Surnames A to C

Written by Pieter Conradie on . Posted in A - C.

ALLEMAN Rudolph Siegfried

Rudolph Siegfried ALLEMAN(N) was volgens sy testament, van Neuendorf (Pruise) in die huidige Duitsland afkomstig. Hy stam uit ‘n Duitse familie van soldate en hooggeplaaste amptenare. Hy is op 17 September 1693 te Bergholzhausen in Wesfale gedoop. Sy ouers was Anton Engelhard ALLEMANN en Margaretha Ilsebein ORTGIESZER.

As jong man was Rudolph ‘n luitenant in die kavallerie van die Pruisiese koning, Friedrich Wilhelm, maar hy het later na Amsterdam gegaan, waar hy in diens van die V.O.C. getree het. In 1720 het hy as gewone soldaat na die Kaap gekom, en was vir ‘n tydlank by die Goewerneur werksaam. In 1725 word hy korporaal en is twee jaar later aangestel as superintendent by die Schuur. Daarna was hy agtereenvolgens sersant, vaandeldraer, luitenant en word in 1747 hoof van die Burgermag, met die rang van kaptein. Hy was ook verskeie keer lid van die Weeskamer. Rudolph Allemann was ‘n gesiene persoon, en is in 1741 ook benoem as lid van die Politieke Raad, asook die Raad van Justisie (Geregshof). As leier van die Burgeroffisiere het hy deelgeneem aan ‘n inspeksie--reis langs die kus met die doel om die strategiese posisies te ondersoek, sodat hulle gereed kan wees as die Kaap teen ‘n vyand verdedig moet word. Elke jaar was hy as die Regering se verteenwoordiger by die Burgerparades teenwoordig. Toe daar in 1744 oorlog tussen Frankryk en Engeland uitbreek, het die Kaapse artillerie deur sy toedoen besonder goed daar uitgesien. Sy militêre loopbaan is bekroon deur die algehele hersiening van die militêre strafreg, waarvan hy die aanvoerder was. Twee jaar voor sy dood op 22.7.1762, is die ere-pos aan hom toevertrou om die finansies van die Kompanjie met die jaarlikse afsluiting te sertifiseer.

Met die karakteristieke hoflike, fier, regop houding van ‘n trotse Pruisiese offisier, ‘n ligte gelaat, was hy ongeveer 1,7 meter lank. In 1739 het die betreklike welaf Allemann, ‘n plaas van 12 morge (10 hektaar) aan die voet van Duiwelspiek gekoop. Nadat die plaas vergroot is, het dit bekend geword as Zonnebloem, wat deur sy seuns geërf is. Die plaasnaam kan vandag steeds teruggespoor word in die naam van die voorstad waarin Distrik Ses later was.

Op 15 Januarie 1730 het Allemann in die huwelik getree met Alberta MEYBOOM, dogter van Nicolaas MEYBOOM en Geertruid SPECKING (SPECKINK). Uit die huwelik is agt kinders gebore, maar vyf van hulle het waarskynlik nooit getrou nie. Stamvader Allemann wou graag sy kinders ‘n goeie opleiding gee, dus het hy vir Otto Friedrich MENTZEL, ‘n geleerde Duitser, as hul onderwyser aangestel. Dit was dan ook Mentzel wat Alleman se outobiografie in 1784 geskryf het.

KINDERS:
b1 Nicolaas Anthonie (1730), getroud 22.6.1762 met Anna HEIJNING; 1 dogter.
b2 Geertruida Christina (1732),
b3 Christina Elisabeth (1734), getroud 22.6.1760 met Christiaan Philip VAN HEIJDE van Josowe.
b4 Johanna Ernestina (1735),
b5 Rudolph Siegfried (1737),
b6 Josina Alberta (1739)
b7 Frederik Willem (1741), getroud 5.12.1762 met Johanna Jacoba COETZER; 7 kinders.
b8 Gustaaf Wilem (1743).

VERWYSINGS:
J.H Redelinghuys: Die AFRIKANER FAMILIENAAMBOEK & PERSONALIA (1955)
SA Biografiese Woordeboek deel III
SA Geslagregisters deel I
C.PAMA : Die Groot Afrikaanse Familie-naamboek (1983)

Saamgestel deur:
Pieter Conradie pietc@iafrica.com