Kerke van die Kaap

GENADENDAL (Baviaanskloof) 1737

Genadendal was begin as 'n sending in 1737 deur die Morawiese sendeling Georg Schmidt (1709 - 1785) van die Morawiese Orde. Hy arriveer op 09 Julie 1737 aan die Kaap, in daardie dae slegs nog 'n gehuggie met ongeveer 200 strooidak huisies, elk met sy eie tuinery. Die inwoners was grotendeels bestaansboere, om in eie behoeftes te voorsien en ook om aan die Kompanjie te lewer. Die vernaamste geboue was die Kasteel aan die waterfront en die kerk aan die bokant van die Heerengracht straat. Die hospitaaltjie was regoor die kerk geleë. Van strate was daar geen sprake nie. 'n Vroeë 18-eeuse reisiger beskryf die Kaap as volg. "De wegen overal bij het Casteel en door de stadstraate legge schuins en over, met gaten als offer de wilde varckens het hadde omgevroet, soo dat men met vrees is van omvallen als men naar de stat sal rijden of de Compagnes tuijne."

Nadat Schmidt geland het, het hy verblyf by 'n eenvoudige gastehuis bekom en tydens aandete is die volgende gesprek gevoer. Een van die gaste het aan die ander tafelgenote gevra of hulle gehoor het dat daar daardie dag 'n nuwe dominee geland het om die Hottentotte in die binneland te bekeer, met kommentaar dat hy nie werklik 'n dominee is nie, maar slegs een van die eenvoudige werkers (dienare) van die VOC, wat sy brood deur sy eie hande wil verdien. Dit het tot groot gelag en spot gelei, totdat Schmidt sê: "Ek is die man van wie julle praat". Hulle was totaal uit die veld geslaan en het terstond vertrek.

Hy was die eerste Protestanse sendeling in Suider Afrika en na hom het bykans 'n halwe eeu verloop voordat ander sendelinge weer hier kom werk het.

Die Jesuïetiese orde het egter reeds in die 16de eeu in Oos Afrika gewerk waar Vader Gonzalo da Silveira omstreeks 1550 in die omgewing van Delagoabaai vermoor is. Ongeveer 1650 was die Dominikaanse orde in die Oos Afrikaanse hooglande bedrywig, waar volgens oorlewering die koning van die Monomotapa (die gebied tussen die Zambesi en Sabie riviere) inboorlingstam gedoop is.

Vanaf 1695 tot 1707 was Ds. Petrus Kalden predikant aan die Kaap. Daar was ook nog 'n gemeente te Stellenbosch en die Hugenote gemeente van Ds. Pierre Simond te Drakenstein. Ds. Kalden het geweldig in die evangelisasie van die inheemse volkere (die Hottentotte) belang gestel, en het selfs begin om 'n studie te maak van hul taal, om sodoende met hulle te kon kommunikeer. Gedurende daardie tyd het die Deens-Halle Sendinggenootskap twee sendelinge nl. Ziegenbalg en Plütschau na Indië gestuur. Tydens hulle reis na Indië het hulle aan die Kaap oorgebly en was so getref deur die totale verval van die inheemse volkere dat hulle onmiddellik 'n sterk pleidooi aan alle gesaghebbendes in Europa gestuur het om vir die Kaapse heidene 'n sendeling te stuur. Aan die Kaap was daar ook van die plaaslike inwoners wat vertoë aan die bewindhebbers gerig het, om die nood onder die heidene aan te spreek. So 'n persoon was die welgestelde Hugenote koopman, Jacques de Savoye, wat die deur- reisende en besoekende sendelinge tot besondere hulp was, o.a. aan die Deense Sendeling Johann Georg Böving wat onderweg was van die Ooste na Europa. Böving het deur middel van 'n tolk die evangelie onder die Hottentotte versprei. In 'n dringende brief aan die Kompanjie bewindhebbers het hy die ongevoeligheid van koloniste betreur en die mening uitgespreek dat die bewindhebbers verantwoordelikheid behoort te neem van die heidene se sieleheil. Kort daarna het ook Ziegenbalg persoonlike voorspraak in Holland en Duitsland gaan doen. Die Graaf Nicolaus Ludwig von Zinzendorf, die stigter van die Morawiese Orde het diep onder die besef van die nood onder die heidene aan die suidpunt van Afrika gekom, nadat hy verskeie kere Ziegenbalg se byeenkomste bygewoon het. Georg Schmidt is in 1709 te Künewalde gebore en in 1727 begin hy sy opleiding as sendeling, ook as kok te Hernhut, onder leermeester Zinzendorf.

Op 11 Feb 1736 onvang die M.O. 'n versoek van Holland om 'n sendeling na die Kaap te stuur en die keuse val op die jong Georg Schmidt. Hy vertrek dadelik na Amsterdam om deur die kommissie van die Gereformeerde leraars gekeur te word.

