Kerke van die Kaap

DIE GEMEENTE SWARTLAND - GESTIG 1745

1. Voorgeskiedenis
In 1655 stuur van Riebeeck 7 soldate onder leiding van Adelborst Jan Wintervogel om die gebied wat later as die Swartland bekend sou staan te verken. Wintervogel het ondervinding van verkenningswerk opgedoen in Brasilië. Van hierdie 7 man het 6 teruggekom. Die ongeval was Jan de Vos "die van eenige bitter amandelen te veel gegeten overleden is"

Dit is onbekend waar die Swartland sy naam gekry het maar vandag word dit aanvaar dat die donkergroen van die Renosterbos wat `n swartagtige voorkoms het die naam veroorsaak het. Die naam gaan in elk geval so ver terug as 1701.

Vanaf 1700 word daar jag en weidingslisensies uitgereik wat gewoonlik net vir `n jaar geldig was. So ver bekend was die eerste van die plase Tweekuil wat gegee was aan die "vrylandbouwer" Johannes Vos "om voor den tyd van een geheel jaar met desselfs vee, bestaande uit runderen en schaapen, aan of tusschen Riebeeck Casteel en't Swarte land, gent. De twee kuylen te mogen gaan leggen en laaten weyden en gedurende die tyd te bouwen off saaien" Uit voorafgaande blyk dit dat alhoewel die hoofklem op veeboerdery geval het, die graanbou toe reeds aandag geniet het.

Ander streke in die omgewing was Groenkloof (die huidige Darling ) asook Paardenberg wat sy naam gekry het van die "wilde paarden" (Zebras), Riebeeck Kasteel en Vier en Twitig Rivieren (die huidige Porterville).

2. Persone betrokke by die stigting

Baron Gustaf Willem van Imhoff
Hy besoek die Kaap in Januarie 1743 op pad na Nederlands Oos Indië waar hy die pos as Goewerneur Generaal sou aanvaar. Hy besoek die Zwartland en Roodezand (Tulbagh) en was geskok oor die leefwyse van die mense en beskryf hulle as `n versameling blinde heidene eerder as `n kolonie van Europeërs en Christene. Hy stel voor dat hierdie twee gebiede elk `n kerkplaas kry. Die saak word ondersoek deur di F.C. le Sueur van Kaapstad en W. van Ghent van Stellenbosch wat saamstem met die bevinding. Van Imhoff beveel aan dat die eerste skeepspredikante wat in die Kaap aandoen agtergehou moes word om die twee gemeentes te bedien.

Die weduwee van Pieter van der Westhuyzen
In 1744 koop die politieke Raad `n plaas by die weduwee van Pieter van der Westhuyzen. Baie min is bekend oor die weduwee van der Westhuyzen maar daar word vermoed dat sy Beatrix Olivier was wat in Oktober 1721 met Pieter van der Westhuyzen in die eg verbind is. Pieter was `n wewenaar en hy was die sewende kind van die stamvader Pieter van der Westhuyzen.

Wietse Botes
Wietse het uit Enkhuizen , Holland met sy vrou Anna Pieterse aangekom en is aangestel as sieketrooster. Die amp se funksies was om siekes te vertroos, ter dood veroordeeldes vir hulle einde voorberei, preke te lees in die afwesigheid van `n predikant en onderwys in die plaaslike kerkskool gee. Adam Tas het na hierdie amp verwys as "`n krancke bedroever" a.g.v. die slegte naam wat hulle gehad het.

Gedurende die ampstermyn van Ds Weerman lees ons niks van Wietse Botes nie en na e.g. se vertrek word hy opgevolg deur Ds Voltenen van 1750 tot 1755.

Gedurende die ampstermyn van Ds Voltenen was daar klagtes oor die skoonhou van die kerk. Volgens Kerkraadsnotule 12 Maart 1753 word hy as Koster ontslaan en Nicolaas von Wielich word in sy plek aangestel as Koster. Botes het wel as Sieketrooster en Voorleser aangebly.

Die aanstelling van von Wielich het nie `n einde gebring aan die spanning tussen Botes en en die gemeente nie. Dit blyk dat Botes en von Wielich saam begin drank verkoop het. Dit het so erg geword dat daar selfs Sondae by die kerk drank te koop was. Dit was later so erg dat die ambagsmanne by die kerk nie in staat was om hulle werk te doen nie.

