Surnames A to C

CONRADI Frederik

Frederik CONRADI ook genoem: Friedrich Conrady/ Conradie. Friedrich Conradi gebore Marburg, Duitsland. Hy was 'n Herbergier, trou 7 Okt 1703, Hermina HARMENSZ, gebore Dodewaard, Gelderland, Nederland. Frederik sterf 1729. Arriveer in 1685 en was 'n burger aan die Kaap in 1685.

Heinrich CUNTZ - die CONRADIE stamvader se Duitse Oupa
Volgens 'n burgerbrief van 20.07.1627 het Heinrich CUNTZ, seun van Andreas CUNTZ, voor 1627 van Allendorf na Marburg aan die Lahnrivier gekom. Heinrich het in Ledergasse in Marburg gewoon. Hy was lid van die Lutherse kerk, en 'n bakker van beroep. In 1643 word hy voog vir die kinders van Adolf MEI. Sy kapitaal toe was toe 950 Reichsdaalders. Op 06.08.1645 is die voogskap afgegee (beëindig). In 1652 word hy stadsluitenant. Hy word in Marburg rekords uitdruklik vermeld as die seun van die gestorwe Andreas CUNTZ van Allendorf. Heinrich is tussen die jare 1653/4 in Marburg oorlede. Heinrich is op 27.09.1627 in Marburg getroud met Catharina BRAUN (Dogter van Jacob BRAUN) (sy was voorheen in Marburg op 09.12.1622 met Johann WILDNER getroud). Sewe kinders word vir die CUNTZ egpaar aangegee, waarvan die derde kind Johann Henrich CUNTZ op 07.08.163l in Marburg gebore is.

Stamvader se vader: Johann Henrich CUNTZ word ‘n CONRADI
Voorgemelde Johann Henrich CUNTZ, word uitdruklik in rekords vermeld as die seun van die afgestorwene Heinrich CUNTZ wat na Marburg gekom het. Hy was ook lid van die Lutherse kerk en het in 1657 as student aan die Marburgse Universiteit geregistreer. Johann Henrich het sy van CUNTZ na CONRADI verander rondom sy graadverkryging in Teologie aan die Universiteit van Marburg. [Die woord "CUNTZ" is in Duits 'n afkorting vir "seun van KONRAD". [verwys ‘n omvattende Duitse verklarende woordeboek]. Die “meer geleerde” Latynse vorm CONRADI het dieselfde betekenis naamlik "seun van KONRAD". Johann Henrich CONRADI was van 1669 tot 1688 'n predikant vir Cölbe en Wehrda - beide dorpe is teenaan die stad Marburg geleë. Hy is op 04.05.1690 in Marburg of Cölbe/Wehrda oorlede. Hierdie Johann Henrich CUNTZ/CONRADI was getroud met Anna Elizabeth SCHNEIDER, dogter van Friedrich SCHNEIDER - Die Schneiders het in Kirchhain naby Marburg gewoon. Johann en Anna se huweliksgebooie is op 22.09.1667 in Marburg opgegee. Hulle het 7 kinders gehad, waarvan die eerste kind Friedrich Henrich CONRADI was -- hy word later die stamvader van die Suid-Afrikaanse Conradies.

Hierdie stamvader Friedrich Henrich CONRADI is ongeveer 1668 in Marburg gebore, en word op 16.10.1682 in die Gimnasium (skool) in Marburg ingeskryf.

[BRON van voorgemelde Duitse herkoms van die Conradies: "Die Marburg Sippenbuch" - dit is die genealogiese geskiedenisse van Marburg bewoners sedert die jaar 1600 soos opgestel deur Kurt Stahr uit argiefstukke oor 'n periode van 16 jaar (1950-1966). Die Conradie inligting is in 1976 onttrek deur die Duitse genealoog Hans-Georg Bleibaum (erelid van die GGSA – Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika) en is in 1977 met 'n vakansiebesoek oorhandig aan die Conradie familiebond. ]

Afkoms van die CONRADIE van:
Die herkoms (Latynse vorm) van hulle van is al lank bekend aan die Conradies - die volgende verskyn op die eerste blad van die 1932 publikasie: STAMLYS van die NAGESLAGTE van DANIEL JACOBUS CONRADIE (Koelfontein re-unie eeufees): "Die (noem)naam was oorspronklik Coenraad -- Conrad of Konrad. In die middeleeue is daar 'n Latynse uitgang aangevoeg, dus Conradus, waarvan die patronymium (familienaam) die genitief Conradi is, dus Jan Conradi (filius) beteken Jan die seun van Conrad. Die uitgang -e is in Suid-Afrika aangevoeg."

Soortgelyke inligting verskyn ook op bladsy 194 van Heese, Nienaber & Pama se FAMILIES, FAMILIENAME EN FAMILIEWAPENS (uitgegee in 1975 deur Tafelberg) ]

