretha was die weduwee van Jean le Sage gewees, wat omtrent 1720 gesterf het. Hulle het ‘n dogter, Susanna, gehad, wat op 9 Oktober 1718 in Kaapstad gedoop is.

Op 3 Februarie 1727 word Christian aangestel as korporaal van die Burgerkrygsraad. Op 18 Julie 1730 word hy aangestel as brandmeester. Hy beklee die pos tot 1733 wanneer hy aangestel word as Kommissaris van Siviele en Huwelikssake.

Volgens ‘n resolusie van die Politieke Raad van 22 Januarie1732, word gemeld dat hy nie goud kon vind in ‘n grondmonster wat vanaf ‘n plaaslike myn gekom het nie. Hy word beskryf as ‘n man "dat in deese saaken een seer kundig man is".

Christian het ‘n broer Christmann Gotthard gehad wat in 1740 na die Kaap gekom het. Op 23 November 1740 het Christian ‘n kontrak aangegaan om sy broer vir ‘n jaar as kneg aan te stel. Die kontrak is later vir nog ‘n jaar verleng. ‘n Mens kan aanvaar dat Gotthard (soos hy sy naam geteken het) vir Christian met sy silwersmid werk gehelp het, want Gotthard het later ook ‘n silwersmid geword.

Christian en sy broer se name verskyn onder die lys van persone wat in 1742, en weer in 1743, ‘n versoek tot die owerheid gerig het om hulle toe te laat om ‘n Lutherse predikant te kan aanstel en hul eie kerk te bou.

Christian Ackermann en Margaretha de Villiers het 8 kinders gehad, wat almal in Kaapstad gedoop is: 

b1 Christiaan gedoop 5 Maart 1724 X 15 Augustus 1751 met Martha Cornelia Smuts. Hy sterf ongeveer 1755.
b2 Abraham Hermanus gedoop 21 April 1726 X 25 Februarie 1753 met Geertruy Mostert. Hy sterf ongeveer 1755.
b3 Christman Joël gedoop 1 Februarie 1728 en sterf voor 3 Maart 1743.
     (Die gepubliseerde bronne koppel hom verkeerdelik aan Anna Susanna van Helsdingen – sien b8 hieronder).
b4 Maria Christina gedoop 8 April 1731 en sy sterf voor 16 Maart 1757.
b5 Johannes Daniel gedoop 27 Junie 1734 en sterf ongeveer 1754.
b6 Anna Catharina gedoop 12 Augustus 1736 en sy sterf voor 16 Maart 1757
b7 Jacob Benjamin gedoop 20 Julie 1738 en hy sterf voor 16 Maart 1757
b8 Christman Joël gedoop 3 Maart 1743 X 24 Januarie 1762 met Anna Susanna van Helsdingen. Christman Godhart Ackerman en Susanna le Sage was getuies by sy doop. Hy en sy gesin verhuis ongeveer 1783 na Stellenbosch waar hy op 10 Julie 1794 sterf. Hulle het 9 kinders gehad. Hierdie Christman Joël verskyn nie in enige gepublisserde bronne nie.

Gegewe die sterftedatums hierbo, is dit moontlik dat ses van Christian en Margaretha se kinders gedurende die pokke-epidemie van 1755 gesterf het.

Volgens Stephan Welz se boek - Cape Silwer and silwersmiths, was daar 13 silwersmede gedurende die eerste helfte van die 18de eeu aan die Kaap gewees. Die belangrikste volgens hom was Christian (senior) en Matthias Lötter gewees. Christian se oudste seun, Christiaan, was ook ‘n silwersmid.

‘n Voorbeeld van Christian se silwer werk, ‘n bonbonniere, is in die Heller versameling by die Slawelosie Museum (ook bekend as die SA Kultuurhistoriese Museum) in Adderleystraat, Kaapstad. Dit is die enigste oorblywende voorbeeld van sy werk waarvan ons weet, en is die oudste stuk plaaslike silwerwerk.