Vir die Kerkraad en Ds Croeser was dit te veel en in 1766 word hulle verbied om drank op Sondae te verkoop. Hulle is later verbied om selfs drank verniet weg te gee. (Kerkraadsbesluit 11 Mei en 5 Oktober 1766.)

Botes se loopbaan as Sieketroosteer eindig na 30 jaar in 1774 op sy eie versoek aangesien hy reeds 62 jaar oud is. Niks is verder van hom bekend nie.

Sy pos word nie hervul nie en die amp van sieketrooster verval na `n aantal jare uit die Kerk.

Ds R.A. Weerman
Na die aanstelling van Wietse het die politieke Raad daarin geslaag om `n predikant te verkry. Hy was ds Rutger Andreas Weerman en is op 15 Oktober 1744 in Holland bevestig tot leraar van die Kerk in Oos Indië. In die Kaap is hy "aangehou" as leraar vir Swartland. Op Saterdag 27 Junie 1745 word die Gemeente Swartland dan gestig. Hierdie gemeente is dus die vyfde gemeente in Suid Afrika en word voorafgegaan deur Tulbagh. Die eerste Kerkraad word by wyse van stemming deur die hele gemeente (55 siele maar slegs 28 manlike lidmate het gestem). `n Lys van name van die eerste lidmate word aangeheg.

Ds Weerman vertrek in Des 1748 en gaan na Batavia. Daar is niks bekend van sy verdere loopbaan nie.

Pieter Venter (ouderling)
Hy was heelwaarkynlik die derde seun van die stamvader Hendrik Venter van Hameln wat as kolonis gekom het en ongeveer 1713 oorlede is. Sy moeder was en Anna Viljoen. Pieter self is November 1721 met Hester Nel getroud en was sowat 45 toe hy ouderling geword het. Reeds in 1739 is `n weilisensie aan Pieter toegestaan vir die veepos Weltevreden naby Riebeek Kasteel. Sy lidmaatsertifikate is uit Kaapstad oorgeplaas. Hy was `n man van aansien en die leidende ouderling. Ook het hy die gekombineerde Kerkvergadering in Kaapstad gedurende Augustus 1745 bygewoon om o.a. oor die grense van die Gemeente Swartland te besluit.

Gerrit Olivier (ouderling)
Hy was vermoedelik `n seun van die stamvader Hendrik Olivier van Oude Kerk wat in 1671 aan die Kaap gekom het en daarna met Beatrix Verwey van Woerden trou. Gerrit tree in die huwelik in Mei 1693 met Maria Magdalena van der Westhuyzen, skoonsuster van die weduwee van der Westhuyzen. Daar is rede om te glo dat Gerrit die broer van die weduwee van der Westhuyzen was. Hy was 52 toe hy as ouderling verkies is.

Floris Smit (diaken)
Hy was `n kleinseun van die stamvader Jan Smit. Die plaas De Gunst word in Oktober 1740 aan Floris toegeken. `n Maand voor dit is hy met Margaretha Steenkamp getroud. Van hulle nasate woon steeds in die Swartland.

Jan Loubser (diaken)
Johan Albertus Loubser was die kleinseun van die stamvader Nicolaas Loubser of Lopser. Jan is in September 1720 gedoop te Stellenbosch en het op 21 jarige leeftyd met Elizabeth Johanna Mosterd getrou.

Ds. G.C. Croeser 1755 - 1770
In 1755 ruil Ds Voltenen plekke met Ds. Groeser , mede leeraar in Kaapstad en vir die volgende 15 jaar sou hy diens doen as derde leeraar van Swartland. Gerhardus C. Croeser kom van Sappemeer, Nederland en land in Kaapstad op 17 September 1754 en drie weke daarna lewer hy sy intreepreek as medeleraar in die moedergemeente Kaapstad. In November 1775 word hy op eie versoek na Swartland verplaas. Gerhardus was twee keer getroud. Sy eerste vrou was Geertruy Sprakel en na haar dood is hy weer in die eg verbind met Johanna Christina Delits wat hom oorleef het by sy dood in 1770. Hy was die stamvader van die Croeser familie in ons land.