Op 11 Maart 1737 vertrek hy na die Kaap met 'n brief van die Direkteure van die VOC aan die Goewerneur aan die Kaap om hom alle hulp in sy taak te verleen, aangesien hy dit ten doel het om die onkundige en onbeskaafde barbare na die Christendom te lei en ook om hulle te help tot 'n beter lewe. Schmidt het etlike weke in die Kaap vertoef aan huis van Kaptein Rhenius (hy het 'n goeie vriend van hom geword), totdat hy geleentheid saam met 'n geselskap reisegers na die binneland bekom het. Dit was te onveilig om alleen op reis te gaan, en om daardie rede was die Goewerneur ook nie te bereidwillig om toestemming te verleen vir sy vertrek nie.

Schimdt verklaar dat hy tydens sy kortstondige verblyf aan die Kaap geen vrug op sy arbeid bemerk het nie, want "ware kinders van God kon ek nie vind nie" Die bediendes en slawe aan die Kaap het weinig vrye tyd gehad, en die inwoners (werkgewers) was hom nie juis goedgesind nie.

Op 04 September 1737 gee die Goeweneur persoonlik toestemming dat hy saam met korporaal Kampen van die militêre voorpos in die Hottentotsholland berge kan gaan. Die Goeweneur het aan hom genoeg lewensmiddele voorsien en die korporaal versoek om hom te help met die bou van 'n huis. Die voorpos was geleë aan die Riviersonderend, sowat eenhonderd myl (ongeveer 160 kilometer) vanaf die Kaap. Die reis het nege dae geduur.

Die korporaal het vir enige weke sy tent aan Schmidt beskikbaar gestel, totdat hulle sy huis van kleimure klaar gebou het. Sy huis is gebou waar die meeste Hottentotte gewoonlik bymekaar gewoon het. Dit was families Hottentotte wat aan die Hessekwastam behoort het, en wat al langs die kusstreke gewoon het tot sover as die Keirivier. Hulle was veeboere en het 'n swerwersbestaan gevoer soos hulle gedurig agter beter weiding aangetrek het. Hulle was ook gedurig in stryd met die Boesmans wat grootendeels in die berggebiede gewoon het.

Schmidt moes met die heidene deur middel van 'n tolk, ene Afrika praat wat self maar slegs enkele Hollandse woorde geken het. Schmidt kon nooit die Hottentottaal met sy tongklap klanke bemeester nie. Na etlike maande kom hy agter dat hy geensins vordering maak met die Hottentotte nie, omdat die militêre pos, en dus per se die gesag van die Kompanjie steurend op die Hottentotte ingewerk het en ook as gevolg van beide kante se taalonbegrip. Sy werk het hoofsaaklik bestaan uit pogings om enkele leergieriges te leer spel, op Sondae uit die Bybel voor te lees en dan iets van die Heiland te vertel. Schmidt skryf self "Elke aand het ek die Hottentotte besoek, tussen hulle gaan sit, tabak aan hulle gegee en saam met hulle gerook, en hulle van die groot Vader, wat hulle Tui'kwa genoem het, vertel."

Op 23 April 1738 trek Schmidt vanaf die Riviersonderend en gaan vestig hom by die ingang van die Baviaanskloof waar hy 'n nuwe sendingstasie stig en dit word op versoek van die goeweneur Genadendal genoem. Korporaal Kampen het drie van sy soldate afgestaan om hom te help met die bou van sy huis. Ook het 18 van die Hottentotte saam met hom gekom om dan nou verder in die Christelike geloof onderrig te word. Schmidt het 'n moeilike taak gehad omrede die taalkwessie. Hy het ook nie werlik opleiding vir taalonderrig gehad nie, maar moes met sy natuurlike aanleg, toewyding en harde herhalende werk sy taak aanpak. Hy het ook geen aanmoediging of hulp van die nedersetters verkry nie, eerder teenstand, omdat hy nie 'n leraar was van deur die Staats erkende kerk nie. Juis op hierdie tydstip het die Morawiese Orde in Europa in onguns verval weens sy oordrewe "gevoels teologie" en is beskou as 'n sekte en separatisties. 'n Nederlandse teoloog nl. Kulenkamp het in 1738 'n herderlike brief geskryf waarin Gereformeerde leraars gewaarsku word teen die beskouings en metodes van die Morawiërs. Hierdie brief is ook aan die Kaap ontvang en is dan ook so deur gemeentelede aanvaar met gevolglike negatiewe sentimente ten op sigte van Schmidt se werk. Spangenberg, die opvolger van Zinzenberg kon egter daarin slaag om hierdie negatiewe sentimente positief om te draai. Schmidt het baie moeite gedoen om hierdie mening te weerlê, en het selfs na die Kaap gereis om homself te onderwerp aan 'n ondersoek deur die plaaslike Gereformeerde leraars. Die lug is tot 'n mate gesuiwer deur twee deur reisende Morawiëse sendelinge op pad na Ceylon (Sri Lanka) nl. Nitschmann en Dr Eller met 'n verdedigingbrief teen Kulenkamp. Dit het egter nie alle twyfel en weerstand uit die weg geruim nie en die vraag het al hoe meer na vore gekom waarrom Schmidt dan geen vrug op sy arbeid ervaar nie. Hierdie vrae het hom net aangespoor om met nuwe ywer sy werk voort te sit.

