• Home
  • Civil and Sacred
  • VOC
  • In Diens van die VOC en Vertrek

VOC

In Diens van die VOC en Vertrek

Helena Garner gee die volgende opsomming van Karel Schoeman se hoofstuk oor Amsterdam in sy boek:
Stamland : 'n reis deur Nederland.
Kaapstad : Human & Rousseau, c 1999.

Die VOC is in 1602 gestig en het uit ses kamers bestaan. Die Kamer van Amsterdam wat die sterkste van die ses kamers van die VOC was het die ander vyf kamers gedomineer. 725 van die VOC- skepe uit die 1450 wat gedurende die twee eeue van sy bestaan gebruik is, is hier gebou. Gedurende die bloeitydperk van die VOC het meer as duisend mense op die skeepswerwe gewerk. Die rivier, die Amstel is in die IJ in die Oude Zijde op die regteroewer opgedam sodat die skepe daarin kon opvaar. Die vroeë dam Amstel is deesdae 'n plein wat nou die middelpunt van die stad vorm. Amsterdam se naam is hiervan afgelei. Die skepe het vanaf die Damrak uitgeseil na die IJ wat in die Suidersee uitmond en vandaar na die wêreld. In Warmoesstraat wat die belangrikste winkelstraat in Amsterdam was het die koopmanne gewoon. Agter hulle woonhuise was die pakhuise met toegang tot die water van die Damrak. Die burgemeester en direkteure van die VOC het ook in hierdie deel van die ou Middeleeuse stad gewoon.

Die VOC het nie so 'n goeie reputasie gehad dat die Nederlanders graag by hom in diens geneem wou word nie, arbeidsvoorwaardes en lone was nie aantreklik nie. Om as soldate te werk was nog minder aantreklik. As gevolg hiervan moes die Kompanjie arbeiders uit die buiteland trek. Baie arbeiders het dan ook vanaf hawestede uit die Noord-, Oos- en Wit See of vanaf Duitsland gekom. Duitsland het gely onder armoede, hongersnood, oorlog en vervolging. Daar was ook wanaangepastes, misdadigers en avonturiers onder hierdie mense. Werksoekers kon hulle by enige van die Kompanjie se kamers aanmeld, maar omdat Amsterdam daardie tyd die derde grootste stad in Europa was (London en Parys was groter) het die meeste daarheen gegaan. Meestal moes hulle oorbly in die stegies in agterkamers of solders waar die straatvroue bedrywig was. Op bepaalde dae is 'volgens gewoonte in alle strate en stege met trommels en fluite, skalmeie en trompette' aangekondig dat nuwe werkers by die kompanjie benodig word. Die kantore was geleë te Oostindisch Huis, 'n reeks van geboue in Oude Hoogstraat vanaf die Dam na die Oude Schans waar die stadsmuur van die Middeleeuse stad was. Tans word die oorspronklike hoofgebou deur die Sociologisch Instituut van die Universiteit van Amsterdam gebruik.

Hier volg wat Karel Schoeman in die Engelse vertaling van die Van Riebeeckvereniging aangehaal het van O.F. Mentzel se biografie oor R.S. Alleman wat die toestande om aanvaar te word beskryf: "Hier is daar 'n groot menigte, en die potensiële rekrute word in groepies van twaalf of hoogstens vyftien in die gebou ingelaat. So gou soos wat die deur oopgemaak word, probeer al die mans wat naby genoeg is vir hulle 'n pad na binne forseer, en dit gebeur dikwels dat mense doodgedruk word in die gedrang wat sodoende ontstaan. Die vasgestelde aantal mans word binnegelaat, dan word die deur weer toegemaak, en enigeen wat hom nie vinnig genoeg terugtrek nie, word deur die deurwagters deeglik reggesien ... Dit is byna ongelooflik hoe die mans hul in die diens van die Kompanjie probeer indwing. Ek het self mans gesien wat na die vensters van die tweede verdieping, bo die ingangsdeur, opklouter en daar aan die ysterrooster vasklou totdat die deur oopgemaak word; hulle laat dan onmidellik los, val op die koppe van die mans wat voor die deur staan, en word sodoende saam in die gebou ingevoer. Selfs die mans wat afgekeur is, verloor nie hoop nie; hulle trek 'n ander uniform aan en wag omtrent 'n uur of anderhalwe uur. Dan forseer hulle vir die tweede keer 'n pad na binne, en is dan dikwels gelukkig genoeg om aanvaar te word, veral as daar teen die einde van die dag 'n tekort aan applikante blyk te wees."