Afgesien van die probleme wat Croeser met sy Sieketrooster en Koster gehad het, het hy en sy twee ouderlinge (tot 1829 het Swartland slegs 2 ouderlinge en 2 diakens gehad), Paul Retief en Stephanus Walters, `n sekere Hendrina van der Westhuizen die Nagmaal belet en van die gemeente afgesny op grond van vermeende meineed. Hendrina het suksesvol na die Fiskale Raad van Justisie geappelleer. Om die saak `n godsdienstige kleur te gee is opdrag aan die Kerk in Kaapstad gegee om die sensuur te gaan ophef en Ds Croeser en sy ouderlinge te gaan bestraf. Die Kaapse gemeente het die opdrag gelate aanvaar en uitgevoer. Nie alleen was dit uiters vernederend vir die Gemeente Swartland nie maar die presedent van Kerklike onderhorigheid aan die Staat is geskep wat nog vir jare sou voortduur.

Op 2 Oktober 1768 lei Ds Croeser sy laaste kerkraadsvergadering en beswyk op 25 Mei 1770. Hy is soos gebruiklik voor die kansel in die kerk begrawe.

Nicolaas von Wielich (Koster)
Nicolaas von Wielich arriveer in die land ongeveer die helfte van die 18de eeu uit Hamburg. Hy word aangestel as koster in die Gemeente Swartland. Verwys ook na Wietse Botes. Hy hou hierdie pos vir die volgende 22 jaar.

Ds. D. Goldbach (1774 - 1783)
Die vierde predikant van Swartland was Daniel Goldbach. Hy het die gemeente in uiters haglike omstandighede aangetref maar het gou weer die gemeente opgehef uit geestelike verval. Hy sal onthou word as een van die beste en innemendste leeraars wat die Swartland gemeente gehad het. Van sy persoonlike sake is bitter min bekend. Niemand weet of hy getroud was of nie. Wat belangrik is, is dat gedurende sy ampstermyn Nicolaas von Wielligh sy amp as Koster neergelê het en in sy plek word Jan Hendrik Rust, die stamvader van hierdie familie, in die pos aangestel.

Op 20 Maart 1783 is ds Goldbagh oorlede as gevolg van `n ongeluk aan sy nek. Die detail van daardie ongeluk is nie bekend nie.

Ds. P.J. van der Spuy (1786 - 1806)
Die vyfde predikant in die Swartland was Petrus Johannes van der Spuy. Hy was die kleinseun van die stamvader Melt van der Spuy en dus die eerste Afrikaner leeraar van die gemeente. Hy was getroud met Johanna Margaretha Domus en die egpaar het 5 kinders gehad. Hy was egter nie die eerste Afrikaner leeraar nie want daardie eer het sy oom Petrus van der Spuy gehad en lg. was leeraar van Drakenstein (Paarl) van 1753 tot 1781.

Die tydperk waarin Ds. van der Spuy in Swartland as leeraar diens gedoen het was belangrik omdat albei die Britse besettings tydens sy dienstermyn plaasgevind het.

Hy word verplaas na Paarl in 1806 en sterf minder as `n jaar later aan masels op 46 jarige ouderdom.

Ds. M.C. Vos (1810 - 1811)
Die sesde predikant van die Swartland was Michiel Christiaan Vos. Net soos sy voorganger was hy ook `n gebore Afrikaner. Hy was die vyfde kind van die stamvader Jan Hendrik Vos wat in Batavia gebore is en voor 1748 na Suid Afrika gekom het.

Ds. Vos was die eerste sendingpionier en het onverskrokke evangelisasie aan nie blanke inwoners aan die Kaap gedoen. Gedurende hierdie tyd was `n wet van 1770 in swang wat bepaal het dat slawe wat gedoop en aangeneem is nie verkoop mag word nie. Uit vrees vir finansiële verliese was baie boere nie bereid om sendingwerk op hulle plase toe te laat nie. Hierdie wet wat ten doel gehad het om slawe meer humanitêr te behandel het liederlik gefaal en is in 1812 herroep.

Ds. Vos word in 1811 oorgeplaas na Swartberg (Caledon) om die eerste predikant in die pasgestigte gemeente te word.

Ds J. Scholtz (1811 - 1827)
Die sewende predikant van die Swartland was Jacobus Scholtz die seun van Jan Joachim Scholtz en dié se tweede vrou, Johanna Elizabeth Hamman. Jan Joachim Scholtz was die tweede seun van stamvader Joachim Scholtz van Oudemarkt, Brandenburg, Duitsland en Anna Maryna Swart.

Gedurende sy dienstyd raak hy `n paar keer slaags met die Kaapse gemeente en daar word besef dat `n hoër kerklike gesag nodig is en op 2 November1824 kom die eerste Sinode bymekaar in die konsistorie van die Grootte Kerk Kaapstad. Twaalf van die veertien gemeentes word hier verteenwoordig.

