• Home
  • Civil and Sacred
  • VOC
  • Vaart na die Kaap

VOC

Vaart na die Kaap

Van Texel na Stormkaap

Die hawe van Texel was destyds inderdaad 'n baie belangrike vertrekpunt vir menige skeepsreis. In sy boek "Helperus Rizema Van Lier" p. 119 - 121 skryf dr. T. N. Hanekom, na aanleiding van die eerstydse predikant se vertrek uit Nederland en reis na die Kaap, die volgende oor die verloop en die gevare verbonde aan so 'n reis.

"In elke geval was die vertrek van skepe in dié dae maar baie onseker. So vertel Cornelius de Jong, seekaptein van die 'Scipio', dat hy in 1791 reeds op 15 Augustus die eerste manskappe aan boord gehad het, maar eers op 16 Desember die Hellevoetsluis passeer het om sy reis na die Kaap te begin. En so moes ook Van Lier en sy susters maar wag vir die geleë dag, wanneer ook hulle skip die vaderland sou verlaat. Vir hierdie lang reis was hulle aangewese op die 'Jagtrust', wat reeds sedert 1775 in diens van die Kamer van Amsterdam vaar en vir hierdie reis onder bevel van kaptein Anthony Lubbe sou staan.

Die langverwagte dag van afskeid het eindelik aangebreek op 27 Mei 1786, toe die 'Jagtrust', met 110 koppe aan boord, uit die hawe van Texel vertrek. Hoe lank die reis sou duur, het niemand geweet nie, aangesien alles afgehang het van die wind, met soveel ander gevare en moontlikhede op die weg. Gewoonlik het die reis na die Kaap in daardie dae van drie tot vyf maande geduur, en al was die gevaar van seerowers toe nie meer daar nie, het daar genoeg ander gevare oorgebly.

Tussen die jare 1785-90 bv. het 'n hele aandtal skepe onderweg na die Stormkaap skipbreuk gely, dikwels met lewensverlies van passasiers of bemaning. Ook muitery onder matrose was geen denkbeeldige gevaar nie. So bv. is die wrak van die Franse skip, 'Rozette', op 19 Aug. 1786 -- juis toe die 'Jatrust' ook op see was! -- digby Kaappunt aangetref, sonder 'n lewende wese aan boord. 'n Paar dae later is ses matrose onder verdagte omstandighede by die Kaap aangetref en gearresteer; en by die geregtelike ondersoek het geblyk dat hulle die offisiere en ander manskappe van die 'Rozette' vermoor het, en toe hul skip op die rotse gestuur het, om so die land te bereik. Nog in dieselfde jaar , na Van Lier se aankoms aan die Kaap, is hulle daar -- op 'n wrede wyse -- tereggestel om te boet vir hul misdaad. Siektes aan boord -- rottekoors word dikwels genoem -- het ook baie slagoffers geëis, al was die gevreesde skeurbuik toe nie meer so 'n gevaar nie. Ook die 'Jagtrust' moes by sy aankoms aan die Kaap 15 siekes en 2 dodes aanmeld. Die reis het egter nie te lank geduur nie, aangesien die goewerneur, C. J. de Graaff, reeds op 7 Sept. 1786 aan die Politieke Raad kon meedeel dat ds. Helperus Rizema van Lier, 'met het schip 'Jagtrust' alhier behouden aangekomen was'. Die aankoms van so 'n skip in Tafelbaai was in daardie dae 'n blye gebeurtenis, nie alleen vir die passasiers wat soveel maande aan die genade van die see toevertrou was nie, maar ook vir die bewindhebbers van die Oos-Indiese Kompanjie, wie se belange daarby betrokke was.

In sy reisbeskrywing vertel seekaptein C. de Jong van sy aankoms aan die Kaap op 27 Maart 1792 die volgende: 'Aanstonds wierd 's Landsvlag door het Kasteel met 15 schooten gesalueerd, die ik met even zoo veel bedankte; en wel haast kwam de Equipagiemeester der Maatschappij aan boord, vragende, of en wanneer ik verkoos de eerbewijzingen te genieten, die men gewoon is aan 's Lands Kapiteinen te doen' ."

Print Email