Diegene wat as matrose of soldate kon diens doen moes 'n kontrak vir vyf jaar diens in die Ooste of aan die Kaap teken. Dit het nie die heen- en terugreis ingesluit nie wat beteken het dat nog twee jaar bygevoeg moes word. Die vroue, "sielverkopers" genoem wat by die indiensneming betrokke was het hulle voorsien van 'n skeepskis met die basiese noodsaaklikhede, bv. 'n jas, hemde, slaapmus, matras, kleipype en brandewyn of jenewer. Hierna het die lang reis feitlik dadelik begin.

Die Suidersee was te vlak vir skepe, daarom het die VOC se skepe van die eiland Texel vertrek. Almal wat van Amsterdam, Hoorn en Enkhuizen vertrek het is met platboomskuite, ligters genoem, na Texel vervoer. Die roete loop vanaf Oostindisch Huis langs die Nieuwe Hoogstraat en die Snoekjesgracht na die Oude Schans tot by die steier te Montelbaanstoren, 'n ou Renaissancetoring wat deel van die stad se muur was. Daar bestaan 'n ets van hierdie uittog deur Renier Nooms en 'n olieverfskildery deur Abraham Storck. Die Oude Schans met sy troebel water en die Montelbaanstoren en aan die oorkant die WIC-pakhuise wat in 1641-42 opgerig is bestaan nog.

Gedurende 1608 het die Amsterdamse Kamer sy eie skeepswerf op die eiland Rapenburg aan die oewers van die IJ gekry. Hierdie toegangspoort met die monogram A VOC asook die name Peper- en Foeliestraat en die twee pakhuise waar Kaapse wyn en arak (Oosterse rysbrandewyn) geberg is het aan die huidige Prins Hendrikkade behoue gebly. In die moderne stadgids word daar verwys na die "Kaapse wijnpakhuizen". Die VOC se nuwe skeepsweerf was sedert 1661 op die eiland Oostenburg. Seile, ankers, toue en spykers is deur die Kompanjie self gemaak. 'n Magasyn van vier verdiepings met 'n fasade van 177 meter lank is daar gebou maar bestaan nie meer nie. Die Zeemagazijn van die Admiraliteit van Kattenburg waar die Nedelandse Scheepvaart Museum tans is het behoue gebly. 'n Replika van die "Amsterdam" wat in 1748 gebou is kan hier besigtig word. Werk- en woonruimtes was baie beknop. Die ophaalbrug van die Oude Schans en die Montelbaanstoren kan van hier af gesien word.

In die nuwe provinsie Flevoland, aan die rand van die Ijsselmeer is 'n replika van die "Batavia" waar die oorloopdek wat oor die volle lengte van die skip loop gesien kan word. Die oorloopdek was onmiddellik onder die dek van die seilskepe waar die matrose heen gebring is. Die skepe was oorbeset om voorsiening te maak vir verliese deur siektes of sterftes, gewoonlik het 200 man vanaf Amsterdam vertrek teenoor 110 op die terugreis.

Die matrose was saam met hulle kiste en hangmatte tussen kanonne en die vrag gehuisves met die dakhoogte 1.8 meter geventileer deur die luike en kanonpoorte. Nog laer af onder die waterlyn was die koebrug, slegs deur die rooster in die oorloop geventileer, omtrent 1,5 meter hoog waar die soldate in diens van die Kompanjie gehuisves is. Hierdie mans was meestal Duitsers wat by hulle bestemmings agtergebly het.

Skeurbuik en later vlektifus was die siektes wat die meeste lewens geëis het. Skeurbuik was 'n verskriklike siekte; tande het uitgeval, tandvleis het sleg geword en moes weggesny word, asemhalingsprobleme en opgeswelde ledemate was van die gevolge. Die voorgeskrewe oggendgebed op die VOC-skepe het gelui: "O eeuwige, almagtige God en Vader! Bevryd ons door uwe bermhertigheit voor alle schadelyke stromwinden, onweder en alle andere zeenoden. Verleen ons goet weder en bekwaamen wint, opdat wy onse aangenomen reis voorspoediglyk mogen volbregen tot Uwes Naams prys en eeredienste onzes Vaderlands, en troost der gene welken daaraan in het byzonder is gelegen."

Print Email