Ds. Scholtz neem dan ook deel aan die herbepaling van gemeentegrense. (sien later)

Die volgende jaar sterf Ds. Scholtz en word in die Kerk grond begrawe en nie voor die preeksoel nie aangesien die grond van die ander grafte gesak het wat holtes in die vloer veroorsaak het.

Sy seun John William Lewis Scholtz word die eerste leeraar van Piketberg.

3. Die eerste lidmate en Lidmaatskap oorgedra van watter gemeente:
Jasper Slabber Gemeente Kaapstad
Gideon Slabber Gemeente Kaapstad
Francina Kerste Gemeente Kaapstad
Johanna Visser Gemeente Kaapstad
Maatje Slabber Gemeente Kaapstad
Floris Smit Gemeente Kaapstad
Margaretha Steenkamp Gemeente Kaapstad
Jacobus Smit Gemeente Kaapstad
Elizabeth Slabber Gemeente Kaapstad
Catharina Gous Gemeente Kaapstad
Pieter Venter Gemeente Kaapstad
Hester Nel Gemeente Kaapstad
Anna Gous Gemeente Kaapstad
Johannes Pool Gemeente Kaapstad
Aletta Elizabeth Mosterd Gemeente Kaapstad
Hugo Lambrechts Gemeente Kaapstad
Huybrechen Visser Gemeente Kaapstad
Michiel Basson Gemeente Kaapstad
Maria Magdalena van der Westhuizen Gemeente Kaapstad
Johanna Slabber Gemeente Kaapstad
Adriana Smit Gemeente Kaapstad
Neeltje Visser Gemeente Kaapstad
Christina Gous Gemeente Kaapstad
Sara Gous Gemeente Kaapstad
Pieter Smit Gemeente Kaapstad
Gideon Smit Gemeente Kaapstad
Francois Smit Gemeente Kaapstad
Weduwee Susanna Visser Gemeente Stellenbosch
Johannes Lopser (Loubser) Gemeente Stellenbosch
Elizabeth Johanna Mosterd Gemeente Stellenbosch
Margaretha Hatting Gemeente Stellenbosch
Maria Hatting Gemeente Stellenbosch
Elizabeth Prins Gemeente Drakenstein (Paarl)
Elizabeth Lombaard Gemeente Drakenstein (Paarl)
Johanna Catharina van Jaarsveld Gemeente Drakenstein (Paarl)
Susanna Durant Gemeente Drakenstein (Paarl)
Weduwee Anna Maria Bacot Gemeente Drakenstein (Paarl)
Anthonie Lombaard Gemeente Drakenstein (Paarl)
Johanna Snyman Gemeente Drakenstein (Paarl)
Theunis van Aarde Gemeente Drakenstein (Paarl)
Hilletjie Kervel Gemeente Drakenstein (Paarl)
Jan Labuschagne Gemeente Drakenstein (Paarl)
Geesje Steenkamp Gemeente Drakenstein (Paarl)
Paul Retief Gemeente Drakenstein (Paarl)
Dorothea Melius Gemeente Drakenstein (Paarl)
David Malan Gemeente Drakenstein (Paarl)
Leonora Melius Gemeente Drakenstein (Paarl)

4. Die Area van Swartland Gemeente.

Die Swartland Gemeente moet gesien word as `n gebied wat histories afgebaken is en nie deur geografiese hindernisse na die Noorde afgesper word nie. In die begin jare was dit bepaal deur die area wat die Swartland Gemeente bedien het.

Ons het reeds gesien dat die gebied stadig bevolk is vanaf 1700 en dat `n gemeente in 1745 afgestig het van die stadsgemeente Kaapstad. Om verwarring te voorkom word daar `n "Gekombineerde Kerkraadsvergadering" tussen die verskillende gemeentes Kaapstad, Drakenstein (Paarl), Stellenbosch, Swartland en Roodezand (Tulbagh) op 30 Augustus 1745 te Kaapstad gehou.

Hier word die grense van Swartland dan as volg vasgestel. Die gebied swartland vanaf die teenswoordige Malmesbury wes, wat Groenkloof (Darling) insluit tot by die see. Al met die Weskus op tot by St Helenabaai vandaar suid van die Bergrivier om Riebeek-Wes en Riebeek Kasteel en verder om die Paardenberg en terug tot by die huidige Malmesbury.