Christian sterf in 1751. In sy inventaris laat hy ses huise in Tafelvalleij (Kaapstad) na. Hy het met sy dood 16 slawe en 6 slawe kinders gehad. Sy vrou, Margaretha sterf op 6 Junie 1764.

Christiaan se broer, Christmann Gotthart, is in 1705 gebore. Hy was ‘n Korporaal gewees toe hy op 10 September 1741 te Drakenstein met Susanna le Sage, sy broer se stiefdogter, getroud is. Christmann Gotthart is op 3 Augustus 1745 deur sy slaaf vermoor. Hulle het nie kinders gehad nie.

Volgens Christmann Gotthard se likwidasie en verspreidingsrekening het hy en Christian ook twee susters, Maria Catharina en Anna Maria, gehad. Hulle het ook ‘n half-broer Johan Joël en vier half-susters, Dorothea, Rosina Maria, Anna Sijbilla en Johanna, gehad. So ver soos wat ons weet, het net Christian en sy broer Christman Gotthard na die Kaap gekom.

Bronne:
1. J.A Heese and R.T.J. Lombard, South African Genealogies . Vol 1 (A-C), Human Sciences Research Council, Pretoria. 1986,
2. J. Hoge, Personalia of the Germans at the Cape 1652-1806, p1.
3. H.C.V. Leibbrandt, Precis of the Archives of the Cape of Good Hope - Requesten or Memorials, A-E Vol 1, Cape Times Limited. Government Printers. 1905., p2 no. 74 under 1722,
4. H.C.V. Leibbrandt, Precis of the Archives of the Cape of Good Hope - Requesten or Memorials 1715-1806. F-O Vol II, Cape Times Limited, Government Printers, Cape Town. 1905, p. 673 under 1742,
5. Requests (Requesten) to the Political Council of the Dutch East India Company, 1722, C 1087 p. 126 & 127, National Archives, Cape Town.
6. Edited by JR Bruijn, FS Gaastra and I Schöffer with assistance of ES van Eych van Hesligen, Dutch-Asiatic Shipping in the 17th and 18th century, vol. II., The Hague, Marthinus Nijhoff, 1979, pages 350 & 351, National Archives, Cape Town.
7. Muster Rolls. VC41 and 49, National Archives, Cape Town
8. Inventory and Appraisal document, MOOC 8/6.89 dated 23 Aug 1745, National Archives, Cape Town. Inventory of Christiaan Godhard Ackerman - Obtained from the TANAP website.
9. Council of Policy of the Dutch East India Company at the Cape, Resolutions of the Council of Policy, C 61(old number) pp. 53-61; C 76 pp. 41-52; C88 pp. 130-145; C94 pp. 7-14; C120 pp. 192-210 and C 121 pp. 114-155, National Archives, Cape Town – Obtained from the TANAP website
10. Stephan Welz, Cape Silver and silversmiths, AA Balkema, Cape Town/Rotterdam, 1976, pp 5, 26, and 127.
11. Inventory and Appraisal document, MOOC 8/7.18 dated 22 Junij 1751, National Archives, Cape Town. Inventory of the estate of Christiaan Ackerman – Obtained from the TANAP website.
12. DF du T Malherbe, Family Register of the South African Nation, 3rd edition, Tegniek, Stellenbosch, Sept. 1966, p 3.
13. Compiled by Juna Malherbe & Alet Malan, Huguenot Memeorial Museum, Genealogy of the De Villiers Family in South Africa. Vol I, Board of Trustees De Villiers Publication Fund, Franschhoek. 1997, p 292, National Archives, Cape Town.
14. South African Museum, Cape Silver Exhibition - Heller Collection, Pamphlet - Ref BP90, National Archives, Cape Town.
15. Baptism register of Cape Town, Dutch Reformed church, VC 605, National Archives, Cape Town.

Navorsing: Darrell Ackermann
Brackenfell
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

PrintEmail