Surnames A to C

BEKKER Pieter

Pieter BEKKER is in circa 1673 gebore. Hy was van Köningsberg en land aan die Kaap in 1695. Hy trou met Johanna DE KLERK/Jannetie DE CLERCQ, die weduwee van Andries Gous. Aangesien Johanna baie kort na Gous se dood met Bekker getrou het, het "n storie die rondte gedoen dat Bekker vir Gous vermoor het, maar dit is nooit bewys nie. Johanna was die suster van Abraham de Klerk en die dogter van Pieter le Clercq en Sara Cochet.

KINDERS
b1 Gideon, gebore 1698, jonk oorlede
b2 Hester, gedoop Stellenbosch 5 Sep 1700, X Alewijn Smit, De Oude
b3 Helena, gedoop Paarl 24 Des 1701, X Jacobus Wilhelmus de Wet
b4 Stephanus, gedoop Stellenbosch 16 Aug 1705, X 19 Jun 1729 Sara Olivier
b5 Dorothea, gebore 1708
b6 Marthinus, gedoop Stellenbosch 14 Des 1710, X 4 Jan 1736 Johanna Pretorius
b7 Catharina Margaretha, X Johann Jacob Posse van Eyseleben

"In 1702 kry Hercule en Francois du Pré en Pieter Becker dit met hom (Daniel Hugot) aan die stok. Daar het rusie ontstaan oor "n Hottentotskraal naby sy wingerd en skade verrig deur die vee. Dit loop uit op "slaagen" hom
toegedien deur Becker
." In J.L.M. Franken, Die Hugenote aan die Kaap (Argiefjaarboek van Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 1978) p. 165.

In 1701 word Pieter na Mauritius verban omdat hy Jan Stevensz Botma aangerand het. Voordat hy weggestuur is, vlug hy die binneland in. Hy moes redelik naby aan sy huis geskuil het, want sy vrou het gereeld kinders van hom gehad.

In 1710 word hy vir die uiters wrede mishandeling van sy slavin, Maria van Ceylon, gevang. Maria word net na die Paastyd vir drie dae lank deur Pieter en sy vrou, Johanna, gemartel "om het niet wel schoon maken van een pan". Op die eerste dag is Maria op "n leer vasgebind en vir ure lank met "n kweperlat geslaan. Die aand het Bekker, sy vrou en sy kneg, Matthijs Craal, kaart gespeel en saam wyn gedrink. Daarna het Bekker sy degen uitgehaal, dit op die tafel neergesit en aan Maria gesê: "Ik moet mijn plaisier nogh wat met jou nemen". Hierna het hy met elke teug wyn wat hy geneem het, haar terselfdertyd met die degen "n hou op haar lyf gegee.

Nadat haar liggaam met "n mengsel van uriene en sout gewas is, is sy gedwing om vuur in die vuurherd te maak. Daarna het Bekker "n waketting, waaraan "n stuk houtblok was, om haar nek gedraai. Die res van die ketting is styf om haar lyf vasgetrek en die punt is aan die ketting wat in die vuurherd gehang het, geheg. Die hitte het later so intens geword dat "als de baas en de Hottentot (waarskynlik die Khoi, Jochem) haar"t lighaam waschte een stuk vleijs van haar bil [boud] afviel". Maria het die stuk vleis opgetel, waarop Johanna aan haar gevra het: "Wat wil je daar me[e] doen? Kom, vreet het nu". Maria is hierna gedwing om "n lang ruk daaraan te kou en toe dit na Johanna se mening lank genoeg geduur het, het sy vir Maria beveel om dit in die vuur te spuug. Hierna het die Hottentot op bevel van Bekker "n tang geneem, en verdere stukkies vleis wat los gehang het, van haar liggaam afgetrek. Die res van Maria se verklaring sal liewer nie hier aangehaal word nie.

Op die tweede dag is sy vir twee uur lank om die beurt deur Becker, sy vrou, die kneg en die Khoi, Jochem, gegesel. Op die derde dag vir nog "n kwartuur lank. (Later het Bekker beweer dat die mengsel waarmee sy gewas was, as "n genesingsmiddel bedoel was). Bekker het gereken dat hy alle mag oor Maria gehad het, en het hy haar selfs na haar verskriklike ondervinding, saam met hom na "n ander boer geneem. Daar aangekom "kon zij nauwelijks lopen, stond bevend met gebogen knieën en stonk zo erg dat "sij na oogenschijn haast de waereld soude moeten verlaten". Gelukkig het Bekker se mede-vryburgers nie met hierdie verfoeilike dade verlief geneem nie, en nadat dit onder die aandag van die landdros gebring is, is Bekker voor die Raad van Justitie gedaag. As vonnis word Bekker "n straf vir "n periode van vier jaar dwangarbeid in kettings op Robbeneiland opgelê. Na die verstryking van die vonnis, is hy as verdere straf uit die Kaapse vestigingingskolonie verban.

In 1715, terug van Robbeneiland, daag Pieter Bekker sy vrou, Jannetie de Clerq, voor die Raad van Justitie. Hy beskuldig haar daarvan dat sy in sy afwesigheid (hoewel hy intieme besoeke van haar op die eiland ontvang het) in owerspel met die korporaal van die Land van Waveren geleef het, en dat sy selfs "n kind van hom gehad het. Aangesien Johanna boonop nie saam met hom na Europa wou gaan nie, het Bekker die ontbinding van hulle huwelik ge-eis. Johanna het nie die eis teengestaan nie, en die huwelik is deur die Raad van Justitie ontbind. So eenvoudig was die uitslag van die saak egter ook nie. Bekker kry toestemming om weer in die huwelik te tree, en Johanna (as gevolg van haar owerspel) ontvang "n swaar boete van 100 Rijksdaalders, en word boonop gelas om al Bekker se goedere wat sy in haar besit gehad het, aan hom terug te gee.

Hierop verlaat Bekker die Kaap om sy vonnis as banneling uit te dien, maar dit wil voorkom asof hy ook hiervoor raad gehad het. Hy sluit as "n soldaat by die VOC aan, en in 1717 bevind hy hom weer aan die Kaap. Hy word egter binne die eerste jaar in hegtenis geneem en na Robbeneiland verban.

Sy gewese vrou ontvang in 1731 die plaas, Straatskerk, over Roodesand.

Bronne:
Heese en Lombard
M Cairns, The Secluded Valley: Tulbagh
J Hoge, Personalia of the Germans at the Cape.
JLM Franken, "Dr J Hoge"s Personalia of the Germans at the Cape", Africana Notes and News, Vol VI, no 1, Dec 1948.
Inligting verskaf deur Daniel Jacobs op SAGenealogie
Ad Biewenga, De Kaap de Goede Hoop -- Een Nederlandse vestigingskolonie 1680 - 1730, pp. 114,115 en 229.

Saamgestel deur:
AM van Rensburg en Alwyn P Smit.


BECKER Pieter - van Deventer, soldaat, 1694
Source: Nationaal Archief: VOC
Volume: 1.04.02 (VOC 1602-1811),
Inventarisnummer: 5414,
Folio: 151

Bygedra deur:
Corney Keller

 

 

 

PrintEmail