In die praktyk werk dinge egter nie so maklik uit nie en in 1814 word daar aan die Goewerneur `n verslag voorgelê wat daarop dui dat die grense in mindere of meerdere mate verskil van die grense wat in 1745 neergelê is. Op daardie stadium is daar nie grense gedefinieer nie maar in 1826 moes die Kerkraad aan die Sinode (wat nou vir die eerste keer na stigting sit) verklaar dat die grense van die Gemeente nie met sekerheid uitgewys kan word nie.

Dit blyk dan uit doopregisters dat kinders gedoop is van wie die ouers woonagtig was van Koeberg tot anderkant Kamiesberg (Springbok), `n afstand van 500 kilometer. Verder vind ons dat kinders gedoop is wie se ouers woonagtig was aan Vier-en-twintig-Riviere (Porterville) Olifantsrivier (Citrusdal), Voor-en-Agter-Piketberg (Piketberg), Aurora, Velddrif, Verlorenvallei (Redelighuys), Hantam (Calvinia), Bokkeveld (Ceres) en die Roggeveld (Sutherland). Van hierdie het almal onder Tulbagh geval. Volgens die grense van 1745.

In 1820 skryf skryf Ds J Scholtz aan die Goewerneur en versoek die Goewerneur dat hierdie mense in die toekoms nog toegelaat moes word tot die Gemeente aangesien dit vir hulle nader is. Ook omdat toegang makliker is na Swartland as na Tulbagh. Hierdie versoek is ook toegestaan (Letters Received, 1820, C.O. No. 39 Staatsargief Kaapstad).

Indien mens na die afstigting van gemeentes kyk kry ons ook `n beeld van hoe groot die gemeente was en hoe daar afgewyk is van die oorspronklike grense.

Tygerberg (Durbanville) stig af in 1826.

Piketberg stig af in 1833 en neem die wyk Vier-en-Twintig-Rivieren (Porterville) saam. Dis noord van die Bergrivier en dus voorheen toegewys aan Tulbagh. Die geskiedenis van Porterville verwys egter na lidmate wat vroeër by Tulbagh ingedeel was.

Hopefield (Saldanhabaai) stig af in 1852. Die dorp was voorheen Soutrivier genoem.

Groenkloof (Darling) stig af in 1853.

Riebeek-Wes stig af in 1858. Hier was `n interessante geval want die Kerkraad van Swartland weier om toestemming tot afstigting te gee. Intussen bou Riebeek-Wes `n kerk wat 800 lidmate hou. Toe die saak by die ring uitkom was die kerk klaar gebou, en betaal, boonop was die salaris van die predikant gewaarborg. Die ring gee hulle toe reg om af te stig.

Riebeek-Kasteel stig af in 1863.

Philidelphia (Koeberg) stig af van Durbanville en neem 60 Swartland lidmate saam in 1863

Hooikraal (Moorreesburg) stig af in 1879.

Geen melding word gemaak in die Swartlandse gemeente geskiedenis van die ontstaan van gemeentes soos Calvinia , Citrusdal ens nie. Ons kan in nabetragting dus aflei dat die Swartland bestaan het uit die koring verbouing area, die Sandveld plus die weskus tot so vêr Noord as Elandsbaai.

Vier-en-Twintig-Rivieren (Porterville) stig af van Piketberg op 25.2.1879. Daar is egter in die geskiedenis van Porterville verwys na sekere lidmate wat by Tulbagh ingedeel was. Geografies is dit onlogies dat Porterville by Tulbagh ingedeel was aangesien Malmesbury makliker was om te bereik as Tulbagh alhoewel die afstand effens verder is.

5. Die Juridiese Ontwikkeling van die Swartland.
Op 21 Mei 1829 word die Plaaskerk Swartland as dorpsgebied geproklameer en word Malmesbury genoem ter ere van die Hertog van Malmesbury (Engeland) Sir Edward James Harris wie die skoonpa van Sir Lowry Cole (die Goewerneur) was.

Opgestel deur Bazett Meyer 18.10.2000 hersien 11.11.2000.

Bronne
1. Na twee honderd jaar - Nederduits Gereformeerde Gemeente Swartland. Ds A.P. Smit. Uitgegee deur die N.G. Kerkraad Malmesbury 27/6/1945
2. Die Museum te Malmesbury
3. Die eerste eeu van die Gemeente Porterville deur C.F. Albertyn. Uitgegee deur die Nederduits Gereformeerde Gemeente Porterville.

Print Email