Sy grootste struikelblok was egter die vervalle lewensaard van die Hottentotte. Hulle het 'n geweldige afkeur gehad aan 'n gevestigde lewe en om te werk vir 'n lewens- bestaan was buiten hulle begripsvermoë. Luiheid was hul vernaamste kenmerk. Die misbruik van sterk drank was aan die orde van die dag, so ook vernielsug deurdat vee- eienaars net eenvodig hulle vee in die gesaaides laat wei het. Selfs enkeles soos Afrika en Cupido tot wie hy kon deurdring, het hom meestal teleurgestel. Die toepas van tugmaatreels deur dienste en onderwys op te skort het geen beduidende uitwerking gehad nie. Die uitsondering was Willem by wie hy 'n begeerte bespeur het tot 'n beter lewe.

Hy het begin dink om die bekeerdes te doop en omdat hy nie georden was nie kon hy nie die doop bedien nie, waarop hy aan Zinzendorf skryf om hom die nodige gesag toe te staan om die doop te mag bedien. In Maart 1742 onvang hy dan ook sy ordeningsakte van Zinzendorf tesame met 'n begeleidende brief wat o.a. lees, "vertel hulle van die Lam tot jy nie meer kan nie en as hulle iets voel, bid dan met hulle en as hulle niks voel nie, bid dan vir hulle. En doop hulle waar jy die seekoei geskiet het."

Willem is sy eerste dopeling en hy word terstond op 31 Maart 1742 onderweg vanaf die Kaap in die Steenbrasrivier gedoop. Op 2 April 1742 op Genadendal doop hy ook vir Afrika, wat die naam Christiaan ontvang en 'n tydjie later ook Vehettgen wat die naam Magdalena ontvang. Sy staan egter later bekend as Lena. Solank as wat Schmidt hulle afsonderlik be-arbei het, het dit goed gegaan, maar sodra hulle tussen hulle eie mense gekom het hulle weer die ou lewenstyl en gewoontes nagevolg. As gevolg hiervan kon Schmidt nooit die nagmaal bedien nie. Hierdie drie was dan ook die enigste wat Schmidt gedoop het (In die Dictionary of SA Biography word melding gemaak van 5 Hottentote bekeerlinge wat hy gedoop het, asook in C Spoelstra Bouwstoffen Vol 1 p 195)

Daar is erge klagtes deur die nedersetters teen hom gelê na aanleiding van sy werk, veral as gevolg van die drie wat hy gedoop het. Hy is gedaag om voor die Kaapse kerklike leiers te verskyn. Hy word toe verbied deur die owerheid om dit weer te doen, en hulle maak melding dat hy die doopelinge na Kaapstad moes gebring het om deur die NG predikante gedoop te geword het. Dominees Le Sueur, van Echten en van Gendt vra toe dat Schmidt terug gestuur moet word na Holland. Schmidt was belet om te doop maar hy was nie terug Holland toe gestuur nie. Die Goeweneur het hulle siening gedeel dat sy ordening ongeldig is omdat Zinzendorf dit toegestaan het en dit nie deur die plaaslike leraars bemiddel is nie. Na die ondersoek is 'n skrywe aan die ring van Amsterdam gerig met klagtes en waarin advies gevra word oor hoe om die aangeleentheid te hanteer. Terselftertyd vra hulle ook 'n sieketrooster om sendingwerk onder die Hottentotte te kom doen, veral een wat hulle behoeftes verstaan en vertroud is met hulle toestande.

Die klagtes teen Schmidt was o.a. dat die "Hottentot bekeerder" onbevoeg is om die werk te doen, siende dat hy aan die Hernhutt sekte behoort, dat Zinzendorf geen gesag het om 'n akte van ordering uit te reik in 'n gebied waar die Gereformeerde godsdiens amptelik erken word nie en om dit boonop nog per pos te doen is ongehoord, dat dit buite orde is om die doop in 'n rivier te bedien in plaas van tydens 'n erediens in die kerk en dat die dopelinge nie werklik genoegsame onderrig in die Christelike leerstellings ontvang het nie.

Met sy aankoms in 1737 al het Schmidt die doop van moontlike bekeerlinge met ds. Le Seuer en Kock bespreek en toe reeds is probleme en moeilikheid voorsien. Selfs toe al was die algemene gevoel en siening dat net sendelinge van die erkende godsdiens van die land toegelaat moet word om hier te werk.

Sonder om op 'n antwoord van die ring van Amsterdam te wag vra Schmidt verlof om na Duitsland terug te keer en vertrek 5 Maart 1744. Hy het gehoop om meer ondersteuning te kry, maar hy konnooit weer na die Kaap terug kom nie. Hy sit sy werk in sy vaderland voort tot met sy dood in 1785.

Die sending werk in Genadendal moes wag tot 1792 voordat dit weer opgevat was.
Bronne:
Baanbrekers onder die Suiderkruis deur Prof.Dr. G.B.A.Gerdener)
Dictionary of South African Biography Vol I, bl 692 - 694
Gaan loer ook na http://www.museums.org.za/genadendal/

Print Email