Waarom het die stamvader van Duitsland na die Kaap gekom?
Ons is nie bekend met die presiese rede waarom Frederik CONRADIE na die Kaap gekom het nie. Die antwoord is waarskynlik iewers in die volgende inligting. Die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) het baie van die Duitse state in 'n swak ekonomiese staat gelaat. Gevolglik is baie Duitsers, insluitende oud-soldate, deur die voorspoed van Nederland aangetrek. Politiese grense was vir die mense in die grensgebiede nie 'n ernstige skeiding nie, en uit 'n taalkundige oogpunt was daar min verskil tussen Duits en Hollands. Die eerste Duitse immigrante was hoofsaaklik soldate in die diens van die Holland Oos-Indiese Kompanjie (HOIK), maar sommige het hul ontslag reeds so vroeg soos 1657 geneem om Vryburgers te word. Duitsers wat nie meer in die diens van die HOIK was nie, het nie almal op landbou gefokus, soos die meeste Hollandse Vryburgers en die Franse Hugenote wel gedoen het nie, maar het begin om 'n aantal ambagte en professies te beoefen. Spoedig was daar Duitse kleremakers, skrynwerkers, messelaars, boukontrakteurs, skoenmakers, ystersmitte, kopersmitte, geweersmitte, silwersmitte, meulenaars, bakkers, landmeters, aptekers, tuiniers en dokters aan die Kaap. Ongeveer die helfte van die geregistreerde privaat onderwysers onder die Hollandse regering, was Duitsers. Verskeie ou geboue wat deur Duitsers opgerig is, staan steeds, en silwerware wat deur Duitsers gemaak is, is gesog by versamelaars van ou Kaapse silwer. [Bron: Duitsers wat na die Kaap gekom het in die tydperk 1652-1806 - vryelik uit Engels vertaal van Linda Zöllner se artikel in Familia 35/1998 No. 4. Volle erkenning word hiermee aan Linda Zöller en Familia gegee as die oorspronklike bron van hierdie inligting.]

Meer oor die Stamvader self:
Die stamvader het in 1685 uit Marburg na die Kaap gekom. [bron: genealoog dr. J. Hoge – persoonlike mededeling aan Conradie-bond voor 1980] . Voorheen is 1688 of 1695 foutiewelik aangegee as datum van aankoms aan die Kaap. Op grond van die nuwe inligting is die Conradie drie-eeue fees in 1985 op Stellenbosch gehou.

In 1689 het Friederich CONRADI die leningsplaas "Nieuwendorp" verkry. Volgens ons plaaslike Heemrade se registers, is die plaas "Werda" aan Friederich toegeken op 11-05-1712. "Nieuwendorp" het hy in 1719 aangekoop. Hy het beide plase 'n paar jaar voor sy dood verkoop - albei plase was rondom 1955 deel van "Rhodes Fruit Farms" in Drakenstein. [bron: Die Afrikaanse Familienaamboek (1955) saamgestel deur J.J.Redelinghuys]

Vermoedelik het die plaasnaam "Werda" 'n verband met die dorpie "Wehrda" in Duitsland waar Friederich se vader predikant was. Die naam 'Wehrda' stam af van die Oudhoogduitse woord 'werid' wat 'klam grond aan 'n rivieroewer of op 'n eiland' beskryf. In die geval van Wehrda by Marburg beskryf dit die gebied tussen die Lahn- en Mühlgartenriviere. Dit is dus aanneemlik dat Friederich aan hierdie gebied kon gedink het toe hy sy plaas hier in Drakenstein die naam 'Werda' (ver-Hollandsing) gegee het. [nagevors deur Pieter Conradie]

Volgens dokumente in die Kaapse Argief het Friederich sy naam aan die Kaap beide as "Friederich" (ekstra "e") "Conradi" of "Conradÿ" geteken. ("Conradÿ" word net soos "Conradi" uitgespreek). [Die handtekening is gereproduseer in die boek van Pama: Die Groot Afrikaanse Familienaamboek (1983) van Leserskring]
Dit is op rekord dat die stamvader Frederik op 03.08.1716 'n slavin Magdalena (afkoms:Mauritius) van ene Jan Heinrich Tauken vir 60 Riksdalers gekoop het. Die volgende dag het hy haar teen 'n wins van 10 Riksdalers aan Hendrik Kruijwagen verkoop. [BRON: "Cape Slave Transactions 1658 - 1731" (Sale Deeds) as researched by Proff. R Shell.]

Die Stamvader se nageslag
Friedrich Henrich CONRADI het 2 seuns gehad.
b1 Johannes Hendrik gedoop 21 Jul 1710, sterwe 18 Jul 1776, X 19 Jul 1737 Rosa Swanepoel
b2 Frerdik gedoop 19 Jul 1716

Van die 2de seun is slegs sy doop bekend, en geen verdere inliging nie. Alle Suid-Afrikaanse Conradies stam dus af van die eerste seun "Johannes Henricus" (volgens die doopinskrywing). Hy is op 19.07.1737 op Stellenbosch getroud (as Burger van Drakenstein) met Rosa SWANEPOEL (gebore 1721 oorlede 21.04.1767). Rosa was die 4de kind en enigste dogter van Pieter Janz. SWANEPOEL, wat voor 1700 aan die Kaap vanaf Gelderland (Nederland) aangekom het; hy is op 01.05.1712 met Maria Sibella SACHS getroud. Rosa het 7 broers gehad. Rosa se vader was die eerste eienaar van die plaas Nieuw Munster, (naby die huidige Wolseley. Pieter SWANEPOEL het sy leenplaas vernoem na sy geboortedorp Nieuwmunster in die teenwoordige Wes-Vlaandere). Johannes CONRADIE bekom op 26 Oktober 1747 oordrag van sy skoonvader Pieter Janz SWANEPOEL se leenplaas Nieuw Munster. [Bron: Swanepoel, AJ: 'n Geslagregister van Swanepoel-families in Suid-Afrika (1999)]. Johannes is oorlede op 18.07.1776.

Nieuw Munster is die plaas waar alle Suid-Afrikaanse Conradies se voorgeskiedenis kruis. Op die plaas is ‘n belangrike Conradie-familiebegraafplaas. Die eerste Conradie egpaar op Nu Munster (latere spelling) het 7 kinders gehad, waarvan die 4 seuns (c1, c2, c3 en c5) se stamlyne vandag steeds voortgaan

[Navorsing en bydrae deur Pieter Conradie, in Julie 2003 verskaf deur, huidige onderhouer van die CONRADIE-geslagsregister en Conradie-webblad by http://www.afrikaner.co.za/pietwerf/conradie.htm.]


 

 

 



PrintEmail